Die klein profeet mag die pad wat die Here vandag gaan, gou wys

Minister: 
Ds EA de Boer
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Lukas 1
Preek Inhoud: 

22-12-91

LUKAS 1 : 76-79

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 107 : 1, 2
Wetslesing
Sing: Ps. 33 : 7, 10
Gebed
Skriflesing: Lukas 1 : 57-80
Sing: SB. 22 : 1, 2, 3
Doopsbediening
Sing: Ps. 33 : 11
Tekslesing: Lukas 1 : 76-79
Prediking
Sing: SB. 2 : 4, 5
Dankgebed
Kollekte
Sing: Ps. 107 : 5, 6
Seën

Gemeente ons ons Here Jesus Christus,

die tyd gaan vinnig. Die eerste vyf maande van Elisabet haar swangerskap word gekenmerk deur die feit dat sy haarself wegsteek: om te voorkom dat sy alleen van die wonder sou moes praat. Haar sesde maand word gestempel deur die volgende wonder: die hoë engel Gabriël kom sê vir Maria sy sal die Seun van God mag verwag. In daardie sesde maand het Maria by Elisabet gekom en die laaste drie maande van Elisabet (vir haarself die drie eerste!) by haar deurgebring. Vrouens wat altwee verwag en die maande voor Johannes se geboorte saam deurbring: die een verwag die voorloper, die ander van die Messias self. Johannes en Jesus: ongebore kinders wat binnekort 'n groot betekenis gaan kry.

Die tyd gaan vinnig, wanneer jy in jou Bybel lees. Ons mag, terwyl ons lees, meeleef. Dan, sê die evangelie, is "die tyd dat sy moeder moes word, vir Elisabet vervul, en sy het 'n seun gebaar" (vs. 57). Die geboorte self word net kortliks vertel. Aan die gebeure van die geboorte is niks besonders, soos dit by Jesus is, nie. Wat wel besonder is, is dat opnuut 'n belofte van die HERE vervul is. En: dat die vervulling van dié dag binnekort 'n groot uitstraling sal kry! Die engel het mos gesê: "jy moet hom Johannes noem en baie sal oor sy geboorte bly wees, want hy sal groot wees voor die Here" (vs. 13-15). Baie sal bly wees, maar vandag is die mense bly; en ook 'n bietjie angstig: "wat sal tog van hierdie kindjie word?". Hy sal groot wees voor die Here, ja, maar Johannes is op die dag van sy geboorte nog baie klein. Dan gaan Zagaria praat. Deur die heilige Gees reageer hy op die reaksies van die mense rondom: "wat sal tog van hierdie kindjie word?". Dit is die lofsang van Sagaria, sê ons. Ja, vanaf vs. 68 is dit 'n lofsang vir God. "Geloofd sy die HERE, die God van Israel"! Vanaf vers 76 egter spreekt die ou priester nie meer die HERE aan nie, maar sy seuntjie, die pasgebore Johannes. Ons hoor 'n toespraak vir 'n babaatjie! Uit die woorde bedien ek u vandag die Woord van die Here:

DIE KLEIN PROFEET MAG DIE PAD WAT DIE HERE VANDAG GAAN, GOU WYS

  1. Hy mag die pad vry maak (vs. 76-77), - almal moet Jesus kan sien
  2. Hy mag die lig op die pad wys (vs. 78), - Jesus is al besig om te kom
  3. Hy mag die voete rig op die pad (vs. 79). - baie mag vrede soek

