In die Skrif kom die drie-enige God na ons toe

Minister: 
Ds FJ Bijzet
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 8
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 8 HK

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 139: 1, 2, 3
Gebed
L. Hand 2: 14-36
SB. 18: 2, 3, 4
Prediking
Gesonge Geloofsbelydenis
Gebed
Kollekte
SB.50: 7
Seën

Gemeente van die drie-enige God,

Dit gaan in hierdie preek vanaand nie oor "die Drie-eenheid" nie. Ek hoop ook nie u het iets dergliks verwag nie.

Want die Drie-eenheid - dit is 'n dogmatiese begrip waaroor 'n mens allerhande beskouings kan ten beste gee.

Maar ek is nie geroepe om dogmatiese begrippe met u te behandel nie. Dit is my taak om u God aan u te laat sien, soos Hy Self in die Bybel na ons toe kom.

Dit is ook wat Sondag 8 van die Kategismus wil doen. Dit gaan ook in Sondag 8 nie oor die begrip "Drie-eenheid" nie. Sondag 8 wil maar net vir ons duidelik maak oor Wie dit op die ou end in die hele Bybel gaan.

Moet maar die lyn van Sondag 7 na Sondag 8 volg. Nadat gesê is dat slegs die wat deur 'n ware geloof Christus en al sy weldade aanneem, deur Hom gered word, word gevra: "Wat moet 'n Christen glo? " En dan is die antwoord: "Alles wat in die evangelie aan ons beloof word".

Maar daardie "alles" kan in 12 artikels saamgevat word: die 12 Artikels van ons algemene en ongetwyfelde Christelike geloof.

Sondag 8 laat vervolgens egter sien dat 'n mens daardie 12 Artikels ook nog weer kan saamvat: in 3 dele: "Oor God die Vader en ons skepping, oor God die Seun en ons verlossing, en oor God die Heilige Gees en ons heiligmaking".

Maar daardie drie onderskeie Persone: God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees is tog ons een en ewige God.

Dus op die ou end gaan dit maar net oor Hom in die hele Bybel: ons God.

Daarom gaan dit ook in hierdie preek oor Hom: ons een God, wat ons ken as Vader, Seun en Heilige Gees.

Ek verkondig u vanaand:

IN DIE SKRIF KOM DIE DRIE-ENIGE GOD NA ONS TOE

HY IS DIE GOD WAT

  1. IN HOMSELF DIE LEWE HET
  2. EN AAN SY VOLK DIE LEWE SKENK.

1. Ons sal ons God moet aanvaar soos Hy in die Skrif na ons toe kom, broeders en susters. Want ons kan Hom onmoontlik presies in ons menslike denkrame in pas.

Immers: hoe moet ons ons dit meteen al voorstel: dat ons aan die een kant moet bly praat van God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees, en aan die ander kant moet bly glo dat daar tog maar een goddelike Wese is?

Ons kan dit met geen enkele vergelyking verduidelik nie.

Die vergelyking met 'n man wat sowel die hoofonderwyser van 'n skool as 'n ouderling in die kerkraad as die Pa van 'n gesin is, klop nie. Want daardie man bly een en dieselfde persoon. Hy kan nie as ouderling 'n huisbesoek by die hoofonderwyser bring nie. Hy kan nie as onderwyser 'n slag met die Pa gaan praat oor een van sy kinders nie.

Maar ons lees in die Bybel dat God die Vader sy Seun aarde toe stuur. Dat die Vader vanuit die hemel vir sy Seun op aarde sê: "Dit is my Seun in Wie Ek 'n welbehae het". Ons lees dat God die Seun op aarde in gebed praat met sy Vader in die hemel. Ons lees dat die Heilige Gees soos 'n duif op God die Seun neerdaal. En dat die God die Heilige Gees God die Seun na die woestyn toe lei.

Daar is klaarblyklik drie onderskeie Persone. En tog kom Hy ook as die enige God na ons toe.

Daar is ook wel die vergelyking gemaak van 'n vlag met drie bane. Elke baan het sy eie kleur en vorm 'n onderskeie deel op die vlag. Nogtans vorm aldrie saam die een vlag.

Maar 'n vlag is 'n dooie ding, broeders en susters. 'n Vlag kan uit sy eie niks doen nie. Die een baan van 'n lag kan ook geen inisiatief toon na die ander bane toe nie. Terwyl die drie Persone van ons een God vol lewe en inisiatief en aktiwiteit is.

Daarom moet ons ons God gewoon aanvaar soos Hy in die Skrif na ons toe kom. En ons moet ronduit erken dat Hy ons verstand te bowe gaan.

