God se verrassing vir sy volk in die geskenk van 'n Middelaar

Minister: 
Ds FJ van Hulst
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 5
Preek Inhoud: 

Ps 9: 1-5 (opening)
Ps 9: 7-10 (na apostolikum)
Ps 43: 1, 5 (Nagmaal)
Ps 30: 5-8 (amenlied)
Skb 35: 1, 2, 3 (slot)
Lees: Jes 8: 11- 9: 6 & N.G.B.art. 16, 17, 18
Teks: Sondag 5

Brs en srs,

Ons almal weet wat 'n verrassing is. Mens praat van 'n verrassing as jy sommer iets kry of as b. v uit die bloute iemand vir jou kom besoek. Die kenmerkende van 'n verrassing is die onverwagte daarvan.

Nou dat dit vanmiddag oor sondag 5 gaan sal ons nie met baie groot verrassings te doen kry nie. Ons weet wel so ongeveer waaroor dit gaan.

Dit gebeur gereeld dat aan die Kategismus verwyt word dat die Kategismus maak asof hier wel van 'n groot verrassing sprake is.

Immers 'n mens kan so Sondag 5 en 6 lees dat eers min of meer 'n profieltekening van 'n middelaar ontwerp word. Daar is 'n aantal eienskappe waaraan 'n kandidaat-middelaar moet voldoen. Een vir een word die punte beargumenteer. En tenslotte stel vraag 18 in Sondag 6 die vraag: En waar gaan ons so'n middelaar kry?

En dan tot "groot verrassing" van ons almal word geantwoord: Onse Here Jesus Christus! Dit is juis Hy wat aan al die gestelde vereistes van 'n Middelaar voldoen.

Kom ons glo in Hom!

U verstaan uit die aard van die saak, gemeente, dit is nie hoe dit werk nie. Laat ons maar erken, dit is nie juis 'n groot verrassing, dat ons in Sondag 6 by die Middelaar Jesus Christus uitkom nie.

Die Kategismus werk natuurlik in sy vrae en antwoorde heel bewus na die Here Jesus toe.

Immers in der werklikheid is dit so dat ons eers vanuit die Bybel Jesus Christus as Middelaar leer ken het. En dit is veel later dat die Kerk langsamerhand iets begin verstaan het oor die hoekoms en die waaroms van die werk en die persoon van hierdie Middelaar.

Dus as die Kategismus steeds vrae vra oor 'n eventuele middelaar wat ons nodig het, dan word daarmee na 'n bekende weg gevra.

Ek sal vir u sê wat die bedoeling daarvan is. Dit het die doel dat ons daarvan moet leer. Stap vir stap moet ons iets gaan verstaan van die besonderheid van die Persoon van die Here Jesus Christus.

Ek weet, dat ons aan die einde van die leerpad by Jesus Christus uitkom, is dan nie meer 'n verrassing nie, maar tog... as ons bedink hoe diep verlore ons was, en watter wonderlike weë die Here gegaan het om ons te verlos, dan is dit tog weer 'n verrassing.

Dan kan ons ons steeds weer verbaas en verwonder oor die groot geskenk van God. Die Middelaar Jesus Christus. Seun van God en Seun van die mens.

Ons bedien u die Woord van God vanmiddag soos volg:

God se verrassing vir sy volk in die geskenk van 'n Middelaar

Daardie Middelaar is:

  1. ons Wonderbare Raadsman
  2. ons Sterke God
  3. ons Ewige Vader
  4. ons Vredevors

Uit die formulering van die 4 punte van die preek, brs en srs, kan u sommer hoor dat dit uit Jesaja 9 kom. In die hoofstuk word die geboorte van die Messias aangekondig.

Die Middelaar waarvan ons tans praat.

Om te verstaan in watter situasie hierdie Messiasprofesie gegee is, moet ons ons 'n bietjie in die konteks van Jesaja 9 verdiep. Op 'n dag (begin hfst 7) stuur die Here Jesaja, die profeet, na die koning. Jesaja moet aan konig Agas die woord van die Here bekendmaak.

