Miga 5 : 1 Nie Jerusalem nie, maar Betlehem

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2013-12-08
Text: 
Miga 4 : 1-5 en hfst 5. Mat 2 : 1-8 en Joh 7 : 37-52
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds PG Boon

Kopiereg voorbehou.

PRETORIA-MARANATA.

 

 

Liturgie:

Votum

Seën

S: Ps 118.1,11

Wet

S: Ps 119.17

Gebed

Skriflesing 1: Miga 4.1-5 & Miga 5

S: Ps 23.1 (2e beryming)

Skriflesing 2: Mattheus 2.1-8 &
Johannes 7.37-52

S: Ps 23.2 (2e beryming)

Teks: Miga 5.1

Preek

Amenlied: Sb 1.1,3,4

Gebed

Kollekte

Slotlied: Sb 1:5,6

Seën

 

Preek:

 

 

Ons is nou in Adventstyd.

Die weke voor Kersfees.

In hierdie tyd hoor mens dikwels die woord ‘Betlehem’.

Dink maar aan die volgende lied:

Kom alle
getroues,

Vrolik en
vol vreugde,

Kom nou, o
kom nou na Betlehem.

Kyk daar die
Kindjie tot ons heil gebore

Ens.

Betlehem, o kom nou na Betlehem.

Wat beteken dit eintlik?

Die wyse manne uit die Ooste het na Betlehem gegaan.

Herodes het nie met hulle saamgegaan nie.

Die priesters en skrifgeleerdes het ook nie saamgegaan nie.

Kom nou, o kom nou na Betlehem ...

Wat wil dit sê?

 

Die tema vir die preek is:

Tema: Nie
Jerusalem nie, maar Betlehem

Die teks vir die preek kom uit die profesie van Miga.

Kom ons kyk eers wie Miga was.

Miga was iemand van die platteland, uit die dorpie Moreset in Gat.

Hy was ’n tydgenoot van ’n ander bekende profeet: die stedeling Jesaja.

Hy was ook ’n tydgenoot van baie valse profete, wat die mooiste boodskappe
gehad het, maar wat in feite die mense na die mond gepraat het.

Maar Miga se roeping was om dwars teen die volksopinie in te gaan.

Dwars teen die mening van die meerderheid van die profete in.

 

Hy moes vir die volk vertel:

Dit is nie so dat God met ons is nie, maar daar is sprake van groot afval.

En dan bots Miga veral met die sentrums van die afval:

Die hoofstede Samaria en Jersualem.

 

Miga kom met profesië.

Profesië waaruit die eis en bedreiging van die verbond spreek.

Die verbond, die verhouding wat God met sy volk het.

So begin sy boek: aankondiging van die oordeel oor Samaria en Jerusalem.

Tog klink uit sy profesië ook die seën van die verbond.

In Miga 5 lees ons ’n profesie van seën.

’n Profesie oor wat daar sal gebeur as daar weer bekering kom, as die
verhouding met God weer herstel is.

 

Gemeente, wat is profesie eintlik?

Dit is belangrik dat ons die regte begrip hiervan het.

Profesie is nie waarsêery nie.

Dit is nie ’n voorspelling in die sin van ‘abra kadabra’, ek sien ek sien
wat jy nie sien nie.

Wat is dit dan wel?

Profesie is veral Woordverkondiging.

Bediening van die Woord.

God se Woord oor sy verbond met ons, wat inhou:

’n belofte, ’n eis, en ’n bedreiging by ontrou.

Die laaste is bedoel as oproep tot bekering.

Dink byvoorbeeld aan die profesie van die profeet Jona.

‘Ninevé sal verwoes word!’

Hierdie profesie was voorwaardelik: ténsy ...

En wat blyk: hierdie profesie het nie uitgekom nie.

Die Here het dit nie gedoen nie.

Ninevé is toe nie verwoes nie.

 

Op dieselfde manier het Miga ook voorwaardelik
die oordeel oor Jerusalem aangekondig.

