Openb 11 : 1-6 die kerk is veilig by haar Here!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
(onbekend)
Date: 
2012-09-09
Text: 
Openbaring 10 en 11
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds HH van Alten.

 

Preek –
Openbaring 10 en 11

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons het verlede week die eerste ses basuine hoor blaas. Die eerste
ses van sewe… maar die sewende basuin bly nog vir ‘n rukkie stil. Eers in
hoofstuk 11:15 sal die sewende engel sy basuin blaas. Maar voor dít kry
Johannes in Openbaring 10 eers ‘n nuwe roepingsvisioen. Hy word opnuut as
profeet geroep: “Jy moet weer profeteer…” (vers 11). Hierdie onderbreking is nie
onbelangrik nie, gemeente, want dit is ‘n aanduiding dat God se openbaring ‘n
nuwe fase betree. Israel en Jerusalem se uurglas is amper leeg: “daar sal geen
tyd meer wees… in die dae van die stem van die sewende engel, wanneer hy met
die basuin sal blaas, dan is die verborgenheid van God volbring” (verse 6 en
7).

Dus, daar breek ‘n nuwe fase in God se oordeelsopenbaring aan, en dít
wil Hy graag aan sy profeet bekend maak, dít wil Hy graag met Johannes deel. En
moenie hieroor verbaas wees nie, broers en susters, want só het God nog altyd te
werk gegaan. Dink aan die tyd toe God van plan was om sy oordeel oor Sodom en
Gomorra te bring; dan sê Hy in Genesis 18:17: “Sal Ek vir Abraham verberg wat
Ek gaan doen?” Dink ook aan Amos wat God se oordeel oor Israel moes aankondig;
daaroor sê die Here in Amos 3:7: “die Here HERE doen niks tensy Hy sy
raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.” En só is dit met
Johannes ook; hy staan in die lyn van sy Ou Testamentiese voorgangers. En net
soos by hulle, wil God ook in hierdie geval met sy profeet deel dat die
openbaring van sy oordeel oor Israel en Jerusalem ‘n nuwe fase bereik het. Die tyd
is nou baie min…

 

Johannes kry vervolgens die opdrag om die geopende boekie – die
boekie met die oordele wat nou baie naby is – uit die hand van die engel te
neem en op te eet. Ook hier sien ons sy verbondenheid met die Ou Testamentiese
profete, want die profeet Esegiël moes ‘n soortgelyke bevel uitvoer. En die
smaak is, net soos in die geval van Esegiël (en dieselfde lees ons ook van
Jeremia), bitter-soet. Soet, omdat God se weë altyd goed is en altyd blye
tyding verkondig (vers 7). Maar ook bitter, want God se oordele is verskriklik
en angswekkend.

Ja, die gelowiges, van Johannes se dae moes verseker ook hierdie
bitter-soet smaak geproe het. En proe die kerk dit nie ook maar vandag nie?
Soet, want dit is so ‘n geweldige rykdom dat die Here aan ons, sy knegte, meedeel
wat Hy gaan doen, dat Hy sy planne met ons deel – ook vandag nog, in sy Woord.
Maar behalwe die soet, is daar ook die bitter, want ons harte word week wanneer
ons hoor van God se verskriklike oordele. En dáárom, voordat die sewende engel gaan
blaas en God oorgaan tot die uitvoering van sy oordeel, voeg Hy eers ‘n ander
punt op sy oordeelsagenda in: die bemoediging van die kerk! Vóór die oordeel,
eers die troos. Te midde van al die verskrikking, word ons harte eers versterk.
En dít is waaroor dit in hoofstuk 11 gaan.

Tema: die kerk is veilig by haar Here!

