Luk 8 : 21 Word lid van die Familie van hoorders en daders van die Woord

Minister: 
Ander
Church: 
(onbekend)
Date: 
2013-11-03
Text: 
Lukas 8 : 1-21
Preek Inhoud: 

Indien u die
preek wil gebruik kontak asseblief ds PG BOON

Kopiereg voorbehou.

 

 

Liturgie:

Votum

Seën

S: Ps 139:1,5

Wet

S: Sb 19:5,6,7

Gebed

Skriflesing: Lukas 8:1-21

S: Sb 6:1,3

Teks: Lukas 8:21

Preek

S: Ps 133:1,2

Gebed

Kollekte

S: Ps 22:10,11

Seën

 

 

 

Preek:

 

Sommige mense het ‘n groot familie, broers, susters, kinders, kleinkinders,
oupas, oumas...

Ander mense het maar min.

Sommige mense het wel ’n groot familie, maar die meeste woon in die
buiteland.

Mens kan nog steeds baie kontak met mekaar hê, deesdae met skype sommer
goedkoop, maar nog steeds.

As daar byvoorbeeld ’n verjaarsdag is, is jy nie regtig bymekaar nie.

Kan jy nie saam koek eet nie.

Kan jy nie ’n present gee nie.

Meestal gebeur dit later, as iemand toevallig oorsee gaan, of hierdie kant
op kom.

Mens mis hulle tog, as hulle so ver is.

Al is daar momente van kontak en samesyn, mis mens tog die deurlopende
weeklikse kontak.

Mens sien kinders, kleinkinders nie opgroei nie.

As oupa en ouma, oom of tannie, help jy nie met oppas nie, of dalk met
rondry,

of as daar ’n skoolkonsert is, of ’n musiekuitvoering, of ’n sportdag,
kaskarresies, dan is jy nie daarby nie.

 

Maar vir die mense wat hulle familie naby het, is die lewe heel anders.

Baie besig, om die waarheid te sê.

Amper elke naweek is daar miskien wel ’n verjaarsdag om te vier, of een van
die dinge wat ek hierbo genoem het.

Soms kan dit te besig raak, die familielewe, sodat mens maar moeilik tyd
kry om nog by ander dinge uit te kom.

Of tyd te maak om ook met nie-familie te sosialiseer.

 

Tema: Word
lid van die Familie van hoorders en daders van die Woord

1)   Is Jesus se eie familie wel lid?

2)   Is jy wel lid?

 

1)   Is Jesus se eie familie wel lid?

Ons Here Jesus het hier op aarde ’n groot familie gehad.

In die teks lees ons van sy ma en sy broers.

Duidelik is dat hulle ‘n groot gesin was.

Hy het ten minste vier broers gehad: Jakobus en Joses en Simon en Judas.

Dit weet ons onder andere uit Mattheüs 13.

Hy het ook ten minste twee susters gehad.

Dus in elk geval ‘n gesin van sewe kinders, of dalk nog meer.

 

Hoe het Jesus eintlik met sy familie omgegaan?

Verse 19-20 wek die indruk dat die familie van Jesus verwag het om direk
aandag te kry.

Dit lyk of hulle nogal ‘demanding’ was.

Het hulle ’n spesifieke rede hiervoor gehad?

Was daar belangrike nuus? Slegte nuus? Of dalk goeie nuus?

Of was daar dalk onenigheid?

Of is dit dalk net dat hulle gevoel eht Jesus verwaarloos hulle, dat hulle
nou so ‘demanding’ is?

Dat Jesus die hele tyd net aandag skenk aan die skare?

In elk geval, hulle daag by die huis op waar Hy was.

Maar met so baie skare wat saamgedrom het, kon hulle nie by Hom uitkom nie.

Dus stuur hulle ‘n boodskap – van mond tot mond – tot dit by Jesus uitkom:

Jou familie wag buite vir jou.

 

Ons sien dat die Here Jesus hierdie situasie gebruik as ‘n voorbeeld in sy
onderwys.