Jerusalem kon gespaar gebly het, net soos die stad Ninevé, as daar berou en
inkeer gekom het.

Jerusalem moes weer klein word, moes sy hoogmoed oorboord gooi,

klein word voor God.

Jerusalem die groot stad, is slegs gebou op God se genade.

Sonder God kan hulle niks nie.

Dit moes hulle weer leer besef.

 

Dit is die boodskap van Miga.

En ons teks het alles hiermee te make.

Nie Jerusalem nie, maar Betlehem.

Die dorpie Betlehem, daardie klein gehuggie, dáár sal die Heerser gebore
word.

Jerusalem slaag nie daarin nie – om te sorg vir ’n heerser wat Israel sal
verlos van die vyand.

Maar Betlehem, die gehuggie, sorg vir ’n Redder.

 

In ons teks staan: ’n Heerser, wie se uitgange is uit die voortyd, uit die
dae van die ewigheid.

Wat word eintlik hiermee bedoel: ‘uit die dae van die ewigheid?

Ons, wat weet dat hierdie profesie uiteindelik oor Jesus Christus handel,
is geneig om dalk hierby te dink:

Wel, hiermee word bedoel dat Jesus ook ewig God is.

Dit is natuurlik ook so, maar hier in ons teks bedoel Miga iets anders.

Dit is naamlik belangrik om die historiese konteks van die tyd hierby te
betrek.

Die profesie is naamlik toe uitgespreek, begryplik vir die mense van
daardie tyd.

Miga praat oor die vyande, en dit was toe die land Assur, oftewel die land
Nimrod – sien vers 5.

Dit was die vyand in daardie dae.

Maar, sê Miga, die geweldige volkemagte uit die Ooste, die vyande, hulle sal
deur hiérdie heerser gestuit word.

Hiérdie heerser sal daarvoor sorg dat oorlog plek maak vir vrede.

Hierdie heerser sal die simbole van militêre mag – perde en strydwaens –
uitroei.

En alle ander wapens sal omgesmee word tot vredessimbole.

Swaarde tot ploeë.

Spiese tot snoeimesse.

Hierdie heerser sal daarvoor sorg.

En sy oorsprong is van baie lang gelede.

Wat in ons teks staan: die dae van die ewigheid, kan mens ook vertaal met:

Uit ver vervloë dae.

Gemeente, en wat word presies bedoel met: sy oorsprong?

Op hierdie vraag bied die dorpie Betlehem die antwoord.

Van waar ken ons eintlik hierdie dorpie, in die Ou Testament?

Inderdaad, dit was die plek wat Dawid gebore is.

Te Betlehem het Dawid se koningshuis begin.

Hierdie heerser, wil Miga dus sê, is ’n direkte afstammeling van koning
Dawid.

Net soos koning Dawid sy volk bevry het van die vyand, so sal sy verre
nasaat, die heerser oor wie Miga nou praat, dit óók doen.

Hierdie heerser het dus goeie papiere, hy is van koninklike afkoms.

’n Baie ou en beroemde dinastie.

En dit bedoel Miga as hy sê: sy uitgange is uit die voortyd, oftewel, sy
oorsprong is van ouds.

 

Nou vra u miskien:

Ja maar wat is nou so besonder hieraan?

In die dae van Miga het daar mos nog steeds ’n afstammeling van Dawid op
die troon gesit?

Die Davidiese koningshuis het mos nog in Jerusalem geregeer?

Inderdaad, dit was so.

Maar die boodskap van Miga is daarom des te konfronterender.

Nie Jerusalem nie, maar Betlehem.

Hierdie heerser, hierdie koning, wat bevryding en vrede sal bring, hy kan –
sê Miga – nie in Jerusalem gebore word nie.

Hierdie hoofstad is veels te korrup daarvoor.

Mens sal moet teruggaan na soos wat dit in die begin was:

Die getroue koning Dawid, wat in Betlehem gebore is.

