1 Thes 5 : 12-21 ’n Ampsdraer is instrument in die hande van die Heilige Gees

Minister: 
Ander
Church: 
Maranata
Date: 
2013-11-24
Text: 
I Thessalonicense 5
Preek Inhoud: 

As u die preek wil gebruik kontak
asb ds PG Boon

Kopiereg voorbehou

PRETORIA-MARANATA, 24 November
2013

 

Liturgie:

 

Votum

Seën

S: Ps 87:1

Wet

S: Ps
141:1,2,3

Gebed

Skriflesing:
1 Thessalonisense 5

S: Sb
49:3,5,6

Teks: 1
Thessalonisense 5:12-21

Preek

S: Ps
141:4,5

Bevestiging
ampsdraers (formulier)

S: (staande net voor gebed) Ps 134:4

Gebed

Kollekte

S: Ps 87:2,5

Seën

 

Voorbede:

-         
 


 

Preek:

 

Thessalonika was die tweede plek op die vasteland van Europa, waar Paulus
’n gemeente gestig het.

Dit was ’n hawestad, waar ook ’n sinagoge gestaan het.

Drie sabbatte het Paulus die geleentheid gekry om voor de gaan in die
sinagogedienste.

Maar helaas was die meerderheid van die Jode afkerig teen die Evangelie van
Christus.

Dus het hulle die gawe van die Gees nie ontvang nie.

Tog is daar ’n gemeente gestig in Thessalonika,

wat bestaan het uit ’n klompie Jode, asook proseliete en heidene.

In hierdie nuwe gemeente het die Gees van God woning
gemaak.

In hierdie nuwe gemeente het die Gees ook ampsdraers aangestel.

Oudstes – ouderlinge, asook diakens.

Hulle mog as instrumente van die Heilige Gees begin werk.

Want dit is wat ampsdraers is: instrumente van die Heilige Gees.

 

Tema: ’n
Ampsdraer is instrument in die hande van die Heilige Gees

 

Dit blyk byvoorbeeld uit die volgende voorbeeld.

Ek neem ’n voorbeeld uit vandag se tyd.

’n Hoërskoolseun, Frank, is ’n bietjie onverskillig.

Op katkesasie doen hy nie sy bes nie.

En toe hy ouer word, het hy soms ook Sondagoggende in sy bed bly lê.

Baie daadkragtige ouers het hy helaas nie gehad nie.

Sy ouers het die saak maar net betreur, niks meer nie.

Toe hy op ’n stadium verhuis na ’n nuwe plek, was hy glad nie lus om die
moeite te doen om die mense in die kerk daar te leer ken nie.

Dus het hy op sy nuwe blyplek glad nie kerk toe gegaan nie.

As hy ’n keer weer by sy ouers gekuier het, het hy nog wel met hulle saamgegaan.

Maar op ’n aand, Frank het al sy kos opgehad en het op die bank voor die TV
gelê, toe lui die deurklokkie.

Toe hy oopmaak, staan daar ’n onbekende man.

Hy het homself voorgestel as ’n ouderling.

Frank was ’n bietjie oorbluf, maar het die man laat binnekom.

Daardie aand het ’n indringende gesprek plaasgevind.

Die ampsdraer het baie geluister, maar hy het nie geskroom om Frank ook
tereg te wys nie.

So kon dit nie aangaan nie.

Kort en goed, gemeente, jy sou kon sê dat Frank daardie aand die Heilige
Gees op besoek gehad het.

’n Instrument van die Heilige Gees, daardie ampsdraer, wat ongevraagd hom
opgesoek het, om hom te help.

 

Nog ’n voorbeeld:

Mevrou Terblanche is ’n weduwee, haar kinders woon nie naby haar nie, en sy
is ’n meelewende kerklid.

Op ’n dag word sy siek.

Sy moet in die bed bly, vir ’n paar maande.

Vir haar kinders is dit onmoontlik om haar elke dag te besoek.

Maar die Heilige Gees stuur ’n diaken op haar af.

Hy het ’n rooster opgestel sodat mevrou Terblanche elke dag ’n kerklid op
besoek gekry het, wat vir haar kos gebring het, en kon help met dringende sake.

 

So gebruik die Heilige Gees ouderlinge en diakens.

