Psalm 103 : Om te lewe is om te loof

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2013-12-01
Text: 
Psalms 103
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds PG Boon.

Kopiereg voorbehou.

PRETORIA-MARANATA, 1 Desember
2013.

Votum

Seën

S: Ps 34:1

Wet

S: Ps 34:2

Gebed

Viering nagmaal (formulier lees)

1e tafel: Skriflesing: Psalm 103; Ps 103:1

2e tafel: Teks: Psalm 103:1-5; Ps 103:2,3

3e tafel: Lofverheffing & Dankgebed, Ps 103:8,9

Preek

S: Ps 103:4,5

Gebed

Kollekte

S: Ps 136:1,19,20

Seën

 

 

 

 

 

Preek:

 

Wat jou jeug vernuwe soos die van ‘n arend.

’n Ewige jeug, dit is wat almal wil hê.

Kinders wil graag groot word.

Maar grootmense wil nie oud word nie.

Is dit moontlik om jonk te bly?

Is dit moontlik – al word jy ouer in jare – om tog jonk te bly lyk?

Mense spandeer baie geld hiervoor.

Probeer om die oud lyk uit te stel.

Maar ’n ewige jeug, dit kan geen behandeling, geen botox, geen roompie of
watter middel hoeveel dit ook kos, jou bied nie.

Maar in ons teks lees ons wel so iets.

Die ewige jeug.

Vers 5: sodat jou jeug weer nuut word soos dié van ’n arend.

 

Tema: Om te
lewe is om te loof

-        
Die HERE
vernuwe jou

-        
Die HERE
vergewe jou

-        
Die HERE
kroon jou

 

-           Die HERE vernuwe jou

Sweef soos ’n arend.

’n Arend, simbool van vryheid en krag.

In die Bybelse tyd was ’n arend ook simbool vir onsterflikheid, vir die
ewige jeug.

U ken dalk die verhale uit die oudheid oor ’n phoenix.

Dit was ’n voël wat – as hy verbrand word – weer uit sy as opgerys het.

Oor ’n arend het daar ’n soortgelyke opvatting bestaan.

Elke tien jaar sou ’n arend in die see induik,

en dan weer daaruit oprys, jonk en vernuwe.

Al sy ou vere het hy in die see agtergelaat.

Hy styg uit die water op met ’n splinternuwe veredek.

Vers 5 verwys na hierdie opvatting – ’n arend as simbool van die ewige
lewe.

Die HERE laat jou weer jonk word soos ’n arend.

 

Dit sal besonders wees, as dit moontlik was.

Ek dink dat dit die oerverlange is van mense uit alle tye.

Was die Grieke nie lang gelede al op soek na die lewenskruid nie?

Daardie plant wat êrens aan die einde van die wêreld sou groei ...

En as jy die blare daarvan sou eet, dan sou jy ewig bly lewe ...

Word daar nie vandag nog steeds boeke geskryf en films daaroor gemaak nie.

Soos iemand wat ’n fontein ontdek, êrens diep in die bosse, wat se water
jou ewig laat lewe?

 

Is dit eintlik verkeerd?

Daardie verlange van die mens na die ewigheid?

Of sou jy as mens jouself eerder met jou lot moet versoen?

Jy is sterflik, jou bestaan ken ’n einde.

En geniet wat jy kan, solank jy nog daar is?

 

Gemeente, as ons na die teks kyk, en die geheel van die Bybel,

dan kan mens gerus stel:

Hierdie verlange na die ewigheid is nie verkeerd nie.

Staan dit nie in vers 5 nie?

Gód vernuwe jou jeug soos die van ’n arend.

Hierdie oerverlange van die mens, om die lewe vir altyd vas te wil hou,

dit is iets wat ons oorgehou het uit die paradys.

Ons het wel sterflik geword, maar daardie verlange na die ewigheid het ons
nog.

Alleen, dit het onbereikbaar geword.

Ons kan die boom van die lewe nie meer bereik, om sy vrugte te eet nie.

En nou probeer mense op allerlei manier om dit tog weer te bereik.

Ewig jonk bly.

Hoeveel geld word daar nie voor uitgegee nie?

Om jonger te lyk as wat jy is.

En die tragiese is,

Juis deurdat ons mense so fanatiek besig is om hierdie ideaal te wil
bereik,

Juis daardeur sien ons die enige manier waarop dit wel haalbaar is, oor die
hoof.

Erger nog, dikwels verwerp mens die juiste metode.

Ons beskou ons eie uitvindsels om langer jonk te bly baie beter.

En dit hou ons vol, tot dit te laat is.

 

Gelukkig het God in u geval ongevraagd ingegryp.

