Bliksemsnel het God sy verbond gered

Minister: 
Ds EA de Boer
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Openbaring 12
Preek Inhoud: 

29-11-92

OPENBARING 12 : 1-5

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 8 : 2, 3, 4
Wetslesing
Sing: Ps. 8 : 5, 6, 7
Skriflesing: Genesis 3 : 9-20, Openbaring 11:19-12:6
Gebed
Kollekte
Sing: SB. 32 : 1-4 [= Openb. 11:15-19]
Tekslesing: Openbaring 12:1-5
Prediking
Sing: Ps. 2 : 4, 5
Dankgebed
Sing: Ps. 2 : 6
Seën

Gemeente van ons Here,

nege maande swangerskap beteken: in verwagting van iets nuuts, 'n nuwe kindjie wees. Dié verwagting hou in: blydskap én moeite, 'n eienaardige teenstelling. Hoe meer die geboorte naderby kom, hoe groter altwee word: die blydskap en die moeite. Die blydskap is dat die kind byna gaan kom. En die moeite kondig homself in die eerste weë aan. Wanneer die ure van die geboorte gekom het word die teenstelling tussen die blydskap en die pyn van die verwagting skielik al hoe skerper. Totdat die moeite gaan oorheers en baie vroue dit uitskree van pyn. In die uur van die geboorte krimp die tyd ineen en het nie meer betekenis nie. Totdat die kind gebore is en die blydskap latwee ouers oorspoel! Die elemente van 'n skerp teenstelling en van die tyd wat saamgedruk word: dit is wat jou help om ons teks te verstaan.

Die voorbeeld van swangerskap en geboorte kry ons ook in Openbaring 12. Dié voorbeeld laat ook duidelik uitkom hoe die visioene van die boek Openbaring tot jou kan deurdring. Jy moet die boek lees, ja, maar daar is meer van jou sintuie wat ingeskakel word. Daar word 'n beroep op jou oë, of beter jou voorstellingsvermoë gedoen. Beelde, figure en kleure word gebruik om die impak van die boodskap nog groter te maak. 'n Indrukwekkende vrou, 'n verskriklike monster en 'n geboorte met gevare omgee. Daar word terselfdertyd ook gevoelens, emosies in die beskrywing, in die uitbeelding opgeneem. Daar is angs en pyn by die vrou, daar is woede en dreiging by die draak. En groot spanning. Want dit gaan oor Jesus, oor die sekerheid van ons verlossing.

Hier leer ons om te proe wat dit beteken om Jesus te verwag. Die Kersfees nader. Die betekenis van die Here se eerste koms op aarde was so groot! Alle verwagtings wat daar was, is nog meer vervul as wat die mensheid ooit kon hoop. Ons verwag sy tweede koms op aarde. Is daar by ons 'n gevóel van verwagting? Dit is dieselfde as om te vra: is daar by ons geloof in Hom, in Hom wat belowe het om persoonlik na ons terug te kom? Ken ons die element van tyd wel en voel ons hoe die tyd druk?

Ek preek vir u oor:

BLIKSEMSNEL HET GOD SY VERBOND GERED

  1. alles draai om sy volk (vs. 1-2),
  2. alles nodig teen die vyand (vs. 3-4)
  3. alles kán deur die seuntjie (vs. 5).

1. ALLES DRAAI OM GOD SE VOLK (vs. 1-2)

"En 'n groot teken het in die hemel verskyn". Teen die hoë lug word 'n teken van enorme afmetings geprojekteer. Dit is 'n vrouegestalte. Dit moet baie groot wees, want die son is haar kleed. Sy staan op die maan en daar is sterre soos 'n krans rondom haar hoof. Sy straal lig uit en is van kop tot tone deur lig omgee. Ek het iewers gelees: miskien het God wel die sterrebeeld van die maagd gebruik om Johannes dié beeld te wys. Daar is mos 'n konstellasie van sterre wat soos 'n vrou lyk en "maagd" genoem word.