Mense wat kom om te help, te luister, te vertroos, te vermaan.

En dit alles geïnspireer vanuit God se Woord,

vanuit die liefde van Christus.

Soos gesê, die tema is: ampsdraers is instrumente in die hande van die
Heilige Gees.

 

Daar is twee punte in hierdie preek:

1.     ’n Woord aan die gemeente

2.     ’n Woord aan die ampsdraers

 

1.     ’n Woord aan die gemeente

Ons teks begin met die woorde:

“ons vra julle, broeders, erken die wat onder julle arbei en julle
voorgangers in die Here is en julle vermaan”

Erkenning vir die ampsdraers.

Wat moet mens daaronder verstaan?

Vers 13 verduidelik:

Dat jy iemand hoogag vanweë sy werk.

Hoogag, dit blyk uit ’n liefde vir hulle, omdat hulle deur God bo jou
aangestel is om vir jou te sorg.

Nou is hierdie erkenning formeel al in orde as ons praat oor die 5
ampsdraers wat vandag bevestig sal word.

Dit kerkraad het naamlik name afgekondig van broeders wat hulle geskik ag,

u het saamgestem met daardie lys,

en uit hierdie lys is ’n vyftal verkies wat vandag bevestig word.

 

As hulle nou nou bevestig is, hulle ja-woord gegee het,

dan is hierdie erkenning formeel ’n feit.

Hoewel, daarby kan dit nie bly nie.

As dit goed is sal dit in die toekoms blyk uit die praktyk dat hierdie
erkenning ook inhoudelik vorm kry.

En Paulus noem dan ’n voorbeeld waar dit soms nogal moeilik kan word.

Hy sê: erken hulle wat onder julle arbei en julle vermaan!

Ons verstaan almal dat dit nie outomaties gaan nie.

Kyk, as iemand ’n geliefde aan die dood moes afstaan,

en die ouderling kom as gevolg daarvan trou op besoek,

om te luister, om te deel in die verdriet,

om te help waar nodig,

dan sal dit natuurlik nie moeilik wees om so ’n ampsdraer hoog te ag nie.

Maar dink nou aan die volgende situasie.

Dat ’n ouderling op besoek vir ouers moet tereg wys op die punt van die
opvoeding van hulle kinders.

Dan lê dit – menslik gesproke – baie voor die hand om jou vir daardie
ampsdraer te vererg.

Dan lê dit – menselik gesproke – nogal voor die hand om lelike dinge te
begin sê oor daardie ampsdaer as jy met ander mense praat.

En juis oor so ’n situasie skryf Paulus nou:

Ook as ampsdraers met ’n teregwysing kom.

 

In daardie dae het daar in Thessalonika ’n leergeskil geheers.

Gemeentelede het met mekaar van mening verskil oor wanneer die Here Jesus
sou terugkom.

En hoe jy jou daarop moes voorberei.

Daar was mense in die gemeente, wat die op hande synde wederkoms van Jesus
aangegryp het om hulle luiheid goed te praat.

Hulle het opgehou met werk.

Hulle het begin rondhang, om te werk het tog nie meer sin gehad nie.

Hierdie mense het ’n teregwysing van die ampsdraers nodig gehad.

Die wederkoms sal kom op God se tyd, soos ’n dief in die nag,

en tot op daardie oomblik moet ons waaksaam wees.

Hierdie mense het die onderrig van die ampsdraers nodig gehad, sodat hulle
hulle lewenswyse, hulle houding, kon korrigeer.

Die ampsdraers het baie moeite gedoen, om die gemeente te lei in die HERE.

En reken maar, of dit nou vroeër is of vandag,

as ’n ampsdraer vermaan, dan getroos hy homself baie moeite.

Om ’n vermaning oor te bring, op die regte manier en op die regte oomblik,
dit vra baie energie van ’n ampsdraer.

En juis daarom sê Paulus – ag hulle hoog!

 

Trouens, die woord ‘vermaan’ in ons teks kan misverstand oproep.

Die woordjie ‘vermaan’ het in ons taal ’n nogal negatiewe lading gekry.

Mens gebruik hierdie woord nie meer so gou nie.

Daarom is dit goed om net seker te maak watter lading die oorspronklike
woord in die Griekse teks gedra het.

