Wanneer God deur sy volk verwerp word, gaan hy met sy heil na die vyand

Minister: 
Ds FJ Bijzet
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
I Konings 17
Preek Inhoud: 

PREEK OOR 1 KONINGS 17: 7-16

LITURGIE:

soggens
saans

Votum en seëngroet
Votum en seëngroet

Ps 119: 6, 7
Ps 16: 1, 2

Wetslesing
Gebed

Ps 119: 2
L. Rom 11: 11-22

L. Rom 11: 11-22
Ps 52: 4

Ps 52: 4
Prediking

Gebed
Ps 31: 15

Kollekte
Geloofsbelydenis

Ps 33: 5, 6, 10
Ps 31: 5

Prediking
Gebed

Ps 31: 15
Kollekte

Gebed
Ps 119: 6, 7

Ps 16: 1, 2
Seën

Seën

'n Mens kan by ons teks van vanoggend/vanaand sommer 'n klompie vrae vra, broeders en susters.

Waarom het die HERE sy kneg Elia, toe die water in die spruit Krit begin opraak, heeltemal na Sarfat, êrens in die buiteland gestuur?

Die antwoord kan natuurlik nie wees dat dáár nog genoeg kos en water was om die profeet aan die lewe te hou nie. Want blykens ons teks was daar in Sarfat die honger ewe groot as in Israel. Die weduwee in wie se huis Elia sou gaan bly, het ook niks meer in haar spens gehad nie. HERE moes 'n wonder laat gebeur om haar pot aan die kook te hou.

Maar dan kon die HERE mos net so goed nog 'n wonder laat gebeur het by die Kritspruit? As God daarvoor kan sorg dat voëls die kos aanvlieg deur die lug, kan Hy mos ook daarvoor sorg dat daar genoeg drinkwater is as die spruit uitdroog?

Of was dit dalk God se bedoeling dat sy profeet weer 'n bietjie meer met ander mense in aanraking moes kom? Wou Hy Elia uit sy erensaamheid uithaal?

Maar hoekom moes die profeet dan heeltemal na die buiteland toe gaan? Die Here Jesus het in die sinagoge van Nasaret gesê dat daar baie weduwees in Israel was in daardie dae. Daar was ongetwyfeld ook heelwat gelowige weduwees. Want al het Elia dit ook nie geweet nie, was daar nog wel 7000 ander mense wat nie voor Baäl gekniel het nie. Hoekom het die HERE Elia nie na een van daardie mense toe laat gaan nie?

Was dit dalk te gevaarlik? Was die HERE bang, koning Agab, of een van sy spioene, sou die profeet se blyplek kon ontdek? Maar as die HERE op 'n wonderbaarlike wyse die pot aan die kook kan hou, kan Hy mos ook daarvoor sorg dat sy kneg nie ontdek word nie!

En as dit te gevaarlik was om sommer by 'n weduvrou êrens in Israel in te trek, hoekom het die HERE Elia dan nie deur Obadja, Agab se paleisopsigter, laat wegsteek nie? Ons lees mos in die volgende hoofstuk dat daardie Obadja 'n moedige kind van die HERE was wat 100 ander profete vyftig-vyftig in grotte weggesteek het vir Agab en Isebel en hulle van kos en water voorsien het. Kon hy nie ook vir Elia gesorg het nie?

Waarom wou die HERE hê Elia moes heeltemal na Sarfat toe gaan?

Die antwoord op hierdie vrae is tegelyk die boodskap van ons teksgedeelte en dus ook die boodskap van hierdie preek, gemeente.

