Skrifoordenking by begrafnis

Minister: 
Ds FJ van Hulst
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Efésiërs 2
Preek Inhoud: 

Toespraak van Ds F.J.van Hulst by die begrafnis van Paul Verkerk op 31 Julie 1992.

Skriflesing: Efese 2: 1-10
Sing: Psalm 42: 1, 5
Psalm 43: 4, 5

Geagte familie, vriende en bekendes,

Ons het hier vanoggend by mekaar gekom vir die begrafnis van Paul Verkerk.

66 jaar oud het hy geword.

Na ons gevoel te jonk vir 'n mens om te sterwe.

'n Vreeslike siekte het in 'n kort tyd sy liggaam verwoes.

Nadat hulle in die hospitaal alles gedoen het wat hulle kon doen, het hulle hom huistoe gestuur. Toe kon hy maar net sit en wag dat die siekte sy liggaam verder verteer. Nou en dan was daar hoopvolle ontwikkelings, maar toe skielik het dit weer agteruit gegaan. Totdat die dood gekom het.

Die dood het sy lyde beëindig.

Maar die dood het ook al die bande definitief deurgesny wat hom nog aan mense hier op die aarde verbind het.

Wat moet 'n mens dan nog sê?

Watter trooswoorde kan 'n mens dan nog bedink?

Teenoor die dood het niemand 'n weerwoord nie.

Wat sal selfs 'n predikant nog kan sê?

En tog moet ek hier praat.

Ek het nie 'n woord van myself nie.

Ek het 'n woord van 'n ander.

'n Woord van God die Here.

Iets uit sy Woord wil ek vanoggend vir julle deurgee.

Ons het 'n gedeelte uit die Bybel gelees. Efese 2: 1-10.

Daar is 'n gemeente van die Here Jesus in die stad Efese.

Die gemeente het ontstaan deur die sendingwerk van die apostel Paulus.

Hulle ontvang nou van hom 'n brief.

Paulus begin daarmee om hulle daaraan te herinner dat hulle vroeër heidene was. Hulle het van God se gebooie vir 'n mens niks geweet nie. Hulle het maar geleef soos hulle goedgedink het.

Soos Paulus dit sê: Vroeër was julle lewenswyse gekenmerk deur sondes en oortredings.

Hulle het gedink ons leef soos ons wil.

Ons is vrye mense, wat self kan bepaal wat ons wel of nie doen nie.

Maar daarteenoor sê Paulus: Nee, dit is nie so nie.

Want as iemand hom nie deur God laat lei nie, dan kom daar allerhande bose magte wat in jou lewe oorneem.

Hulle skryf vir jou voor hoe om te lewe.

Julle was dan ook nie vry nie, soos julle gedink het, maar julle was slawe.

Slawe van jul eie begeertes. Slawe van die bose mag wat mense by God af wegtrek.

Maar gelukkig, in Efese het dit nie so gebly bie.

Paulus stel dit met vreugde in hierdie verse vas: Julle is gered. Julle is inderdaaad uit genade gered.

Gered uit genade. Dit is ongelooflik belangrike woorde hier.

Hulle is gered.

Dit beteken God het hulle uit hul sondige lewe weggehaal.

Hulle het 'n heeltemal nuwe lewe begin.

Eintlik was dit so: voordat hulle die Here Jesus geken het was hulle dood, maar nou eers lewe hulle. So groot is die verskil tussen hul ou lewe en hul nuwe lewe.

Alles het heeltemal anders geword.

Die lewe het baie mooier, baie ryker geword.

Hoe kon dit gebeur?

Is dit die mense van Efese wat hulleself reggeruk het?

Is dit hulle wat op 'n dag onderneem het: Nee maar nou sal ek alles anders gaan doen.

Ek het totnoutoe van my lewe 'n gemors gemaak.

Ek gaan myself aanpak en 'n betere lewe lei!

As dit die geval was, sou iemand wat dit regkry rede hê om baie trots op homself te wees. Kyk vir my!

Ek het hard geprobeer. Ek het dit reggekry!

Maar dan maak Paulus een ding baie duidelik.

Hy sê mos: Julle is inderdaad gered.

Maar dit is nie jul eie verdienste nie. Dit was werklik 'n redding.

En 'n redding kan slegs 'n ander doen.

