Ingeplant in Christus

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2015-08-09
Text: 
Nederlandse Geloofsbel 24
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word
voorbehou.

PRETORIA-MARANATA,
9 Augustus 2015 AD, 17:30

Voorsang: Sb 32:1-4

Votum: Ps 121:1

Seën

Ps 121:3,4

Gebed

Skriflesing: Johannes 15

Sb 17:4,5,6

Teks: Nederlandse
Geloofsbelydenis artikel 24

Preek

Sb 52:2

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Ps 1:1,2

Kollekte

Ps 28:6,7,8

Seën

 

 

 

 

Preek:
Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 24

 

 

Voordat ons volgende week gaan
nagmaal vier, vra die Here van ons dat ons onsself moet ondersoek.

Dit word in die nagmaalsformulier
soos volg verwoord:

Elkeen van osn moet nadink oor sy
sondes en vervloeking en besef dat hy die toorn van God verdien.

Ons kan nie nagmaal toe kom as
ons nie baie goed besef dat ons in onsself baie sondig is nie.

Ten tweede moet elkeen van ons
onsself afvra of ons God se belofte glo, naamlik dat as ons in Jesus Christus
se naam vergewing vra van ons sondes, dit ook regtig vergewe word.

Hy het in eie persoon ver al ons
sondes betaal en so alle geregtigheid volbring.

En dan in die derde plek hoe die
selfbeproewing in, dat ons onsself afvra of ons die voorneme het om voortaan
uit ware dankbaarheid God te dien.

Of ons die ernstige voorneme het
om ons lewe te verbeter.

Hierdie derde punt het te make
met was ons heiliging of heiligmaking noem.

Dit is ook die onderwerp van
artikel 24 van die Nederlandse Geloofsbelydenis: ons heiligmaking en goeie
werke.

 

Tema:
Ingeplant in Christus

-         
Wie ingeplant is in Chrisuts, dra
vrug

-         
Regverdiging en heiliging is
dubbele genade

 

Wie
ingeplant is in Chrisuts, dra vrug

Hierdie artikel vat kortliks saam
wat die Skrif ons leer oor hoe ons geloofslewe behoort te lyk.

Die ware geloof kom uit die
luister na die Woord van God, deur die werking van die Heilige Gees.

So word die mens wedergebore en
tot ‘n nuwe mens.

Die leer van die regverdiging
maak nie die mens vir ‘n vroom en heilige lewe onverskillig nie.

Die Skrif praat oor ‘n geloof wat
deur die liefde tot dade oorgaan.

Daar word verwys na Galasiërs
5:6: “Want in Christus Jesus het nog die besnydenis nog die onbesnedenheid
enige krag, maar die geloof wat deur die liefde werk.”

Daar is ‘n verskil tussen: iets
uit liefde doen; en iets uit prestasiedwang doen.

Die laaste een is aan die einde
van die dag egoïsme.

Ons word egter aangespoor deur
die liefde van God.

Hy maak ons gewillig en bekwaam
(Fil 2:13)

Alles is aan Hom te danke.

Soos Jesus ons self geleer het in
Lukas 17:10: “wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons
is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te
doen.”

Die werke wat uit die goeie
wortel van die geloof voortspruit, geld nie vir ons regverdiging nie. Ons is
naamlik al deur die geloof in Christus geregverdig nog voordat ons goeie werke gedoen
het, anders sou die werke nie goed kon gewees het nie.

Die vrugte van ‘n boom kan ook
nie goed wees voordat die boom self goed is nie.

Ons doen dus goeie werke, maar
nie om iets te verdien nie.

Veeleer is ons die goeie werke
wat ons doen, aan God verskuldig.

 

Alles is genade.

Selfs as ons goeie werke, ons
goeie lewensstyl, vrugte afwerp.

Kyk, dit werk natuurlik so.

As jy goeie dinge doen, werp dit
vrugte af.

Dis soos om geld te belê.

Die geld bring rente op, en die
kapitaal word al hoe meer.

So veroorsaak goeie werke ook ‘n
groeikurwe.

Wie ‘n goeie lewe lei, is ‘n
seën, nie net vir homself nie, maar ook vir sy omgewing.

Maar ook wat dit betref – soos
die mense dit in die finansiële wêreld noem – rente op rente.

Ook daardie rente is nie ons
verdienste nie, maar ‘n gawe van God.

Soos die NGB skryf: ons ontken
nie dat God die goeie werke beloon nie, maar dit is deur sy genade dat Hy sy
gawe bekroon.

In hierdie artikel word alle
fokus na God verskuif.

