Moses as gelykenis van Jesus

Minister: 
Ds FJ van Hulst
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Handelinge 7
Preek Inhoud: 

Voor diens Ps 51: 1, 2, 3, 8
Ps 141: 1, 2, 3
Ps 141: 4, 5, 6
Skb 2: 1, 2, 3
Skb 2: 4, 5
Lees: Eksodus 3
Teks: Hand 7: 30-43

Geliefde gemeente,

Jesus is as Messias deur die Joodse volk verwerp.

Dit is die verstommende feit waarmee die eerste volgelinge van Jesus Christus moes klaarkom. Immers die gevolge van die verwerping het ook onmiddellik sigbaar geword. Daar staan Stefanus as aangeklaagde voor die Joodse Raad.

Aan hom het die voorsegging van Jesus werklikheid geword: Soos hulle my vervolg het, sal hulle ook julle vervolg. 'n Kneg staan mos nie bo sy Heer nie.

Maar by Stefanus het ook die belofte van Jesus werklikheid geword: as hulle julle voor die regbank sleur moenie vrees nie, my Gees sal julle die woorde gee wat julle daar as my getuies moet se.

En daar staan Stefanus. Hy is vervul van die Heilige Gees. En nou moet hy 'n verdediging uitspreek van sy keuse vir Jesus Christus. In sy toespraak is daar twee vrae wat hom steeds besighou. Die eerste is dit: waarom het my broers die Joodse volk Jesus Christus verwerp? Wat is die oorsaak daarvan? Waarvandaan kom hul vooringenomenheid teen Jesus? Hoekom le daar so 'n bedekking oor hul gesig as hulle die O.T. lees?

Die tweede vraag wat Stefanus beheers is: hoe kan ek asnog my broers bereik? Hoe kan ek hulle oe oopmaak vir die evangelie?

Wel, dit is die rede hoekom Stefanus saam met hulle die O.T. begin lees.

Vandag hoor ons Stefanus vertel oor die lewensgeskiedenis van Moses. Dit is al vir die tweede keer dat dit oor Moses gaan.

Ook wel begrypelik want Moses het natuurlik 'n baie belangrike rol in die geskiedenis van Israel gespeel. En verder is dit ook juis ten aansien van Moses dat die mense besware ingedien het teen die verkondiging van Stefanus.

Ons kan verstaan dat Stefanus in sy prediking vir die volk regstreeks oor Jesus Christus gespreek het. Hy het die Here Jesus as Heer verkondig.

Maar in sy verdediging voor die Raad doen hy dit bewustelik nie. Daar beperk hy hom tot die O.T. sonder ooit die Naam Van Jesus Christus te noem.

En tog, juis in sy vertelling uit die O.T. straal die Naam van Jesus Christus vir die oplettende toehoorder steeds deur.

Ons sou kon se, hy hanteer sy figure uit die O.T. as gelykenisse met die bedoeling dat hulle wat goed luister die verhaal van Jesus Christus kan herken.

Dit hoop ons te sien in die evangelieprediking van vanoggend.

Moses as gelykenis van Jesus

  1. as middelaar gestuur
  2. as middelaar verwerp
  3. as middelaar vervang

Die persoon van Moses kry baie aandag in Stefanus' verdediging. Dit is eintlik ook wel logies. Immers dit kan nie ontken word nie dat Moses in die geskiedenis van die volk Israel verskriklik belangrik is. Baie van hul gewoontes en tradisies gaan terug op Moses.

In die daaglikse lewe word heel gereeld verwys na die Heilige Skrif as die boeke van Moses. Of selfs heel eenvoudig na: Moses. Moses se mos: ...

Die vanselfsprekendheid waarmee dit gebeur laat die vraag ontstaan: wat is Moses nou presies? Is hy die stigter van Israels religie? Is hy die groot dinker wat 'n fantasties sisteem van wette versamel en uitgegee het? Is hy 'n groot leier met charismatiese gawes om mense rondom hom te inspireer tot allerhande groot dade?

Of is Moses self nie so verskriklik belangrik nie en moet ons hom eerder sien 'n werktuig van 'n ander;as 'n dienskneg van iemand wat bo hom staan;as 'n man van God?

Wel, Stefanus wil met sy verhaal oor die roeping van Moses heel duidelik maak dat Moses tot die laaste kategorie behoort. Hy is nie meer as 'n werktuig van God nie. 'n Middelaar wat deur God gestuur is vir 'n moeilike opdrag, wat by homself heelwat aarselinge moes oorwin en tenslotte tog gegaan het.