Op daardie oomblik verkeer Jerusalem in 'n uiters haglike situasie. Die Noordelike deel van Israel (die tien-stammeryk), word op daardie oomblik gelei deur koning Peka, die seun van Remalia. Hierdie koning Peka wil sy magsgebied uitbrei ook na die suidelike deel van Israel. Hy wil sy troon vestig in Jerusalem. Daarvoor het hy die hulp gevra van die koning van Aram.

Saam is die twee konings met hul leërs op pad na Jerusalem om die stad in te neem.

Koning Agas van Jerusalem besef terdeë dat hy nie sterk genoeg is om 'n aanval van daardie twee leërs te kan keer nie.

Wat nou? Wat te doen?

Op daardie oomblik moet Jesaja na koning Agas gaan en vir hom sê dat die Here ook nog daar is. Hy sal nie toelaat dat Jerusalem op hierdie oomblik in vyandelike hande sal val nie.

Maar Agas is nie juis 'n vroom koning wat uit so 'n boodskap hoop kan put nie. Inteendeel, hy glo niks van die woorde van Jasaja nie.

Hy kan ook nog 'n teken kry van die betroubaarheid van die profesie. Aan die hof sal 'n kind gebore word wat die naam Immanuel sal ontvang "God is met ons", beteken dit.

Maar koning Agas wil niks daarvan hoor nie. Hy is nie bereid om profetewoorde te glo nie. Hy verwag van God ook geen enkele hulp nie. Die situasie is eenvoudig te hopeloos.

En dan raak die Here baie boos. Daarom moet Jesaja met 'n tweede profesie kom. Jerusalem sal verwoes word. Nie deur die vynade waarvoor Agas so bang is nie, maar deur 'n heel ander vyand. Die koning van Assur. Hy sal nie net Jerusalem verwoes nie, hy sal ook al die bewoners van die land in ballingskap voer.

'n Groot toekomstige ramp dus...

Maar een ding sal nog erger wees. Die Here gebied die profeet Jesaja om hom terug te trek. Hy mag die woord van God nie meer laat hoor nie. Die wet word verseël sodat niemand dit meer kan lees nie.

Die getuienis word toegebind. God trek al sy genademiddele in.

En dan is die oordeel kompleet. Die gordyn het geval.

Daarvan lees ons in vers 21, 22: " Dan sal hulle deur die land trek, beswaard en honger; en as hulle honger het, sal hulle in toorn uitbreek en hulle koning en hulle God vervloek".

Ons het verlede week by Sondag 4 ook soiets gesien. In rampe van allerhande aard wat oor die wêreld kom wys God dat Hy die wêreld nie loslaat nie. Hy openbaar sy toorn vanuit die hemel oor die ongeregtigheid van mense.

En dan kan 'n mens op twee maniere reageer: Jy kan buig onder God se toorn en jou bekeer.

Of: jy kan God vervloek vanweë die nood waarin jy gekom het.

Wel, sover sal dit met Israel kom.

Hoe dreigend klink dit in vers 22: daar sal benoudheid en duisternis wees. In jammernag en donkerheid is hulle gedrywe.

Verstaan u wel, waar dit so gaan, daar het Israel as volk heeltemal vasgeloop. Vanuit die volk lê nie meer 'n pad oop na God nie.

As hulle nog 'n slag die Naam van god gebruik, dan is dit om te vloek.

Geen hoop, geen uitsig meer in hierdie duisternis nie. Dit is een en al donkerheid.

En dan skielik, soos 'n volslae verrassing, breek 'n ligstraal deur.

Middein die groot duisternis begin 'n groot lig en straal.

Evangelie-lig. 'n Blye boodskap! Die Messias kom!

Vanuit die volk gesien, onmoontlik. Totaal onverwags.