Volgens die woordeboek sou mens die Griekse woord hier kon vertaal met:

‘onderrig met die doel om gedrag te korrigeer’.

Dit klink dalk minder negatief.

As dit maar duidelik is:

Die ampsdraers is deur God aangestel,

en met die Skrifkennis en lewenswysheid wat hulle ontvang het, kom hulle
nie net op besoek om vriendelik en invoelend te wees nie,

maar hulle taak is om leiding te gee in die lewe met die HERE.

 

En dit kan natuurlik ook inhou dat hulle soms geroepe is om te onderrig met
die doel om bepaalde gedrag te korrigeer.

Aan ouderlinge byvoorbeeld duidelik maak dat ouers tog miskien die
opvoeding van hulle kinders beter aandag sal moet skenk.

Uiteraard gebeur dit vanuit ’n solidêre houding.

Uiteraad gebeur dit eers nadat die ampsdraers goed geluister het na die
situasie.

’n Persoon wat nie kan luister nie – helaas bestaan hulle ook – hoe baie hy
ook van die Bybel af weet, so ’n persoon kan nie ampsdraer word nie.

 

Die Heilige Gees skenk ons ampsdraers om ons te lei in die diens aan die
HERE.

En Hy vra dan ook van sy gemeente om suinig te wees op hierdie mense.

Iemand wat ’n openbare amp beklee, staan altyd bloot aan baie kritiek.

Laat dit in die kerk nie so wees dat leiers allerlei soorte kritiek die hoof
moet bied, terwyl dit nie eens gegrond is nie.

Uiteraard bestaan daar nie ’n leier wat bo kritiek verhewe is nie.

Maar die Gees vra van ons ’n basishouding van respek teenoor die leiers wat
Hy aan die kerk skenk.

Hou vrede onder mekaar, staan daar in vers 13.

Mens kan dit ook só vertaal:

Hou vrede met hulle.

En dan word met hulle bedoel: met die ampsdraers.

Calvyn merk oor hierdie sinsnede op:

‘Want Paulus het volgens my die liste van die duiwel wou keer, omdat die
duiwel nie ophou om gekyf, geskil en haat te bewerk tussen die volk en hulle
herder nie. Daarom sien ons daagliks, oor watter klein en onbenullige dinge
gemeentelede geïrriteerd kan raak teenoor hulle herders ...’

Hou vrede onder mekaar.

Hou vrede met die ampsdraers wat deur die Gees aangestel is.

Hierdie sinsnede vorm ’n oorgang na die volgende verse, wat baie spesifiek
gerig is op die ampsdraers self.

En daarmee kom ons by die tweede punt van die preek:

’n Woord aan die ampsdraers.

 

(Tema: ’n Ampsdraer is instrument in die hande van die Heilige Gees

1.     
’n Woord aan die gemeente)

 

2.     ’n Woord aan die ampsdraers

Aan die adres van die ampsdraers het die apostel Paulus ook ’n boodskap.

Ons versoek julle, broeders ...

Die woord in Grieks kan ook vertaal word met:

Ons spoor julle aan, broeders, of opbeur, of bemoedig.

Die ampsdraers word aangespoor om die onordelikes te vermaan.

Ampsdraers, moenie huiwer om die dinge aan te spreek, wat onordelik is nie!

Doen dit uiteraard met wysheid, maar moenie dit uit die weg gaan nie.

Gemeente, die grootste gevaar vir die kerk, vir ampsdraers én gemeentelede
saam,

is as ons nie meer die moed opbring om met mekaar oor die Bybel te praat,

oor dit wat die HERE van ons vra nie.

Broers, u wat vanoggend bevestig word, bly besef dat jou opdraggewer die
HERE self is.

Namens Hom gaan jy oppad.

Jy hoef jou nie afhanklik te voel van die goedkeuring van mense nie.

Jou ampsdiens is nie afhanklik van wat mense dink nie.

Wees in die eerste plek oop en eerlik in die band na jou Opdraggewer toe.

Dan sal Hy jou die krag en die moed gee, om namens Hom oppad te gaan.

Om namens Hom te praat.

Jy is nie ’n slaaf van mense nie,

maar ’n dienskneg van jou Opdraggewer.

Namens Hom het jy die taak om die onordelikes aan te spreek.