Aan wie dink jy by die sien van 'n vrou wat teen die lug verskyn? Ja, jy kan aan moeder Maria dink. Die gedagte aan Maria word sterker wanneer ons vs. 2 daarby lees: die vrou het aan die einde van haar swangerskap gekom en die geboorte het begin. Maria: sy is mos die moeder van Jesus, haar seuntjie. Goed, maar die beeld van Openbaring het nie net een betekenis nie. Daar is ook baie wat op 'n ander "vrouens" in die Bybel wys. Wie was die eerste vrou? Ja, Eva. Daar is ook woorde in Openbaring 12 wat aan Eva en dan veral aan haar sondeval herinner. Wat het God vir Eva gesê? "Ek sal vyandskap stel tussen jou (die slang) en die vrou, en tussen jou saad en haar saad" (Gen. 3 :15). Die HERE dui haar aan as "die vrou". Ja, en Adam noem haar "Eva, omdat sy moeder geword het" (3:20). Die woorde oor "die saad van die vrou" kom later in Openb. 12 voor. Die draak word daar "die slang" genoem.

Ons dink by die sien van die vrou wat teen die lug skitter, dus aan Eva én aan Maria. Die vrou kry hier egter nie 'n naam nie. En ons onthou skielik: die omskrywing met "vrou" het die HERE deur die hele tyd van die Ou Testament vir die volk van sy keuse gebruik! Deur Israël "my vrou" te noem, het God sy liefde uitgedruk. Hy het boonop die huwelik as beeld van sy verbond met hulle gekies. Ons onthou ook: dié volk het in alle eeue die groot belofte saamgedra: die Verlosser sou uit hulle as 'n kind gebore word. Die groot belofte was daar sedert ... Eva en totdat ... dit in Maria vervul sou word. Kyk, nou het ons genoeg kennis uit die Bybel bymekaar. Al die kennis lig op in die stralende beeld van die vrou! Dit is die hele volk van God vanaf Eva (en Adam) tot en met Maria (en Jozef), van Gen. 3 tot Luk. 2, tot die dag waarop die Verlosser werklik uit die liggaam van 'n vrou voortgekom en in die wêreld ingekom het.

Die vrou is deur die hemelliggame omgee: son, maan en sterre. Ons ken die grote belang van die ligdraers wat aan die hemel en bo die aarde staan. Die hemelliggame word ook in Ps. 8, soos ons gesing het, geteken om te sê: die mens het by die skepping nog meer heerlikheid gehad. "As ek u hemel aanskou, die maan en die sterre wat U toeberei het ...". Ja, die mens was so hoog en het so baie diep geval. Nou mag jy kyk en sien: 'n skitterende vrou. Jy weet: dit is hoe God sy vrou, sy volk sien. God versier haar opnuut met die skittering van sy skepping. Skielik besef jy dit is die sin van God se verbond: die redding van die skepping én van die heerlike posisie van die mens, God se hoogste skepsel. Dit is God se plan! So mooi was dit, so mooi maak Hy dit. Twaalf sterre omgee haar, soos daar 12 stamvaders en 12 stamme van Israël was. Die hele volk het mos eeue lank in verwagting geleef! Die verlossing is vir almal bestem!

Eva het, saam met Adam, die verbond gebreek. Toe al het die HERE verlossing belowe. Nog altyd het Hy gewens dat alles om sy volk sou draai. Selfs son, maan en sterre draai rondom sy volk. Dit beteken: Hy sit alles in beweging, in 'n vinnige spoed om sy verbond tog nog te red. Met 'n bliksemaksie. Vandag nog wys Hy vir sy kerk: dit draai vir Hom alles om julle. Ook noudat ons opnuut en nog steeds die Verlosser uit die hemel verwag. Daar is nog so baie om te red en om reg te stel. Want:

2. ALLES IS NODIG TEEN DIE VYAND (vs. 3-4)

"En 'n ander teken het in die hemel verskyn", so vervolg vs. 3. "In die hemel", ja, want ons blikke is nog altyd boontoe gerig. Kom ons kyk eers kortliks terug na hoofstuk 11. Die einde van alles wat in Openbaring voorafgegaan het, was: "En die tempel van God het in die hemel oopgegaan en sy verbondsark is in sy tempel gesien" (vs. 19). Almal wat hulle Bybel ken, weet van die ou tempel en van die ark in die allerheiligste. Jy kan weet: die ark was 'n tipe troon. Die hemel is deur die twee engelfigure wat bo die ark was, afgebeeld. Die ark self het die bewyse van God se verbond, veral in die tien gebooie bevat. God laat jou in 11:19 in sy heiligdom inkyk! En jy mag die ark van die verbond sien en jy mag weet: God wil sy verbond trou bly! Dit is: die enigste kans dat ek, die wêreld en almal vir wie ek lief is, gered word.

Na die beeld van die skitterende vrou verskuif, na net twee verse oor haar, die beeld. Die ander teken is "'n groot en vuurrooi draak". By alle volke het 'n herinnering aan die dinosaurusse, die groot reptiele met hul lang sterte uit die tyd voor die sondvloed lewendig gebly. Die ou heidense godsdienste het almal verhale oor drake geken. Ook die Ou Testament beskrywe 'n verskriklike mag dikwels met dié beeld. Ek noem een voorbeeld. In Jer. 51:34 word Nebukadnesar, koning van die magtige wêreldryk Babel, vergelyk met 'n draak wat Israël uitgesuig en verteer het. Wel, sê die HERE, die ergste vyand wat jy jou kan dink, is erger as enige story wat mense oor die stryd tussen goed en kwaad kan vertel. Daarom kies Hy 'n beeld wat 'n groot impak op die mense kan hê.

Die draak is groot, opnuut 'n oorweldigende beeld wat in die lug verskyn. Ook oor dié beeld het ek iewers gelees: dalk het die Here 'n paar sterrebeelde van die Melkweg gebruik wat saam soos 'n draak lyk. So groot, so gevaarlik is die vyand. Die betekenis is duidelik: dis die Satan met al sy mag. In 12:9 word dit reguit gesê: Hy is "die ou slang wat genoem word duiwel en satan". Die koppe, die horings en die krone op die koppe is alles beelde van sy geweldige mag. Die sewe- en die tiental versterk dit maar net: dit lyk baie soos totale mag wat die draak, die duiwel het. Die kleure van rooi en die vuur sê hoe vernietigend sy mag is. Hy hanteer sy vernietigende mag ook. Sy stert sleep met een swaai 'n derde deel van die sterre van die hemel saam. Hy het mag om God se skepping aan te tas. Kyk, as die woorde wat die Bybel oor die duiwel spreek, nie tot jou deurdring nie, dan dalk die beelde. Dit is 'n omvangryke verskrikking wat ergers is as die ergste beelde van oorlog en verwoesting.

Dan kom in vs. 4b nog meer beweging in die toneel. Blitsvinnig bereik die draak die vrou, terwyl sy al van die ergste weë het. Sy skree al in haar nood en pyn, maar nou doem daar 'n yslike gevaar op. Die duiwel wil mos alles keer wat God tot ons redding stuur. Kom ons kry nou kort die boodskap vir ons vandag. Besef jy dat daar bo jou daelikse lewe en in jou lewe 'n groot gevaar is? Dit is om sonder die ingrype van God te moet lewe. Dit is om nie 'n ingrype van God te kan verwag, omdat jy sy nabyheid nie gesoek het nie. Dit is wanneer die duiwel jou dalk stil-stil van die sekerheid van die geloof weggepraat het. Vra vir jouself: is my hart oop vir 'n bliksemaksie van die Heilige Gees gered te word?