Daardie uitdrukking gebruik ons belydenis ook 'n paar keer met betrekking tot God: dit gaan ons verstand te bowe. U kry dit byv. in art 9 van die NGB waar ook oor die drie Persone in ons een God gepraat word; en in art 13 waar God se voorsienige hand in alle dinge bely word.

In daardie uitdrukking klink die beskeidenheid van die geloof. Hoogmoedige mense wat alleen reken met hul "gesonde verstand", sê: "Dit kan nie wees nie. Dit is mos nie logies nie. Drie is mos nie een, en een is geen drie".

Maar die wat die HERE aanvaar op sy Woord, het geleer dat sy verstand in die eerste plek nie meer gesond is nie, maar aangetas deur die bederf van die sonde; en dat sy verstand in die tweede plek maar baie beperk is sodat daar talle dinge in God se wêreld is wat ons met ons menseverstand nie kan bevat nie.

So moet ons eenvoudig God glo op sy Woord.

En dan hoef u regtig nie skaam te wees daaroor dat u talle dinge mbt God nie kan verklaar en in 'n logiese redenering kan vang nie. Dit wys vir ons mos maar net dat ons God regtig Gód is! Hy is alleen die ware God.

'n Afgod gaan nooit die menseverstand te bowe nie. 'n Afgod doen nooit dinge wat niemand kan verklaar nie.

Natuurlik nie, die afgod is mos self die produk van die menseverstand. Die mens het hom eers self bedink.

Maar niemand het God die HERE "bedink" nie. Hy het ons "bedink" en tot lewe geroep. En ons kan nie 'n sinvolle woord oor Hom praat nie, behalwe dit wat Hy Self oor Homself gesê het in die Bybel.

Het u gesien, gemeente, dat die Kategismus ook eenvoudig bly by wat die HERE oor Homself in die Skrif geopenbaar het?

Daar word geen enkele poging onderneem om dit wat onbegryplik is, op die een of ander manier tog enigsins begryplik te maak nie. Daar word geen logiese redenerings geprobeer om die geheimenis 'n bietjie deursigtig te maak nie.

Ons kan nie. Kyk wat sê die Kategismus: "Waarom praat jy van drie, naamlik die Vader, die Seun en die Heilige Gees, terwyl daar mos net een, enige goddelike Wese is? " Antwoord: " Omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar het".

Met ander woorde: So kom God duidelik in die Skrif na ons toe: as die drie- enige God. So laat Hy Homself ken. Dus wil ek Hom so ken, al gaan dit ook my verstand te bowe.

Die HERE sê in sy Woord nie alles oor Homself nie. Ons kry geen volledige informasie oor die lewe en die samelewing van die Vader en die Seun en die Heilige Gees nie.

Art 2 NGB sê dat die HERE in sy Woord "soveel" van Homself bekend maak "as wat vir ons in hierdie lewe nodig is tot sy eer en tot saligheid van hulle wat aan Hom behoort".

Maar dit wat die HERE oor Homself bekend maak dwing ons om Hom die Drie-enige God te noem.

Kom ons kyk 'n oomblik na die Skrifgedeelte wat ons saam gelees het. Ek het vir vanaand gewoon maar 'n gedeelte uit die Pinksterevangelie geneem: Hand 2.

Maar dis ook sommer 'n gedeelte waarin God Hom as die Drie-enige God aan ons openbaar.

Petrus herinner die Jode daar aan die Here Jesus.

Hy het as mens op aarde geleef, midde tussen al die ander mense. Hy is in Jerusalem vermoor. Maar hulle het in Jerusalem ook baie goed kon weet dat hierdie Jesus Homself as meer as 'n mens aan sy volk gepresenteer het. Dit was mos die rede hoekom hulle Hom doodgemaak het: Hy het Homself aan God gelyk gestel.

Dit was geen hoogmoed, sê Petrus nou. Dit was geen godslastering. Hy wás en ís God!

God die Vader het dit duidelik vir julle aangewys met al die kragte en wonders en tekens wat God deur Hom onder julle gedoen het. Immers: wie kan oor die golwe van 'n meer loop? Wie kan die wind bevele gee en hy gehoorsaam? Wie kan dooies in die lewe terugroep?

Daarom het God die Vader sy Seun na sy volbragte werk op aarde weer 'n ereplek langs Hom op die troon in die hemel gegee.

U hoor: Petrus praat hier oor God en oor Jesus, as twee onderskeie Persone.