Die mens het homself aan die ewige dood oorgelewer.

Maar God het uit grondelose barmhartigheid sy eie Seun gestuur.

Die offer van sy Seun bied Hy aan, sy liggaam en bloed, as spys vir die
ewige lewe.

Hierdie spys laat jou die ideaal bereik.

Hierdeur bly jy ewig jonk.

Sy liggaam en bloed reinig ons van alle sondes.

En ons sondes, dit is juis die ding wat ons sterflik gemaak het.

Ontslae raak van jou sondes, dis die enige manier waarop jy ewig jonk bly.

 

Hierdie is ’n boodskap nie net vir die ou mense nie,

nie net vir mense met rimpels, en wat al begin nadink oor die dood wat al
hoe nader kom nie.

Hierdie boodskap is net so belangrik vir die jeug.

Hoe sal in sy jeug die jongmens, gou deur ydelheid bekoor, rein kan wandel
in sy weë?

Is dit nie tipies vir as jy jonk is, dat jy lewe asof jy ewig sal lewe nie?

Maar hoe gouer jy besef dat jy die bederf al klaar in jou ronddra, hoe
beter.

As jongmens sal jy moet leer om jou sondes raak te sien,

om vergewing daarvoor te vra.

As jongmens sal jy jouself moet bekeer.

Bekering kom nie outomaties saam met die feit dat jy gelowige ouers het
nie.

Bekering gebeur nie vanself in jou nie.

Juis in jou jong dae – as die ouderdom nog nie aan jou liggaam sigbaar is
nie – moet jy al die regte keuses maak, om seker te maak jy mis nie die ewige
lewe nie.

Dis nie iets wat jy tot later kan uitstel nie.

 

-           Die HERE vergewe jou

Loof die HERE, o my siel.

En alles wat binne in my is, loof sy heilige Naam!

Loof met heel jou wese jou Skepper.

Dit is die vernaamste opdrag in jou lewe.

Dis die rede vir jou bestaan.

Om te lewe is om te loof.

Geliefdes, jong en ou mense, vanweë die neiging van elke mens om meer op
homself te konsentreer as op God,

kan dit geen kwaad om reëlmatig hieraan herinner te word nie.

Die eerste rede hoekom jy leef, is om God met jou lewe te eer.

Hierdie Psalm herinner ons daaraan.

Heel jou wese moet die Here loof.

Vergeet geeneen van sy weldade nie.

Dit lê nie aan God dat ons Hom te min prys nie.

Hy oorlaai ons naamlik met weldade.

Vers 3 begin met die grootste geskenk: wat al jou ongeregtigheid vergewe.

Ons ervaar dit nie altyd so nie.

Dit wat in die tweede plek staan, ervaar ons dikwels as baie groter: wat al
jou krankhede genees.

As jy siek was, en jy ontvang genesing, maak dit groter indruk.

Maar maak dit ook indruk, as jy gesondig het, en jy bid om vergewing, dat
God jou vergewe?

Dit is ’n baie groter geskenk.

Veral as jy besef dat wanneer God jou iets vergewe, dat Hy dit ook vergeet!

Vergewe én vergeet.

Dit is pynlik as mense soms sê: vergewe, maar nie vergeet nie.

Dit sal jy God nooit hoor sê nie.

Sover as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons
oortredinge van ons.

 

Die tweede geskenk is eintlik ’n aanhangsel by die eerste.

Danksy die vergewing van sondes, kom daar ook genesing.

Dit was die rooi draad in die prediking van Christus, toe Hy op aarde was.

Die wonders wat Hy verrig het, al die genesings, was illustrasies.

Illustrasies by die hoofdoel hoekom Hy op aarde was.

Hy het gekom om sondes te vergewe!

En dit is baie moeiliker.

“Wat is makliker, om te sê: Jou sondes is jou vergewe; of om te sê: Staan
op en loop?” (Lukas 5:23)

Ja mense soek graag genesing.

Mense bly soek na die geneeskragtige kruid, wat ewige lewe kan skenk.

Maar dit wat hulle afsny van die ewige lewe, dit sien hulle oor die hoof.

Soos die doopsformulier dit onder woorde bring: ons en ons kinders is in
sonde ontvang en gebore.

Daarom rus God se toorn op ons, sodat ons nie die ryk van God kan beërwe
nie, of ons moet opnuut gebore word.

Kennis van jou sonde, daagliks bid om vergewing, dit is die kruid.

Maar dit is vir ’n mens so moeilik, en daarom heet dit die grootste wonder.

As God deur sy Gees ’n mens op die knieë kry.

Dat ons ons sondes bely.

En die grooste wonder, dat Hy ons dan ook wil vergewe.

