Christus is die ware wynstok

Minister: 
Ds FJ Bijzet
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Johannes 15
Preek Inhoud: 

PREEK OOR JOHANNES 15: 5

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 92: 1, 2
Wetslesing
Ps. 92: 6, 7
L. Jes. 5: 1-7 & Joh. 15: 1-8
Gebed
Kollekte
Ps. 80: 5, 6, 8
Prediking
Ps. 107: 18, 21
Gebed
Ps. 72: 4, 9

Gemeente,

As daar in my vorige gemeente, in Nederland, broeders of susters was wat as gevolg van 'n ernstige ongeluk of 'n breinbloeding of so iets langdurige verpleging moes kry, is hulle in heelwat gevalle in "De Wijngaard" opgeneem.

"De Wijngaard" (ons sou dit dalk "Die Wingerd" noem) is 'n verpleeginrigting wat op inisiatief van die gesamentlike diakonieë van ons susterkerke in Nederland opgerig is. 'n "Sentrum vir verpleging en reaktivering" van gekneusde en gestremde lewens, soos dit offisieel genoem word.

Ek moes aan daardie "Wyngaard" dink by die voorbereiding van hierdie preek.

In daardie verpleeginrigting "De Wijngaard" is daar net mense in besóndere omstandighede opgeneem: langdurig siekes, mense met 'n stremming, hoogbejaardes.

Maar kom ek sê vanoggend vir u: u en ek hier in die kerk, ons leef almal in "die wyngaard". Al is ons ook kerngesond.

Ek kan dit so sê -u verstaan dit natuurlik- op grond van ons teks uit Joh. 15.

Ons leef in Gód se wingerd.

Elkeen wat van Jesus is, is in die wyngaard opgeneem. Nie as 'n pasiënt nie, maar as 'n loot.

En God self werk aan ons re-aktivering. Hy wek in lote wat in hulleself dood is, 'n nuwe lewe. God werk daaraan dat ons gekneusde en gestremde lewe weer gesond en aktief word.

Sonder Christus sou hierdie wingerd egter nie daar wees nie. Daarop word in Joh. 15 alle nadruk gelê. Ons leef slegs deur Christus in die wyngaard. Slegs deur Hom kan ons weer gesond word.

Dié wat nie in Christus bly nie, kan daarom ook nie in die wyngaard bly nie.

Dié verdor en sterf af en word uit die wingerd verwyder as 'n dooie loot. Die allerbeste verpleeg- en reaktiveringssentrum gaan vir hom nie meer help nie. Hy is die ewige dood te wagte.

Dit is die boodskap van ons teks van vanoggend, wat ek soos volg vir u saamgevat het:

CHRISTUS IS DIE WARE WYNSTOK

  1. SONDER HOM BLY ONS LEWE ONVRUGBAAR
  2. DEUR HOM WORD ONS LEWE VOL VRUG

1. Die wat met die kennis van 'n leek in 'n wingerd rondloop, broeders en susters, weet en sien glad nie dat daar 'n verskil is tussen 'n wingerdstok en die lote nie. Veral nie wanneer daardie wingerd vol stokke staan soos hulle in die land Kanaän eeuelank volop voorgekom het: die ene blad en vrugte.

'n Leek noem daardie geheel eenvoudig: 'n wynstok. Dít is 'n wynstok.

So'n leek leer eers die onderskeid raaksien en gaan sorgvuldiger praat as die wynboer hom korrigeer en aanwys dat daar eintlik maar net een stam die eintlike stok is, en dat alles wat daaruit voortkom alles lote is wat deur daardie een stam gedra word.

U moet ons teks uit Joh. 15 ook as so'n korreksie beskou. Ons Here Jesus Christus wys die onderskeid aan tussen die wynstok en die lote: "Ek is die wynstok- julle is die lote".

Hierdie woorde klink oorbekend in ons ore en ons hoor daarin dan ook nie meer nie as net 'n mooie en pakkende metafoor waarin ons band met Christus tot uitdrukking gebring is. So nou soos die band van lote aan 'n wingerdstok, so nou mag ons band aan Christus wees.

Maar die woorde van ons teks is in die eerste plek bedoel as 'n onthullende les om ons 'n oog te laat kry vir die belangrike onderskeid wat daar is tussen 'n wynstok en die lote.

Die onderwys van die Here Jesus aan sy 11 dissipels hier in Joh. 15 was allereers bedoel as 'n noodsaaklike korreksie om 'n hele klomp Joodse nasionale trots te vergruisel.