Maar die Jode kan uit sy woorde baie duidelik aflei dat Jesus self dus tog ook God is. Sy verhoging in die hemel aan God se regterhand bewys mos dat sy woorde: "Ek en die Vader is een" geen godslastering was nie, maar die volle waarheid. En boonop: Petrus sê dat Hy hierdie dag die Heilige Gees van God uitgestort het. Maar dan moet Jesus Self mos ook God wees.

So kom God in hierdie Skrifgedeelte in elk geval al as twee onderskeie Persone na ons toe, gemeente.

Maar dan is daar in hierdie hoofstuk ook sprake van die Heilige Gees.

'n Mens sou, as jy net Hand 2 lees, nog kon dink dat die Heilige Gees nie 'n Persoon is nie, maar 'n krag, 'n goddelike energie.

So praat die moderne teologie van die Heilige Gees. Hulle noem die Gees die "aktiewe teenwoordigheid van God in hierdie wêreld". Die Heilige Gees is dit wat van God merkbaar word in ons lewe.

Maar as ons op ander plekke in die Bybel lees, kom ons agter dat ook die Heilige Gees 'n Persoon blyk te wees.

Christus noem Hom sy plaasvervanger.

Hy is die Trooster, die Helper wat die kerk na Jesus se hemelvaart kry.

Jy kan Hom bedrieg, soos Ananias en Saffira gedoen het.

Jy kan Hom bedroef as jy nie na sy Woord luister nie.

Ja, want die Heilige Gees práát ook met die mens: Hy het met Filippus gepraat toe Hy hom na die hofdienaar van die koningin van Etiopië toe gestuur het. En die sewe gemeentes in Klein-Asië word almal opgeroep om te hoor na dit wat die Gees tot die gemeente sê.

Die Heilige Gees is 'n Persoon.

Dis dié dat die Here Jesus die Heilige Gees 'n volwaardige plek naas Homself en die Vader gegee het in die opdrag aan sy disippels om al die nasies te doop: "... en doop hulle in die Naam van die Vader, en die Naam van die Seun en die Naam van die Heilige Gees".

Ons vier dus vandag nie die koms van 'n nuwe soort energie van God op aarde nie. Maar ons vier die koms van God Self in die Persoon van die Heilige Gees, wat vanaf Pinkster by, ja, in ons kom woon het.

Drie Persone. Terwyl die Bybel onmiskenbaar oor een God praat.

Weet u wat ons in elke geval al hieruit moet leer, broeders en susters?

Dat God ons nie nodig het nie om te kan lewe nie. Ons hoef nie te vrees dat God sonder ons eensaam sou wees nie. God het genoeg lewe in Homself.

As u kyk in die eerste vers van die Evangelie soos Johannes dit beskryf het, lees u daar: "In die begin was die Woord. En die Woord was by God, en die Woord was God" Later, uit vs 14 van hierdie hoofstuk, word dit duidelik dat Johannes hier met "die Woord" God die Seun bedoel. Natuurlik: in Hom, ons Here Jesus Christus het God mos al sy woorde vir ons saamgevat. Alles wat Hy te sê gehad het, al sy liefdesboodskappe vir ons, het Hy in een keer gesê toe Hy sy Seun aarde toe gestuur het.

Maar daardie geliefde Seun was dus al in die begin, ver voordat die lewe op aarde begin het, toe die aarde self nog nie eers geskape was nie, en ook nie die hemel nie - van ewigheid af was God die Seun reeds daar. By die Vader.

En Johannes se woordkeuse in die Griekse teks, wat in ons vertaling weergegee is met 'n eenvoudige: "en die Woord was by God", onthul ons iets van die omgang tussen die Vader en die Seun. God die Seun was nie net by die Vader aanwesig nie. Hy het met die Vader gekommunikeer. Hulle het in 'n baie vertroulike verstandhouding saamgeleef.

Dieselfde klink ook in Johannes se woordkeuse in vs 18 van hoofstuk 1, wanneer hy skryf oor "die Eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is". Dit wys op 'n liefdevolle omgang van God die Vader en God die Seun met mekaar.

En dan mag ons maar aanneem dat ook God die Heilige Gees in daardie liefdevolle samelewing gedeel het.

Hoe moeilik dit ook vir ons is om ons dit in te dink, die HERE dwing ons Self in sy Woord om te besef dat Hy geheel en al onafhanklik van ons is. Hy besit 'n volheid van lewe in Homself.

Ons kan nie sonder Hom leef nie, sonder Hom sou u vanaand nie hier gesit het nie. Maar Hy kan wel sonder ons. Die apostel Paulus het dit eendag vir die filosofe van Athene so uitgedruk (u lees dit in Hand 17): "Hy is die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is. Hy hoef nie deur mensehande gedien te word asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee".

