Die woord roep op om bewus op die Here se wederkoms te wag

Minister: 
Ds EA de Boer
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Jakobus 5
Preek Inhoud: 

10-01-93

JAKOBUS 5 : 7-11

afskeidspreek

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 130 : 1, 2
Gebed
Skriflesing: Jakobus 1:1-11, 5:7-11
Sing: Ps. 130 : 3, 4
Tekslesing : Jakobus 5:7-11 uit die NAB
Prediking
Sing: Ps. 103 : 3, 4
Geloofsbelydenis van Nicea
Sing: SB. 33 : 1
Dankgebed
Kollekte
Sing: SB. 33 : 2, 3
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

hoe dra jy as dienaar van die Woord die taak oor, wanneer jy verdergaan? Hoe neem jy afskeid? Dit het al die diensknegte van die Here altyd gedoen deur die gemeentes te bemoedig. Hulle het besef hulle is dienaars van die Here! Dit is die Here wat nog altyd oor sy kudde waak en dit versorg.

Ons teksgedeelte van vanaand sit duidelik die voorafgaande voort. "Wees dan geduldig, broeders, tot op die wederkoms van die Here". Die ryk mense was bloot gerig op hulle eie welvaart en nie op die welsyn van hulle naaste nie. Dit is hulle lewensstyl waaroor die oordeel van God kom. "Julle het skatte bymekaargemaak in die laaste dae". Nou praat Jakobus positief: nie oor die gerig wat kom nie, maar eers oor die Here wat kom. Hy wil die mense troos.

Dié "broeders" wat bemoedig word, is die mense wat baie van die onreg gely het. Ja, nou word die gemeentes weer aangespreek. Die voorafgaande was oor die grense van die kerke weg veral aan die Jode gerig. Dié aanklag was terselfdertyd 'n oproep tot bekering. Nou is daar bemoediging: vir u as gemeente van die Here. Die Here roep ons deur sy Woord op om geduld te hê en so sy wederkoms te verwag. Dié geduld en dié wag is egter nie 'n passiewe houding nie. Dit is 'n aktiewe, bewuste lewenshouding.

Ek preek vir u vanaand oor:

DIE WOORD ROEP OP OM BEWUS OP DIE HERE SE WEDERKOMS TE WAG

  1. wees gerig op die vrugte (vs 7-8),
  2. staan saam as kerk (vs 9-10) en
  3. wees geseënd met so 'n Here (vs 11).

1. WEES GERIG OP DIE VRUGTE (vs 7-8)

Drie maal roep Jakobus in die kort gedeelte van vs 7-11 uit: "Kyk!". Hy plaas drie uitroeptekens. Dit is die einde van wat Jakobus oor die gemeente en die wêreld wou sê. Driedubbel onderstreep hy sy boodskap: "Wees dan geduldig, broeders, tot op die wederkoms van die Here". Tot op: die heel pad. Onderweg moet ons geduldig wees. En dan kom die eerste uitroepteken: "Kyk, die landbouer wag op die kostlike vrug van die aarde en het geduld daarmee tótdat dit die vroeë en die laat reën ontvang het". Soos Jakobus drie keer "Kyk!" roep, so gebruik hy ook drie keer 'n voorbeeld. Die voorbeeld is duidelik: dit is nou nie die grootgrondbesitters van vs 1-6 nie, maar die boer met sy klein stukkie eie grond. Hy is baie betrokke by die werk van sy hande op sy erfdeel. Veral wanneer die werk gereed is, is daar niks anders om te doen as wag. Ons het deur middel van die lang droogte opnuut geleer watter groot seën dit is as God die reën gee. Die voorbeeld sê egter ook: om boer te wees bestaan nie bloot in wag nie. Die boer moet sy werk doen. Ja, tydens die werk is hy afhanklik van die reën wat sy land en dus sy werk vrugbaar moet maak. Eers kom die inspanning en die werk, daarna die wag en die geduld. Dit is 'n bewuste wyse van wag: hy is op die oes gerig.