  1. ‘n veilige sone word geskep
  2. ‘n hegte verbinding word gelê

 

1. Johannes ontvang ‘n riet, soos ‘n stok (11:1). Vervolgens word hy
aangesê om daarmee die tempel van God, die altaar en diegene wat daarin aanbid,
te meet. Nou is dit belangrik om te weet dat hier vir ‘tempel’ die Griekse woord
naos gebruik word. Hierdie woord dui
spesifiek op die tempelhuis, die eintlike tempel, terwyl vir die hele
tempel-kompleks met al sy voorhowe en bygeboue deurgaans die woord hiëron gebruik word (sien prentjie). Dit
wat Johannes moet meet, is dus slegs die tempel in engere sin: die heilige en
die allerheiligste. Nou, om iets te meet, kan in die Skrif óf dui op ‘n
afgebakende gebied wat bestem is vir verwoesting, óf dit kan dui op ‘n
afgebakende gebied wat teen verwoesting beskérm moet word. Duidelik is die
laaste hier die geval – Johannes moet ‘n sekere terrein afbaken en vir God
reserveer. Dit sluit in: die tempel (dus, die heilige en die allerheiligste),
die reukofferaltaar wat in die heilige gestaan het, asook die aanbidders binne-in
die tempel.

Maar… is die laaste nie effens vreemd nie? Aanbidders binne-in die
tempel? Dit sou in die tempel in Jerusalem nooit gebeur nie; daar was dit slegs
enkele diensdoende priesters wat die tempel kon binnegaan, volgens die bevel
van die Here. Dit moet ons laat dink, broers en susters! Het ons nie hier, met behulp
van die beeld van die aardse tempel in Jerusalem (wat toe nog bestaan het), dalk
‘n verwysing na die hemelse tempel nie? En dit is nie so ‘n vreemde gedagte nie
– die aardse tempel was immers altyd bedoel om ‘n beeld / ‘n voorbeeld / ‘n
skaduwee van die hemelse tempel te wees. Onthou dat die tabernakel, en later ook
die tempel, gemaak moes word volgens die voorbeeld wat die Here op die berg
getoon het – die aardse is dus ‘n skaduwee van en ‘n heenwysing na die hemelse.
Dink ook aan Jesaja se roepingsvisioen in Jesaja 6: daar sien Jesaja die hemele
geopend en God wat op sy hemelse troon sit. En dan baie belangrik: die some van
sy koningskleed het die tempel gevul. Dus, die aardse tempel en die hemelse
tempel het as’t ware in mekaar se verlengde gelê. Ons kan amper sê hulle het in
mekaar in oorgeloop. Dit was altyd God se bedoeling dat die Israeliet, wanneer
hy die aardse tempel sien, sy hart moes ophef na die ware heiligdom in die
hemel!

 

Dus, wanneer Johannes die tempel van God moet meet, dan gaan dit oor
die hemelse heiligdom. In teenstelling tot die aardse tempel, waar slegs die
priesters toegelaat was om in te gaan, mag alle gelowiges, kragtens hulle
priesterskap (Op. 1:6), die hemelse heiligdom binnekom en daar aanbid. Hier is
nie meer ‘n voorhangsel wat hulle keer nie. Inteendeel, sê die Hebreërskrywer,
deur die bloed van Jesus Christus het die gelowiges vrymoedigheid om in die
heiligdom in te gaan, op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur
die voorhangsel heen (Heb. 10:19-20). Dus, die gelowiges mag deur Jesus
Christus die hemelse heiligdom betree om dáár God te aanbid! En hier word hulle
gebede ook werklik verhoor. Immers, die altaar, die reukofferaltaar – want
onthou: in die hemelse heiligdom is daar nie meer ‘n brandofferaltaar nie,
aangesien die enige offer van Jesus Christus alreeds volbring is – hierdie
reukofferaltaar moet óók deur Johannes gemeet word, moet ook beveilig word. En
ons weet vanuit hoofstuk 8 dat die reukofferaltaar dié plek is waarop die
gebede van die heiliges geplaas is, en as ‘n lieflike geur na God opgestyg het.

Dus, samevattend kan ons sê: die hemelse heiligdom word veilig
gestel, die ware aanbidders word veilig daarin bewaar, en die verhoring van
hulle gebede word gewaarborg! Die meet, en daardeur die bewaring, van die egte
tempel – die hemelse heiligdom – beteken ten diepste: die kerk is, in haar aanbidding
van God, veilig by Hom!

