Die krag van God se genade

Minister: 
Ds FJ van Hulst
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Job 1
Preek Inhoud: 

Voor diens: Ps 106: 1, 2, 20
Ps 138: 1, 2
Ps 138: 3, 4
Ps 42: 1, 2, 3, 5
Skb 20: 2, 3, 6, 7, 8
Lees: Job 1: 13-22
Teks: Job 1: 20, 21

Brs en srs,

"My genade is vir jou genoeg. " Dit is die boodskap wat Paulus op 'n dieptepunt in sy lewe van die Here gekry het.

Paulus het die Here drie keer gesmeek om van een of ander liggaamlik ongemak verlos te word. Maar die antwoord was: Nee!

Al wat jy ontvang, is my genade en dit is vir jou genoeg.

En daarom moet Paulus sy doring in die vlees soos hy dit self noem, behou. Daardie doring bly voordurend pla. Moontlik juis wel om Paulus daaraan te herinner dat God se genade inderdaad genoeg vir hom is.

Is God se genade genoeg vir 'n mens om van te lewe?

Kan die genade alleen 'n mens in staat stel om God lief te hê?

Nooit, sê die Satan.

Hy weet van die gelowige Job. Job is inderdaad vroom en godvresend. Maar dit is nie verniet nie, sê Satan.

Kyk wat sy vroomheid vir hom oplewer. Hy word geseënd van alle kante. Job het hom ontwikkel tot een van die rykste en magtigste manne van sy tyd. Daarby het hy ook nog 'n gelukkige gesinslewe met sy groot familie.

Vat dit alles van hom af en jy sal sien, van sy vroomheid bly niks oor nie. Want van genade alleen kan geen mens lewe nie.

Niemand op aarde kan God liefhê net om God Self nie.

Dit is die uitdaging waarmee Satan na God toekom oor Job.

Ons het verlede week gehoor hoe God op hierdie uitdaging ingaan. Satan kry die kans om van Job alles wat hy het, af te neem.

In ons teks van vandag hoor ons die eerste reaksie van Job op die ramp wat sy lewe getref het.

Ons tema vir die preek is:

Die krag van God se genade blyk uit:

  1. Job se verdriet oor sy verlies
  2. Job se volharding in sy lofprysing

Satan kies die dag goed uit. Die geleentheid wat hy kry word deur hom ten volle uitgebuit.

Daar is weer een of ander familiefees gaande in die familiekring van Job. Soos ons eerder gelees het, was Job juis op daardie tipe dae bang dat sy kinders hulle sou losmaak van die Here. Daarom bring hy op die dae 'n ekstra offer aan die Here en doen spesiale voorbidding vir sy kinders.

Ons kan ons voorstel dat Job juis in gebed is. Sy offer brand nog. En dan slaan Satan toe. Hard en doeltreffend. In een keer word aan Job alles ontneem wat hy besit.

Die een jobstyding na die ander kom binne.

Sy hele veestapel weg.

Sy kinders almal dood.

Alles wat hy opgebou het in sy lewe, weg is dit!

Die mense waarna sy grootste liefde uitgegaan het, sy kinders, geen van hulle leef meer nie. En daarmee lê Job se toekoms aan skerwe!

Op daardie oomblik begin ons teks.

'Toe staan Job op en skeur sy mantel en skeer al sy hare af'

Met hierdie gebare gee Job uiting aan sy groot verdriet.

Hy hul hom heeltemal in die diepste rou.

Alles weg! My kinders! Almal! My toekoms, my lewenswerk! Weg!

Job is totaal onderstebo van hierdie slag wat hom tref.

Hy is 'n gebroke mens.

Wat het die lewe nou nog vir hom te sê?

Wat soek hy nou nog in die lewe?

Dit is 'n slag wat 'n mens nooit mee te bo kan kom nie. Dit kan nooit weer goedgemaak word nie. Al jou kinders! Jou lewe!

Van Job se blydskap is niks meer oor nie. Alles is swart vir hom. Duisternis. Verdriet. Rou.

Hy skeur sy klere op. Sy hoofsieraad, sy haardos, sny af!

Hierdie reaksie van Job is heeltemal begrypelik.

En ook heeltemal reg. Job is stukkend van verdriet. En daarom hul hy hom in 'n rougewaad.