Daar het Samuël hom gaan salf, toe hy nog ’n nederige herderseun was.

Die volk het weer so ’n koning soos Dawid nodig.

Die hoogmoedige Jerusalem kan van die gehuggie Betlehem iets leer.

Nie Jerusalem nie, maar God kies ’n klein plattelandse dorpie uit.

Van daaruit sal die redding kom.

Redding ook vir die groot stad.

Redding selfs vir die hele wêreld.

 

Broers en susters, as óns die naam Betlehem hoor, dan klink dit vir ons
lieflik in die ore.

Ons dink dan aan Kersliedere:

te Betlehem
gebore

as Kindjie
in ’n stal ...

Maar in die dae van Miga was dit nie so nie.

Die naam Betlehem het toe eerder ’n onheilspellende klank gehad.

Betlehem was allang verlede tyd.

Die familie van Dawid, die koninklike huis het sy setel in Jerusalem gehad,
al vir eeue.

Die klein gehug was al lang verlate.

 

Wanneer Miga nou dus sê dat die heerser in Betlehem gebore sal word,

impliseer dit eintlik ’n vernedering vir die huis van Dawid.

Eers as die koningshuis verval het tot ’n betekenislose bestaan soos
vroeër,

soos Dawid wat maar net ’n herder was,

eers dan sal hierdie heerser waaroor Miga profeteer, gebore word.

Wanneer Miga dus sê:

“En jy, Betlehem Efrata, uit jou sal daar vir My uitgaan ...”

dan is dit eintlik ’n skokkende boodskap.

Aan die een kant goeie nuus, maar nie sonder vernedering nie.

Jerusalem moet eers op die knieë gedwing word.

Dit is naamlik die doel van Miga se profesie.

 

Ons beweeg nou aan na die Nuwe Testament.

Noudat ons weet wat die bedoeling was van hierdie profesie van Miga.

Ons gaan nou kyk hoe ons hierdie profesie in die Nuwe Testament terugvind.

Ons het ’n gedeelte uit Mattheüs 2 gelees.

Dit is ’n baie bekende geskiedenis.

Dat die wyse manne uit die Ooste by koning Herodes in Jerusalem gekom het.

En dat, toe Herodus hoor dat hulle gekom het om ’n nuut gebore koning te
vereer, geskrik het.

Ja, hulle het na Jerusalem gekom, die hoofstad van die Jode, maar Jerusalem
het van niks geweet nie.

Herodes het haastig die owerpriesters en skrifgeleerdes bymekaar geroep.

Hulle het die Ou Testament geken en het met die antwoord gekom:

Te Betlehem in Judea,

want so is daar deur die profeet geskryf:

En jy Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die
vorste van Juda nie, want uit jou sal ’n leidsman voortkom wat vir my volk
Israel ’n herder sal wees.

Hierdie is ’n direkte verwysing na wat die profeet Miga sê in ons teks.

En toe die wyse manne dit hoor, het hulle direk na Betlehem vertrek.

Nou is dit wel baie opvallend watter houding die skrifgeleerdes ingeneem
het.

Aan die een kant het hulle presies geweet wat daar in die profesie staan.

Dat die profeet Miga praat oor Betlehem.

Maar aan die ander kant het hulle geen tree gesit in dié rigting nie.

Die wyse manne het alleen na Betlehem vertrek.

Hulle moes nie in Jerusalem wees nie, maar in Betlehem.

Hoe kom dit eintlik? – dat die skrifgeleerdes wel die plek ken, maar tog
nie daarheen gegaan het nie?

Die antwoord op hierdie vraag is nie so moeilik nie.

Hierdie skrifgeleerdes het wel die profesie van Miga gelees, maar hulle het
dit nie verstaan nie.

Hoekom nie?

Om presies dieselfde rede as destyds in die dae van Miga.

Ook húlle was hoogmoedig – belangrike mense in die groot stad Jerusalem.

En hulle het by wyse van spreke soos volg gedink:

Ook al sou die Messias in Betlehem gebore moet word, dan nog kan dit nie
nou wees nie.