Kom ek vat dit so saam:

WANNEER GOD DEUR SY VOLK VERWERP WORD, GAAN HY MET SY HEIL NA DIE VYAND

  1. AL TREK HY HOM TERUG, IS DIT GEEN VLUG
  2. BLY SY VOLK VIR SY WOORD DOOF, BRING HY 'N HEIDIN TOT GELOOF

1. In ons teks kry ons die profeet Elia by 'n droë Kritspruit. Daardie droë rivierbedding is die harde bewys dat sy gebed verhoor is en sy woord aan Agab waarheid geword het. Daar het nie 'n druppel reën meer geval vanaf die oomblik wat hy uit Agab se paleis weg is nie. Vandat hy hom hier versteek het, het die spruit het al hoe stadiger begin loop, die watervlak het al hoe meer gedaal en vandag het die verskroeiende son ook die laaste plassies water laat opdroog.

Met die laaste water het ook Elia se hoop opgedroog dat daar dalk bekering by God se volk sou kom as gevolg van die beangstigende droogte. Dit is mos wat hy gesoek het toe hy in sy gebede die HERE gesmeek het om te wys dat Hy, en nie Baäl nie, God is.

Ja, hy het gevra dat dit 'n hele ruk nie sou reën nie. Hy het gevra dat God die ekonomie sou knou. Hy wou hê die mense moes maar voel dat Baäl bedrieg, as hulle dan nie wou hoor nie. Maar hy het steeds gehoop dat Israel daardeur tot inkeer sou kom en na die HERE sou terugkeer.

Elia het gewag vir die oomblik wat Hy in Agab se paleis sou kon terugkeer en kon sê: "God is julle genadig. Hy het julle berou gesien. Vanaand sal dit weer reën. "

Hoe meer egter die bodem van die Kritspruit sigbaar geword het, hoe meer is sy hoop die bodem ingeslaan.

En vandag wys die harde, uitgedroogde Kritspruit die verharding van God se volk. Israel hou aan met die HERE te verwerp. Hulle keer nie na hul Verbondsgod terug nie.

Maar dan is daar in Israel dus nie langer 'n taak vir die HERE se profeet nie. Dan het Elia niks meer vir Israel se sê nie.

En dis dié dat Elia nou die opdrag kry om sy wegkruipplek hier by die Krit te verlaat, ja om Kanaän te verlaat en na Sarfat by Sidon toe te gaan. (Dis wat vandag die staat Libanon is, bo Israel. )

God praat nie van Obadja se geheime grotte nie. God stuur Elia nie na 'n weduvrou van een van daardie 7000 Israeliete toe wat nie voor Baäl se altaar wou kniel nie. Nee, die profeet moet hom terugtrek ver buite Israel se grense.

Hoekom so ver weg, broeders en susters?

Wel, in die persoon van die profeet trek die HERE Homsélf nou heeltemal uit Israel terug!

Eendag het die HERE vir Israel gekies. Hy het hierdie volk tot sy eiendomsvolk aangeneem en sy verbond met hulle gesluit.

Maar nou het Israel teen die HERE gekies. Hulle het Baäl as hul nuwe god aangeneem en die verbond met die HERE verbreek.

Hardhandig het die HERE laat voel hoe dwaas daardie keuse is. Baäl beteken net niks nie. Baäl kan die lewe nie waarborg nie. Baäl word beskou as die god van reën en vrugbaarheid, maar vandat Baäl in Israel vereer word het daar geen druppel reën meer geval nie en is die hele lewe besig om dood te gaan.

Noudat Israel egter ook na daardie waarskuwing nie wil luister nie, gee die HERE sy volk geheel en al aan hul eie dwaasheid oor. Hy draai nou ook sy rug op Israel en trek sy profeet tot oor die grense terug.

Elia se verhuising van die Kritspruit na Sarfat toe was dus nie nodig om die profeet aan die lewe te hou nie, maar om Israel aan die dood oor te gee.

So is ons God, gemeente. Hy is geduldig en vol vergewing, maar as ons sy Woord hardnekkig verwerp, as ons die verbond met Hom verbreek deur ander gode in sy plek te stel, kom die dag dat Hy ook ons verwerp en ons aan ons eie dwaasheid oorgee.