Alles wat goed is in ons lewe,
het ons aan Hom te danke.

Sonder Hom sou ons tot niks in
staat wees nie.

 

Ons het vanaand ‘n pragtige
gedeelte uit die  Bybel gelees.

Wat daar in art. 24 van die NGB
staan, is vir ‘n groot mate op hierdie onderrig van Jesus gebaseer.

Christus se gelykenis van die
wynstok.

Dink aan die beeld wat die NGB
gebruitk van die boom en sy vrugte.

In Johannes 15 word ons opgeroep
om in Hom te bly, want dan sal ons vrugte dra.

Die feit dat die lote vrugte dra,
is nie uit hulleself nie, maar omdat hulle die sappe van die stam ontvang.

Hoe verheerlik ons die Vader?

As ons vasgekoppel, ingeënt, bly
aan die wynstok, aan die stam, want dan sal ons baie vrugte dra.

Christus sê dan: Ek het julle nie
uitgekies omdat julle alreeds goed was nie, omdat julle alreeds so baie vrugte
gedra het nie.

Maar Ek het julle uitverkies,
sodat julle vrugte kan begin dra.

 

In hierdie gelykenis leer ons
iets baie belangriks in verband met ons heiligmaking.

Daar is naamlik ‘n reële risiko
dat ons as Gereformeerdes soos volg begin dink:

Christus het ons regverdig
gemaak.

Nou moet ons ‘n teenprestasie
lewer, naamlik om uit dankbaarheid goeie werke te doen.

Dankbaarheid word ‘n
teenprestasie.

Goeie werke word iets wat ons op
eie krag begin doen as blyk van waardering vir wat Christus gedoen het.

Maar die gelykenis van die
wynstok bevry ons uit hierdie groef, om so te dink.

 

Ons
heiliging is naamlik nie ’n teenprestasie vir die regverdiging wat ons van
Christus ontvang het nie.

Beide
regverdiging en heiliging staan in die groter kader van die feit dat ons ingeplant is in Christus.

Beide
regverdiging EN heiliging is gawes wat ons ontvang.

Beide
is die resultaat van Jesus Christus en sy Heilige Gees wat saamwerk vir ons
saligheid.

“hieraan
weet ons dat Hy [= Christus] in ons bly: aan die Gees wat Hy ons gegee het”. 1
Johannes 3:24

Heiliging  is
dus die produk van Christus se Gees se werk in ons.

Wie
aan sy eie prestasies waarde toeken, maak homself los van Christus.

Christus
het gekom om sondaars te red, nie die wat hulle regverdig waan nie.

Christus
het ook nie ons gered, waarna ons nou uit eie krag die pad verder moet stap en
sorg dat ons in die hemel uitkom nie.

Soos
Augustinus gesê het: ons godsdiens maak nie onderskeid tussen regverdiges en
onregverdiges na aanleiding van hulle werke nie, maar na aanleiding van hulle
geloof.

Die
Roomse leer van goeie werke, selfs van oortollige goeie werke, wat die kerk kon
uitdeel of selfs met aflate verkoop, fokus op die mens se prestasies.

Calvyn
beskou hierdie siening simpelweg as ’n gebrek aan insig in die erns van die
sonde.

Die
mens is uit homself tot niks goeds in staat nie.

Deur
die sondeval het hy heeltemal verdorwe geraak.

Alles
wat ons het, en alles wat ons presteer, het dieselfde status as die besittings
van ’n slaaf.

 

Maar
hoe behoort die lewe van ’n Christen dan te lyk?

Moet
daar sprake wees van geestelike groei?

Waaraan
moet ’n Christen homself meet?

In
die Skrif vind ons God se Seun, wat mens geword het.

Hy
is die norm waaraan ons ons moet meet.

Hy
is die 2e Adam – soos die Skrif Hom noem – wat vervul wat die 1e
Adam behoort te gedoen het.

En
die werking van die Heilige Gees is dat Hy in ons die strewe wakker hou om soos
Christus te word.

Christen
wees mag nie net vashaak in die hê van ’n opinie, of ’n geloofsbeskouing, of ’n
standpunt nie.

Soos
Calvyn dit verwoord het: Die leer... moet
ook op ons harte oorgedra word en in goeie sedes oorgaan en ons so daarin
verander dat dit vir ons nie onvrugbaar is nie.

Die lewe van ’n Christen moet gekenmerk word deur ’n
volgehoue strewe na die volmaaktheid.

Elke Christen moet volgens die maat van sy vermoë voortgaan
en op die pad waarmee ons begin het, vordering maak.

