Koning Jesus dra in Sy Naam Sy program

Minister: 
Ds FJ Bijzet
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 11
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 11 H K

LITURGIE:
SB.25: 1, 2, 3
Gebed
L. Joh. 19: 1-22
SB. 7: 4, 5
Prediking
Ps. 2: 4, 5
Geloofsbelydenis: NGB art. 21
Ps. 2: 6
Gebed
Kollekte
Ps. 45: 1-6, 16

Broeders en susters,

Onse God het sy Seun 'n heel gewone mensenaam saamgegee toe Hy Hom aarde toe gestuur het. U weet: nie Maria of Josef nie, maar God self het die naam vir sy seun gekies. Toe 'n engel eers vir Maria, en later ook vir Josef, die geboorte van God se Seun aangekondig het, het hy al dadelik ook die naam genoem wat hierdie Kind sou moet dra: JESUS, in Hebreeus JOSUA.

'n Heel gewone naam wat deur heelwat ander seuns in Israel gedra is. Glad nie opvallend nie.

Nogtans het God baie sorgvuldig daardie naam gekies. JESUS was die naam wat presies by hierdie Mensekind gepas het. Omdat hierdie naam alles sê oor die wérk waarvoor Hy aarde toe gekom het. Sy naam was tegelyk sy program.

God, wat nooit sommer iets doen nie, het vir sy Seun sy hele werkprogram in daardie kort naam saamgepars: JESUS.

Dit beteken mos: "Die HERE red /die HERE gee heil / die HERE maak die lewe weer heel".

God het Hom as Koning uit die huis van Dawid in die wêreld ingestuur om hierdie regeringsprogram uit te voer. Om sy náám ten volle waar te maak.

Vanaf sy eerste lewensdag kon sy naam nie meer weggedink word van sy program nie. Nie vir Homself nie. Maar ook nie vir elkeen wat Hom leer ken het nie.

Hoe mens teenoor Hom as méns gestaan het- dit was feitlik heeltemal onbelangrik. Of mens Hom as persoon 'n aangename mens gevind het- dit het nie eintlik saak gemaak nie. Jesus het geen geneentheid vir sy persoon gevra nie, maar geloof in sy Naam, en dit is dus: geloof in sy program.

Hy het gekom om sy volk in die naam van die HERE te red. Maar dan nie van die Romeine nie; nie van Pilatus en Herodes nie. Maar van hul sondes. So wou Hy hul lewe weer in die ruimte plaas van die gemeenskap met God. Sou wou Hy hul lewe weer heelmaak.

Maar daarom sou die gebruik van sy Naam deur die mense ook heeltemal afhang van hul houding teenoor sy regeringsprogram.

Hy het in hierdie wêreld 'n naam onder alle naam ontvang, wat op talle lippe sou wees, regdeur die eeue. Met hierdie naam sou Hy gaan naam maak. Maar nie vir elkeen sou sy naam dieselfde betekenis kry nie.

Hy sou deur die een bejubel word- 'n ander sou sy naam as vloekwoord gebruik.

Sy naam sou enersyds aan die wêreld voorgehou word as die enigste naam onder die hemel waardeur ons gered moet word. Andersyds sou sy naam te skande gemaak word deur dit spottend op skuttings te skilder.

Of deur dit op 'n bordjie aan sy kruispaal te spyker, soos Pontius Pilatus gedoen het- juis toe ons Koning besig was om sy regeringsprogram volledig waar te maak.

Noudat ons vandag saam met God se volk orals in die wêreld weer gedink hoedat ons Koning op die Goeie Vrydag die dood moes ingaan om sy regeringsprogram vir ons te vervul, wil ek daardie verhaal van die naambordjie wat op die kruispaal aangebring is, saam met u lees in samehang met Sondag 11 van die Kategismus.

Dan vat ek my boodskap soos volg saam:

KONING JESUS DRA IN SY NAAM SY PROGRAM

Die verhaal van Johannes 19 laat ons daarby sien:

  1. HIERDIE PROGRAM IS VIR 'N HEIDEN DWAASHEID
  2. HIERDIE PROGRAM IS VIR DIE JOOD 'N AANSTOOT
  3. VIR HIERDIE PROGRAM MAAK GOD PROPAGANDA

1. Dit was natuurlik spot, broeders en susters- daardie bordjie wat die Romein Pilatus op die kruispaal van ons Here Jesus laat bevestig het: "JESUS DIE NASARENER, DIE KONING VAN DIE JODE".