Geen mens kan homself red nie.

Daar is maar Een wat mense kan red.

En dit is die Here.

En daarom sê ons van enige redding van'n mens: Dit is genade.

Want alle mense is ewe groot sondaars.

En daar is slegs Een wat hulle van die sondes kan red.

God alleen.

Hoe doen Hy dit?

Hy wys daarvoor maar een weg aan. Die weg van die geloof in Jesus Christus.

Geloof slegs in Jesus Christus en jy sal gered word.

En daarmee is tegelykertyd elke weg van selfverlossing afgewys.

Jy kry mense wat dink dat hulle deur eie werke met God kan regkom. Hulle doen baie moeite vir ander mense of gee baie aan die armes.

Dit is alles pragtig en waardevol, maar moenie dink dat jy daardeur verlos sal word nie.

Daar is maar een ding nodig. Geloof in Jesus Christus.

Die enigste ware verlosser wat God op aarde gegee het.

Wie Hom aanvaar as sy verlosser, hy sal daarna ongetwyfeld anders begin lewe. Hy gaan breek met sy sondes.

Hy word bevry van slawerny aan sy eie begeertes. Hy word 'n ander mens.

God red uit genade. Deur die geloof in Jesus Christus.

Dit is wat ons gesê het.

Ons dink nou aan die oorledene. Aan Paul Verkerk.

Ek het die laaste maande gereeld kontak met hom gehad.

Hy het vir my erken dat hy van sy lewe in tal van opsigte 'n puinhoop gemaak het.

Die eensaamheid waarin hy die laaste tyd van sy lewe deurgebring het, is 'n bewys daarvan dat sy lewe in 'n doodloopstraat gekom het.

Mislukte huwelike, gebroke verhoudings met sy naaste familie, is die getuies daarvan dat in sy lewe baie verkeerd gegaan het.

Hy het my iets daarvan vertel.

Hy het onder gevoelens van skuld daaraan swaar gekry.

Hy het ook besef dat daar min was wat goedgemaak kon word met mense.

Maar hy het ook gesoek na genade by God.

Hy was honger na 'n woord van troos uit die Bybel.

Wat kon ek anders as om aan hom die evangelie van Jesus Christus voor te hou?

Ek het vir hom gesê: Begin jou verhouding met God te herstel.

Vra by hom vergewing.

En gaan dan na die mense teenoor wie jy skuldig voel.

Ek weet nie hoever hy daarmee gekom het nie.

Waarskynlik nie so ver nie.

Ek weet wel dit. God se genade is oneindig.

Veel groter as wat ons mense ons kan voorstel.

En daarom wil ons nie 'n oordeel vel oor Paul Verkerk nie.

Ons weet net van God se genade en aan daardie genade wil ons die oorledene opdra.

Ek vertel dit hier nie om mense 'n valse gerusstelling te gee nie.

Daar is niemand wat mag dink: my bekering tot God kan nog wel 'n bietjie wag.

Vir ons almal wat nog lewe geld die woord: Bekeer jou tot Christus. Vertrou aan Hom jou lewe toe. Laat jou red deur sy genade.

Moenie 'n dag uitstel nie.

Vertrou nie op jou eie werke of goeie gesindheid nie.

Ons het mos sopas by Paulus gelees: Vanweë ons sondige natuur sou ons almal deur God gestraf moet word.

Daar is geen een mens wat beter is as 'n ander nie.

Almal is ewe sondig en dus ook ewe strafwaardig vir gGod.

Maar daar is ook vir almal dieselfde evangelie.

Daar is maar een en dieselfde boodskap vir almal.

Glo in Jesus Christus as verlosser.

Dan slegs is daar redding.

Want Jesus Christus is magtiger as die dood.

As ons dit glo, dan het ons ook kragte om straks by 'n oop graf te staan. By 'n oop graf staan ons almal vir 'n oomblik oog in oog met die dood. Dit is vir 'n lewende mens altyd 'n moeilike moment.

Maar hy wat in Jesus Christus glo, weet dat daar een is wat sterker is as die dood. Dit is die Here Jesus.

Hy dra ons in sy arms. Die lewendes en die dooies.

By Hom is redding.

Daar is ons almal veilig.

Kom ons sing saam.

Liturgie: 

(kyk in preek)