Die landbouer: bevat die vergelyking dalk meer as een betekenis? Ja, die kleinboer is 'n mens wat geduld moet oefen en wat afhanklik is van God se seën. Het egter ons Here Jesus sy Vader self nie met 'n landbouer vergelyk nie? Ons ken die mooi woorde van Joh 15: "Ek is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer". Dié woorde van Jesus gaan ook oor die vrug wat God aan jou verwag! Jakobus se brief staan vol aanhalings van en toespelings op woorde van die Here Jesus. Ons kan in die voorbeeld van die boer 'n toespeling op God verwag. Ja, die eerste beeld is van die boer wat op die vrug van sy werk gerig is. So is ook God self geduldig (sê die Bybel ook op ander plekke) en werk met die oog op vrug.

Vervolgens pas Jakobus dit toe in vs 8:" Julle moet ook geduldig wees; versterk julle harte, want die wederkoms van die Here is naby". Versterk julle harte: dit is die geloof wat die wag moontlik maak. Die omstandighede van jou daelikse lewe kan swaar wees. Die bron van jou krag moet in jou hart, in jou geloof lê. Glo dat alles wat jy deurmaak en alles wat jy doen, op Jesus se koms gerig is. Hy sal die vrugte van jou lewe kom oes. En: Hy is naby. Vra nie of die Here werklik naby is om te kom nie. Ja, die wederkoms wag vir die wêreld al meer as 19 eeue. Die HERE is geduldig. Die lengte van jou lewe: dit is die grens van jou verwagting en jou geduld. Selfs dié tyd kan die Here bekort, as Hy nog eerder kom dan jou lewe kort is. Jou hele lewe mag op die koms en op die oes gerig wees.

Die teenstelling is duidelik. Die sorgelose mense het hul harte, het vs 5 gesê, "vet gevoer". Dit het tot hartswakte, en dus tot geloofsverswakking gelei. Versterk julle harte: dit is wat God deur sy Heilige Gees daagliks vir jou wil doen! Kom ons rig onsself op die vrugte van die Gees: geloof, liefde en geduld, wysheid en ontferming. Dit is tog waaroor dit in die kerk altyd eerste moet gaan: die daaglikse lewe voor die Here. So leef jy na sy weerkoms toe: as jy weet dat dit die vrug is wat God soek.

2. STAAN SAAM AS KERK (vs 9-10)

Vs 9 sê: "Moenie teen mekaar sug nie, broeders". Wanneer die koms van die Here nog nie daar is nie, kan die gerigheid op Hom verslap. Dan kom die moeites wat onderling onstaan, so maklik aan die oppervlakte. Dan kyk ons daarin vas en raak teleurgestel. Dan "sug ons teen mekaar". Dit is waaroor onderling gepraat word. Die gemeente raak verdeel. Die kragte bots op mekaar en verteer die energie wat daar is. Ja, die wederkoms van die Here is deur Jakobus as die mooi doel in herinnering gebring. Julle egter weet dat Hy ook as Regter kom! "Moenie teen mekaar sug nie, sodat julle nie veroordeel word nie". Dié oordeel kan die gemeente tref, omdat ons mekaar veroordeel en die doel van die kerk gemis het. Ons begin die ander te veroordeel en vergeet dat ek binnekort geoordeel word. "Kyk, die Regter staan voor die deur". Dit is die tweede keer dat Jakobus met "kyk!" 'n uitroepteken vir jou neersit. Christus sal ook as Regter kom en vra wat elk met sy talente gedoen het.

Hoe staan die broeders en susters as kerk saam? En hoe voorkom ons dat ons op mekaar se swakhede en foute gerig is? Dit is deur die doel van die kerk van Christus in die oog te hou. Dit is wat vs 11 sê: "Neem as voorbeeld van lyding (dit is: swaarkry), my broeders, en van geduld: die profete wat in die Naam van die Here gespreek het". Dit was hulle taak: om in die Naam van die HERE sy Woord te spreek, watter omstandighede daar ook al sou wees. Ja, hulle het swaargekry. Die diens van die Woord het 'n uitsonderingsposisie vir hulle geskep. In die samelewing was hulle anders. Selfs tussen hulle volksgenote was hulle anders. En tog moes die profete geduldig aanhou. Die taak van die Woord bring was te belangrik.

Wie is vandag vergelykbaar met die profete? Dit is mos die hele kerk! Aan julle as gemeente is die profetiese Woord toevertrou. In die Naam van die HERE spreek: dit is om Hom te verteenwoordig. Dié taak word gebreek, wanneer julle teen mekaar sug. Dan is julle op mekaar gerig, pleks van op die taak. "Kyk, die Regter staan voor die deur!". Hy sal ook die verrigtinge in die kerk beoordeel.