Nydige spot met die Jode wat die hele oggend druk op hom uitgeoefen het om vir hulle hul sin te gee. En vir wie hy op die ou end, teen sy bedoeling in, ook nog hul sin moés gee.

Dit sal duidelik wees dat die goewerneur glad nie tevrede was oor die wyse waarop die proses-Jesus van Nasaret verloop het nie. In feite het nie hy die leiding gehad nie, maar was dit die Jode wat die hele saak na hul hand geleer het met hul geskree en hul dreigemente.

Wat Pilatus aanbetref kon hierdie Jesus die kruisdood vrygespring het. Hy het regtig nie geweet waaraan hierdie beklaenswaardige figuur hom sou skuldig gemaak het nie, behalwe aan godsdienstige filosofieë wat bo Pilatus se vuurmaakplek gegaan het. As dit aan Pilatus sou gelê het, sou hierdie saak met 'n sisser afgeloop het.

Maar dit was vanoggend onmoontlik om die Jode te keer. Hy het hulle nie tot medelye kan beweeg nie: "Ag kyk daai Mens!".

En hy het hom heeltemal misgis toe hy dit geprobeer het met die vraag: "Moet ek julle kóning kruisig? ". Dit moes hy net nie gesê het nie! Blykbaar was hul so met haat vervul teen hierdie skertskoning dat hulle toe iets geroep het wat hy gedink het om nooit uit die mond van 'n Jood te sal hoor nie: "Ons het geen koning behalwe die keiser nie".

Daardie onverwagse woord het Pilatus soseer onkant gevang dat hy toe ook rêrig nie meer geweet het wat om te maak nie.

Toé het hy Hom aan hulle oorgegee om gekruisig te word.

Maar wanneer Pilatus dan, na die hofsaak wat heeltemal hand-uit geruk het, homself hervind en volgens die gewoonte die opskrif gaan formuleer wat op die kruispaal bevestig moet word, sien hy 'n kans om sy wraak op die Jode te koel. Sarkasties kies hy 'n opskrif waarmee hy die Jode agteraf nog 'n keer kan terg: "Jesus die Nasarener, die kóning van die Jode".

U proe die sarkasme. Die Jode het hierdie Koning nie gesoek nie. Hulle wou, maak nie saak nie hoe, van hierdie Jesus ontslae raak. Om dit te bereik het hulle so ver gegaan dat hulle geroep het: "Ons het geen koning behalwe die keiser nie". Nou maar goed, aan daardie woord sal Pilatus hulle hou. Hy weet maar alte goed dat daardie woord nie so diep sit nie en dat die Jode ongetwyfeld nog wel hul koningsverwagting sal bly koester. Hulle sal bly uitsien na die groot Verlosser uit die huis van Dawid wat die Romein sal verdrywe en Jerusalem tot die nawel van die aarde maak.

Maar met sy bordjie wil Pilatus sê: julle het jul koning nou vir goed gehád, mense. Hierdie Jesus was vir julle nie die moeite werd nie; maar as julle dit my vra, was hierdie een darem jul koning. Ja, regtig, Hy was die Jodekoning. Hy pas mos presies by julle. So koning, so volk. Vir my is julle as volk ewe nikswerd as die beklaenswaardige man aan hierdie kruis. Julle het jul koningsverwagting vergooi deur hierdie Jesus te kruisig. En dit was 'n ware woord wat julle geroep het: voortaan is daar vir julle geen ander koning behalwe die keiser nie!

So spot die Romeinse heiden met die Joodse Messiasverwagting.

Maar so spot hy tegelyk met Jesus self.

Want moenie dink, gemeente, dat hierdie Romein Jesus regtig jammer gekry het nie. Daarvoor was hierdie man veels te hard en wreed. Vir Pilatus was Jesus net so mal soos alle Jode.

Hy het mos ook self beweer Hy is hul Koning?

Pilatus het daaroor 'n kleine diskussie met Jesus gehad maar daarin het Jesus in Pilatus se oë maar net as 'n sonderlinge fantas na vore gekom. Sy Koninkryk is nie van hierdie wêreld nie, het Jesus gesê. Wel, dan kon dit mos ook nie veel werd wees nie.