Daarom kan ons in die vertelling van Stefanus oor die lewe van Moses ook drie periodes sommer maklik onderskei.

Die eerste periode is die eerste veertig jaar in Egipte. Daar het ons Moses reeds ontmoet as die man met 'n roepingsgevoel om sy volksgenote te hulp te kom. Maar dit het toe nie uitgewerk nie.

En dan volg sy veertig jaar in die woestyn in Midian.

En tenslotte die veertig jaar wat begin met die ervaring by die brandende doringbos.

Die middelste periode van hierdie drie lyk die mins belang-rike. Stefanus bestee ook maar net een vers daaraan. Vers 29: Moses het gevlug en 'n bywoner geword in die land Midian waar hy die vader van twee seuns geword het.

Wat gebeur eintlik in daardie veertig jaar?

Vir die oog bitter min. En tog is juis dit die tyd dat Moses gereedgemaak word vir die taak wat God vir hom het.

Moses word in hierdie jare gevorm vir sy latere amp. Want Moses moet 'n moeilike les leer. Hierdie les: dit gaan nie om Moses en sy ambisies nie, maar dit gaan om die God van Israel en die planne wat Hy het. Moses moet homself leer onderwerp aan God se leiding in sy lewe.

Dit gaan nie om jou Moses nie, maar dit gaan om My en om die eer van My Naam.

Stefanus het sy vertelling van die geskiedenis van Israel begin met die vermelding dat die God van die heerlikheid aan Abraham verskyn het.

God en sy heerlikheid is die drywende krasg in die geskiedenis van Israel.

Daardie God verskyn nou ook met 'n teken van sy heerlikheid aan Moses in die brandende doringbos. Aan die God van die heerlikheid sal Moses hom moet onderwerp wil hy geskik wees in die uitvoering van die planne van God. Moses moet 'n man van God word. Hy is slegs bruikbaar as 'n gestuurde middelaar.

In die verband vertel Stefanus nog 'n keer die bekende verhaal van die roeping van Moses.

As Moses alleen in die woestyn is sien hy op 'n dag 'n vuurvlam opgaan uit 'n doringbos, maar daardie vlam is nie soos gewoonlik binne oomblikke uitgewoed nie. Moses in sy nuuskierigheid gaan uit op 'n ondersoek: Wat gaan hier aan?

Maar dan skielik word hy tot stilstand geroep. Moses, bly staan!

Ek is die God van jou vaders, die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob.

Hierdie skielike verskyning moet vir Moses 'n oorweldigende ervaring gewees het. Moses was nou nie juis 'n bangbroek nie, maar hierdie stem het hom laat bewe van angs. Wat gebeur nou? En wie praat hier?

Waarom vertel Stefanus hierdie bekende verhaal? Dit is hierom, Stefanus wil maar se: God is die eerste. Hy is diegene wat inisiatief neem. Moses is nie 'n selfmade leier nie, altans nie meer nie. Veertig jaar Midian het hom van al sy ambisies laat vergeet. Moses se eersug is grondig geblus.

En dan kom die Here, dan kan die Here hom gebruik. God laat Moses skrik, bewende staan hy daar en durf nie meer 'n tree te versit nie. Eersug van Moses moet plekmaak vir eerbied vir God. Vir die God van die heerlikheid wat hier in heerlikheid verskyn.

U moet vers 23 maar eens 'n slag vergelyk met vers 34. Dan sien u wat Stefanus bedoel. In vers 23 is dit Moses in wie se hart dit opkom om na sy broers om te sien. As Moses sien dat iemand mishandel word neem hy wraak deur die mishandelaar dood te slaan.

Maar in vers 34 sien Moses niks meer van die onderdrukking van sy volksgenote in Egipte nie. Vermoedelik het hy hom reeds by die feite neergele dat hy aan hulle lot ook niks kan verander nie.

Maar dan staan daar: Die Here het die mishandeling van sy volk gesien en nou daal Hy neer om vir hulle te verlos. En so roep Hy in sy majesteit Moses.

Moses, kom hier, Ek wil jou na Egipte stuur. Sien u? God self is die Verlosser van sy volk!

En Hy maak gebruik van sy dienskneg Moses. Moses is slegs 'n middel in God se hand. Moses is 'n gesondene.

En daaruit sal hy dan ook sy krag moet put. Die Here stuur hom ter verwesenliking van die doel wat die Here het.

Die geskiedenis van Israel is dus nie net die geskiedenis van Israel nie, naar is in die eerste plek die geskiedenis van God met sy volk Israel.