Hy maak so met ons persoonlik. As u uself aan die sonde oorgee en u, ten spyte van alle vermanings en waarskuwings van u familie, van die broeders en susters in die kerk en van die ouderlinge, nie meer daarvan wil bekeer nie, word u op die ou end ook deur Gód daaraan oorgegee. Dan trek God Homself geleidelik aan uit u lewe terug en laat u heeltemal vasloop in u sondige lewe.

Die HERE kan ook so maak met 'n hele gemeente, of selfs met 'n hele kerkverband. As daar nie meer by sy Woord alleen geleef word nie, as mense liewer ander klanke hoor as die suiwer geluid van die Skrif, kan God algaande so 'n gemeente of so 'n groep kerke prysgee aan die dwaalleer en Hom uit hul midde terugtrek.

Maar moenie dink dat die HERE Homself in so 'n geval deur ons sondes laat verdrywe nie! Al trek Hy Hom ook terug, is dit geen vlug.

Dit blyk in ons teks baie duidelik as ons mooi kyk na watter plek die HERE Elia toe laat gaan. Die naam Sarfat sê vir ons nie so baie nie, maar die Bybel vertel uitdruklik dat dit 'n voorstadjie van Sidon was. En Sidon was in daardie dae die sentrum van die Baälsdiens! Moet maar kyk in hoofstuk 16: 31: die koning van die Sidoniërs se naam was Et-Baäl. Daardie naam beteken so iets soos: "Baäl is met hom" of "Volgeling van Baäl". Hierdie koning was die pa van Agab se vrou Isebel wat die Baälsdiens in Israel ingevoer het. Vanuit Sidon se wêreld het die afgod Baäl na Israel toe gekom.

En nou stuur die HERE sy profeet na daardie wêreld toe!

Dit mag dalk so lyk dat die HERE deur Baäl uit sy eie gebied uit verdrywe is. Maar as ons let op God se keuse van Elia se nuwe blyplek, verstaan ons al gou dat die waarheid wel effens anders is.

God dryf eerder die spot met die Baäl. Hy soek hom op in sy eie koninkryk. Ja, Sidon, wat die diens aan die HERE en die knegte van die HERE wil uitroei, moet nou juis die diens aan die HERE help instandhou deur 'n belangrike kneg van die HERE te onderhou.

So moet ons ons God veral ken, gemeente. As Hy Hom terugtrek, vlug Hy nie. Dan bly Hy heeltemal in beheer en wys Hy juis dat Hy Hom deur g'n enkele antichristelike mag laat terugdrywe nie. Dan soek Hy juis die antichris in sy eie residensie op om hom daar van die troon te stoot.

So het Hy gedoen in Agab se dae.

Hy het weer so gedoen toe Hy Israel vanweë hul sondes op die ou end aan Babel oorgegee en in ballingskap laat gaan het.

God het Hom uit Jerusalem teruggetrek. Maar terselfdertyd het Hy in Babel binnegetrek en deur middel van sy knegte Daniël, Hananja, Misaël en Asarja gedemonstreer dat alleen Hy die allerhoogste en enigste God is.

Die HERE het dieselfde gedoen toe die Jode sy Seun as hul Verlosser verwerp het. Toe stuur Hy sy apostel Petrus na 'n Romeinse hoofman, na die groot vyand van die Joodse volk. En Paulus stuur Hy na die hart van die vyand se ryk, Rome, om daar voor die keiser te getuig dat alleen Christus, die Seun van die allerhoogste God, die Here van die hemel en die aarde is.

"Die Woord van God moes eerste aan julle verkondig word", moes die apostels vir die Jode sê, "Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie - kyk, nou gaan ons na die heidene. "

Slegs omdat die HERE só is, het Hy ook ons God geword, broeders en susters!

"Deur Israel se val in sonde, deur hulle verwerping van die Evangelie, het God se heil na die heidene toe gekom", het ons gelees in Paulus se brief aan die gemeente te Rome. Daardeur het die heil ook na ons toe gekom. Ons voorgeslagte was mos ook heidene!