 

Gemeente, dit moes ‘n geweldige troos vir die sewe gemeentes in ‘n
baie verwarrende tyd gewees het. Want onthou: in daardie begintyd was die
verskillende christelike gemeentes nog baie sterk gerig op Jerusalem, en sélfs
ook nog op die tempel. Dáár, in Jerusalem, was vir baie jare nog die
‘moederkerk’ – dít is immers waarvandaan die evangelie vanaf die Pinskterdag uitgegaan
het, dít is waarheen die apostels elke keer ná hulle sendingsreise teruggekeer
het, dít is waar die gemeentes raad gaan soek het vir moeilike sake (soos blyk
uit die vergadering van Handelinge 15). Dus, Jerusalem en die tempel het aan
die jong gemeentes in Klein-Asië ‘n soort vastigheid gebied; hulle het na
hierdie ‘moederkerk’ opgekyk.

Maar dan, in die voorafgaande hoofstukke van Openbaring, moet hierdie
jong gemeentes tot hulle skok hoor dat Jerusalem en die tempel verwoes gaan
word. En in hierdie eerste verse in Openbaring 11 word dit nogmaals bevestig – want
Johannes word opgedra om die voorhof buitekant die tempel nie te meet nie; terwyl
die tempel (die naos) na die hemelse
heiligdom verwys, is die voorhof ‘n verwysing na die aardse, fisiese tempel. Hierdie
aardse tempel word aan die heidene oorgegee. En die heidene sal die heilige
stad twee-en-veertig maande lank vertrap. Twee-en-veertig maande lank – gaan
reken maar ‘n bietjie vanaf vroeg in die jaar 67 nC, toe Vespasianus deur Nero na
Judea gestuur is om die Joodse opstand te onderdruk, tot die maand Augustus in
die jaar 70 nC toe Jerusalem en die tempel in vlamme opgegaan het. Dan kom jy
by presies 42 maande uit. Twee-en-veertig maande lank is Jerusalem beleër, en
uiteindelik verwoes en afgebrand.

 

En dit omdat Jerusalem opgehou het om Jerusalem te wees – Jerusalem
het in geestelike sin Sodom en Egipte geword (vers 8a), Jerusalem het onrein
geword en van God vergeet. En die hoogtepunt van hierdie afval, was dat hier uiteindelik
ook onse Here gekruisig is... (vers 8b) Tweemaal tydens sy lewe op aarde het ons
Here Jesus die tempel gereinig omdat dit ‘n rowerspelonk en ‘n handelshuis
geword het; die ywer vir God se huis het Hom daartoe gedryf. Die voorhowe van
die tempel het Hom ter harte gegaan, want dáár het Hy, in die daaglikse aand-
en môre-offer, ‘n skaduwee van Homself gesien. En daarom het hy die handelaars
en die duiwe-verkopers met groot woede uitgewerp. Maar omdat hulle nie wou
luister nie, word hulle nou sélf uitgewerp! En Jesus het dit tydens sy lewe op
aarde alreeds voorspel toe Hy in Lukas 21:24 gesê het: “En hulle sal deur die
skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die
nasies totdat die tye van al die nasies vervul is
.”

 

Nou, hierdie werklikheid moes ‘n bitter-soet smaak in die mond van
die sewe gemeentes gelaat het. Soet – want deur die geloof het hulle geweet dat
God altyd doen wat goed is. Maar nogtans ook bitter – want die geliefde tempel en
die heilige stad is verwoes. Die vastigheid was weg. Maar dan wys God, deur
middel van Johannes se meetwerk, wat nog altyd bedoel was om die hart van die
tempeldiens te wees: naamlik dat gelowiges deur Jesus Christus enige tyd die hémelse heiligdom mag binnegaan. Die
stad en die tempel is dalk weg, sê die Here (of staan in elk geval op die punt
om te verdwyn), maar die ware aanbidders is veilig by My! Ook wanneer elkeen
van hierdie sewe gemeentes in hulle onderskeie stede die stryd met die Joodse
sinagoges moes stry (en hulle moes verseker), dan kon hulle weet: die sinagoges
was dalk indrukwekkend en invloedryk, maar óns lewe onder ‘n geopende hemel,
óns het vrye toegang tot die Vader deur Jesus Christus, ons Hoëpriester.