Want die dissipels het die beeld van die wynstok nie net uit die natuur geken nie. Dit sekerlik ook: Kanaän was reeds lank voordat God se volk daar kom woon het, bekend weens sy wingerde; en daardie wingerde het ook vir God se volk regdeur die eeue 'n bron van vreugde gebly. Kanaän was die land van wingerde en olyfbome.

Maar die dissipels het die beeld van die wingerdstok veral ook uit hulle Bybel leer ken. In die Bybel is God se volk sélf 'n wynstok genoem.

Dink nog 'n bietjie aan Psalm 80 waaruit ons so pas 'n aantal verse gesing het.

Daarin word vir die HERE gesê:

    "U, HEER, het ons in vroeër dae
    geken, en in u welbehae
    'n wynstok uit Egipteland
    gebring, en selfs hier ingeplant"

God se volk was soos 'n wynstok wat in Egipte besig was om dood te gaan, maar wat toe deur die HERE met tere sorg losgegrawe is en oorgeplant in die beter grond van Kanaän waar dit weer wortelgeskiet en uitgegroei het tot 'n indrukwekkend grote plant.

So word in Psalm 80 die volk Israel met 'n wynstok vergelyk. En daardie beeld, wat ook op ander plekke in die Skrif wel gebruik is, het 'n groot plek gekry in die Joodse nasionalistiese denke. Was dit nie 'n wonderlike beeld van die besondere verhouding tussen God die HERE en Israel, sy uitverkore volk nie?

Maar in die loop van die tyd het Israel wel al hoe meer prat gegaan op die feit dat hulle as die enigste volk op die hele aarde God se wynstok mog wees; maar hulle het tegelyk al hoe meer uit die oog verloor dat hulle slegs geroepe was om lote te wees wat vrug moet oplewer vir die wynboer.

Daar is muntstukke gevind uit die tyd van die Joodse vryheidsoorloë 'n paar honderd jaar voor Christus se geboorte, waarop ons 'n weelderige wingerdstok afgebeeld sien as die simbool van Israel se nasionale trots. Soos ons ons springbok het, die Duitsers hulle adelaar en die Hollanders hulle leeu.

En in die dae dat ons Heiland sy verlossingswerk op aarde gedoen het, het daar aan die gewel van die tempel 'n groot goue wynstok gehang as die uitbeelding van die Joodse besef van eiewaarde.

So het hulle dit vir mekaar gesê, en hul was bra trots daarop: ons is God se wynstok, die steggie wat sy regterhand geplant het.

So het hulle dit gesê, in hulle waanwysheid, maar hulle het lankal vergeet dat hulle maar net lote was waarvan 'n mens vrugte mog verwag en wat, as daar nou nie gou vrugte sou kom nie, afgesny en in die vuur verbrand sou word.

Want dit was onderwyl die groeiende klag van Gód, waarvan die Bybel eweneens vertel: ten spyte van al sy goeie sorg het die vrugte weggebly.

Ons het daarvan gelees in Jesaja 5:

Wat hét die HERE 'n energie daaraan bestee om 'n goeie oes uit sy wingerd te kry. Alles was gedoen om die beste resultaat te behaal.

Maar wat is God bitterlik teleurgestel! Die verwagte vrug het net nie gekom nie en daar het maar net klein, suur, onsmaaklike vruggies gegroei.

So was dit reeds in Jesaja se dae.

So is dit nog dieselfde in Jesus se dae. Alle moeite van die Wynboer word nie met vrug beloon nie. Johannes die Doper soek tevergeefs na goeie vrugte.

Want wat is 'n wingerd sonder vrug? Wat maak 'n mens met 'n wingerd as alle sorg tog vergeefse moeite is? So'n wingerd word aan die verwoesting prysgegee.

God wil vrugte sien. Daarvoor het Hy alle moeite van die wêreld gedoen. Hy het vir dié doel selfs sy eie Seun nie gespaar nie.

Moet maar kyk: Christus lê ook hier in Johannes 15 dáárop alle nadruk. Hy gebruik tot ses keer toe die woord "vrug".

Israel het, ook ondanks die waarskuwing van Johannes die Doper, onvrugbaar gebly. Daarom word Israel binnekort verwoes. En God soek die vrug wat Israel nie opgelewer het nie, voortaan by Christus se kerk.

Maar dan leer die Here Christus sy kerk eers duidelik insien dat daardie vrugte nooit sal kan groei nie solank as wat ook hulle bly spog met die gedagte: "Ons is God se wynstok".

Nee, hulle sal eers vrugbaar word vir God as hulle begin besef: ons is slegs lote. As hulle 'n oog daarvoor kry dat daar 'n belangrike onderskeid is tussen die wynstok en die lote.

