Daar is ‘n profeet in Israel. Dit is ‘n troos. Dit is ook ‘n oproep.

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2015-08-23
Text: 
II Konings 5 :1-8
Preek Inhoud: 

Indien u die
preek wil gebruik kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word
voorbehou.

PRETORIA-MARANATA,
23 Augustus 2015 AD, 10:15

Voorsang: Sb 35:1-3

Votum

Seën

Ps 89:5

Wet

Ps 86:7-9

Gebed

Skriflesing: 2 Konings 5

Ps 9:9,10

Teks: 2 Konings 5:1-8

Preek

Ps 10:8-10

Gebed

Kollekte

Ps 68:3

Seën

 

 

 

 

 

Preek: 2
Konings 5:1-8

 

 

Verlede week Sondagoggend het ek
uit Handelinge 26 gepreek.

Dit het gegaan oor die
geskiedenis van die apostel Paulus wat voor koning Agrippa getuig het.

Geheel onverwags het Paulus die
geleentheid gekry om van Christus te getuig voor hierdie koning.

Die Here gee soms onverwags
geleenthede om te kan getuig.

As iemand jou uitvra oor jou
geloof, oor jou kerk.

In so ‘n situasie is mense bereid
om te luister – hulle vra mos self.

In so ‘n geval is dit belangrik
dat ons voorbereid is.

Dat ons nie die geleentheid laat
verbygaan nie.

Soos ons lees in 1 Petrus 3:15:
“wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap
eis omtrent die hoop wat in julle is”.

 

Ek het verlede week vir u gevra
om ‘n persoon te identifiseer wat u ken, en om vervolgens vir die Here te vra
om ‘n geleentheid te laat kom om na daardie persoon te kan getuig.

Om daarvoor te bid.

En om daarop voor te berei.

Hooplik het u teen hierdie tyd
iemand in u gedagtes, en het u al gebid of die Here ‘n geleentheid wil skep.

Hooplik het u ook al nagedink oor
wat u vir daardie persoon sou wou sê.

 

In die Skrifgedeelte wat ons
vandag gelees het, dit is ‘n geskiedenis uit ‘n heel ander tyd en
omstandighede, vind ons ook die voorbeeld van iemand wat getuig het.

In teenstelling tot die apostel
Paulus, wat ‘n gesoute man was in evangelisasie, in gespreksvoering met
ongelowiges, iemand wat die Skrifte deur en deur geken het,

in teenstelling met hom is die
persoon wat ons vandag in ons teks ontmoet ‘n klein meisie, wat waarskynlik
baie min van die Woord van die Here geweet het, maar vir wie die Here tog ook
gebruik het om te getuig.

Ons het die geskiedenis oor
Naäman gelees, ‘n melaatse man wat ongetwyfeld aan sy siekte sou gesterf het as
hy nie toevallig ‘n jong meisie as slavin in diens gehad het, wat vir hom ‘n
belangrike tip gegee het nie.

 

Tema: Daar
is ‘n profeet in Israel. Dit is ‘n troos. Dit is ook ‘n oproep.

 

Ons lees in ons teks oor ‘n
verbondskind.

En ons lees oor die geweldige
dinge wat God deur haar lewe gedoen het.

Ons weet nie eens wat hierdie
jong meisie se naam was nie.

Al wat ons van haar weet, is dat
sy waarskynlik ‘n weeskind was.

Dit was naamlik so dat die
Arameërs, die buurvolk ten noorde van Israel, strooptogte in die land Israel
uitgevoer het.

‘n Aantal soldate het by wyse van
spreke in die middel van die nag die grens oorgesteek, die dorpe aangeval, al
die volwassenes vermoor, alle waardevolle dinge saamgevat en ook die kinders.

Vervolgens het hulle die dorp aan
die brand gesteek en weer die grens oorgesteek na hulle eie land.

As Israel nou self ‘n sterk leër
sou gehad het, kon hulle die grens bewaak, en in so ‘n geval die Arameërs keer
sodat sulke dinge nie sou gebeur in die grensgebiede nie.

Maar die probleem was dat Israel swakker
as die Arameërs was, en hulle leërs het nie gewaag om in te gryp nie.

Ons lees juis in vers 1 dat die
HERE, as straf op Israel se sonde en afval, daarvoor gesorg het dat die
Arameërs sterker was as die Israeliete.