Gemeente, dit is ook die troos vir die kerk wat vandag onder die
oordeel van Openbaring sidder. Dit is voorwaar angswekkend om die waarheid van Petrus
se woorde te beleef – hier in Openbaring maar ook in die kerk vandag – naamlik dat
die oordeel by die huis van God begin. Dit is met reg verskriklik om te val in
die hande van die lewende God. Máár elkeen wat die Vader in gees en in waarheid
aanbid, elkeen wat die Vader bly aanroep terwyl alle vastigheid hulle ontneem
word, hulle ontvang hemelse beveiliging teen die oordeel.

 

En dit is dan ook die oproep aan die sewe gemeentes, en aan die kerk
van alle tye: soek dit daarbo, waar Jesus Christus aan die regterhand van ons
hemelse Vader is. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want
julle lewe is saam met Christus verborge in God (Kol. 3:1-3). In Christus is
ons lewe! Moet daarom nie vasklou aan die sigbare dinge, aan die aardse dinge,
aan die menslike dinge, en intussen van Jesus Christus vergeet nie. Dit is waar
dit in Jerusalem en die tempel misgegaan het – in plaas daarvan om in Jerusalem
die hemelse stad te soek, in plaas daarvan om in die tempel die hemelse
heiligdom te soek, het Israel vergeet dat stad en tempel heenwysings was na
iets veel beters en veels mooiers. Laat óns dit nie vergeet nie. Laat óns die
hele tyd Jesus Christus soek! En as dit nodig, laat dan toe dat Hy ons kerklike
en geloofslewe reinig, soos wat Hy die tempel in Jerusalem gereinig het – moet
Hom daarin nie afwys nie. Want slegs dan is ons veilig! Slegs dan kan ons saam
met die psalmdigter sê: “Ek gee my hart, tot U omhooggehewe – wat sou ek vlees
dan vrees?” (Ps. 56:1 ber.)

In die tweede plek: ‘n
hegte verbinding word gelê.

 

2. ‘n Veilige sone beteken egter nog nie dat God sy gemeente uit
hierdie wêreld wegneem nie. Dat sy veilig is, beteken nie dat daar nie aanslae
op haar lewe is nie. Steeds kan God sy gesante in die spervuur instuur. En dit
is presies wat ons vervolgens in vers 3 e.v. sien gebeur. God belowe dat daar
twee getuies sal uitgaan. Hulle sal in die einste twee-en-veertig maande,
waartydens die Romeine Jerusalem sal beleër, hulle profetiese getuienis laat
uitgaan. Ja, ek weet, vers 3 praat nie van twee-en-veertig maande nie, maar van
duisend-tweehonderd-en-sestig dae. Dis waar, maar as jy jou sakrekenaar vat, en
jy vermenigvuldig 42 maande met 30 dae per maand, dan kom jy op presies duisend-tweehonderd-en-sestig
dae uit. Dus, ons het hier met presies dieselfde tydsaanduiding te make. Gedurende
die hele tyd waarin Jerusalem beleër en uiteindelik verwoes sal word – 42
maande lank – sal God se getuies op ‘n daaglikse basis – 1260 dae lank – uitgaan
om te profeteer. En hulle profesie sal ‘n oproep tot boetedoening en berou wees
– vandaar dat hulle met sakke bekleed sal wees. Dus, selfs wanneer die vuur van
God se oordeel alreeds oor Jerusalem brand, selfs wanneer die Romeine die stad
in ‘n wurggreep het en daar geen uitkomkans is nie, dan nog steeds is God
genadig, dan nog steeds roep Hy op tot bekering, dan nog steeds is daar geleentheid
vir Israel om haar te bekeer.