Daardie wete moet ons klein van verwondering laat bly. Dit mag ons beslis nie hoogmoedig maak, asof ons dus beter as die volk Israel sou wees nie.

"Moenie hoogmoedig wees nie, maar vrees", het die apostel in daardie selfde hoofstuk geskrywe. Sorg liewer daarvoor dat julle dankbaar uit God se goedheid bly lewe. Wat met Israel gebeur het, kan ook met ons gebeur. God kan ook ons sommer as dooie takke van sy boom afkap.

Die HERE is nie van bepaalde mense, van 'n bepaalde volk, en selfs nie van 'n bepaalde kerk afhanklik nie. As sy Woord op onwillige ore en harde harte stuit, gaan Hy verder. Hy weet ander weë en vind ander mense aan wie sy heil beter bestee is. Hy kan uit wat vandag die grootste vyande van die kerk is, môre nuwe verbondskinders verwek. Hy kan selfs uit klippe wel kinders van Abraham, dit is: mense wat Hom op sy Woord glo, verwek.

2. Dit sien ons mos vervolgens ook in ons teks uit 1 Konings 17.

Elia hoef nie self in Sarfat 'n weduvrou te gaan soek nie. God het haar klaar vir sy kneg gekies. Al weet sy dit self nog nie.

Dit word bedoel as die HERE in vs 9 sê dat Hy reeds aan 'n weduwee in Sarfat "bevel gegee" het om Elia te onderhou. Soos die HERE vroeër vir die kraaie "bevel gegee het" om Elia se kos deur die lug aan te vlieg, so het Hy nou daardie vrou ingeskakel om die profeet voortaan te versorg.

Maar voordat sy Elia in haar huis kan opneem, moet sy eers leer om gelowig te buig voor die woord van die HERE, Israel se God.

Wat God van Israel nie meer gekry het nie, gaan God nou by hierdie vrou tevoorskyn bring.

Sy het die God van Israel blykbaar wel geken. Sy sê mos in vs 12: "So waar as die HERE u God leef.... "

Ons hoef uit die woorde nie noodwendig af te lei dat hierdie vrou dus as 'n opvallende uitsondering in daardie heidense gebied die HERE gevrees en vereer het en dat die HERE haar dáárom spesiaal gekies het om sy profeet te versorg nie.

Dit is meer aanneemlik dat sy die HERE se Naam maar net geken het as die god van die buurvolk Israel. En dat sy teenoor Elia die HERE se Naam noem alleen maar omdat sy besef dat hy 'n Israeliet is. Dit maak natuurlik meer indruk as sy haarself op sy God beroep.

Hoe dit egter ook al sy, Elia moet haar nou oproep om haar totaal en al aan die HERE, Israel se God, gewonne te gee en Hom eenvoudig op sy Woord te glo.

Ons kry uit die verhaal die indruk dat die profeet self nie direk geweet het of die vrou wat hy as eerste raakloop in Sarfat en aan wie se klere hy kan agterkom dat sy 'n weduwee is, die een is by wie hy moet gaan bly nie.

Daarom toets hy haar eers of sy gehoorsaam wil wees aan sy woord.

"Gaan haal tog 'n bietjie water vir my in die kan, dat ek kan drink" dra hy haar op. En sy maak soos hy sê. Blykbaar is dit die vrou wat die HERE uitgekies het.

Maar dan maak hy die toets effens moeiliker: "Bring ook maar 'n stukkie brood saam", roep hy haar agterna.

En wanneer sy dan laat weet dat sy niks meer het om saam te bring nie: die handjievol meel in die kruik en die bodempie olie in die erdekan is die laaste wat sy vir haarself en haar seuntjie het; die hongerdood staar haar in die gesig - dan kom die profeet met die eintlike toets. Hy dra haar op om nogtans eers 'n roosterkoek vir hom te bak en te bring; daarna kan sy vir haarself en vir haar seun iets klaarmaak.