Danksy die offer van sy Seun.

En so maak Hy vir ons die deur oop na die ewige lewe.

Die kruis van Christus word die lewensboom.

Aan die nagmaal gedenk ons die kruisdood van Christus.

Die skuld is betaal.

Die oorsaak van die dood is weggeneem.

Ons teks sing van hierdie wonder:

Wat jou lewe verlos van die graf, van die verderf.

 

-        
Die HERE
kroon jou

Ja die HERE kroon jou met goedertierenheid en barmhartigheid.

Hierdie is woorde wat mens deesdae net in die Bybel vind.

Sommige mense vind dat mens daarom die woorde anders sou moet vertaal, om
beter verstaanbaar te kan wees.

Tog sou dit nie verstandig wees nie.

Dit is naamlik logies dat so baie Afrikaanssprekendes nie meer iets by
hierdie woorde voel nie.

Dit is omdat daar so baie mense in ons land is wat die HERE nie meer
persoonlik ken nie.

Daar is so baie mense wat ook nie meer die vernaamste rede van hulle
bestaan ken nie.

Hulle rig hulle bestaan veral op die versamel van materiële dinge.

Maar hierdie woorde – goedertierenheid en barmhartigheid – probeer om iets
uit te lê van wat die lewe met God inhou.

Dis nie net goed nie, dis goedertieren.

Dit is ’n intensiewer vorm.

Die woord wil die gevoel oordra van iemand wat oorlaai word met geskenke.

Die gevoel as jy soveel kry, wat jy nie eers verdien het nie.

Soveel dat woorde tekortskiet om dankie te sê.

God kroon jou met goedertierenheid.

 

En barmhartigheid.

Hierdie woord beskryf ’n karaktereienskap wat jy onder mense moet soek soos
’n speld in ’n hooiberg.

Maar by God vind jy dit in oorvloed.

Barmhartig.

Trou aan sy verbond.

Hy dra jou ’n warm hart toe.

Hy laat jou nie in die steek nie, selfs nie in die dood en die graf nie.

Hy versadig jou siel.

 

Die woord ‘siel’ kan jy ook vertaal met ‘lewe’.

Jy ontvang ’n ryk gevulde lewe van Hom.

God kroon jou lewe met goedertierenheid en barmhartigheid.

 

Dus geliefdes, en ek kyk veral ook na die jong mense,

moenie hierdie twee woorde vergeet, as jy nounou weer huis toe gaan nie,

en as die vakansie begin:

besin daaroor, in die momente van stilte,

of dit nou in die natuur is, in die berge, by die see, of gewoon tuis,

besin daaroor: wat beteken God se goedertierenheid en barmhartigheid in my
lewe?

Maak ’n lysie, probeer op jou vingers te tel, 10 dinge in jou lewe, ja nog
meer.

Inderdaad, God is nie net goed vir my nie, Hy is goedertieren. Hy is
barmhartig.

 

Psalm 103 is ’n psalm wat mens by verskeie geleenthede sal terugvind.

Elke keer na ’n nagmaalsviering hoor ons dit.

Die woorde van danksegging.

Maar reëlmatig staan hierdie psalm ook sentraal by ’n begrafnis.

Of by ’n
doopsbediening, of by ‘n troue.

Psalm 103 is toepaslik by vele situasies.

Dit is nie toevallig nie.

Dit is omdat hierdie psalm handel oor die wese van ons bestaan.

Hoekom ons lewe.

Ons lewe om te loof.

Dit is toepaslik, aan die begin of aan die einde van ’n menselewe.

Eintlik kan mens nie oor die einde praat nie.

Want die lewe gaan deur.

Daaroor sing hierdie psalm ook.

God verlos jou lewe van die graf, van die verderf.

God vernuwe jou jeug soos die van ’n arend.

Die arend duik in die see, en nuut en vars kom hy weer te voorskyn.

En vandag is ons deur die nagmaalsviering weer gevoed en verkwik, vernuwe.

Sien en proe God se goedertierenheid.

Die mens – soos gras is sy dae; soos ’n blom van die veld, so bloei hy.

As die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer
nie.

Maar die goedertierenheid van die
HERE is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees.

Sy geregtigheid vir kindskinders, vir die wat sy verbond hou en aan sy
bevele dink om dié te doen.

Wat ’n geskenk!

’n Lewe wat ewig jonk bly.

Want die angel van die dood is verwyder.

Ons ongeregtigheid is vervang met Christus se geregtigheid.

Ons sondes word vergewe, elke keer as ons ’n beroep doen op Jesus se
liggaam en bloed.

En so word die lewe vernuwe.

So bly jy jonk en veerkragtig tot in ewigheid. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)