Wees bly, gemeente, wees bly dat Job so reageer.

Want hieruit blyk dat ons in Job met 'n egte mens te doen het.

Seker, Job sal hom onderwerp aan die hand van God in hierdie gebeurtenis. Maar dit doen hy nie voordat hy eers sy verdriet uitgeskreeu het nie.

En dit mag! Dit moet!

Laat ons aaseblief nie na Job kyk as 'n man wat ver bo alle menslike emosies staan nie.

In die sin van: Hy het wel rykdom maar dit sê vir hom niks nie. Hy kan dit sommer net loslaat.

Hy het wel kinders, maar as hulle doodgaan dit kan Job nie raak nie.

So 'n emosieloosheid, so 'n onbewoënheid is glad nie bybels nie.

Dit is eerder 'n heidense ideaal om so met die lewe klaar te kom dat jy jou absoluut aan niks in die lewe heg nie.

Maar so het die Bybel nooit geleer nie. Die Here het vir ons die lewe gegee as 'n geskenk. 'n Geskenk om van te geniet.

Dit is uitdruklik die bedoeling van God as die Skepper van die lewe dat ons die lewe moet geniet.

Hy gee vir ons naastes in die lewe, 'n man of 'n vrou, 'n kind, 'n vriend, 'n vriendin.

Kosbare geskenke uit die hand van God. Hy het ons so gemaak dat ons dit kan geniet.

Seker deur die sonde het in die opsig ook veel bederf gekom maar die saak op sig is heel duidelik. God gee vir ons die lewe. En die lewe bestaan onder andere uit die relasies wat jy in die lewe opbou.

Dit bestaan ook uit die besittings wat jy kry. Jy mag dit geniet as geskenk van God. En as jy dit doen dan heg jy jou ook daaraan. Soos jy jou ook aan mense kan heg.

Wel so was Job geheg aan sy mense, sy vrou, sy kinders, sy personeel, sy veestapel.

As so 'n hegting deurgesny word dan doen dit pyn. Baie pyn, want dit is jou lewe. Wie sou nie huil nie?

Job kan nie sommer van dit alles afstand doen nie.

Veral nie omdat Job as 'n egte gelowige vir alles wat hy in sy lewe ontvang het, die Here gedank het. Al sy rykdom het hy as 'n geskenk van God geniet.

Vir die kinders wat uit sy huwelik gebore is het hy een vir een die Here gedank.

Hy het hom baie geseënd gevoel onder al die bewyse van God se guns.

Want dit het sy rykdom vir hom beteken: Hy het daarin die guns van die Here gesien. Hy het die daarin blyke van God se genade ervaar.

Onthou dit is iets anders as wat hy sou gedink het dat hy aanspraak hierop kon maak vanwëe sy vroom lewensstyl.

Nee Job het geweet sy welvaart is nie verdienste nie, maar alleen genade.

Maar dan tog genade! Genade van God!

Want dit is genade as 'n mens dit goed het in sy lewe.

Dit is genade as jy 'n goeie posisie in die maatskaplike lewe het.

Wel, as nou in een slag dit alles van jou afgevat word, dan is jy gebroke.

Soos Job gebroke is. En juis sy verdriet is 'n bewys van die egtheid van sy geloof.

Hy het werklik geglo dat hy sy rykdom uit die hand van die Here ontvang het.

Daarom sal hy later ook sê: Die Here het gegee, die Here het geneem!

Job staan sy rykdom weer af aan dieselfde bron waaruit dit gekom het. Nie aan mense nie, nie aan moordenaars nie, nie aan veediewe nie, maar aan die Here!

Hy bly vashou aan die Gewer op die dag dat al die gawes hom ontval.

Job word hier deur God op die knieë gedruk.

My genade is vir jou genoeg, Job.

Daarmee kan jy doen. Ek kan alles van jou afneem. Maar dan is Ek nog steeds daar. Vir jou.

2. Job se volharding in sy lofprysing

Job val in aanbidding neer op die grond.

Gemeente, hier sien ons die oorwinning van God se genade!

Satan het gesê: Vat alles van Job af wat hy besit. Hy sal u in u aangesig seën! Dit wil sê: Job sal sy vuis na die hemel ophef en sy God vervloek.