3. ALLES KAN DEUR DIE SEUNTJIE (vs. 5)

Skielik verskyn die volgende beeld: die kind word gebore. Nee, die kind is nie sommer daar nie. Dit is asof jy sien hoe die kind uit die liggaam van die vrou uitkom en in die wêreld inkom. Plotseling is alles verby. Dan kyk almal: watter geslag het die kind? "En sy het 'n manlike kind gebaar". Dis 'n seuntjie! Uit Maria, ja uit die hele volk van God het Hy voortgekom, soos wat Hy deur baie oor eeue verwag is. Nadruklik hoor jy "'n manlike kind". Of letterlik: 'n kind, 'n seuntjie! Soos verheug uitgeroep word na 'n geboorte. Hoekom? Omdat 'n seuntjie meer is as 'n dogter, soos dit in Israël was en in sommige kulture nog is? Nee, maar omdat dit dús die kind is wat God belowe het. En selfs die kleinste kind in die kerk kan sy naam invul. Dis 'n beeld van Jesus, soos wat Hy in die Kersnag gebore is.

Ek wil u op 'n opvallende ding wys. Die kind bly 'n kind in die hele hoofstuk 12. Vers 5 eindig met die redding van die groot gevaar. Dan staan daar: "en die kind is weggeruk na God en sy troon". Die kind? Maar Jesus het tog eers grootgeword, sy werk in Israël gedoen, die duiwel weerstaan, aan die kruis gesterf en uit die dood opgestaan? Eers daarna is Hy, lankal 'n volwasse man, in die hemel opgeneem? Ja, dit alles weet jy as kind van God se volk. Dit word ook nie vergeet nie, want verderop word Hy ook die Lam genoem. Tog het dit waarde vir God om Jesus nadruklik as seuntjie, as kind te wys. Natuurlik, dit is omdat van God se belofte alles verwag mog word. Dit is omdat in dié kind alle verlossing neergelê is. Alles is moontlik deur dié seuntjie, die mensekind Jesus!

Ja, Hy word as kind voorgestel. Tog sê die beskrywing al hoeveel daar van dié kind verwag mag word. Dit is Hy "wat al die nasies met 'n ysterstaf sou regeer". Opnuut is dit woorde uit die Ou Testament wat by jou wakker geroep word. Psalm 2 gaan oor die Seun van God, die koningsseun wat die nasies van die aarde sal bedwing en alle teenstand sal neerslaan met "sy ysterstaf" (:9). Die staf is die septer van sy regering. Die "yster" wys op sy mag wat nie gebreek kan word nie. Daar is een ding anders as in Psalm 2. Daar staan hier nie dat Hy die nasies wat hulle verset, sal breek nie. Nou staan daar sagter: Hy sal "hulle hoed", soos 'n herder. Sterker nog, letterlik lees ek: Hy staan op die punt om die volke te gaan hoed! Die kind Jesus kan nie wag om dié mooi werk te begin nie! Hy doen dé mooi werk egter met 'n ysterstaf, met al sy bevoegdheid. Wie homself hierteen verset, loop stukkend.

Ons onthou egter: daar is 'n groot dreiging wat soos 'n swart skaduee oor die geboortetoneel sweef. God se vyand wou met al sy mag keer dat daar verlossing kom. "Haar kind is egter weggeruk na God en sy troon". Ons weet uit die Evangelie hoe God die kindjie Jesus gered het. Toe die heiden Herodes die kindermoord in Bethlehem aangestig het, was dit om die koningsseuntjie te vermoor. Om die beloftes vir Israël vinnig te keer. Ons weet ook: die duiwel kon Jesus nie vernietig nie en dié pogings is gekeer toe Jesus sy Gees in die hande van sy Vader gelê het. Toe kon die hemelvaart kom. Die verbond was en is gered! Dit word met 'n blitsvinnigheid beskrywe: "die kind is weggeruk". Die jare wat werklik in Jesus se lewe verloop het, word saamgedruk. Die gevaar was so groot dat die redding as 'n werklike uitredding beskrywe word.

Soos bliksemsnel het God ingegryp. Dit is hoe nodig dit was dat daar redding op aarde sou kom. By Christus weet jy: die mooi verbond van God is gered. Van God se kant het daar opnuut hoop gekom. God wil naby wees, ook naby jou. Gedurende jou hele lewe. Ook noudat die duiwel op elke christen se hiele sit. Die verbond is gered. Jy ook? Jy kan seker wees van God se beloftes, wanneer jy aanhou in die geloof en bekering van jou pad, wanneer dit jou uit God se nabyheid lei.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)