Daar heers 'n volkome duisternis. En ineens: 'n groot lig!

En daarmee is ons middein die materie waarvan Sondag 5 praat.

In Sondag 4 het ons tot die erkenning gekom dat die mens homself heeltemal vasgeloop het. Sy situasie is volkome hopeloos.

Hy kannie standhou teenoor God se majesteit nie.

God se regverdigheid eis betaling. Betaling van die skuld wat ons teenoor God se majesteit gemaak het.

Maar wie kan aan daardie regverdige eis van God voldoen?

Kan ons dit self?

Beslis nie. Ons maak die skuld net groter. Dus nie ons nie.

Maar 'n ander dan?

Is daar enig ander skepsel wat die straf kan voldoen?

Ook dit kan nie. God is nie bloeddorstig of wraaklustig nie. Hy wil nie 'n ander skepsel die straf laat dra vir 'n skuld wat die mens gemaak het nie.

En daarby: 'n skepsel, wat maar net 'n skepsel is, sal nooit in staat wees om God se toorn oor die sonde te dra nie.

Dus 'n mens kan dit nie, 'n ander skepsel kan en mag ook nie.

Maar wat kan ons dan nog?

Ons is ten einde raad. Al ons moontlikhede om iets te doen is uitgeput. Daar is geen moontlikhede nie.

Ons kan hier op geen enkele manier nog 'n oplossing bedink nie.

En dan kom God met Sy oplossing!

In daardie hopelose situasie klink daar skielik 'n stem: 'n Kind is ons gebore, 'n Seun is vir ons gegee, sy Naam is Wonderbare Raadsman.

Waar menslike raad nie meer help nie, daar verskaf God raad.

Waar jy met mensewysheid geen oplossing kan bedink nie, daar kom God met 'n ongedagte verlossing. Sy Seun word Middelaar.

Hyself as 'n kind gebore!

O wonderbare Raadsman, hoe onnaspeurlik is u weë, u verstand gaan mensewysheid ver te bo.

2. Die Middelaar is ons sterke God

Mense kan hul hard stamp aan die onverbiddelike reg van God soos dit in Sondag 4 bely word. Immers dit wil ons nie aanvaar nie.

Wie wil nou erken dat hy in alle opsigte gefaal het? Dat jy van jou kant niks kan doen om weer met God reg te kom?

Dit is vir 'n mens eintlik onaanvaarbaar.

En dus is ons geneig om na 'n kompromie op soek te gaan.

'n Tussenoplossing, waarby ons nie onsself heeltemal moet wegsyfer nie en waarin ons tog weer met God klaar kom.

Dink aan die Roomse kompromie: Daar is wel genade van God se kant nodig maar van jou kant moet daar goeie werke gedoen word.

Dan doen jy dit dus saam met God. Jou verlossing is in jou hande en jy ondervind net steun van God.

Ons kan ook dink aan die Remonstrantse kompromie. Hulle sê jou werke is wel nie volmaak nie, maar God aanvaar hulle maar so as jy tenminste jou goeie bedoelings gewys het.

Jy kry ook mense wat hul tevrede probeer stel met redenerings soos: Ek weet nie of daar 'n God is nie, maar as dit so is dan kan Hy my niks maak nie. Ek het altyd netjies geleef. Ek het nooit my naaste skade gedoen nie. Hy het nie rede om my vir wat ook te straf nie.

Gerusstellende redenerings. Vir jouself tenminste.

Maar wel drogredenerings. Met menslike redenerings kom jy nooit met God klaar nie.

En daarby God vra iets heel anders, God vra van sy skepsel die mens, dat hy Hom liefhet. Dan hy God met sy hart wil dien.

Nee, jou eie oplossings gaan voor die aangesig van die regverdige en heilige God nie werk nie.

Daar kom nog iets by: Sê nou, daar was 'n mens wat heeltemal regverdig was en aan al God se eise aan Hom as mens voldoen het, dan nog kan 'n mens daarmee nie vir 'n ander betaal nie.