Dit is wat Satan verwag het. Dit is ongelukkig ook wat Satan dikwels bereik. Dat 'n mens wat deur 'n ramp getref word, in opstand raak teen God. Hy sien nie meer kans om te bid nie. Hy voel dit wat nou gebeur het kan God nie doen nie. Nie vir hom nie. Ek kan dit nie vat nie!

Maar nie Job nie. Hy buig hom neer in verootmoediging.

Hy roep die Here daarby in die erkenning: God kan dit doen. Dit is sy volste reg.

Hy sê dan ook: Naak het ek uit my moeder se skoot gekom en naak sal ek daarheen terugkeer.

Dit is natuurlik nie letterlik bedoel nie. Wel kan ons aanneem dat Job naak gebore is, maar van 'n terugkeer na die skoot van sy moeder is natuurlik geen sprake nie.

Job bedoel dit: Hy het met niks die wêreld ingekom. Hy sal ook met niks daaruit vertrek.

Maar nou moet ons besef, hierdie woorde is ook waar as hierdie ramp Job nie sou getref het nie. Immers ook al sou Job as 'n ryk man met al sy besit nog op sy naam en al sy kinders nog in lewe gesterf het, dan nog kan hy van sy besittings niks saamneem oor die grens van die dood nie. Want dit kan niemand nie. Ook al doen mense steeds weer asof dit wel kan. Dit is soms ongelooflik om te sien hoe mense nog kan skraap en spaar terwyl die dood om so te sê hom in hul liggaam reeds afteken.

Maar goed, hierdie waarheid dat jy niks van jou goed in jou graf kan saamneem nie, bly vir almal geldig. Of jy dit wil erken of nie.

Maar die besondere hier is dat Job die waarheid daarvan reeds erken terwyl hy nog lewe.

Deur hierdie woorde nou te spreek besef ons dat Job werklik ook so met sy goed omgegaan het.

Dit gebeur nog baie keer dat ons iemand beoordeel na wat hy het. En nie na wat hy is nie. En dit laaste is tog die belangrikste? Dit gaan oor wat iemand is. As mens.

Iemand wat probeer om respek af te dwing deur die hoogte van sy bankrekening, of die grootte van sy motor is op 'n totaal verkeerde spoor. Reeds as mens teenoor medemens. Want die vriende wat jy op hierdie manier kan maak sal op die ou end nie ware vriende vir jou wees nie.

Dus onthou dit gaan nooit oor wat 'n mens het nie, maar oor wat hy is.

Seker in die verhouding met God is dit baie duidelik. Hoe diep beindruk sal die Here wees oor jou gespog met jou besittings?

Wat beteken dit in sy oë?

As jy erken dat God alles gegee het wat jy het, hoef jy mos nooit probeer om God met jou besit te beindruk nie.

Job het in sy lewe erken: Alles is genade!

Alles is gegewe goed. Al my besitttings, my welvaart, my posisie in die maatskappy. Die Here het dit gegee!

Dit is genade!

Gemeente dit beteken nie, dat Job daarvoor nie hard gewerk het nie. Definitief nie. Job het baie hard gewerk. Sy insig in die bestuur van 'n so groot besigheid as syne, het hom nie maar vanself kom aanwaai nie. Dit het alles groot inspanning gevra.

Al Job se kapasiteite moet daarvoor ingespan word.

En tog, as Job hom in die aand buig voor die aangesig van die Here, slaan hy nie homself op die bors nie. Hy erken, dit is genade.

My werksgeleentheid, my talente, my inspanning, my sukses.

Dit is 'n geskenk van God. Ek wil daarvoor dank!

Want dit is alles genade! Die Here het gegee!

En juis omdat dit vir Job so 'n opreg gemeende geloofs-werklikheid was, kan Job nou sê: die Here het geneem!

Verstaan u? Dit behoort heeltemal by mekaar.

Wie in tye van voorspoed werklik glo en bely: Dit is die Here wat gee, die alleen kan in tye van teëspoed sê: die Here het geneem.

Job sou nog lank oor die ramp van sy lewe kon gepraat het.

As my kinders nou maar nie almal by mekaar gewees het nie, dan...

As my vee nou maar op 'n ander plek gewei het, dan...

As daar nou maar meer beskerming teen moordlustige diewe was...

Hoor ons nou nie onsself praat, gemeente?

As die ekonomie nou maar weer een 'n bietjie wou aantrek, dan...