Hier lê my grootste bekommernis oor die gemeente van Pretoria. Daar word so baie "teen mekaar gesug". Mense het hulleself lankal teruggetrek uit die gemeenskap en soek nie geestelike opbouing van mekaar nie. Hulle verwag dit nie eers meer nie. Daar is ook die wat nie eers begin om die gemeenskap in die gewone geloof te soek nie. Hulle dink die verenigings is vir ander mense. 'n Wyksaand pas nie in die week in nie. Hulle het blykbaar nie verwagtings van die gewone geloofskontak nie. Ook daarin is 'n oordeel oor die ander lidmate uitgespreek. Jy verwag mos nie opbouing van jou geloof deur 'n ander nie. Wanneer saam staan beteken "die Woord van die Here as profete spreek", wat doen ons met die rykdom? Waag ons dit om saam as gemeente ander mense te ontmoet wat ook sê hulle is kerkmense? Of is ons werklik saam te swak in die geloof en die kennis van die Woord? Ek dink dit is tyd om saam ons rykdom as Gereformeerde kerk te besef en om dit saam te beleef. Want dit is 'n vreeslike veroordeling om te sê dat ons saam te swak is. Nee, die Woord van die Here is tog ons rykdom! Sy koms verwag ons tog ook saam?!

3. WEES GESEEND MET SO 'N HERE (vs 11)

Die laaste vers begin ook met 'n uitroepteken: "Kyk, ons reken hulle gelukkig wat verdra het". Dit is orals so, en ook in die kerk, dat die totale lewe van 'n mens 'n indrukwekkende voorbeeld bied. Daar is altyd mense wat onthou word, omdat die moed of die geduld of die aanhoudende blydskap ons getref het. "Ons reken hulle gelukkig": dit is die woord waarmee die Here Jesus al sy saligsprekings begin het. Soos: "salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele" (Mt 5:10). Die profete was in daardie tyd indrukwekkende voorbeelde van volharding. Dit is die Here wat eers sulke mooi mense gelukkig prys. Nou noem Jakobus ook sy derde voorbeeld, naamlik Job.

Dit is van sy "lydsaamheid" dat hy praat. Hiermee kom die hele begin van Jakobus se brief in herinnering. Toe het ek gesê: lydsaamheid is 'n passiewe woord. Jy moet dit aktief hoor: volharding. "My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want - soos julle weet - as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard" (1:3-4). Job is die uitstaande voorbeeld van 'n mens wat volgehou het, hoe swaar die beproewings in sy daelikse lewe ook geword het. En, dit het daarin uitgekom dat die HERE sy barmhartigheid oor hom opnuut gewys het. "Die einde van die Here (met hom)": dit is dit waarin sy beproewing ge-eindig het.

Die HERE het Homself weer gewys as Een wat "vol medelye en ontferming is". Ja, so 'n Here het julle ook! Hy is 'n God van liefde en genade, sing ons, met Psalm 103. Ja, die Here is die landman wat vrugte in jou lewe soek. Hy kom in Christus as Regter om te kyk wat jy met sy genade gemaak het. Hy is in alles ook die HERE: die God van sy verbond wat sy trou en liefde bewys tot in die duisendste geslag. Hy is vol medelewe en ontferm Homself oor almal wat moet ly. Hy sien die kruis wat jy dra en ken jou swakhede. En: temidde van dit alles is Hy lief vir jou wat sy hulp soek. So is Hy ook as Jesus weerkom op die wolke om jou te ontmoet. Op sy dag sal Hy jou laste van jou afneem en jou trane wegvee. Dit is ook bewus op sy koms wag: in die wete dat dit die dag van sy totale medelye en ontferming sal wees!

Die afskeid van 'n predikant: ja, dit beteken minder mannekrag, in elke geval vir 'n tydjie. Die werk moet met minder mense gedoen word; dit vra dus meer geduld in die werk. Die gerigheid op Christus hoef egter glad nie te verander, te verminder nie. Dit is Hy die dieselfde bly as wat Hy was en wat Hy vandag is. Hy is tot die einde van jou beproewings of tot die einde van jou dae vol van medelye en ontferming. Ons mag onsself en mekaar aan sy liefde in die persoon van ons Here Jesus Christus toevertrou. In Hom wat ons verwag: eendag op die wolke bo ons.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)