Dus dit is wat daar bo die geskiedenis van Israel met groot letters geskrywe is: Nie aan Moses nie, maar aan God alleen die eer! Hy is die God van die heerlikheid. Soli Deo Gloria!

Dit moet ook staan bo die geskiedenis van die kerk. Aan God alleen die eer! Die kerk, wat sy eie geskiedenis gaan veridealiseer of wat die groot kerkleiers wat in sy midde opgestaan het gaan verheerlik, doen tekort aan die Naam van die Here. Want dit gaan om Hom alleen!

Dieselfde geld ook vir jou eie lewensgeskiedenis. Elkeen mag hom vir homself wel afvra, in hoeverre die Naam van God bo sy lewe geskryf is.

Aan God alleen die eer! As jou lewe later beskryf sal word, sal die skrywer daardie punt steeds by jou kan uitlig? Die God van die heerlikheid was sigbaar en tasbaar in sy lewe? Kyk maar daar en daar het hy gebuig vir die plan van God. Daar en daar het hy sy eie ambisies verloen om aan God die eer te gee.

Gemeente, laat niemand van u meen dat dit vanself gaan nie. Laat niemand dink ek is nou in die kerk, dus ek het my lewe aan die God van die heerlikheid oorgegee.

Nee, Moses het die skok van die doringbos ervaring nodig gehad om te besef: Die Here is die eerste in my lewe. Hy bepaal my lewensloop.

Laat ons ons almal maar verootmoedig. Laat ons almal erken, hoe besig is ons met ons eer, met die heerlikheid van ons eie naam Ons kan so besig wees daarmee dat ons rustig die broederskap in die kerk daaraan opoffer. Ons is so gou in ons eer aangetas dat ons glad nie meer bekommer is oor die eer van Christus Naam nie.

Die eer van Christus Naam is daar gedien waar ons in die lewe afsien van onsself en as christene in die wereld staan wat altyd bereid is om die minste te wees. Wat altyd bereid is om onsself te laat gebruik as diensknegte in 'n plan van God.

2. Moses as middelaar verwerp

Moses is dus heel klein gemaak deur die Here. Bewende staan hy nou voor die God van die Heerlikheid.

En na daardie bewende Moses verwys Stefanus nou as dienskneg van God.

35: Hierdie Moses. Let op die emosionele benadrukking van hierdie Moses. Hierdie, deur God kleingemaakte, Moses.

36: Hy, die gestuurde middelaar het julle uitgelei.

37: Dit is die Moses wat gese het

38: Dit is hy wat in die vergadering met die Engel van God was.

Hierdie Moses! Hierdie deur God gestuurde en na God verwysende middelaar.

Moses sien homself nie as belangrik nie, maar verwys steeds na God. Soos hy ook verwys het na die profeet wat na hom sal kom. Na die ander wat sal kom na Hom moet julle goed luister! Maar hoe reageer Israel op hierdie Moses? Hierdie klein Moses wat homself nie so belangrik ag nie, maar wat steeds na die Here verwys?

Stefanus is daaroor nie onduidelik nie.

35: Hierdie Moses het hulle verloen.

39: Na hom wou ons vaders nie luister nie, maar hulle het hom verstoot.

Kom vir julle hierdie gang van sake nie bekend voor nie?

God wys 'n middelaar aan. 'n Middelaar wat homself moet verneder en 'n pad van gehoorsaamheid moet gaan?

'n Middelaar wat volgens vers 36 wonders en tekens doen, veertig jaar lank.

'n Middelaar wat in sy volstrekte onderwerping aan God egter deur sy broers nie erken is nie. 'n Deur God gestuurde dienskneg wat deur sy eie mense verloen en verstoot is !

Herken julle hom? O nee, Stefanus noem nie name nie.

Maar kom ons lees 'n slag Hand 2: 22: Israeliete luister na hierdie woorde! Jesus, die Nararener, 'n man deur God vir julle aangewys met kragte en tekens en wonders....

Hierdie Jesus het God opgewek...... Hand 2: 32

Hierdie Jesus het julle gekruisig.. Hand 2: 36

Sien u hoe die Here Jesus amper met die hende te taste is in Stefanus woorde?

Hy vertel God het Moses as owerste en Verlosser gestuur, maar hy is deur julle net so verwerp as die ander owerste en verlosser wat God gestuur het.

Daar is julle sonde! Julle wil nie die deur God gestuurde verlossers aanvaar nie. Want julle meen dat julle nie verlossers nodig het nie. Julle is mos al klaar gered? Julle is mos die uitverkore volk van God!?