Dan dink ons aan die gelykenis van die saaier, en die gelykenis van die
lamp.

In albei hierdie gelykenisse gaan dit daaroor dat jy ’n dader die Woord
moet wees.

Nie net die Woord van God hoor nie, maar dit ook doen.

Dink aan die gelykenis van die saaier: die saad is die woord.

Alle mense ontvang die woord, maar net by sommiges val dit in goeie grond.

Net sommiges doen iets daarmee, laat dit vrug dra in hulle lewe.

En die gelykenis van die lamp.

Ook hier gaan dit oor die Woord.

Die lamp, die lig wat straal, is die Woord.

As jy die lamp kry, wat doen jy daarmee?

Steek jy dit weg onder die bed?

Of sit jy dit op ’n staander?

Dws: die lig, dit is die Woord wat jy ontvang het, maak jy vrugbaar vir jou
omgewing.

In dié sin is hierdie voorbeeld van ons teks dus ’n perfekte afsluiting van
Jesus se onderrig:

Julle moet nie net hoorders van die Woord van God wees nie, maar ook
daders.

As jy dit doen, is jy familie van die Here Jesus.

En dit geld selfs vir sy eie ma en broers.

Ook hulle moet bereid wees om na sy woorde te luister.

 

Ons weet nie of Jesus se ma en broers die hele onderrig van Jesus gehoor
het nie.

Op daardie stadium waarskynlik nie.

Waarskynlik het hulle niks gehoor van die gelykenis van die saaier, of van
die lamp nie.

Op daardie stadium was hulle – sy broers in elk geval – nie baie
geïnteresseerd in hulle oudste Broer se praatjies nie.

Hulle het net daar opgedaag, waarskynlik bietjie vervies dat Jesus die
heeltyd met die skare besig is.

Miskien geïrriteerd dat Hy so lanklaas iets van Hom laat hoor het, so
lanklaas sy gesig by die huis gewys het.

Ons lees in vers 1 van Lukas 8 dat Hy van die een stad en dorp na die ander
gereis het om die evangelie te verkondig.

Moontlik dat Hy nou in ’n dorp nie ver van Nasaret af was nie.

Moontlik dat Hy nou in Nasaret self was.

En dat sy ma en broers gedink het, nou gaan ons na Hom toe.

Maar by die huis gekom, kon hulle Hom nie eens bereik nie.

Daar was net te veel mense.

Hoe groot die skare was, weet ons nie.

Dit hang seker ook af van die grootte van die huis.

Was dit so groot soos bv. ‘n hop-huisie?

Of was dit so groot soos ‘n Waverley huis?

Dit maak ‘n groot verskil in die hoeveelheid mense wat in die huis kon pas,
om na Hom te luister.

In elk geval, sy ma en broers laat toe maar die berig oorbring, van mond
tot mond.

Meester, u moeder en u broers staan buite.

Hulle wil u sien.

En die skare het seker verwag dat Jesus hulle nou sou wegstuur.

Maar nee, nie dadelik nie.

Jesus gebruik die berig in sy prediking.

 

Mens kan ’n indirekte vermaning in Jesus se opmerking hoor.

Dalk was sy eie familie op daardie stadium nie so bereid om na Hom te
luister nie.

Dit is in elk geval duidelik dat sy broers nie baie lus was om na sy
praatjies te luister nie.

Ons lees in Johannes 7: “Want ook sy broers het nie in Hom geglo nie” (vers
5)

Hulle het hulle bietjie vervies vir Jesus se optrede.

Hulle kon sy houding nie verstaan nie.

“Want niemand doen iets in die geheim en soek tegelykertyd om in iedereen
se mond te wees nie.” (Joh 7:4).

 

Dit is ook nie die enigste keer dat Jesus sy eie familie vermaan het nie.

’n Paar hoofstukke later in Lukas lees ons oor ’n soortgelyke situasie.