Kán sy daarna nog vir haarself en haar seun iets klaarmaak? ! Wat is mos 'n handvol meel. Dit is nie eers genoeg vir een persoon nie! As sy daarvan iets bak vir Elia, bly daar vir haarself en haar kind niks meer oor nie.

Die HERE se kneg vra dus van hierdie vrou alles wat sy het, vir homself, gemeente! Ja, hy vra dit vir die HERE, die God van Israel. Hy vra dat hierdie vrou haarself geheel en al wegskenk aan die HERE.

Hierdie vrou moet gee, wat Israel onder Agab aan die HERE weier: haar hele hart.

Wie sy hart, sy hele lewe aan die HERE wil gee, moet dit allereers maar eenvoudig wys in die konkrete dinge van sy daaglikse lewensonderhoud. Laat hy maar begin om daar te wys dat die HERE eerste kom in sy lewe, en eers daarna hyself.

Dit is vandag nog nie anders nie, broeders en susters. Die HERE vra ook u hart. Maar of u uself ook regtig met u hele hart aan Hom oorgegee het, word die beste duidelik wanneer dit kom by die betaling van sake soos u Vaste Vrywille Bydrae, u Sendingbydrae, u ondersteuning van ons Gereformeerde Skoolonderwys.

Behoort dit in die verbond met die HERE nie so te wees dat ons telkens éérs daardie geld eenkant lê en vervolgens na ons eie lewensbehoeftes kyk?

Nogtans gebeur dit nog maar al te dikwels dat broeders en susters, wanneer daar finansiële probleme ontstaan, allereers op Kerk en Skool begin beknibbel. Die FK, sowel as die Sendingkommissie as die Skoolbestuur ken heelwat wanbetalers.

Mense wat nie eers hul finansiële probleme kom bespreek nie, maar sommer net besluit om voorlopig niks meer by te dra nie.

Gemeente, in so 'n geval word nie net die Kerk, of die Sending tekort gedoen nie. Is dit nie baie ernstiger nie? Beteken dit nie dat die HERE nie meer eerste kom in u lewe nie? Het u nie u eie lewensonderhoud, u eie belange bo die HERE s'n geplaas nie?

Maar dan word 'n mens se hele godsdiens skeefgetrek. Dan kan sommer dieselfde gebeur as wat by Israel in Agab se dae gebeur het: dan beskou ons kos en klere, 'n huis en 'n goeie besigheid ens. nie meer as slegs middele om die HERE mee te kan dien nie. Maar dan word ons Bybellees en bid, ons kerk toe gaan ens. juis maar net 'n middel om kos en klere, gesondheid en welvaart mee te kan bekom.

En dan is dit nie eers meer 'n groot stap om een of ander tyd die HERE te vervang deur 'n ander "god" as dit lyk asof dit jou op kort termyn meer oplewer.

Dis mos ook hoekom Israel die HERE vir Baäl verruil het.

Maar ooreis die HERE 'n mens nie, broeders en susters? Hy wil die eerste in ons lewe wees. Maar as Hy alles vir Homself vra, hou ons mos niks meer vir onsself oor nie?

Is dit nie meestal die kortsigtige vrees wat 'n mens het as hy besluit om voorlopig sy kerklike bydrae en sy skoolgeld ens. nie meer te betaal nie? "Waarvan moet ek dan leef? !"

Maar kyk dan in ons teks na wat die profeet Elia vir die weduwee van Sarfat mag sê namens die HERE: "Moenie vrees nie". Moenie bekommerd wees nie. Die HERE vra nie te veel nie. Hy vra nie iets wat nie daar is nie. Wat Hy vra, sal Hy self ook gee: "Die meel in die pot sal nie opraak nie en die olie in die kruik sal nie minder word nie, tot op die dag dat die HERE reën op die aarde sal gee. "

As hierdie vrou gehoorsaam eerste iets vir die profeet van die HERE bak, sal sy agterkom dat sy self ook nie sal kortkom nie.