1. HY MAG DIE PAD VRY MAAK (vs. 76-77)

"En jy, kindjie, sal 'n profeet van die Allerhoogste genoem word". Noudat Sagaria weer kan praat, pas hy die woorde van die engel Gabriël toe. Gabriël het van Elia gepraat, Sagaria sê: jy, my kind, "sal 'n profeet wees". Die lofsang en die toespraak van Sagaria is anderste as Maria haar lied. Wanneer Maria by Elisabet gekom het, bars sy uit in 'n lied vir die HERE. "My siel maak die HERE groot, en my gees is verheug in God, my saligmaker!". Dit is egter 'n lied oor haarself: "omdat Hy die nederige toestand van sy diensmaag aangesien het". Sagaria word bo homself uitgetil: hy "is vervul met die heilige Gees en het geprofeteer" (vs. 67). Hy sing nie van die geluk wat in sy huwelik gekom het nie. In die toestand van vervulling word sy gees gerig op God se werk. Ja, dit vra geloofskrag: om temidde van die feesvreugde die aandag van jou gaste op 'n wyer, hoër vlak te rig. In die lofsang sing Sagaria oor die vervulling van baie beloftes "soos God gespreek het deur die mond van sy heilige profete van ouds af" (vs. 70). Sy seun sal nie 'n priester, soos hy self is, wees, maar 'n nuwe profeet. Die Gees laat hom dit sien. Die Gees gee krag en diepte aan die geloof.

Die mense, die volk van die HERE sal jou ook as 'n profeet erken! "Jy sal 'n profeet van die Allerhoogste genoem word". Die volk sal God se sending en jou hoë roeping besef, my kind. Daarin lê al iets van God se sukses in die sending van die voorloper van Jesus. God sal Johannes herkenbaar as sy profeet op pad stuur. Die volk kry minstens die kans om deur sy woord te glo. Om met die woorde van Esegiël te praat: "of die mense van God se volk nou al luister of nie, hulle sal moet erken dat daar 'n profeet in hulle midde was" (3:5).

Die engel het die ou profeet Elia genoem. Sagaria sien ook 'n ander Skrifgedeelte wat vervul gaan word: 'n gedeelte uit die boek Jesaja. Die Skrifkennis van die priester word (soos dit by u as christen ook kan gebeur) ingeskakel. Lees met my Jes. 40: die verse wat ons in SB. 22 ook gesing het. Vs. 1v: "Troos, troos my volk, sê julle God", 'n opdrag om te troos. "Spreek tot die hart van Jerusalem ...". Dan kom die belangrike woord van vs. 3-4 (ook lees. Die tekste word samegevat deur Sagaria: "jy, my kind, sal voor die aangesig van die Here Jesus uitgaan om sy weë reg te maak". 'n Krom pad of een wat deur dieptes en oor passe gaan, is moeilik begaanbaar. Niemand kan jou van 'n afstand sien kom nie. Elke kromming of dal onttrek jou aan die oog. Nee, die pad waarop die Here Jesus sal kom, moet reg wees: almal moet kan sien dat Hy kom! Sagaria sien in die geloof: vandag is die Here baie naby. Dus moet sy pad skoongevee word, ter ere van Hom!

Hoe moet daar 'n oop pad gemaak word? Hoe kan dit so word dat almal Jesus kan sien kom? Dit sê vs. 77: dit sal jy, my seun, doen "deur kennis van die saligheid aan sy volk te gee in die vergifnis van hulle sondes". "Om sy weë reg te maak" is dieselfde as "om kennis van saligheid te gee". Ja, Johannes sou die doop van bekering tot vergewing van die sondes verkondig. Die pad om Jesus te verwag, om Hom te kan sien kom, word so vrygemaak: deur die volk van God opnuut oor sonde en bekering te laat dink. Deur onomwonde te sê: daar is, daar kom vergewing! By God is daar genade, ook vir jou. Die saligheid word as 'n feit gestel: God het die pad op daardie dag al begin gaan. Van sy vrou weet Sagaria: die moeder van die Saligmaker verwag alreeds!

So mag ons ook 'n reguit pad na Jesus wys. Daar mag niks in die gesigsveld gesit word wat die sig op ons Heiland hinder nie.