Na sy prediking oor die onreine gees – in hfst 11- roep iemand uit:

“Salig is die skoot wat U gedra het, en die borste wat U gesoog het”

Maar dan antwoord die Here Jesus nie in die trant van:

Ja, dis waar, Ek het ’n baie wonderlike ma nie.

Hy reageer: “Ja, maar salig is hulle wat die woord van God hoor en dit
bewaar.”

Is hierdie ’n indirekte vermaning aan die adres van sy ma, Maria?

Het die ma dalk te veel haar seun wou vashou, beskerm, en dalk te min na sy
woorde geluister?

Die geloof is uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God (Rom
10:17).

Dit was ’n belangrike, ’n noodsaaklike leerkurwe, waardeur sy ma en sy
broers moes gaan.

Jesus is nie net hulle seun, hulle oudste boetie nie.

Jesus bring die Woord van God.

Ook hulle moet tyd maak om te luister, nie net die skare nie.

 

Tussen hakies, daar is nie rede om te dink dat Jesus sy familiale pligte
verwaarloos het nie.

As kind het Hy geleer om sy ouers onderdanig te wees.

Van kinds af was Hy gewoond om met die familie op te trek (Luk 2:44).

Deur sy lewe het Hy steeds kontak met hulle gehou.

Selfs aan die kruis het Hy gesorg dat sy ma – teen daardie tyd dalk al in
die vyftig – goed voor gesorg sou word.

Toe Hy spesifiek vir Johannes opgedra het om na haar om te sien, asof sy sy
eie ma is.

Moontlik dat Josef al teen hierdie tyd oorlede was?

Ons lees verder, na Jesus se jeug, in die Nuwe Testament nooit weer iets Josef
nie.

Volgens die tradisie was Maria redelik vroeg weduwee.

As oudste kind in die gesin het Jesus dit wat van Hom verwag word, ook
nagekom.

 

Maar goed, dit was dus meer as een keer dat Jesus hierdie saak rondom sy
eie familie aangespreek het.

Waarskynlik was sy prediking ook uitgebreider as net die paar woorde van
ons teks.

Dit is voor die hand liggend dat Jesus hierdie onderwerp – die verhouding
tot sy eie familie en sy eie familie sy houding teenoor Hom – dat Jesus dit meerdere
kere aangespreek het.

 

En dit sal waarskynlik ook nie net een keer gewees het, dat sy ma en broers
gefrustreerd was met Jesus se besige skedule, en dat hulle by hom probeer
uitkom het nie.

Ook in die evangelie Mattheüs lees ons dat Jesus in sy vaderstad aangekom
het, en dat die mense in Nasaret Hom verag het.

“Is Hy nie die seun van die timmerman nie?

Is die naam van sy moeder nie Maria en dié van sy broers Jakobus en Joses
en Simon en Judas nie?

En sy susters, is hulle nie almal by ons nie.

Waar kry Hy dan al hierdie dinge vandaan?

En hulle het aanstoot aan Hom geneem.

Inderdaad, in Nasaret was daar baie familie van Hom.

En vir hulle was dit ‘n veel groter denkskuif om te begin besef, en te
aanvaar, dat Hy hulle Messias sou wees.

Geen wonder dat Jesus dikwels hierop teruggekom het nie.

Sy ma, sy broers, of Hy nou hulle groot held was, of dat hulle Hom dalk
verag het,

in beide gevalle moes hulle ‘n denkskuif maak.

Die feit dat hulle Hom so goed ken, die feit dat Hy hulle eie broer is, dit
is sekondêr.

Hulle moet na sy woorde begin luister.

Hulle moet minder fokus op Jesus as hulle familielid, na die vlees, sy
persoonlikheid.

Hulle moet meer fokus op sy woorde.

 

‘n Aantal jare later sou Paulus met dieselfde probleem te make kry.

In die gemeente van Korinthe was daar verdeeldheid, groepsvorming.

Sommige mense het gesê: ek is van Paulus. Ander: ek is van Apollos. Ander:
ek is van Cefas.