Hy het gekom om vir die "waarheid" te stry, het Jesus beweer. By daardie program was dit vir Pilatus klaarpraat. Wie wil nou die wêreld verower deur die waarheid te verkoop? ! Was is trouens "waarheid"? Wie kan dit sê, wie bepaal dit?

Pilatus het die gesprek maar gou beëindig. Hy was nie lus om 'n sinlose diskussie te voer nie. Vir hom was hierdie Jesus met sy snaakse koningsfantasieë maar 'n eienaardige dwaas.

Pilatus is die man wat net reken met leërs en getalle en statistieke. Hy kan net in terme van mag dink. 'n Koning is vir hom 'n kragtige figuur wat indruk maak en invloed het. Maar hierdie Jesus is die gekroonde dwaasheid en dus sal Pilatus hierdie dwaasheid spottend aan die kaak stel. Grinnikend formuleer hy die opskrif: Jesus die Nasarener, 'n koning aan 'n kruis. Met ander woorde: die begin was al niks: Nasaret in Galilea, die einde was nog veel minder!

So het die naam van ons Koning te kyk gehang vir baie verbygangers, broeders en susters. Leesbaar in Hebreeus, Grieks en latyn.

Hier is die begin van die eeuelange spot wat met die naam Jesus gedrywe is. Hier begin dit dat die naam JESUS deur die slyk gehaal word, omdat mense die program wat in hierdie naam opgesluit lê, dwaasheid vind. Die spot van die heiden Pilatus het 'n vervolg gekry tot op vandag. Nog steeds word die naam JESUS op skuttings en spandoeke, in boeke en blaaie belaglik gemaak, deur mense wat die besonderheid van sy koningskap nie verstaan nie. Deur heidene wat nie van vergewing van sondes wil weet nie. Vir hulle speel 'n gekruisigde koning nie werklik 'n rol in hierdie wêreld nie.

2. Sodra die bordjie wat Pilatus bedink het, vir die oë van almal sigbaar en leesbaar word, sien ons in Joh. 19 die Jode in beweging kom. Dit lyk na 'n offisiële deputasie van die Sanhédrin. Hulle het die venyn van Pilatus dadelik gevoel en sy spot het hul diep gegrief. Wil Pilatus met sy opskrif sê: Jode, julle het jul koning, daardie lankverwagte groot Held van jul drome, gehád? ! Hierdie mislukte figuur aan hierdie kruis, met die kroon nog op sy kop, dit was hy? ! Hierdie Jesus van Nasaret is jul Jodekoning? !

Moet die mense dít lees, in 3 tale nogal?

Maar só laat hulle hul nie beledig nie! Hulle laat hul dierbaarste verwagtings nie belaglik maak nie.

In die kortste kere staan hulle weer voor Pilatus se neus met die eis: Moenie skryf: "die koning van die Jode" nie! Maar dat Hy gesê het: "Ek is die koning van die Jode".

Maar voel u, gemeente, hoedat die Joodse leiers in hierdie krampagtige poging tot selfhandhawing ewe goed as Pilatus teen Jesus kies?

Hul eis kom mos hierop neer dat hulle sê: laat Hom maar te kyk hang, u mag met Hom die spot drywe soos u verkies, maar laat ons daarbuite asseblief.

So onderstreep die Jode nogmaals hul aanstoot aan die program van hierdie koning.

Het Pilatus koning Jesus maar net 'n snaakse en beklaenswaardige figuur gevind- die Jode het hulle bloedig vererg oor hierdie Jesus. Was dít 'n koning? Hulle het uitgesien na 'n heel andere figuur. Heel anders as hierdie Jesus wat maar net oor sonde preek en 'n klomp hoere, sondaars en gestremdes rondom Hom versamel het. Maar wat dit laat afweet as daar opgetree moet word.

Hulle het wél 'n koning verwag. Maar nie hierdie Jesus wat Homself nie eens kon red nie, maar Homself soos 'n skaap laat slag het. Hy mog dan die naam JESUS dra: "die HERE red", maar die HERE wou Hóm duidelik nie red nie. Dus kon Hy in geen geval hul koning wees nie.

Daarom is die Jode so vinnig by Pilatus met hul vraag om 'n ander opskrif. Hulle wil nie in verband gebring word met hierdie gekruisigde nie. Hulle het nie beswaar wanneer Pilatus daardie aanstootlike figuur nog bietjie ekstra belaglik maak nie, as hulle maar daarbuite gehou word.