Maar wee julle! Leer van die geskiedenis van Moses. Lees dit maar soos dit daar staan. Dan weet julle dat julle op die kniee moet gaan. Julle sal moet vra vir 'n verrlosser. Julle sal moet soek vir 'n leidsman in die geloof.

Stefanus noem nog steeds geen name nie. Maar vir die oplettende luisteraar is oorduidelik dat hy hier oor Jesus Christus praat.

Hy maak gebruik van die gelykenis vorm om die mense tot luister te dwing. Hy wil hul vooringenomenheid teen Jesus verbreek deur hulle na 'n bekende verhaal te laat luister om hulle so te laat besef: Die Here is ons Verlosser. Hy het die verlossingsinisiatief. Sodat by hulle die reddende vraag kan deurbreek: Wat het ons gedoen met die Middelaar wat Hy gestuur het?

3. Moses as middelaar vervang

Wat gebeur as die volk die deur God gestuurde middelaar verwerp? Stefanus wil vir hulle ook hierdie les uit die geskiedenis leer.

In vers 39 het Stefanus vertel dat hulle die deur God gestuurde middelaar verwerp het. En hy vertel ook sommer by watter gevolg dit gehad het: In daardie dae maak hulle 'n kalf van goud, bring 'n offer aan die afgodsbeeld en verbly hulle in die werk van hul hande.

Daar is dus 'n onontkombare verband tussen die een en die ander.

Jy aanvaar die deur God gestuurde middelaar of jy veroordeel jouself tot afgodediens.

Die deur God gestuurde middelaar leer vir jou om te buig voor die heerlikheid en die eer van God se Naam. As jy dit verwerp en liewers opkom vir die eer van jou naam dan bevind jy jou onmiddellik op die pad van die afgodediens.

Daar le die beslissende keuse. Of erediens aan die Here of afgodediens. Dit het gegeld vir die Israel in die woestyn op pad na Kanaan. Hulle het die deur God gegewe middelaar nie aanvaar nie en hulle besondig aan die kalwerediens.

Dit geld ook vir die mense wat Stefanus toespreek. Immers deur van Moses te praat vertel hy in gelykenisvorm oor die Here Jesus. Hulle verwerp opnuut die deur gegewe middelaar. Die gevolg kan nie uitbly nie. Hul godsdiens verval tot afgodediens Afgodery met die tempel, afgodery met die wet van Moses, afgodery met hul tradisies.

Dieselfde geld natuurlik ook vir die christelike godsdiens. As jy Jesus Christus nie eintlik as die middelaar wil aanvaar nie, as jy nie eintlik jou lewe heeltemal onder die Naam van Christus wil stel nie, dan verval jy sommer tot afgodery.

Daardie afgodery kan enige vorm aanneem.

Afgodery met jou aardse belange b. v. dan moet alles wyk vir jou persoonlike welvaart en sien jy nie meer kans vir offers in die Koninkryk van Christus nie.

Of: Afgodery met jou eie opvattings oor geloof en kerk waarby jy nie meer bereid is om na die bybel self te luister nie.

Of: Afgodery met allerhande tradisies waarby jy nie meer vra na die eer van die Naam van die Here nie, maar jy jou alleen laat voortdryf op jou gevoelens oor sekere sake.

Afgodery is baie naderby as wat ons dink gemeente, want dit is in die hart van ons almal en daar is veel genade van die Heilige Gees nodig om ons daarvan te laat verlos.

Maar bid maar baie om die genade van die Heilige Gees.

Dan sal God wel gee.

En as jy dit weier en jouself laat voortdryf op die pad van afgodery dan gebeur moontlik met jou dieselfde as wat eendag met Israel gebeur het. Dan wend die Here hom af en gee jou oor aan dit wat jy steeds teen al sy waarskuwings in bly soek het.

Israel is toe anderkant Babilon weggevoer.

Dit beteken vir ons: As ons die deur God gegewe middelaar nie van harte wil aanvaar nie dan volg daar die straf van God, dan is daar eendag vir ons nie meer plek op die wereld nie. Dan word van ons die lewe afgeneem.

Laat die geskiedenis wat Stefanus vertel vir onsself 'n les wees.

As jy meen jy staan, pasop dat jy nie val nie.

Wees bereid om jouself terwille van die naam van Christus weg te syfer, want anders is jy Hom nie waardig nie.

Nogmaals, niemand kan dit op eie krag doen nie, dit word vir jou slegs geskenk in die weg van volhardende gebed. Maar waar 'n lewe gedra word deur voortdurende gebed daar sal 'n mens ook die vrugte kan sien.

Want dit bly een van twee: Of jy bring vrugte van die Gees voort of jy bly ruimte gee aan die werke van die vlees.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)