Sommiges het selfs gesê: Ek is van Christus. (1 Kor 1:12)

Moontlik gaan dit hier oor mense wat Christus nog persoonlik geken het,
tydens sy lewe op aarde.

Hulle het ‘n band gehad met Hom as persoon, na die vlees.

Maar hulle het te min na sy woorde geluister.

Paulus vermaan hulle hieroor: moenie op die vlees fokus nie. Moenie op
persone fokus nie, of dit nou Paulus, Apollos, Cefas of Christus is.

2 Kor 5:16: “Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al
het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.”

Dis presies dieselfde boodskap as wat Jesus vir sy ma Maria gegee het.

Moenie My vashou nie.

In die sin van: moenie My vashou as mens van vlees en bloed nie.

Nee, Ek vaar op.

Hy is die verhoogde Christus.

Hy is nie meer ‘n mens soos Maria hom as kind in haar huis gehad het nie.

Hy is nou die verhoogde, die verheerlike, die een van dood was en weer
lewend geword het.

Hy is nou haar en ons ewige Koning.

Hy wat besig is om alles te herskep.

Hy wat haar, en ons, wil verander, transformeer, deur sy Woord en Gees.

Luister daarom na sy woorde.

Sy ma en sy broers, hulle moet nie net na Hom kyk soos hulle gewoond vroeër
was, toe Hy nog by hulle in die huis gebly het nie.

Hulle moet nou met geloofsoë na Hom leer kyk.

Wie die Woord van God hoor en dit doen, hulle is my moeder en my broers.

Jesus se primêre familie is nie sy eie mense, sy bloedverwante nie.

Jesus se primêre familie is wie na die Woord luister en dit doen.

 

Tema: Word
lid van die Familie van hoorders en daders van die Woord

 

 

2)   Is jy wel lid?

En soos hierdie onderrig gegeld het vir die skare, en vir sy ma en broers.

So geld dit ook vir almal wat dit lees, nadat die evangelis Lukas dit
opgeskryf het.

Hy het sy evangelie spesiaal geskryf vir iemand genaamd Theofilus.

Dit het ook vir hom gegeld.

Ook hy mag ’n broer van Jesus wees, as hy hierdie evangelie nie net hoor
nie, maar ook doen.

En dieselfde geld vir ons, noudat ons vandag hierdie gedeelte gelees het.

 

Wie is jou primêre familie?

Is dit jou eie mense?

Of is dit hulle wat saam met jou rondom die Woord vergader word?

Soos die uitdrukkig sê: die familie met die hoofletter F, en met die klein
f.

Is dit nie so, behoort dit nie so te wees, dat jy meer tuis voel by die
familie met ‘n hoofletter F nie?

As jy gelukkig is, is jou klein letter familie ook deel van die hoofletter
Familie.

Dan is jy werklik geseënd.

Maar dis nie altyd so nie.

Meestal is dit nie uitsluitend so nie.

Die antitese tussen geloof en ongeloof loop deur baie families heen.

Dit ontslaan jou nie van die plig om met hulle te sosialiseer nie.

Dis nie wat Jesus bedoel het nie.

Maar, laat dit duidelik wees, dan kan dit nie net by oppervlakkige
sosialiseer bly nie.

Nie as iemand besig is om los te week van die familie met die groot F nie.

Het ons wel die moed om te waarsku, as dit nodig is?

Doen ons moeite – soos Jesus met sy eie familie – om hulle te vermaan,
hulle trek rigting die Familie wat werklik saak maak?

 

Daar is soms spanninge in families.

Spanninge is dikwels as gevolg van konflik, vanweë ons sondigheid, ons
hardkoppigheid, ons trots.

Dalk oor geld.

Dalk oor ’n erfenis.

Dalk oor werk. Wat ook al.

Dit is dinge wat nie so aanvaar mag word nie.

Dit moet aangespreek word.

 

Spanning in familie kan ook veral met die geloof te make hê.