Immers dit gaan oor toorn van God. Toorn van die ewige God.

Hoe sou 'n skepsel onder daardie toorn kon deurgaan en oorlewe?

Dit is mos onmoontlik!

Met ewige toorn kan geen sterflike mens klaarkom nie.

En weer staan ons voor 'n volstrekte onmoontlikheid.

Maar Goddank. 'n Kind is vir ons gebore, 'n seun is aan ons gegee. Sy Naam is Sterke God.

Waar menslik krag nie kan baat nie, daar kom goddelike krag.

Toe ons die pad wat God eis, nie kon gaan nie, het God Self daardie pad gegaan.

Hy het sy Seun Jesus Christus gestuur om die toorn van God waaronder ons ewig moes versink het, tot die einde toe te dra.

Die Middelaar, die Sterke God is vir ons gebore... as 'n ware mensekind.

Dit is die onverwagte verrassing wat God vir sy volk berei het.

'n Wonder waaroor 'n mens hom altyd weer moet verbaas.

3. Die Middelaar is ons ewige Vader.

Dit lyk op die eerste oog 'n bietjie merkwaardig dat die Middelaar wat God geskenk het ook hierdie Naam ontvang: Ewige Vader.

Gewoonlik reserveer ons daardie vadernaam vir die Vader van Jesus Christus.

Christus is dan die Seun. Dus vir ons gevoel kon hier beter gestaan het: Ewige Seun.

En tog, juis hier in Jesaja 9 ontvang die Kind wat gebore is die titel: Ewige Vader.

Dit kan ook omdat hier die Vadernaam nie gebruik word om die Vader van die Seun te onderskei nie. Die Vadernaam het hier 'n ander bedoeling.

Die Seun word hier genoem: Vader van sy volk.

In daardie vadernaam gaan dit om 'n aanduiding van die Middelaar self.

Die Middelaar wat God gee is 'n ewige vader vir die mense, vir die volk van Christus.

Die Vadertitel wat hier aan die beloofde middelaaar toegeken word doel op die liefde en sorg van Christus vir sy volk.

Hy omring sy volk met liefde. Daarin is Hy 'n Vader vir hulle.

Daaris ook nog 'n ander kant aan hierdie Vadernaam.

Dit kan ook dui op die feit dat Hy die leier, die voorganger van sy volk is. En dit is in die verband van sondag 5 baie belangrik.

Kyk, Christus is die voorganger van sy volk op so'n wyse dat Hy in die plek van sy volk kan optree.

Wel, hierdie Vader gaan namens sy kinders twee dinge onderneem.

In die eerste plek neem hy die betaling van die skuld van sy kinders vir sy rekening. Die oordeel wat sal kom as gevolg van die sonde neem Hy op Hom. Daarby moet u dink aan sy kruislyde.

En vervolgens doen Hy die belangrikste wat gedoen moet word.

Ook in ons plek.

Hy betoon namelik die liefde aan God wat ons moes gegee het, sodat ons weer in genade aangeneem kan word.

Dit is 'n belangrike element wat ons reeds in vraag 12 van sondag 5 aantref. Daar staan: Hoe kan ons van hierdie straf bevry.... en weer in genade aangeneem word?

Baie mense is geneig om na sondag 4 slegs die eerste deel van die vraag te lees: Hoe kan ons aan die straf ontkom? ....

Maar dit is tog nie waaroor dit gaan nie?

Gemeente, ons geloof is tog nie 'n angsreligie nie?

Ek wil dit vanmiddag ekstra benadruk omdat ek meen dat ook by ons dikwels veel angstigheid is as dit gaan oor die Here en sy diens.

Baie mense is onseker oor allerhande dinge in hul lewe. Kan ons dit wel so doen? Sou die Here dit wel goedkeur? Sal ek hiervoor dalk eendag gestraf word?