So moet u allereers u God ken, gemeente: as die absoluut onafhanklike God wat u nie nodig het om te kan lewe nie.

U sal dit skaars kan glo, maar daar is teoloë deesdae die presies die teenoorgestelde beweer. Hulle leer dat daar 'n wedersydse afhanklikheid tussen God en die mens bestaan. God hou nie net ons aan die lewe nie, maar ons moet ook God aan die lewe hou. Ons moet Hom selfs mooi oppas, omdat Hy deur ons skuld baie siek en swak geword het en dalk kan doodgaan. Ons moet ook beslis meer warmte in hierdie wêreld produseer, anders sal God ons vrieskoue nie kan oorleef nie.

Sulke godslasterlike geluide kan 'n mens regtig deesdae hoor!

Maar die god waarvan hulle praat, is niks anders as die voortbrengsel van hul eie dwase en hoogmoedige fantasie en het niks te make met die Drie-enige God wat in die Srif na ons toe kom nie.

Ons God is "die waaragtige God en die ewige lewe", skryf die apostel aan die einde van sy eerste brief. En sou ons nietige skepsels, dan daarvoor moet sorg dat God die lewe nie verloor nie? !

2. Dit is juis andersom: ons kan geen lewe aan God gee nie, Hy gee die lewe aan ons. "In Hom leef ons, beweeg ons en is ons. "

Daarvan getuig mos die hele Bybel.

Laat ek daarop in my tweede punt nog mag wys.

Kom ons kyk nog maar 'n keer na Hand 2 vanaf vs 14. Ek sê weereens: ek het sommer hierdie gedeelte gekies omdat dit vandag Pinkster is. Maar ook in hierdie gedeelte kom die Drie-enige God duidelik na ons toe as die God wat lewe aan ons wil skenk.

Immers: God die Heilige Gees is in Jerusalem uitgestort. Waarom? Omdat God, soos Hy orals in die Ou Testament beloof het, die lewe op aarde weer leefbaar wil maak. Die Gees van God sal soos water op dorsland wees en soos strome op droë grond, het die profeet Jesaja geprofeteer. Deur die Gees bloei die lewe weer op en word vrugbaar. En wat is die vrug van die Gees? Kyk byv. Gal 5: "liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing". God die Heilige Gees trek ons weg uit die doodloopstraat en neem ons saam na die ewige lewe toe.

Dit beteken die koms van die Gees met Pinkster. Na God toe!

Maar Wie mog op Pinkster hierdie Heilige Gees gee? God die Seun, ons Here Jesus Christus. Want hy het die lewe vir sy volk terugverdien. Hy het die bande van die dood verbreek nadat Hy Self vir sy volk die dood gesterf het. Hy wou sterwe sodat ons kan lewe!

Daarom mag Hy die lewendmakende Heilige Gees nou aan ons skenk vanaf sy ereplek by die Vader op die troon in die hemel.

Maar Wie is dit wat aan Jesus toelaat om op Pinkster die Heilige Gees aan sy kerk te skenk? Dit is mos God die Vader, wat vanaf die skepping van hierdie wêreld die lewe wat daar in Hom is, met mensekinders wou deel. Hierdie hele wêreld getuig van die lewe wat Hy in Homself het maar wat Hy aan die mens wou skenk.

Selfs toe die mens die lewe vergooi en sy God verwerp het, het God die lewe op aarde nie laat doodloop nie. "Want hierin is die liefde van God vir ons geopenbaar, dat God sy Eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe".

En toe die Vader sy Seun uit die dood opgewek het, het Hy aan óns almal die weë van die lewe bekend gemaak. Toe die opgewekte Seun die lewe vir ons terugverdien het, mog Hy van die Vader die lewendmakende Gees aan ons skenk.

So vertel die Bybel hier en orals hoedat God ons die lewe aanbied, broeders en susters. Maar dus ook dat ons in onsself hoegenaamd geen lewe het nie, al klop ons hart ook gesond en werk ons brein normaal. Ten spyte daarvan lê ons midde- in die dood. Ons moet die lewe buite onsself in hierdie drie-enige God soek.

Ons is volslae van Hom afhanklik. Ons kon hierdie wêreld nie skep nie, ons kan dit ook nie instandhou nie. Dit kan God die Vader alleen.

Ons kan hierdie wêreld alleen maar verwoes.

Ons kon na ons sondeval die kloof met ons hemelse Vader selfs nie oorbrug nie. Ons kon die dood wat ons self ons op die hals gehaal het, nie van ons afskud nie. Dit kon God die Seun alleen.

Ons kan die kloof maar net nog groter maak.