 

Maar, gemeente, wie is hierdie twee getuies? Ons moenie probeer om
spesifieke name aan hierdie getuies te koppel nie. Wat ons wel kan sê, is dat hulle
oog- en oorgetuies was van ‘n sekere gebeurtenis. Die term ‘getuies’ dui naamlik
baie sterk daarop dat hulle aanwesig moes gewees het by die gebeure waarvan
hulle vervolgens getuienis aflê. Om ‘n voorbeeld te gebruik: as jy ‘n
motor-ongeluk sien gebeur, dan is jy ‘n getuie daarvan; jy kan later ook in die
hof daarvan getuig. Ek, wat nie aanwesig was nie, kan nie as getuie optree nie.
Nou, dieselfde is hier die geval. En die gebeure waarvan hierdie getuies getuie
was, het alles te make met die lyding en sterwe van Jesus Christus. Dáárvan was
hulle oog- en oorgetuies. Nou, dit kon natuurlik slegs in daardie eerste tyd
gewees toe die oog- en oorgetuies van Jesus se lewe op aarde nog gelewe het. En
verder is daar twee getuies, om
daarmee die Bybelse beginsel te handhaaf dat in die mond van twee of drie die
getuienis sal vasstaan.

Dus, deur Johannes wys die Here dat daar, tydens die beleg en
verwoesting van Jerusalem deur die Romeine, getuies van Jesus se lyding en
sterwe sal uitgaan om die volk op te roep tot bekering. Die apostoliese
getuienis, wat die fondament van die kerk is, sal in hierdie gevaarlike tyd
klink. Ja, dat dit gevaarlik is word vervolgens vir ons bevestig wanneer die
twee getuies doodgemaak, en hulle lyke op die straat van die groot stad laat lê
word. Die bewoners vier fees oor die dood van die twee getuies en stuur aan
mekaar geskenke. Dit is verseker nie ‘n mooi vooruitsig vir die jong gemeentes in
Klein-Asië nie. Máár ook nie ‘n onverwagse vooruitsig nie – immers, die
dienskneg is nie groter as sy Heer nie; as hulle Jesus doodgemaak het, kan sy
diensknegte dieselfde verwag!

 

Maar, broers en susters, die Here laat die jong gemeentes nie sonder
bemoediging nie. Enersyds wys Hy vir hulle dat daar ‘n hemelse verbindingslyn
is. In vers 4 word naamlik gesê dat hierdie twee getuies die twee olyfbome en
die twee kandelaars is wat voor die God van die aarde staan. Dit herinner ons
aan die profesie van Sagaria 4 waar ons presies dieselfde beelde kry. Nou, olie
is in die Skrif ‘n simbool van die Heilige Gees, en die kandelaar kan slegs bly
brand deur die voortdurende toevoer van olie. Die Here belowe dus hier dat sy
getuies vir hulle getuienistaak voortdurend die krag van die Heilige Gees sal
ontvang – hulle is nie alleen nie! Dit is in lyn met wat die Here Jesus self
ook belowe het: “En wanneer hulle jul sal bring voor die sinagoges en die
owerhede en die gesaghebbers, moet julle jul nie kwel oor hoe of waarmee julle
jul sal verdedig, of wat julle sal sê nie; want die Heilige Gees sal julle in
dieselfde uur leer wat julle moet sê” (Luk. 12:11-12). Goddelike krag staan dus
tot beskikking van die tweede getuies – en ons sien dit ook wanneer ons in vers
5 lees dat vuur uit hulle mond sal uitgaan teenoor enige iemand wat hulle wil
beskadig.

 

Andersyds wys die Here dat daar ook ‘n aardse verbindingslyn is. Wat
bedoel ons daarmee? Wel, in vers 6 lees ons dat hierdie twee getuies mag het om
die hemel te sluit, sodat daar in die dae van hulle profesie geen reën sal val
nie. Herinner dit nie aan Elia, wat in die dae van Agab geprofeteer het dat dit
nie sou reën nie, en vir drie jaar en ses maande het dit inderdaad nie gereën
nie? Terloops, drie jaar en ses maande – is dit nie dieselfde as 42 maande en
1260 dae nie? Gaan bereken maar by die huis! En verder het hierdie twee getuies
ook die mag oor die waters om dit in bloed te verander en om die aarde te tref
met allerhande plae so dikwels as hulle wil. Herinner dit nie aan Moses, wat in
Egipte die water in bloed verander het en die Egiptenaars met allerhande ander
plae getref het nie?