Niemand sal so teenspoedig op die pad gaan dat hy nie ten
minste elke dag ’n stukkie van die pad aflê nie...

Want al sou ons sukses nie aan ons wense beantwoord nie, is
ons inspanning tog nie verlore wanneer vandag gister oortref nie, mits ons maar
in opregte eenvoud ons oë op ons doel gevestig hou en na die wenpaal strewe.

 

’n
Belangrike beswaar van die kant van die Roomse kerk teen hierdie leer dat alles
net uit genade is, is dat dit lui Christene kweek.

Geloofssekerheid
laat mense slap lê, het hulle geredeneer.

Omdat Christus nie die enigste grond van jou redding is
nie, en omdat jy ook self moet presteer, kan jy nooit met sekerheid weet of jy
in die staat van genade bevind sal word nie.

Dit skep ’n element van onsekerheid.

As ek vandag sterf, gaan ek hel toe, of hemel toe?

Of kom ek eers vir ’n lang ruk in die vaevuur?

Hierdie onsekerheidselement was volgens die Roomse kerk ’n
belangrike dryfveer vir mense om ’n goeie lewe te lei.

 

Maar,
soos Calvyn uitgewys het, die praktyk is die bewys dat die geloofssekerheid, iets wat die Roomse kerk
hulle skape ontneem het, juis die doen van goeie werke laat toeneem!

Dis
nie dat daar geen samehang is tussen geloof en goeie werke nie.

Dis
net dat ons saligheid nie daarop gebou word nie.

Maar
goeie werke kom wel voort uit geloofssekerheid.

Christus
maak niemand regverdig sonder om hom terselfdertyd heilig te maak nie.

Om
dit saam te vat: Goeie werke, of lewensheiliging, is die weg tot, en nie die
oorsaak van die toetreding tot die hemelse koninkryk nie.

Goeie werke is nie ons prestasie
nie, maar te danke aan die feit dat ons op Christus ingeplant is.

Dit was die eerste punt van
hierdie preek.

 

(Tema: Ingeplant in Christus

-         
Wie ingeplant is in Chrisuts, dra vrug)

 

 

-         
Regverdiging en heiliging is
dubbele genade

Sowel regverdiging EN heiliging is regstreekse gevolge van
die inlywing van die gelowige in Christus.

As die gelowige in Christus glo (dit wil sê verenig is
met Christus), dan is hy op dieselfde oomblik deur God in genade aangeneem
(regverdiging), asook op die weg geplaas na morele verbetering (heiliging).

Ons heiliging is net soseer te danke aan die inlywing in
Christus.

Heiliging is nie ons teenprestasie in ruil vir die
regverdiging nie.

Dit is, soos Calvyn dit ’n keer verwoord het, dubbele genade.

 

Mens kan ook nie regverdiging en heiliging van mekaar
loskoppel nie.

Dit is nie so dat die een kronologies op die ander een
volg nie.

Dit was so in die Roomse leer: eers heiliging, eers moet
jy ’n goeie heilige lewe gelei het, en dan word jy geregverdig.

En die gevaar dreig dat Protestante op dieselfde manier
bly dink, dat die een kronologies op die ander een volg, alhoewel die twee dan net
omgedraai word.

Eers word jy geregverdig deur God, dan – as dankbare
teenprestasie – probeer jy ’n heilige lewe te lei.

Beide is verkeerd.

Om terug te kom by die beeld van Johannes 15: beide
regverdiging en heiliging is vrugte wat ons dra, geskenke wat ons ontvang,
omdat ons ingeplant is in Christus.

En dit is iets wat elke dag gebeur, elke dag homself
herhaal.

Elke dag mag ons deur die bloed van Christus geregverdig
word, as ons in ons gebed in sy Naam vergewing van sondes vra.

En elke dag skenk Christus sy Gees, wat in ons werk om
ons lewe te verbeter en al hoe meer aan Hom toewy – ons heiliging.

Soos die stam daagliks sy sappe in die takke en lote opstoot,
sodat hulle vrugte kan dra, so skenk Christus ons daagliks sy regverdiging én
heiliging.

 

In
ons daaglikse lewe ervaar ons die begin van ’n nuwe lewe, maar terselfdertyd
die einde van ’n ou lewe.

Ons
ervaar dat ons groei, maar ook dat ons afsterf.

In
die groeiproses kan ons nie passief sit nie.

Ons
sal die stryd moet aanbind met ou sondes in ons, met ons eie karakter.

Dit
gebeur omdat Christus ons sy Gees geskenk het, en Hy selfs in ons woon!

Ons
moet self hard stry teen die sonde, maar die inspirasie kom van elders.