‘n Bende soldate het hierdie
meisie dus saamgevat.

In hulle eie land het hulle haar
toe waarskynlik as slavin verkoop.

Dit gaan hier oor ‘n meisie êrens
tussen 5 en 15 jaar oud.

Sy is verkoop aan ‘n belangrike
mevrou, naamlik die vrou van Naäman.

En Naäman was die leërowerste van
die koning van die Arameërs.

In haar huishouding moes sy gaan
werk.

 

Hoekom het die soldate eintlik
sulke dinge gedoen, dat hulle kinders van hulle ouers weggeroof het, of wat
meer waarskynlik was, die ouers vermoor het, en die kinders saamgevat het?

Dit was die gewoonte.

Die soldate se bedoeling was om
die jong kinders in te lyf by hulle eie volk.

Die jong kinders sou dan – het
hulle gedink – na verloop van tyd hulle eie verlede vergeet, uit watter land
hulle gekom het en wie hulle ouers was, en dan sou hulle self Arameërs word.

Dit was in belang van die land
Aram, die kinders was ekstra arbeidskragte, en omdat hulle nog so jonk was, kon
hulle denke nog omgebuig en geïndoktrineer word sodat hulle self ook Arameërs
sou word.

Tussen hakies, moenie dink
hierdie is iets wat net vroeër voorgekom het nie.

Vandag gebeur dit nog net so
veel, dat oor die wêreld kinders geroof word.

Ons noem dit vandag nie meer
slawerny nie, maar mensehandel, ‘human trafficing’, maar daar is nie ‘n verskil
nie.

Ek het ‘n tydjie gelede nog ‘n
film gesien van ‘n jong seun uit Suid-Soedan wat geroof is en aan ‘n moslimgesin
in Karthoem, in Noord-Soedan, verkoop is.

Dit was in die jare ’80 en ’90,
nie so lank gelede nie.

Maar ook vandag gebeur dit nog op
groot skaal.

 

Toe die Aramese soldate die
meisie uit Israel saamgevat het na hulle eie land, het hulle egter met een ding
nie rekening gehou nie.

En dit was dat hierdie meisie nie
net die eiendom van haar ouers was nie, maar ook van die HERE, haar
Verbondsgod.

Die soldate kon haar ouers wel
uitgemoor het, maar teen die God van die hemel kon hulle niks doen nie.

Hulle het nie daarmee rekening
gehou dat sy ‘n verbondskind was nie.

Dit was nie direk aan haar
sigbaar nie – net die seuntjies is in Israel besny – maar dit het geen verskil
gemaak nie.

Sy het aan die HERE behoort.

En as mens dit nie kon sien nie,
mens kon dit wel hoor.

Want die hemelse Vader het
hierdie meisie nie in die steek gelaat nie.

Hy, wat ‘n groot werk in haar
lewe begin het, Hy het nie daarmee opgehou nie.

Die hemelse Vader het sy
dogtertjie nie in die steek gelaat nie.

En dus sien ons dat hierdie
meisie, al bevind sy haarself nou al miskien vir jare in ‘n volledig heidense
omgewing, en al praat sy miskien teen hierdie tyd al ‘n heeltemal ander taal,
en al het sy nie meer haar pa en ma wat haar elke dag oor die HERE kon vertel
nie, laat staan dat sy ‘n Bybel gehad het soos ons bevoorreg is om te hê – tot
die jong kinders toe – nogtans het sy nog getuig oor die werke wat die
Verbondsgod gedoen het, deur sy profeet.

 

Wat was naamlik die geval.

In die huis waar sy gewerk het,
is daar uiteraard baie gepraat en waarskynlik ook baie gehuil oor die siekte
van die heer van die huis, Naäman.

Dit het waarskynlik ‘n
voortdurende domper op die atmosfeer geplaas.

En dit het die meisie nie ontgaan
nie.

Sy het gesien hoe Naäman en sy
vrou al hoe wanhopiger begin raak het.

Verskeie dokters, raadgewers,
moontlik toordokters, was al op besoek gewees.

Allerhande behandelings en
middele is al uitgeprobeer.

Maar Naäman het steeds melaats
gebly.

En dit het toe die aanleiding
geword dat die meisie iets oor haar verlede vertel het.

Haar verlede, dit was waarskynlik
iets waaroor die geroofde kinders – ten minste die wat nog iets kon onthou –
nie mog praat nie, laat staan daarna terug verlang.