Want God het 'n wingerd, dis reg, maar in daardie hele wingerd is daar maar een stam, een wynstok wat dié naam verdien, wat dié naam werd is, en die res is alles lote.

Voel u, gemeente, dat dít die eerste les is hier in Joh. 15: "Ek is die ware wynstok", sê Christus. "Ek is die stok, julle is die lote".

Ons word dus allereers op ons plek gesit en alle moontlike eiedunk word ons ontneem.

Om te mag wees in God se wingerd- dit beteken op sigself nog niks nie. Ons is net lote. En watter waarde het 'n loot as hy nie met die wynstok verbonde is nie? So'n loot het geen lewe in homself nie. Dis 'n dooie stuk hout wat nie eers geskik is vir timmerhout nie. Jy kan dit net weggooi en verbrand.

Nou maar goed, so is u en ek, ons almal in onsself, gemeente: dooie hout waarmee God niks kan aanvang nie. Eers as ons ingeplant word in die lewende wynstok kan ons vir God tot bloei kom. Ons het as lote geen lewe in onsself nie. Hy, die wynstok, dra alle lewe in Hom, ook vir ons. Hy het dit vir ons uit die dood teruggehaal. Slegs deur 'n lewende band met Christus kan ons lewe vir God weer vrugbaar word.

Wanneer u die begin van Joh. 15 rustig lees, sal dit vir u duidelik word dat Christus ons hiervan terdeë bewus wil maak. Ons moet ons volslae afhanklikheid van Hom altyd mooi besef.

Om gedoop te wees, om 'n kerklidmaat te wees, om elke Sondag getrou die eredienste by te woon, om gereeld die nagmaal te vier, die katkisasieklasse te volg- dit alles beteken op sigself nog niks nie.

Dit is glad nie denkbeeldig, broeders en susters, dat ons, nes die Jode destyds, onsself in slaap sus met daardie soort dinge en ons veilig voel by die gedagte dat ons mos God se volk, die ware kerk van Christus is. Ook ons kan sommer begin glo ons is in onsself aangenaam vir God.

Maar as u die bedoeling van ons teks begryp, moet u insien dat ons as lote in onsself niks is nie, maar slegs deur Hom iets kan word. Eers as 'n mens homself as 'n loot volkome afhanklik weet van die wynstok- eers dan word ons lewe vrugbaar vir God.

"Want sonder My kan julle niks doen nie", sê die ware wynstok Christus.

En dit is 'n ontnugterende woord vir mense met nie weinig eiedunk nie. 'n Vernietigende les vir elke mens wat homself en sy eie prestasies -ook in die kerk!- nogal belangrik ag.

Sonder Christus bly ons lewe leeg, waardeloos.

Maar dan kan u ook verstaan hoekom die Here in hierdie verse so daarop aandring dat ons in Hom moet bly. In die verse 3-7 word in telkens ander bewoordinge die noodsaak aangewys om as loot in Hom, die wynstok te bly. Wat kom daar mos van ons tereg as ons nie in Hom sou bly nie?

Maar 'n mens bly nie outomaties as loot aan hierdie wynstok verbonde nie! Dis regtig nie so: een keer 'n christen, altyd 'n christen nie.

Talle mense leef wel so. Ons sien dit orals rondom ons in hierdie land; maar ook in ons eie gemeente is nie almal vry daarvan nie: asof dit genoeg is om aan 'n (goeie) kerk te behoort. Asof dit genoeg is om 'n gedoopte en belydende lidmaat van die gemeente te wees. Asof daardeur jou plek in God se Koninkryk outomaties gewaarborg is. Asof die band tussen die loot en die wynstok onverbreeklik is wanneer die loot eenkeer op die wynstok geënt is.

Christus waarsku egter dat 'n mens as loot sommer weer die band met die wingerdstok kan verloor en van Hom losraak.

Die dissipels het dit so pas nog konkreet sien gebeur by hulle mede-dissipel Judas. Judas het tot op daardie oomblik heeltemal by hulle en by Christus behoort. Hy het 'n volwaardige plek in die kring van die dissipels gehad.

Maar skielik was hy weg. Die band het sommer gebreek. Omdat hy nie in Christus gebly het nie.

Dit kan vandag nog presies so gebeur: mense wat jarelank 'n plek in die midde van Christus se gemeente gehad het, dalk mense was waaraan ander lidmate 'n voorbeeld geneem het en by wie hulle hulp en bemoediging gesoek het, val skielik weg. Hul geestelike lewe verskrompel en voor 'n mens dit besef het hulle met die kerk gebreek. En kyk 'n bietjie na hul lewe vandag: leeg, oppervlakkig, onvrugbaar.