Ook sulke mense sal moontlik hul hoop stel op die kruis van Christus waar vergewing van sondes bewerk word. Hul angste kan hulle daarmee min of meer besweer...

Maar tog brs en srs, ons geloof is nie 'n angsreligie nie.

'n Gelowige sal nie uit angs sekere dinge in sy lewe doen of laat nie, maar hy doen dit uit oortuiging. Soos Paulus iewers sê: As jy onseker is, is jy klaar veroordeel. Elkeen moet in sy gewete ten volle oortuig wees.

Terug na sondag 5. Letop, dit gaan nie net daaroor dat ons die oordeel en die straf moet ontkom nie en daarvoor soek ons dan 'n borg wat vir ons betaal. Nee, ons soek meer as 'n betalende borg. Ons soek 'n Middelaar.

Ons soek iemand wat die gebroke verhouding met God kan herstel.

Ons soek om weer by God in genade aangeneem te word.

Want dit is wat die Here by ons ook soek.

Hy soek nie mense wat bang vir hom is nie.

Hy soek mense wat hulle in Hom kan verbly.

Hy soek mense wat lief vir Hom is.

Hy soek mense wat dankbaar is vir die herstel van die gebroke verhouding.

Hy wil sy liefde vir ons gee. Hy wil van ons ook liefde ontvang.

En daarom het ons die Middelaar nodig. Hierdie Middelaar.

Hy gee God die liefde wat ons nie kan gee nie. Hy vul aan waar ons kortkom.

Kortom, ons word deur sy liefde weer by God in genade aangeneem.

En dan kan die lewe weer begin. Dan kom daar weer uitsig uit die nood van hierdie wêreld. Ons het weer 'n genadige Vader in die hemel. 'n Vader wat die heil van sy kinders soek. Dit alles net deur die werk van hierdie Middelaar Jesus Christus.

4. Die middelaar is ons vredevors

Vredevors. In hierdie laaste Naam kom al die name tot 'n hoogtepunt. Hy bring vir ons die vrede.

Hierdie naam word in Jesaja 9 verder uitgewerk.

Ons lees: 'tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid'.

Dit is die geheim van die krag van hierdie vredevors.

Hy versterk sy Koninkryk deur reg en geregtigheid.

Kyk, as mense self wil reg kom, soek hulle hul krag in 'n kompromie: Jy hoop op God se liefde, maar jy wil van sy reg nie weet nie.

Of: jy soek barmhartigheid sonder om na God se regverdigheid te vra.

Dit is die weg van die kompromie.

Maar op die grond van 'n kompromie, kan jy nooit 'n blywende vrede bou nie.

Sion moet daarom deur reg verlos word.

En dit is hoekom God die weg kies van hierdie Middelaar.

'n Weg waarop aan God se geregtigheid voldoen word.

'n Weg waarop die Middelaar sy volk deur reg verlos.

En as eenmaal reg gedoen is, as die regverdige straf oor die kop van die Middelaar uitgestort is, dan kom daar ruimte vir die nuwe reg. Namelik dat die wins van sy lyde en sterwe aan sy volk uitgedeel kan word.

God maak vrede deur reg.

En daarom sal dit 'n blywende vrede wees. Of met die woorde wat Jesaja gebruik: 'n vrede sonder einde.

Gemeente, dit is u vrede. Die enigste vrede. 'n Vrede wat vandag aan die Nagmaalstafel op so wonderlike wyse uitgedeel is.

As jy daardie vrede, die deur God gemaakte vrede nie aanvaar nie, dan sal jy verteer word.

Deur jou eie onsekerhede. Deur jou sondes. Deur jou slegte gewete of deur die oordeel van God.

Maar as jy die deur God gewese weg gaan, dan sal jy die vrede vind. En met die vrede ook rus en blydskap.

En dit is die grootste geskenk wat 'n mens in sy lewe kan ontvang. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)