2. HY MAG DIE LIG OP DIE PAD WYS (vs. 78)

Dit word nou aan mekaar verbind: die ou tyd, die geskiedenis van God met sy volk, én die nuwe tyd, die geboorte van die voorloper van die Here Jesus. God se beloftes is eintlik alreeds vervul. "Hy het sy volk besoek en het vir hulle verlossing teweeggebring" (vs. 68). Die beloftes aan Dawid en die getuienis van die heilige profete, die inhoud daarvan was basies dit: "om barmhartigheid te bewys aan ons vaders en aan sy heilig verbond te dink" (vs. 72). Noudat Sagaria sy seuntjie toespreek, sê hy wat God nou en gou gaan doen.

Die barmhartigheid van God is al daar! Johannes mag daarvan kennisgee. Want die vergewing van sondes kom: "deur die innige barmhartigheid van onse God". "Innig": die woord praat letterlik van alles wat in 'n mens se borskas is, jou hart en longe, jou gevoelens. As daar in God nie altyd die gevoel van ontferming, sy barmhartigheid was, sou daar nie kans op vergewing wees nie. Maar die HERE is so: Hy het 'n innige barmhartigheid, dit kom uit sy binneste, sy diepste wese. Wie is die volk wat Johannes kennis mag gee van die pad waarop die saligheid kom? Dit is die volk met ou beloftes wat net deur God se barmhartigheid nog altyd geldig is. Net deur die wonder dat God in Homself barmhartig is: die verbond is al honderde male verbreek. Vir die HERE is sy verbond so heilig dat Hy in Jesus Christus opnuut sy verbond gestel het.

Daarom voeg die heilige Gees deur Sagaria dié woorde toe: die innige barmhartigheid van God "waarmee die opgaande Lig uit die hoogte ons besoek het". Sagaria gebruik 'n bietjie oordadige, ingewikkelde omskrywing. Hy vloei oor van eerbied om die grootheid van God se liefde te omskryf. Die opgaande lig is in letterlike Grieks: die opgaande son. Dit kom weg uit die profesie van Maleagi waaroor ons die vorige Sondag gelees het. Daarin lees jy: "Maar vir julle wat my naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan" (4:2). Daar klink egter nie net een teks in Sagaria se woorde deur nie. Want "die Lig" word hier as 'n persoon beskryf: "die Lig het ons besoek" of "het aan ons verskyn". Nie net óór ons geskyn nie, maar ààn ons verskyn en ons besoek soos 'n koning verskyn, wanneer sy volk staan en wag. Ja, die woordjie "besoek" van ons vertaling wys op 'n koninklike verskyning. Die pad is vir Hom reg gemaak, sy volk wag vir Hom. Want dit het al eerder gebeur, sê Sagaria: Hy het ons besoek. God is alreeds daar! Die lig skyn alreeds.

Nog een stappie verder terug in die Ou Testament. Want die woord wat met "opgaande lig" vertaal is, word met die profesieë van Sagaria (nee, nou nie aan die priester, maar aan die ou profeet dink!) verbind. Die Griekse vertaling van die OT het op 'n paar plekke hierdie woordjie gebruik, as ons vertaling "spruit" lees. Die HERE sê: "want kyk, Ek sal my Kneg, die spruit laat kom!" (3:8). En: "Kyk, daar kom 'n man wie se naam is Spruit, en Hy sal uit sy plek uitspruit en Hy sal die tempel van die HERE bou" (6:12). Die spruit, die jong takkie van 'n boom wat dood gelyk het. Dawid se huis sal "'spruit van geregtigheid laat uitspruit", sê 'n ander profeet, nou Jeremia (33:15). Die son wat opgaan en die takkie wat omhoog groei: in die hoogte, uit die hoë hemel kom God se barmhartigheid. Dit is name vir Jesus in wie God se barmhartigheid oor ons skyn. Sterker nog: Hy is persoonlik alreeds aanwesig. Hy gaan die pad, want Jesus is besig om te kom. Johannes moet dit gou gaan wys.