Vir hulle het die naam JESUS vir goed afgedaan.

Want ook hulle glo nie in sy program nie.

En dit is dan mense wat die Skrifte ken, broeders en susters. Skrifgeleerdes, teoloë. Hulle kon presies nagaan wat God tevore voorsê het m. b. t. die program van die Koning wat sou kom. Jesus self het hulle meer as een keer na die Skrifte verwys. Nogtans het hulle Koning Jesus verwerp.

En oor geen ander rede nie as dat hulle aanstoot geneem het aan sy boodskap dat ook hulle van sóndes gered moes word. Hulle het voor God geen sondebesef geken nie. Hulle het die woord "bekering" vir die heidene gereserveer. En vir die tuggevalle in Israel. Maar met hulle self was hulle danig ingenome. En daarom het Jesus aanhoudend irritasie by hulle verwek. Daarom het hulle Hom op die ou end aan 'n kruis laat slaan. Omdat hulle deur Hóm nie gered wou word nie- van hul sondes.

So is daar vandag steeds mense wat, alhoewel hulle as teoloë beskou word, Skrifgeleerdes, aan Jesus se regeerprogram aanstoot neem. En wat Hom daarom, nes die Jode, as dit daarop aankom, as hul Koning verloën en afstand neem van sy program.

Dit mag dan in die meeste gevalle nie so resoluut gebeur soos by die Jode wat wel saam met Pilatus Jesus se naam deur die modder wou sleep nie. Vandag lyk dit meestal asof hulle juis sy naam hooghou aangesien hulle baie vroom met die mond in Hom roem. Hulle skryf dik boeke en gewigtige opstelle oor Jesus van Nasaret en die heil van die wêreld. Maar in der waarheid staan hulle met die Jode op een lyn. Die versoening van die sondes word weggeredeneer. En hul eie sondes word verkleineer. Want 'n koning wat die sóndes moet versoen, daarvoor voel die meeste mense hulself te goed.

Ook ons kán ons aan hierdie Koning stoot, broeders en susters. Die gevaar is daar dat ook ons sondebesef slyt. Dan maak ons onsself wel druk oor die heil van die wêreld, ons praat baie oor die sondes en swakhede in ander kerke, maar niemand is meer bekommerd oor sy persoonlike heil nie. En as ons as gemeente konkreet met ons eie sondes gekonfronteer word, of as ons op ons persoonlike lewensstyl aangespreek word, raak ons geïrriteer.

Maar wie Jesus as Koning erken, sal moet weet dat Hy gekom het om allereers sy volk van hul sondes te red. Ons dus. Dít dra Hy in sy naam as program. En daarvoor het Hy op Golgotha aan 'n kruispaal onder die spot van heidene en die ergernis van Jode gesterf.

3. Daarom het God daarvoor gesorg, gemeente, dat daardie bordjie ongewysig bo- aan Jesus se kruis bly hang het.

Die Jode kry van Pilatus nie nog 'n keer hul sin nie. Die goewerneur word aan die einde van die dag tog skielik nog opvallend standvastig: "Wat ek geskryf het, het ek geskrywe". Klaar. Wat daar staan, bly daar staan: daar aan die kruis hang JESUS VAN NASARET, DIE KONING VAN DIE JODE. So is dit en nie anders nie. So mag die mense dit weet. Laat hulle dit maar lees, in alle moderne tale van destyds.

Maar u verstaan natuurlik wel, broeders en susters, dat agter hierdie skielik so standvastige Pilatus die leiding van die onversetlike God skuilgaan. God wou nie hê hierdie kruisteks moes verander word nie. God wou hê daar moes bly staan wat daar gestaan het: JESUS DIE NASARENER, DIE KONING VAN DIE JODE. Want hierdie propaganda kom God presies van pas. Inderdaad, hier hang die Koning van God se volk, hierdie Jesus van Nasaret.

Dit is natuurlik die rede dat Johannes, juis Johannes wat ook tydens die lydensweg van Christus aanhoudend aandag vra vir sy heerlikheid, ons hierdie geskiedenis so uitvoerig vertel.

Laat die mense die naam van Jesus maar deur die modder sleep- God hou hierdie naam hoog. God lei dit so dat hierdie naam in 3 wêreldtale aan die wêreld voorgehou word, juis op die oomblik wat sy Koning die program wat in hierdie naam opgesluit lê, op sy mooiste volbring. Jesus van Nasaret red sy volk van hul sondes, deur self vir hulle tot sonde te word en God se vloek oor die sondes aan 'n vloekhout te ondergaan.