Ook het jy die taak om die kleinmoediges op te beur, soos ons teks sê.

Mense wat twyfel, wat onseker is.

Mense wat bedroef en gebroke is.

Kom op vir die swakkes.

Mense wat nie ’n sterk sosiale posisie in die gemeente het nie.

Mense wat skaam is.

Wees geduldig met hulle.

Lankmoedig.

Die taak van ’n ampsdraer is nie altyd ewe maklik nie, maar dit is wel ’n
pragtige werk.

 

In vers 15 noem Paulus nog ’n belangrike basishouding wat in Christus se
kerk aanwesig moet wees.

Sorg dat niemand ’n ander kwaad vir kwaad vergeld nie, maar jaag altyd na
wat goed is.

Nou is dit so dat hierdie basishouding om kwaad met kwaad te vergeld, wyd
verbreid onder mense voorkom.

Maar daardie houding mag by ons in die kerk nie aanwesig wees nie.

Ons moet daarteen stry.

Julle moet heeltemal anders wees, sê Christus vir ons.

En die ampsdraers moet hierin die voortou neem.

Dit is ’n feit dat daar waar mense saamwerk, dat daar soms meningsverskille
ontstaan.

Of dat daar soms misverstande opduik.

Dit gebeur ook in die kerk.

Dit gebeur ook onder ons dat ’n ampsdraer soms nie eerlik behandel word
nie.

Of dit nou deur ’n mede-ampsdraer is, of deur ’n gemeentelid.

Die basishouding wat Christus van jou as ampsdraer vra, is om nie kwaad met
kwaad te vergeld nie.

As jy as ampsdraer nie eerlik behandel word nie, dan verdra jy, eerder as
om terug te kap.

Ons jaag die vrede na.

Ons wil nie ’n onenigheid laat voortbestaan nie.

Hoor en wederhoor is in hierdie opsig ’n goue reël vir ’n ampsdraer.

Oorwin die kwade deur die goede!

Dit is die mentaliteit van Jesus Christus.

Laat dit die basishouding wees.

Jaag altyd ná wat goed is, teenoor mekaar, sowel as teenoor almal.

Hiermee word bedoel: ook teenoor hulle wat nie lid van die kerk is nie, of
wat lid van ’n ander kerk is.

Dit het te make met een van die vereistes wat God stel vir ’n persoon wat
ampsdraer wil word.

Sien 1 Timotheüs 3:7: “hy moet ook ’n goeie getuienis hê van die
buitestaanders”.

Iemand wat kwaad met kwaad vergeld, kan nie anders as dat hy ook in die
buurt nie ’n goeie naam het nie.

Tensy daar natuurlik kwaadsprekers is, binne of buite die gemeente, wat
hulle deur die satan laat inhuur om iemand ten val te probeer bring.

Maar iemand wat kwaad met goed
vergeld, is ’n soutende sout, ’n lig op ’n berg.

Geliefde ampsdraers, dit mag julle wees.

En dit ís julle ook, in die oë van die gemeente.

Gee dan ook op ’n eerbare wyse leiding.

Altyd gerig op die goeie, op harmonie en eensgesindheid,

nie iemand wat tweedrag saai nie, wat verhale rondstrooi nie,

maar iemand wat integer met sy naaste te werk gaan,

en ook met dit wat deur sy naaste aan hom toevertrou is,

iemand wat vertroue wek deur sy houding.

Moenie die Gees blus nie.

 

Ons is God diep dankbaar dat Christus met sy Gees verder gaan in ons midde.

Van die Heilige Gees ontvang ons vanoggend 5 nuwe ampsdraers.

Hy het gesorg dat daar geskikte persone in ons gemeente is, selfs meer as
wat nodig was.

Gemeente, ontvang met dankbaarheid hierdie persone as instrumente van die
Heilige Gees.

Laat u deur hulle lei, moenie hulle werk blokkeer nie.

Moenie die Gees blus, wat deur hulle werk nie.

En julle ampsdraers, doen julle werk met goeie moed, bewus van die feit
watter belangrike Opdraggewer agter julle staan!

Doen julle werk ywerig, gebruik die talente wat julle ontvang het.

As jy dit doen, sal jy die Gees nie blus nie.

Maar sal Hy kragtig werk, ook deur jou persoon.

 

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)