Ongelowiges,
mense wat nie in Christus ingeplant is nie, kan ook hard werk aan hulle
gebreke, om hulle lewe te verbeter, maar hulle aktiwiteite bly beperk tot hulle
orde, ’n aardse orde.

Hulle
moet steeds self weer die inspirasie opbring, omdat hulle nie in Christus
ingeplant is nie.

 

Ek herhaal: sowel regverdiging as heiliging,
regverdigmaking as heiligmaking, is geskenke van Christus wat ons ontvang as
ons op Hom ingeplant is.

Dubbele genade dus!

Goeie werke word daarom uit dankbaarheid gedoen, dit het
niks met verdienste te make nie. Goeie werke is moontlik, omdat ons op die stam
Christus ingeplant is.

Op hierdie stam groei ’n pragtige boom wat al hoe hoër en
mooier word.

So mag ’n Christen se lewe, sy karakter, ook al hoe
mooier, al hoe ryker word.

 

En dit bring my, gemeente, by ‘n baie eenvoudige toepassing.

‘n Toepassing wat in die lig van
die feit dat ons volgende week nagmaal hoop te vier, ekstra nodig is.

As alles van Hom af kom, as ons
sonder Hom niks het, niks goeds, niks goeie werke nie.

Dan is die vraag eenvoudig:

Hoe is jou verhouding met Hóm?

Hoe lewe jy gerig op Hóm?

Hoe is God aanwesig in jou lewe?

Is jy nog steeds ingeplant op die
stam Christus?

Is daar ‘n daaglikse kommunikasie
tussen jou en Hom?

Soek jy die kontak met Hom?

Is jou gebed ‘n lewende gesprek
met Hom?

Is jou gedagtes vol van Hom?

Laat jy Hom, sy Woord, toe in jou
lewe?

In elke aspek van jou lewe?

God het, deur die genadeverbond
wat Hy met jou tydens jou doop gesluit het, jou ingeplant op Christus.

Jy is geënt op ‘n goeie wortel en
stam.

Solank die lote, die takke, in
konneksie met die goeie wortel bly, dra dit goeie vrugte.

As die fondament van jou lewe God
se liefde is, sal daar werke van liefde in jou lewe wees.

Gemeente, as toepassing vra ek
dus nie vir u, ek beveel u nie om meer goeie werke te doen, om beter te
presteer...

Ek waarsku u nie om sondige
gewoontes te los voor volgende week Sondag as ons nagmaal gaan vier nie.

Maar ons begin by Christus.

Ek vra vir u: hoe is u verhouding
met die Here Jesus Christus?

Getuig jou lewe van ‘n
persoonlike daaglikse liefdevolle toewyding aan Hom?

Bly jy in verbinding met Hom?

Is Hy baas in jou lewe?

Want as jy daarop konsentreer dat
jy elke dag ingeplant is op Christus, dan sal die res ook regkom.

As jy elke dag in ‘n oop en
eerlike verhouding met Hom lewe.

Dan sal die Heilige Gees sy werk
doen in jou lewe.

Dan sal jou sondige gewoontes
onder druk te staan kom.

Dan sal jy groei en meer goeie
werke begin doen.

 

Gemeente, gaan beantwoord hierdie
vrae weer opnuut.

Is jou Heiland alles in jou lewe?

Moenie jouself loskoppel van Hom
nie.

In geen enkele afdeling van jou
lewe nie.

God het jou ingeplant op Hom.

Sy kruis is ‘n lewensboom.

Die sappe bring goeie werke
voort.

Hou aan om in Hom te groei.

 

NGB art. 24 sluit af met die
heerlike sekerheid wat die Bybelse leer oor die heiligmaking ons bied.

Want as ons saligheid van ons eie
goeie werke, ons eie prestasie, sou afgehang het, dan sou ons heeltyd heen en
weer geslinger geword het tussen hoop en wanhoop, tussen sekerheid en twyfel.

Die een dag, as ons dalk goed
gelewe het, sou ons dalk hoop hê en God selfversekerd in die oë durf kyk.

Die ander dag, as ons vir die
soveelste keer in sonde geval het, sou ons gekwel word deur die angste van die
hel.

Heen en weer geslinger tussen
hoop en wanhoop.

Gelukkig hoef ‘n kind van God,
opgeneem in sy genadeverbond, nie so deur die lewe te gaan nie.

Ons lewe vanuit sekerheid, omdat
ons ingeplant is in Christus.

Die sappe wat uit die stam in die
lote opstoot, hou die lote lewendig, aan die gang, toegewyd, besig om vrugte te
dra.

 

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)