3. HY MAG DIE VOETE OP DIE PAD RIG (vs. 79).

Die pad word reggemaak, sodat almal Jesus kan sien kom: as die Een wat vergewing van sondes kan gee. Die lig kom op die pad by die mense: om God se barmhartigheid te wys, omdat Jesus al besig is om te kom. Nou moet daar ook mense wees wat die pad soek. En Johannes mag help.

Op 'n pad is jy in beweging: jy wil jou doel bereik. As jy die pad gesoek het of jy was verdwaal, dan gooi jy op 'n stadium tou op. Jy soek nie langer meer nie en gaan iewers sit. Daar is, sê die beeldspraak van die Bybel, baie mense wat "in duisternis en doodskaduwee sit". As dit nag geword het, maak dit nie sin om op te staan en verder te gaan nie, jy sien tog niks. Daar is mense vir wie dit nag is. Hulle het nie moed om in die lewe verder te gaan nie, die dood werp sy sombere skaduwee vooruit. Daar is siekte of beproewing, sonde of teenspoed wat die geloof en die hoop gebreek het. In die donker is God vergeet. Of jy het die Here nie vergeet, maar kan Hom ook nie bereik nie.

Maar, mog alreeds die profeet Jesaja belowe: "die volk wat in duisternis wandel, het 'n groot lig gesien; die wat woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het 'n lig opgegaan!" (9:1). Ja, profeteer nou die priester Sagaria vanuit sy inhoudryk Skrifkennis: die lig wat Jesus is, "skyn oor die wat in duisternis en doodskaduwee sit". Die lig vee die skaduwee weg. Uit Ps. 107 sal ons sing: "Die HERE het hulle uit duisternis en doodskaduwee laat uitgaan en hulle bande verbreek" (:11-14). Hier is Sagaria wat van 'n nuwe profeet van die Allerhoogste mag gaan praat: wat nuwe hoop vir arme mense mag gee. Baie ou belofte uit die Skrif eggo in hierdie toespraak.

Daar sal 'n lig skyn op jou ompad: "om ons voete te rig na die pad van die vrede". Jou voete na die pad rig: jy moet eers die rigting van die hoofpad ken. Johannes was daar om die mense op pad te stuur: om by Jesus die pad van die vrede met God die HERE te bereik. Dit is die heilig verbond: dat die barmhartigheid van God 'n nuwe kans vir die ou volk gee. Maar daarby kom dat die heidenmense, die wêreld die lig mag sien en die pad mag kom leer soek. Al die mense wat in duisternis en doodskaduwee sit en wag op niks.

Ek het gesê: eers loof Sagaria die HERE, maar in ons teksverse hou hy 'n toespraakie vir sy seuntjie. Dit lyk snaaks om 'n kind aan te spreek: die een in die feesgeselskap wat sekerlik nie kan luister nie. Dit is egter presies soos by die doop: 'hoewel, sê ons, ons kinders hierdie dinge nie verstaan nie'. Tog het die dominee gesê: ek doop jou ...! En dit was vir niemand snaaks nie. Inteendeel, dit druk die sekerheid van die Woord van God uit. Die werklikheid geld vir hierdie kind: hy word toegespreek, omdat hy in Gos se beleid 'n mens is wat vir Hom waardevol is in die liefde van Christus. Dat in ons teks die kind Johannes toegespreek is sê ook: die dinge van God is lankal in beweging! Dit is hoogste tyd dat die voorloper van die Saligmaker op pad gaan. Die boodskap staan onder die druk van die tyd: die HERE God is al besig, Jesus word al verwag.

Noudat ons Heiland vanuit die hemel met krag en met die heilige Gees sy volk op aarde regeer, nou mag ons nie sit en niks doen nie. U mag geniet van die barmhartigheid van die Allerhoogste en terselfdertyd die pad van die vrede wys. Die kerk mag in dié dinge besig wees: die kennis van die woord en die wys van die pad wat die Here gaan.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)