As daar nou maar eens 'n bietjie meer politieke duidelikheid was oor wat die A.N.C. nou eintlik wil, dan...

As ons maar sou weet wat die toekoms hier gaan bring, dan...

Ja wat dan?

Wil ons sê: dan sou ons weer 'n bietjie meer die lewe kon geniet?

Sou ons dan weer 'n bietjie meer dankbaar kon wees vir wat ons het?

Sou ons dan weer 'n bietjie meer vertroue kon opbring?

O, maar moet ons daarop dan wag?

Maar die Here het tog gegee?

Tot nou toe. Vir elkeen van ons?

Laat ons begin om daarvoor tans dankbaar te wees. Ons is nog steeds in die situasie dat die Here gee. Uit genade.

Daar kan 'n tyd kom dat die Here begin neem. Ek weet. Dit is sy reg.

Maar nou is dit nog die tyd van gee. Daarom moet die Here nou in elk geval geprys word. As ons Hom nou al nie meer goed kan prys net uit angs dat Hy moontlik van ons kan afneem wat ons het, dan moet ons nie verwag dat ons Hom by daardie tyd wel kan prys!

Daarom is dit vandag goed vir ons om na Job te luister.

Van Job is alles klaar afgeneem. Hy het niks oorgehou van alles waarin hy hom vroeër kon verbly het nie.

Net dit: die Naam van die Here sy geloof!

Die Naam van die Here moet geprys word!

Op die oomblik ervaar Job niks van God se goedheid en genade nie. Hy voel net die slaande hand van die Here.

Alles is nou teen hom. En tog, God is God. Sy Naam moet geprys word.

So loof Job die Naam van sy God!

Wel gemeente, dit is nou God vrees om niet.

Job het niks oorgehou nie. Maar sy lofprysing bly klink. Die Naam van die Here sy geloofd!

Al sy ervaring van die goedheid van God is weg. Maar nogtans sy geloof in die goedheid van God is nog daar. En geloof is meer as ervaring.

Want geloof is 'n geskenk van God self.

Dit is mos die Here wat vir Job hierdie geloof gee?

Kan 'n mens die lof op God volhou in 'n situasie soos Job s'n?

Onmoontlik sou ons sê.

Maar wat by mense onmoontlik is, is moontlik by God.

Want elke loflied op God is mos 'n genadegeskenk?

Ook ons s'n vandag.

Ek neem aan dat almal van u sal dink: Sê nou soiets gebeur met my, ek verloor op een slag my hele gesin, sal ek dan met Job kan sê: Die Here het gegee, die Here het geneem. Die Naam van die Here sy geloof!

Dink 'n bietjie oor die vraag na.

Gee 'n eerlike antwoord. ( )

Het u almal die antwoord vir uself vasgestel?

Wel ek hoop dat u almal as antwoord vir uself gegee het: Nee, dit sal ek nie kan nie. Dit sou vir my teveel wees.

Want dan het ek goeie nuus vir u. Wat uself nie kan nie, dit kan die Here. Hy kan dit gee. En Hy sal.

Ons leef mos van genade!

Sinds die Seun van God, Jesus Christus op die aarde gekom het en daar vir ons aan die mag van die hel oorgelewer is. Sinds hy onder die vreeslike geweld van die Satan deurgeloop het en tog volgehou het en tenslotte uitgeroep het: My God, My God! Waarom het u My verlaat? ....

Sinds dit gebeur het sal God nooit meer 'n kind van Hom aan homself oorlaat nie. Hy sal sy kind vashou.

In die O.T. was die vroomheid van Job en sy volharding in die uiterste nood 'n uitsondering. Daarom is daar oor hom 'n boek geskryf. Tot ons lering.

Maar sinds die Here Jesus as mens na die aarde gekom het en die diepste godverlatenheid deurworstel het, is daar troos vir ons. So swaar soos Hy sal niemand dit meer kry nie. En Hy het volgehou. Hy het bly roep om die vaderhand van God toen Hy sonder beperking in die mag van die Satan oorgegee is.

En daarom kan ons verder. Satan het nog mag. En hy maak nog slagoffers, maar sy mag is ingekort.

En daarom kan ons loflied bly klink.

God self wil die loflied bly hoor.

Hy breek ons monde oop.

Want die Naam van die Here moet geprys word!

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)