Want hulle het die band aan Christus kwytgeraak.

Dis dié dat Christus ons oproep om in Hom te bly, soos Hy in ons wil bly. Hy, die wynstok, soek ons met sy lewenssappe en dit is nie sy skuld as ons verdor nie. Maar dan moet ons Hom ook soek en alles daaraan doen om in Hom te bly.

Hoe doen 'n mens dit, gemeente: in Christus bly?

Dis moeilik om in 'n paar woorde uit te druk. Dit is 'n hele lewenshouding. Dit beteken dat Christus die sentrum van u lewe vorm. Sodat u, soos die apostel Paulus, kan sê dat u lewe Christus is.

In Christus bly- dit is dat u elke dag van u lewe in Hom u krag soek en u aan Hom toevertrou; dat u niks meer sonder Hom doen nie, dat u in alles met Hom rekening hou en uself van Hom afhanklik weet.

Christus sê dit self in vs. 7 so: sy woorde moet in ons bly. U moet Christus se woord wat Hy ons in die Bybel gegee het, in u laat woon en werk. Met ander woorde: u moet met Christus se woord wat weekliks in die prediking aan u saamgegee word en wat u ook self by die huis kan lees en ondersoek, aan die werk. Dit persoonlik en gesamentlik toepas, uitdiep.

Sy woord moet ons lewe regeer. Ook as Christus se woord allerhande wildgroei in ons lewe blootlê en soos 'n snoeimes ons verwilderde natuur wil veredel. Ons natuur verset hom wel daarteen, maar juis dan moet ons Christus se woord tog in ons lewe toelaat en sy snoeiwerk laat verrig. Slegs so kom daar al hoe meer plek vir die deurstroming van die lewenssappe van die wynstok in ons, oftewel vir die werking van Christus lewendmakende Gees in ons. Slegs so word ons lewe weer vrugbaar vir God.

2. Maar dan kan dit ook nie anders nie, of ons lewe word vol vrug.

U ken natuurlik die belydenis van Sondag 24 van die Heidelbergse Kategismus, waarin gevra word of die leer dat ons sonder Christus niks kan doen nie, geen onverskillige en gemaksugtige mense maak nie. Die antwoord op daardie vraag is sondermeer: "Nee, want dit in onmoontlik dat 'n mens wat deur 'n ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid sal voortbring nie".

U hoor wel dat die taal van Sondag 24 onmiskenbaar aan Joh. 15 ontleen is.

Waar daar deur die geloof 'n lewende band met die wynstok Christus gegroei het, daar moét ook wel vrugte groei. Daar kan 'n lewe nie leeg en dor bly nie. Dit is onmoontlik.

Waar die lewenssappe van die Heilige Gees in 'n mens opgestoot word, moet dit wel aan alle kante na buite toe breek. Dit moet sigbaar, hoorbaar, merkbaar word in 'n lewe waarmee die HERE weer bly kan wees.

In daardie mens se lewe groei "die vrug van die Gees" wat volgens Paulus se woord in Galasiërs 5, bestaan in: "liefde (vir God en die naaste), blydskap (in plaas van die onrus en ontevredenheid wat soveel mense in hierdie wêreld beheers), vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid (alles woorde wat 'n vergewingsgesinde houding aandui, 'n strewe om die ander vas te hou en in harmonie met hom te lewe), getrouheid (betroubaarheid teenoor soveel huigelagtigheid), sagmoedigheid (sodat jy nie die reg in jou eie hand neem en jouself dadelik wreek nie, maar jou saak in God se hande gee), selfbeheersing (jy laat jouself nie deur jou drifte en hartstogte regeer nie)".

Indien ons in Christus bly en Hy deur sy Heilige Gees in ons, word ons lewe toenemend soos Christus se eie lewe: goed en aangenaam vir God en die mense.

Daar kom "veel vrug", sê Christus in ons teks.

Indien u in Christus bly, kan u dit self in u eie lewe agterkom, broeders en susters. U kan dit self ervaar (daar het u weer die tema waarop ons as gemeente dié jaar konsentreer: die belewing, die ervaring van ons geloof)- u kan dit self ervaar hoe goéd dit is om by die wynstok Christus ingeplant te mag wees.

U mag ondervind dat daar iets in u lewe verander.

Nee, dit is nie meteens groot dade van gehoorsaamheid en ywer vir God nie. Maar nogtans, ons merk dit tog dat die begeerte by ons groei om nie meer vir onsself nie, maar vir ons God te lewe?