Ons kan uit ons eie nie eers in die Seun as ons Verlosser glo nie. Daar is in ons hoegenaamd nie die wil aanwesig om deur Christus weer tot God se kinders aangeneem te word nie en weer soos God se kinders te leef nie. God die Heilige Gees moet eers indring in die binneste dele van ons lewe en daar 'n nuwe lewe verwek.

Maar God wíl dit doen, gemeente. Hy wil die lewe met ons deel. Dit is die boodskap van die Bybel op elke bladsy.

Vir dié doel werk Vader, Seun en Heilige Gees vanaf die skepping al saam.

En daar lê 'n vaste gemeenskaplike plan aan ten grondslag. Petrus praat in Hand 2: 23 van "Raad".

Ja, want al het elk van die drie Persone 'n spesiale taak op Hom geneem, is hulle aldrie ten nouste by die werk van die ander betrokke. Hulle is saam mos een God!

Daarom was die Gees en die Seun betrokke by die Skepping, daarom was dit die Vader wat die Seun aarde toe gestuur het en was dit die Gees wat die Seun as 'n mens in Maria verwek het, daarom was dit die Seun wat op die Pinksterdag met die instemming van die Vader die Heilige Gees uitgestort het.

Ons moet hierdie eenheid en samewerking nie vergeet nie, gemeente. Nooit mag ons die werk van die Een benadruk bo die werk van die Ander.

Dit is dikwels gedoen in die kerkgeskiedenis.

So is byv. die Verlossingswerk van die Seun losgemaak van die Skeppingswerk van die Vader. Dan het mense net vir hulle siel 'n plekkie in die hemel gesoek deur Christus en hul rug gedraai op hierdie wêreld. Politiek, goeie skoolonderwys, jou daaglikse werk ywerig doen - daardie dinge het onbelangrik geword. Maar dan het hulle vergeet dat die Seun juis gekom het om ons weer op ons oorspronklike plek terug te sit in hierdie Skepping van die Vader. Sodat ons as die sout van die aarde en die lig van die wêreld weer sal lewe na Vader se oorspronklike bedoeling.

Hulle het dan natuurlik terselfdertyd die werk van die Gees en die werk van die Vader van mekaar losgemaak. Want hulle het hulle as "geestelike" mense ver verhewe gevoel bo hierdie wêreld en so gekonsentreer op die spesiale blyke van die aanwesigheid van die Gees in hul lewe dat hulle die eintlike werk van die Gees: God se skepping herskep, teengestaan het.

En dus het hulle ook die werk van die Seun en die werk van die Gees van mekaar losgemaak. Want waarvoor anders het die Seun die Gees uitgestort as om die wêreld wat deur die sonde verdor het, weer tot nuwe bloei vir sy Vader te bring.

So is daar vandag ook mense wat die werk van die Seun en die werk van die Gees van mekaar skei deur wél die verlossing in Christus te soek, maar nie met erns hulleself af te vra of die kerk waar hulle hul laat vergader nog wel die ware kerk is nie. Immers: dan vergeet hulle dat dit God die Heilige Gees is wat 'n mens deur die geloof deel gee aan Christus en al sy weldade; en dat die Gees daardie geloof werk deur die suiwere verkondiging van die Evangelie en die suiwere bediening van die sakramente en deur die suiwere toepassing van die tug. Hulle vergeet dat die Gees daarvoor 'n kerk met ampsdraers instandhou hier op aarde; en dat 'n mens noukeurig moet toesien of die ampsdraers wat jy volg wel getroue instrumente van die Gees wil wees.

Moet dus nooit die eenheid in die drie-enige God vergeet nie, gemeente.

Saam werk die Vader en die Seun en die Heilige Gees aan dieselfde doel. Nooit werk hulle mekaar teë nie, nooit staan die Een in die Ander se pad nie. Eendragtiglik beywer hulle hul daarvoor dat God eendag alles in almal sal wees, sodat ook die mens mag deel in die ewige lewe wat God in Homself oorvloedig besit.

Daarop loop mos die boodskap van die Bybel uit. Daarop loop daarom ook die artikels van ons algemene en ongetwyfelde Christelike geloof uit: op die ewige lewe. Hoe vanselfsprekend is dit eintlik: Ons glo mos in die God van die ewige lewe. So kom Hy in die hele Bybel na ons toe. En wie Hom in geloof ontvang, ontvang van Hom die ewige lewe.

So wil Hy hê moet ons Hom ken en liefhê.

Daarom het ek vanaand geen dogmaties begrip met u bespreek nie, maar hierdie God aan u voorgehou, broeders en susters. Die God wat leef en ons laat lewe.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)