Mens kan daarvan uitgaan dat
niemand bereid was om te luister, as hulle met heimwee daaroor gepraat het nie.

Of hierdie meisie ooit met haar
meesteres oor die verlede gepraat het, weet ons nie.

Of sy ooit eerder oor haar
Skepper en Verbondsgod gepraat het, weet ons ook nie.

Ons weet net van hierdie een
keer.

Maar wat ons wel weet, is dat na
hierdie een keer, en na die wonderbaarlike genesing van Naäman, daar voortaan
baie gepraat is oor die magtige God van Israel, wie se profeet Elisa was.

Dit het alles by hierdie enkele
opmerking begin.

Uit hierdie enkele opmerking van
die meisie, waaruit ‘n kinderlike geloof gespreek het: “Ag, was my heer maar
net by die profeet wat in Samaria is, dan sou hy sy melaatsheid wegneem.”

 

Dat daar uit hierdie opmerking
van die meisie kinderlike geloof spreek, is veral duidelik as ons dit vergelyk met
die opmerking van die koning van Israel.

Dit was waarkynlik koning Joram,
die seun van koning Agab.

Ons weet van koning Joram dat hy
net so sleg en goddeloos was as sy pa Agab.

Naäman, die Aramese leërowerste,
het naamlik besluit – omdat hy vanweë sy melaatsheid heeltemal desperaat was –
om die advies van die slavinnetjie op te volg.

Hy het dit met sy koning, die
koning van Aram, bespreek, dit was waarskynlik Benhadad.

En hy het sy toestemming gegee.

Die koning het selfs ‘n
begeleidende brief aan die koning van Israel geskryf, aan koning Joram, om te
sorg dat Naäman, die hoof van sy leër, by die regte profeet sou uitkom.

 

Hoekom het die Aramese koning
eintlik ‘n brief geskryf?

Mens moet dit sien teen die
agtergrond dat dit normaal was vir ‘n heidense koning om profete in sy diens te
hê.

Ons sal dalk sê, waarseêrs, of
toordokters, watter woord mens ook al wil gebruik.

Die profete het in diens gestaan
van die koning.

Hulle was, sê maar, die
propaganda-apparaat van die koning.

En dus is Naäman in die eerste
plek na Israel se koning gestuur.

Israel se koning het waarskynlik
die beste geweet watter een van sy profete so goed was en in staat was om mense
van hulle melaatsheid te genees.

Min het die heidense koning
Benhadad egter geweet dat Elisa HOEGENAAMD NIE in diens van die koning van
Israel gestaan het nie.

Inteendeel!

 

En waaroor dit nou gaan, is dat
ons die opmerking van hierdie meisie, haar opmerking oor die profeet in
Samaria, vergelyk met die uitspraak van die koning in Samaria, koning Joram.

Want toe koning Joram die brief
gelees het – ons vind in vers 6 ‘n kort aanhaling uit die brief geskryf deur
die koning van Aram, met daarmee die aanbeveling om tog aandag te skenk aan die
leëroffisier en daarvoor te sorg dat hy genesing ontvang van sy melaatsheid...

Die koning van Aram het naamlik
daarvan uitgegaan dat die profeet alombekend sou wees in Samaria, en dat die
koning in Samaria onmiddelik sou weet wat die bedoeling was en oor watter
profeet dit gegaan het...

Maar toe koning Joram die brief
lees, was sy reaksie totaal anders.

“Is ek dan God, om dood en lewend
te maak, dat hierdie man na my stuur om van ‘n man sy melaatsheid weg te neem?”

Joram was heeltemal onkant
gevang.

Hy het direk in ‘n ander rigting
gedink.

Hierdie moes ‘n voorwendsel wees.

Hierdie Naäman was eintlik besig
om te spioneer!

En was dit nie dat Elisa self
tussenbeide getree het, sou dit gebeur het dat koning Joram die siek Naäman
direk teruggestuur het na sy eie land.

Jammer, ons kan jou nie help nie.

Ons wil jou ook nie help nie.

Wat ‘n reaksie!

Wat ‘n enorme verskil met wat die
Joodse meisie gesê het.

Mens sou verwag dat Joram hom
dadelik sou deurverwys na Elisa, net soos die meisie.

Elisa, wat die profeet van die
ware God was.

Maar nee.