Want, ONS weet dan van niks nie.

Ons, die belangrike mense in God se volk.

Dit is tog te gek om waar te wees, dat vreemdelinge uit die Ooste ons sou
moet kom vertel dat ons Messias gebore is.

Dis ondenkbaar.

As soiets groots gaan gebeur, sal dit nie onopgemerk in Israël kan
plaasvind nie.

Laat staan dat heidene eerste dit agter sou kom.

En dus het die skrifgeleerdes en owerpriesters gewoon in Jerusalem agter
gebly.

Hulle het die bedoeling van Miga 5:1 oor die hoof gesien.

Siende blind noem mens dit.

 

Nou gaan ons nog kyk na die tweede gedeelte uit die Nuwe Testament, wat ons
gelees het: Johannes 7.

Jesus, die gebore Messias, het nou inmiddels opgegroei, en Hy bevind Hom in
die groot stad Jerusalem waar Hy die volk onderrig.

Sy prediking maak duidelik indruk op die mense.

Dit verneem ons uit hoe die mense agteraf oor Jesus praat.

Daar het hewige diskussies oor Hom ontstaan.

Wie is hierdie man eintlik?

Is Hy die profeet?

Is Hy miskien selfs die Messias?

Ja maar dit kan tog nie?

Die Messias sou tog nie uit Galilea kom nie?

En hierdie Man kom uit Galilea, uit Nasareth.

Die Messias behoort tog uit die geslag van Dawid te kom, en dus uit
Betlehem, waar Dawid ook gebore is?

Dit is mos die profesie van Miga?

Gemeente, hoekom het ons ook hierdie gedeelte uit Johannes gelees?

Om hierdie rede: uit hierdie opmerkings blyk baie duidelik dat die Jode op
daardie stadium goed op die hoogte was van ons teks.

Die profesie van Miga.

Dat die Messias naamlik in dieselfde dorp as Dawid gebore sou word.

Hulle het dit geweet.

 

Alleen, wat blyk nou, die skare wat hier na Jesus staan en luister, hulle
het nie besef dat dit by Jesus ook werklik die geval was nie.

Dat Jesus inderdaad ook in Betlehem gebore is.

Gebore te Betlehem, deur sameloop van omstandighede.

Sy ouers het in Nasaret gebly, maar as gevolg van die volkstelling was sy
ouers in Betlehem toe Hy gebore is.

Die mense was onder die indruk dat Hy in Nasaret gebore is.

Dus het daar hewige diskussies ontstaan oor Jesus.

Nie net onder die volk nie, ook in die Sanhedrin, onder die Joodse leiers.

Dit het ons gelees.

Toe Nikodemus byvoorbeeld sy kollegas gewaarsku het dat hulle eers hoor en
wederhoor moes toepas,

toe kry hy die opmerking oor hom:

Is jy soms ook uit Galilea?

Ken jy jou Bybel dan nie?

Gaan maar na, uit Galilea hoef ons geen profeet te verwag nie.

Ook in die Sanhedrin is daar dus gepraat oor die plek van geboorte, van die
Messias.

Ook die Sanherdin, net soos die skrifgeleerdes wat Herodes van advies gedien
het, ook hulle was dus op die hoogte van Miga se profesie.

Maar, dit blyk nou weer, die leiers het hierdie profesie wel gelees, maar
hulle het dit nie verstaan nie.

Nie Jerusalem nie, maar Betlehem.

Die bedoeling van die profesie het hulle nie besef nie.

Siende blind was hulle.

En dis presies soos in die tyd van Miga.

’n Hoogmoedige kan hierdie profesie nie begryp nie.

Eers moet jy op die knieë gaan, jouself verneder, besef dat mense nie veel
vir God kan doen nie,

Maar dat God veel doen vir klein mense.

Dat God groot dinge doen, wonders, deur die mins belangrike mense, op die
mins belangrike plekke.