So werk dit in die verbond met die HERE, gemeente. Hy vra nooit die onmoontlike ding van 'n mens. Wat die HERE van ons vra, sal Hy ook vir ons gee.

Ons sê dit soms vir 'n jonge broeder wat as 'n ouderling gekies is en dink hy sal dit nooit kan doen nie. Hy voel homself nie bekwaam vir so 'n verantwoordelike werk nie. "Jy mag daarop vertrou", sê ons dan, "dat die HERE jou nou ook bekwaam sal máák. Hy het jou geroep, spring maar aan die werk. Hy sal jou nou ook gee wat jy benodig om 'n goeie ouderling te wees. "

Maar ons moet dieselfde ding vir mekaar sê by álles wat die HERE in sy verbond van ons vra! Ook as dit kom by ons daaglikse lewensonderhoud en die betaling van ons bydraes vir kerk en skool. As ons gehoorsaam gee wat Hy vra, sal Hy vervolgens ook aan ons wel gee wat ons benodig.

"Beproef My maar", het die HERE in die dae van die profeet Maleagi gesê; "bring gehoorsaam jullie tiendes na my huis, en kyk dan of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle 'n oorvloedige seën sal uitstort nie. "

Nee, dan kom vandag die geld of ons kos nie sommer uit die lug val nie. Dis ook nie meer so dat ons spens of yskas op 'n onverklaarbare wyse nooit leeg raak nie.

Maar die HERE kan wel onverwagse finansiële voordele gee, of sommer 'n helpende hand van 'n vriend of 'n broeder of suster. Baie kinders van die HERE het dit al meer as een keer dankbaar ervaar.

En in elk geval gee die HERE in sy kerk vandag diakens wat uitkoms bied. Was u al by hulle om u probleme te deel, voordat u besluit het om u bydraes vir kerk en skool stop te sit?

Die HERE vra dat ons ons eenvoudig aan Hom toevertrou. Ons moenie eers wil sien en van Hom kry voordat ons ons ook aan Hom gee nie. Hy wil hê ons moet Hom so vertrou en liefhê dat ons sonder meer ons lewe aan Hom oorgee, in die geloof dat ons daarvan regtig nie armer word nie.

Die volk Israel in Elia se dae het hul God nie meer geglo en gehoorsaam op sy Woord nie. Hulle het al hoe meer doof geword vir sy beloftes en hul heil by Baäl gaan soek.

Maar dan is daar sommer 'n vrou in die heidense wêreld van Sidon wat Israel se plek inneem en wel haarself in geloof aan die God van Israel oorgee.

Hierdie vrou dien tot ons bemoediging, gemeente. Want die HERE het in haar lewe gewys dat ons Hom maar kan glo op sy Woord. Daardie vrou se meel hét nie opgeraak nie, en die olie in die kruik hét nie minder geword nie!

As ons onsself totaal en al aan Hom gee, gee Hy ook alles aan ons.

Ja, dan gee Hy baie meer as net kos, klere ens. Hy het selfs sy Seun nie gespaar nie maar Hom vir ons almal oorgegee om ons saam met Hom alles te kan skenk: 'n lewe tot in ewigheid!

Maar Hy gee nog steeds slegs as ons ons ook aan Hom wil gee. Hy kom nog steeds met sy belofte woord na ons toe waaraan ons ons eers gehoorsaam moet oorgee.

En dan vorm daardie weduvrou van Sarfat dus ook 'n waarskuwing vir ons. Want as ons sy Verbondswoord nie die middelpunt van ons lewe laat bly nie, kan die dag aanbreek dat Hy sy rug op ons draai en verder gaan. Na ander mense toe. Miskien na mense wat vandag die grootste vyande van sy kerk is.

Dan sal die HERE van daardie ander mense wel kry wat ons aan Hom weier.

Maar dan sal daardie ander mense ook kry wat aan ons was beloof maar wat ons nie wou glo nie. AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)