Op eerste gesig sou mens dink dat
Joram nie eers bewus was van die feit dat daar so ‘n kragtige profeet in sy
land woonagtig was nie.

Of miskien moet ons dit anders
verwoord.

Eintlik WOU koning Joram niks
weet van die kragtige profeet Elisa, wat wonders gedoen het in die naam van die
ware God nie.

Sou mens nie koning Joram goed
kon vergelyk met die Fariseërs in Jesus se tyd nie?

Sê nou maar ‘n melaatse sou by ‘n
Fariseër kom met die vraag: kan u my genees, of kan my dalk na iemand verwys wat
my kan genees?

Dink jy dat die Fariseër die
melaatse by die Here Jesus sou gebring het?

Ek is bang dat hy te trots sou
gewees het om dit te doen.

Hoewel die Fariseër diep in sy
hart goed geweet het dat die Here Jesus wonders doen, wou die Fariseër dit nie
erken nie en dus sou hy ander ook nie na die Heiland toe lei nie.

So was dit ook met die koning van
Israel, Joram.

Net soos sy pa, Agab, was hy
trots, hooghartig, het hy sy eie gang gegaan en het nie na die HERE of na sy
profete geluister nie.

Inteendeel, hy het die profete
gehaat, omdat hulle hom steeds gekritiseer het oor sy lewenswyse.

Het koning Joram ooit van die
bestaan van die profeet Elisa afgeweet?

Gemeente, NATUURLIK HET JORAM VAN
ELISA GEWEET.

Net so goed as wat sy pa Agab
afgeweet het van die bestaan van Elia.

En NATUURLIK het die berigte Joram
ook ter ore gekom, dat Elisa net sulke groot wonders in die naam van die HERE
gedoen het as sy voorganger Elia.

NATUURLIK HET HY DIT GEWEET.

Alleen, eintlik wou Joram dit nie weet nie.

Laat staan dat hy iemand sou
deurverwys na die deur hom so gehate profeet.

 

Gemeente, verstaan u die verskil
tussen die opmerking van die meisie en die opmerking van koning Joram?

Altwee verbondskinders, Joram en
daardie meisie.

Maar by die een tref mens geloof
aan, by die ander een nie.

Geloof in die HERE die God van
Israel en in sy profete.

Het Jesus nie ook later vir die
Fariseërs wat so skepties oor Hom was, gesê nie:

Julle hoef nie in My te glo nie,
as julle maar die werke glo wat Ek doen.

Want die werke wat Ek doen, kom
van my hemelse Vader.

En so was dit by Elisa, een van
die Here Jesus se voorlopers, ook.

Die meisie – al was sy heel ver
weg in ‘n vreemde lang – het wel geglo in die werke wat die profeet gedoen het.

Maar koning Joram, wat in
dieselfde land gewoon het, kon Elisa nie uitstaan nie, en het gemaak asof sy werke
nie bestaan nie.

 

Gemeente, ons tema – daar is ‘n
profeet in Israel – is ‘n troos.

Maar dit is ook ‘n oproep om te
getuig.

‘n Indringende appèl, aan elkeen
wat ‘n verbondskind is.

Jy ken die HERE.

En al die wonders wat Hy vir jou
gedoen het, en wat Hy nog steeds doen.

Jy ken sy werke.

Maar erken jy dit ook?

Getuig jy ook daarvan?

Leef jy so dat jou lewenswyse ‘n
leesbare brief is?

 

In ons teks het ons twee
verbondskinders ontmoet.

Die een het getuig, die ander een
het gemaak asof hy niks weet nie.

Hoe is dit met jou, broer,
suster?

As iemand anders jou uitvra, is
jy bereid, en is jy gereed om rekenskap af te lê van die hoop wat in jou is?

As ‘n geleentheid hom voordoen,
soos die geval was by daardie meisie, toe Naäman op soek was na ‘n geneesheer, vertel
jy dan aan die ongelowige waar hy hulp kan kry?

Verwys jy die mense na die kerk,
na die Bybel, na die profeet van die HERE?

Of verwag jy eintlik self weinig
hulp van die kerk, van die predikant, van God se Woord?

Met die gevolg dat jy ook geen
behoefte voel om iemand anders daarin te laat deel nie...?

 

Ook in ons tyd, net soos toe in
die 10-stammeryk, is daar te veel afvallige kinders van die verbond, te veel
naam-Christene.