 

Geliefde gemeente, dit is ook die boodskap vir ons vandag.

Nie Jerusalem nie, maar Betlehem.

In die profesie van Miga lees ons iets oor die aard van God.

Maria het treffend daaroor gesing:

Soos
stoppels voor die wind

dryf Hy die
mensekind,

met als sy
trotse planne.

Sy arm, met
sterkt’ omgord,

het van hul
troon gestort

maghebbers
en tiranne.

 

Miga het geprofeteer: die heerser sal uit Betlehem kom.

En so het dit gebeur:

Jesus is in Betlehem gebore, die stad van Dawid.

Stad, eintlik ’n gehuggie.

God beskaam die hoogmoedige mense in Jerusalem.

Hy paseer die skrifgeleerdes, die owerpriesters, die Sanhedrin.

Hy kies Maria, en dit was heidene wat die Koning van die Jode as eerste
hulde bewys het.

Toe hulle hul koninklike geskenke voor die krib neerlê, toe was Jerusalem
afwesig.

Tussen die reëls lees mens die teleurstelling, die ysige afwesigheid van
ook maar die kleinste geskenkie van die owerpriesters en skrifgeleerdes,

nie eers ’n kaartjie by wyse van spreke.

En dit terwyl hulle tog van hierdie heidene berig ontvang het van sy
geboorte.

In die dorpie Betlehem vind die belangrikste gebeurtenis ooit plaas, maar
die groot stad Jerusalem is afwesig.

 

Geliefde gemeente, ons is nou in die Adventsweke.

Ons lewe nou na Kersfees toe.

Laat ons hierdie profesie van Miga ter harte neem.

Nie net lees nie, maar ook die betekenis daarvan laat inwerk op onsself.

Ons as kerk kry hier te hore, net soos die inwoners van Jerusalem:

Gaan na Betlehem, verneder jou deur na hierdie dorpie te gaan, gaan kniel
daar.

Juis in die kerk, soos in Jerusalem, is dit soms moeilik vir ons mense om
te kniel.

Dit klink raar, maar dit is so.

Jerusalem die groot stad, is slegs gebou op God se genade.

En dit geld ook vir die kerk.

Alles is genade.

Mense in die kerk het die Heiland net soveel nodig soos mense buite die
kerk.

Laat ons na Betlehem gaan, d.w.s. laat ons op die knieë gaan.

Dit vra selfopoffering, aflê van jou hoogmoed, dat jy jou ou mens kruisig.

En dit beteken dat ons werk maak van dit wat by ’n christen pas.

Paulus noem die deugde wat pas by ’n christen:

Blydskap, eensgesindheid, ootmoet.

Dat die een die ander uitnemender ag as homself.

Elkeen let nie net op sy eie belang nie.

Laat die gesindheid in jou aanwesig wees, wat ook in Jesus Christus was.

 

Nie in Jerusalem nie, maar in Betlehem moet ons wees.

Broer, suster, begryp u nou die betekenis van die tema van die preek?

Nie Jerusalem nie, maar Betlehem ...

Dit is simbolies bedoel.

Ek en jy gaan nie ons koffers pak en ’n vliegkaartjie koop na Israel, om Betlehem
te besoek nie.

Maar ons kan wel in die komende weke weer leer om op die knieë te gaan.

Dit is die bedoeling van adventstyd.

En wat ons wel letterlik kan opvat, is dit.

Vanaand, as jy jou kamerdeur toegemaak het, dan kniel jy voor jou bed.

Uit jou liggaamshouding blyk jou geesteshouding.

Nedering, nie hoogmoedig nie.

Die Here dankend vir die grootste geskenk ooit.

Vir die Messias, die Redder van die hele wêreld.

Kom alle getroues,

Vrolik en
vol vreugde,

O kom in die
gees nou na Betlehem.

Loof daardie
Kindjie tot ons heil gebore.

Kom buig
daar in aanbidding,

Voor Jesus,
die Heer.

Amen.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)