Wat Pilatus geskryf het, het hy na waarheid geskrywe. Nooit is daar so veel waarheid oor die kruis van Golgota geskrywe as op daardie klein hout bordjie op die kruispaal nie.

So is dit presies: aan daardie bespotlike kruis hang in der waarheid die Koning van die Jode uit talle wonde en doodbloei; en sy naam is Jesus: die HERE red. Want dit is die wyse waarop die HERE red en sy heil aan die mense teruggee: deur 'n Koning wat vir sy volk die vloek dra. Hy is inderdaad uit Nasaret afkomstig- want Hy het een van ons geword, in alles aan sy broeders gelyk om hul sondes op Hom te neem. Hy het sy geseënde liggaam aan die kruis laat spyker om die akte van beskuldiging wat teen ons gerig was, vanweë ons sondes by God, weg te doen. Hy wou Hom verneder tot in die allerdiepste smaad en angs van die hel om die toorn van God waaronder ons vir ewig moes versink het, van ons af weg te neem. Dit was die program waarvoor Hy in die wêreld gekom het. Die program wat Hy in sy naam met Hom saamdra.

En laat die heiden dit maar dwaasheid vind, en laat die Jood maar aanstoot daaraan neem- God maak vir hierdie program propaganda. Die hele wêreld mag dit weet- moét dit weet: so maak die Koning van God se volk, die vors wat vir alle volke die vrede wil besorg. Hy hang vir daardie vrede aan 'n kruis. Langs dié weg maak Hy sy naam waar.

Wat Pilatus geskryf het, is die volle waarheid: die Jode het in Jesus hul koning gehád. Na Hom is daar nooit meer 'n ander te wagte nie. Sy swakte was juis sy krag. Sy kruis word sy kroon en sy majesteit kan mens reeds van die kruis af lees.

So het God dadelik begin om propaganda te maak vir Koning Jesus, gemeente.

Aan die kruis het God sy Seun naam laat maak.

En van toe af het niemand daardie naam meer uit die wêreld kan wegwerk nie. God het met sy propaganda vir hierdie naam die wêreld deur gegaan- in nog baie meer tale as Hebreeus, Grieks en Latyn. Want daar is onder die hemel geen ander naam aan die mense gegee waardeur ons gered kan word nie. Immers, Hy alleen is dit wat sy volk van die oorsaak van alle ellende en onheil kan red: die sonde. Die sonde wat aan 'n mens die ewige dood besorg.

God het ook ons met sy propaganda bereik, gemeente. En met die oproep tot geloof en bekering wat daarin saamkom. Hy vra eenvoudig geloof. Die erkenning van ons skuld teenoor Hom wat ons nog daaglik groter maak. En die vertroue dat daar volkome vergewing is vir elkeen wat hom op die naam van Jesus beroep.

Maar dis nou wel alles of niks, waarsku die Kategismus in Sondag 11 vir ons.

As u op hierdie Goeie Vrydag met die mond in Hom roem, moet u Hom ook met u hele hart aanvaar- aanvaar as die Verlosser van u sondes. U moet uself totaal aan Hom uitlewer. U moet met volkome leë hande voor Hom kom staan.

Dit is vir g'n mens maklik nie.

Hoogmoedige mense, selfversekerde mense, eiewyse mense moet eers klein en beskaamd word om voor Koning Jesus te kan kniel.

Maar daartoe roep God u en my weer op, vandag.

Om te kniel vir sy gekruisigde Koning. En om sy naam vir waar te aanvaar.

Hierdie dag is 'n feesdag vir God se volk. Maar nie minder 'n dag van verootmoediging vir ons almal persoonlik nie. So groot is ons sondeskuld by God, dat ons Koning 'n onbegaanbare weg moes gaan om sy naam waar te maak en sy volk te verlos.

Maar Hy hét langs dié weg sy naam waargemaak en van God daarom 'n naam bo alle naam ontvang, sodat in die naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus, die gekruisigde Koning, die Here is. As dit nie goedskiks is nie, dan maar kwaadskiks. Want wat God geskryf het, alreeds in die naamgewing van sy Seun, dit het Hy geskrywe!

AMEN.

(29 Maart 1991, Pretoria)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)