Hulle noem hullself Christene,
maar kerk toe gaan is nie ‘n weeklikse gewoonte nie.

Aan die einde van die dag is
hulle liewer vir hulle geld en goed, hulle aardse sekuriteit en welvaart, as
vir die koninkryk van God – sê maar mense soos koning Joram en Gehasi.

Hulle leef soos die wêreld, daar
word geskei, daar word vinnig weer hertrou.

Die seksuele moraal van die
wêreld voer die botoon, is dit nie heeltemal in dade nie, dan wel in woorde,
grappies en gedagtes.

Daar word, in elk geval deur die
week, bitter weinig uit die Bybel gelees, maar die wêreldse boodskappe stroom
onoponhoudelik in, met die televisie, DSTV, internet, facebook, ensovoorts.

Jy geheel anders, want jy het
Christus leer ken – hierdie oproep van Paulus aan die Efesiërs (Ef 4:20) – dit
tipeer nie ‘n naam-Christen se lewe nie.

En dikwels is dit nie net so dat
naam-Christene net onverskillig staan teenoor die kerk wat die Woord van God
wel ernstig neem nie.

Dikwels sal hulle selfs vyandig
staan, net soos by koning Joram die geval was.

Daarin kom uit dat hulle valse
Christene is, en die kerke waaraan hulle behoort valse kerke is.

As hulle daardie gelowiges, en
daardie kerke wat wil leef slegs by God se Woord, sal beskimp, sal probeer
teenwerk, belaglik sal maak voor die oog van die wêreld.

Onthou wat Jesus gesê het.

As hulle so met Hom gemaak het,
sal hulle ook so met sy volgelinge maak.

 

Luister, gemeente: ons het die
pragtigste en kragtigste boodskap vir die wêreld.

Maar die satan probeer hard dat
hierdie boodskap nie die wêreld bereik nie, of in elk geval in ‘n baie
verdraaide vorm.

Maar feit is, ons weet waar om
genesing te vind, en nie net vir melaatsheid nie, maar nog veel meer.

Melaatsheid staan in die Bybel
dikwels simbool vir die sonde, en alle ellende wat daaruit voortvloei.

Ons weet waar om verlos te word
van die sonde, alle ellende.

Ons weet van ‘n ewige lewe, van ewige
geluk.

Straal jy dit uit, na die mense
wat jy ontmoet: kom saam, hier is die waters van die lewe!

Verlossing van die ewige dood.

 

Daar is ‘n profeet in Israel.

Dit is ‘n troos, ‘n geweldige
troos.

Dink aan die weesmeisie ver weg
in Aram.

God het haar vasgehou.

Toe Naäman na die genesing weer
teruggekeer het huis toe, het daardie huis vergoed verander.

In ‘n heidense huis is voortaan
die naam van die HERE grootgemaak.

Of Naäman homself en sy gesin
blywend tot die lewende God van Israel bekeer het, weet ons nie.

Dit lyk in vers 18 dat hy
verskonings soek om aan te gaan met die verering van die afgod Rimmon.

En hy vat ‘n vrag grond saam uit
Israel, sodat hy voortaan ook in sy eie land aan die God van Israel kan offer.

Wat hierdie presies beteken, is
nie heeltemal duidelik nie.

Dit lyk daarop dat hy in sy kop
nog heeltemal heidens gedink het, met die voorveronderstelling dat elke land sy
eie god gehad het.

En om aan ‘n god van ‘n ander
land in jou eie land te kan offer, moes jy ‘n altaar hê wat gebou was op en van
grond wat uit daardie ander land afkomstig was.

Feit is wel dat hy in sy eie
land, hoe heidens hy nog gedink het, die God van Israel grootgemaak en geprys
het en van sy wonderdaad getuig het.

 

En hoe die lewe van die klein
meisie verder geloop het, word nie aan ons geopenbaar nie.

Dit lê voor die hand dat sy die
God van haar klein dae nooit meer vergeet het nie, veral nie na hierdie
gebeurtenis nie.

Dit was nie haar prestasie nie,
maar die werk van die troue God van die verbond.

Van sy kant bly Hy altyd getrou.

Ons teks is ‘n pragtige voorbeeld
hiervan.

Dit is vir ons ‘n troos.

Dit is vir ons ook ‘n oproep om
bereid te wees om te getuig, beseffende hoe ryk ons is omdat ons Hom mag ken.

 

Amen.

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)