Dus, gemeente, hierdie twee getuies kry dieselfde magte as Moses en
Elia. Hulle staan in die lyn van hierdie twee Ou Testamentiese profete. Teenoor
Israel, wat hulle daarop beroem het dat húlle Moses en Elia as hulle voorvaders
het, mag hierdie getuies weet dat Moses en Elia aan húlle kant is. En die Nuwe
Testament gee vir ons bevestiging hiervan. Moses en Elia het immers saam met
Jesus op die berg van verheerliking verskyn. Hierin kon die dissipels sien dat
daar ‘n verbinding is tussen Moses én Elia én Jesus! Jesus is die vervulling
van Moses en Elia; vir Moses en Elia het dit altyd oor hierdie Verlosser
gegaan, hulle het die volk altyd aan hierdie komende Messias herinner. En só
kon die twee getuies weet dat hulle getuienis oor Jesus Christus ‘n bevestiging
is van die boodskap van die Ou Testament. Hulle verkondig nie iets nuuts nie –
inteendeel, hulle staan in die eeue-oue lyn van God se belofte!

 

Gemeente, dit is ‘n geweldige troos vir die sewe jong gemeentes, en
vir die kerk van alle tye. Dit is ‘n geweldige troos vir hierdie gemeente. Ons
word geroep om ten alle tye bereid te wees om verantwoording af te lê van die
hoop wat in ons is; ons word nie slegs geroep om met die hart te glo nie, maar
ook om met die mond te bely; ons word opgeroep om die apostoliese getuienis –
die getuienis van die oog- en oorgetuies – deur te gee te midde van gevare en
vervolging. En wie dán sy lewe wil red, sê die Here Jesus, sal dit verloor,
maar wie sy lewe verloor om Christus wil, sal dit red! Dit is ‘n baie swaar
taak vir mense wat van nature daarop uit is om hulle eie lewens te red. En dan
belowe die Here vir sy gemeente: julle sal krag uit die hemel ontvang om julle
kandelaar te laat brand. In julle getuienis teenoor ‘n vyandige wêreld is julle
nie alleen nie. Julle is ingeprop in ‘n hemelse kragbron, die Heilige Gees!
Gaan met dieselfde vrymoedigheid, waarmee julle die hemelse heiligdom mag
ingaan deur die bloed van Jesus, nou ook die wêreld in en roep die wêreld op
tot berou en bekering. En weet verder dat julle boodskap in ‘n baie ou,
gesaghebbende lyn staan: die lyn vanaf die paradys, via Moses, via Elia, wat
uiteindelik uitloop in die lewe en sterwe van Jesus Christus. Julle is nie
verkondigers van nuwe dinge nie. Nee, dit is die ou, ou boodskap van sonde en
verlossing. Gaan daarom met vrymoedigheid, want julle doen dit met die swaard
van die Gees, en met ‘n getuigskrif van Moses en Elia.

 

Gemeente, as ons weet dat die hemelse Jerusalem onwrikbaar vas staan
en ‘n veilige plek is vir elkeen wat daar skuil, kom ons gaan roep dan ook die
nasies om in te kom. O koninklike stad, maak wyd jou woning; God self wil jou
laat groei op grootser wys. Gemeente van Maranata, maak wyd jou woning, wees ‘n
lig vir jou omgewing. Moenie vrees vir spot of vervolging nie, want die Heilige
Gees is met jou.

En só word sewe gemeentes bemoedig voordat Jerusalem en die tempel
in vlamme opgaan. Só word die kerk van alle tye bemoedig voordat God se finale
oordeel toeslaan. Binnekort kyk ons verder na hierdie oordeel, maar ons is nie
bang nie, want selfs die vyand kom met eerbetoning!

Liturgie
(oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 69:4,
    6, 12 en 14

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat
hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was
en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus,
die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die
konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 118:2 en 12

Lees: Openbaring 10:1-11:14

Sing Ps. 79:1-4

Wetslesing

Sing Ps. 79:5-9

Gebed

Teks: Openbaring 11:1-6

Preek

Amenlied Ps. 87:1-3

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 87:4 en 5

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van
God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
/
Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn
en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy
vrede gee. Amen.

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)