En ons ondervind tog, dat dit ons lewe nie moeiliker maak nie, maar juis ryker? Meer vrugbaar? Ons lewe verloor sy leegheid en oppervlakkigheid en word meer sinvol, doelgerig. En dit bring 'n wonderlike blydskap in ons lewe, 'n rus en 'n voldoening. Ons kom agter dat as gevolg van ons band aan Christus daar ook 'n beter band met ons medemense groei. Die liefde vir God veroorsaak ook 'n onbaatsugtige en vergewingsgesinde liefde teenoor ons naaste.

En wat dalk wel die grootste wonder is: as ons baie swaarkry, as ons lewe in ellende ondergedompel word, blyk daar by ons 'n krag van aanvaarding te wees wat ons vir opstandigheid en moedeloosheid bewaar. En hoewel daar trane in ons oë kan is, kom daar nogtans geen verkeerde woord oor ons lippe nie.

U mag dit by uself opmerk: kyk hoe verander ek! Kyk watter bo-menslike kragte werk daar blykbaar in my! Kyk hoe dat my hele lewe weer na die HERE toegroei. Kyk hoedat die begin van die nuwe Paradys in my lewe alreeds merkbaar word!.

Nee, dan spog ons nie met ons eie lewe nie, ons vertrou ook nie op ons eie goeie lewe nie, maar ons herken eenvoudig aan die vrugte die boom: die wynstok, Christus. Net Hy is mos die wortel van dit alles. En ons begeer nog meer om in Hom te bly.

Wanneer die ouderlinge elke jaar by u 'n huisbesoek bring, soek ook hulle na daardie vrugte. Hulle kom praat daaroor met u, hulle help u om in u eie lewe daardie vrugte op te merk. Hulle wil u help om die kwaliteit van die vrugte te verbeter en die hoeveelheid te vermeerder.

Want die HERE neem met 'n minimum aan vrugte geen genoeë nie. Party mense dink so. Hulle meen dis genoeg as jy jou omtrent hou aan dit wat van 'n christenmens verwag word.

Maar God soek die maksimum uit ons lewe.

U lees tog nie daar oorheen dat Christus in ons teks praat van "veel vrug" nie?

Hy onderstreep dit nog 'n keer in vs. 8: "Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra".

Lote dra mos geen vrug vir hulleself nie. Hulle dra vrug vir die landbouer. En Hy begeer 'n oorvloedige oes. Ons is nie in die kerk allereers om self voordeel daarvan te hê nie. God wil voordeel van ons lewe hê.

Hy soek veel vrug, sodat Hy kan glorieer as 'n goeie wynboer wat die hoogste resultate bereik met sy geduldige en liefdevolle sorg.

Wee jou daarom, indien jou lewe leeg bly.

"Elke loot wat geen vrug dra nie, neem Hy weg". En met so'n rank kan 'n mens ook niks meer aanvang nie. Dit is hoogstens nog geskik as brandhout.

Dié waarskuwing moet die ouderlinge daarom ook laat hoor tydens hulle jaarlikse huisbesoeke. As hulle skaars vrugte van die Gees in u lewe opmerk, as hulle maar net wrange en bitter vrugte van kritiek en ontevredenheid raakloop, ja, dan moet hulle u waarsku om u band aan Christus te versterk. Hulle kan nie in u hart kyk nie, maar dis ook nie nodig nie, want ook in hierdie geval word die boom aan die vrugte geken. 'n Leë en oppervlakkige lewe, of sulke onsmaaklike vrugte kán nie uit Christus wees nie.

Wees bly dat u nog gewaarsku word, broeders en susters. Dit wys vir u dat die Landbouer u nog nie afgesny het nie. Hy probeer dit nog steeds om u te reaktiveer. U is blykbaar nog in "Die Wijngaard". Dit wys hoe belangrik u vir Hom is. Hy soek nog steeds die oes.

Want ons kan nie sonder die lewenskrag van die Wynstok en sonder die liefdevolle versorging deur die Landbouer nie- want wat is lote sonder stok en sonder versorging?

Maar daardie Wynstok, Christus, en daardie Landbouer, sy hemelse Vader, hulle wil nie sonder ons nie. Want wat is 'n Wynstok sonder lote, wat is 'n Wynboer sonder vrug?

As u dít weet- dan wil u uself tog laat reaktiveer tot 'n vrugbare lewe vir God? Dan wil u die HERE tog die vreugde besorg van veel vrug?

Dan wil u in sy vreugde tog ook self vreugde vind?

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)