In Jesus se familie was daar ook spanning.

As daar nie werklik eenheid in die geloof is nie.

Of as daar verskil van mening is oor wesenlike sake uit die Bybel.

Hoe affekteer dit die familieband?

Hoe affekteer dit die verjaardagpartytjies?

Die gesellige samesyn?

Word dit dan maar net oppervlakkig?

Want ons weet dat as ons dieper gaan praat, daar net meer spanning kom?

Ma wil tog net dat daar nie verwydering ontstaan nie, dat almal tog
bymekaar bly kom.

Maar gaan dit soms ten koste van die waarheid?

Is dit nog egte liefde?

Hoe bewaar mens ’n goeie sfeer?

Maar ook: hoe bewaar mens mekaar by die geloof?

Wat is wysheid?

 

Nog iets anders wat ons onsself kan afvra is:

Vra die bloedband nie soms te veel van ons tyd nie?

Dat ons sosiaal so besig is met ons familie, dat die hoofletter Familie aan
die agterste speen suig?

Maak ons ook tyd om die vreemdeling soms uit te nooi, of daardie gemeentelede
wat geen familie het nie, wat meeste naweke maar eensaam is?

Kan ons soms nee sê vir familie, en dit natuurlik op ’n mooi manier sodat
dit nie ’n rusie tot gevolg het nie, maar soms voorrang verleen aan hulle wat nie-familie
is nie?

Dit is eintlik wat in ons teks gebeur.

Jesus sê nee vir sy familie.

Nie nou nie, later.

 

Ons mag vanoggend as gemeente saam wees om na die Woord te luister.

As ons die kerk verlaat, dan doen ons dit met die intensie om doeners van
die Woord te word.

Ons is familie met ‘n hoofletter F.

Hier in die kerk word u aangespreek met: broers en susters.

Dit is nie toevallig nie.

Hierdie gewoonte – om mekaar in die kerk broeder en suster te noem,

dit is direk afkomstig uit ons teks.

Die apostels het dit goed begryp en in hulle briewe het hulle die gemeentes
so begin aanspreek.

Selfs in die brief van Jakobus vind ons dit terug.

Jakobus, hy wat een van die boeties van die Here Jesus was.

Die onderwys van ons teks, die vermaning van Jesus rigting sy eie familie,
ook rigting hom,

dit het hy dus gelukkig duidelik ter harte geneem.

In sy brief beroem hy homself nie daarop dat hy die Heiland se broer is
nie.

Inteendeel, hy begin sy brief met: Jakobus, ‘n dienskneg van God EN van die Here Jesus Christus.

Die hoofletter Familie het ook vir hom belangriker geword.

Wat hom betref, staan die skare nie meer in die pad nie.

Nee, hy sluit hom aan by die skare, om te luister na sy groot Broer, en om
te doen wat Hy gesê het.

Julle moet nie net hoorders van die woord wees nie, maar ook daders, skryf hy
in sy brief (Jak 1).

 

Word lid van die Familie van hoorders en daders van die Woord, dit is ons
tema, die boodskap uit ons teks.

Was Jesus se eie familie wel lid?

Aanvanklik het daar twyfel oor bestaan.

Aanvanklik wou sy broers nie in Hom glo nie.

Later lyk dit of hulle omgeswaai het, die denkskuif gemaak het, hulle tot
Hom bekeer het.

In elk geval sy ma, Maria, en Jakobus, dit is baie duidelik uit sy brief.

En nou die vraag: Is jy wel lid?

En: wil jy lid bly?

Geliefde broer, suster,

Kom ons sê vanoggend weer vir die Here, en vir mekaar, en vir jouself:

Ja HERE, ek wil lid wees en lid bly van u familie.

Gee my die krag, deur u Gees, dat ek ‘n hoorder en ‘n doener van u Woord
bly.

Help my om nie te verslap nie.

Dankie HERE, dat u ook my u broer, of suster noem.

 

Amen.

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)