Die seën van die skuldbelydenis

Minister: 
Ds FJ Bijzet
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Spreuke 28
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SPREUKE 28: 13

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 130: 2, 4 (tweede beryming)
Gebed
L. Psalm 32
Prediking
Ps. 86: 3
Credo: Art. 23 NGB
Ps. 103: 1, 2
Gebed
Kollekte
Ps. 32: 1, 3, 6

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Oujaarsdag is die dag waarop 'n mens 'n slag stilstaan en agteromkyk.

Ons kyk terug na alles wat in een jaar se tyd gebeur het.

In die wêreld: eers die staatsgreep en daarna die einde van die Sovjet-Unie, verskeie vulkaanuitbarstings, die opheffing van belangrike sportsanksies teen Suid-Afrika.......

In ons eie land: die nag van Ventersdorp, die totstandkoming van KODESA, verskeie mynrampe.......

Die koerante, radio- en televisieprogramme haal al daardie gebeurtenisse weer in ons herinnering bo.

Ons kyk ook 'n slag terug op ons kerklike lewe. 'n Jaaroorsig in ons Mededelingsblad het die helpende hand gebied om 'n hooflyn daarin te probeer aanwys.

Maar Oujaarsaand is veral die aand waarop ons terugkyk op ons persoonlike lewe.

Die koerante, radio en televisie kan daarby nie so veel help nie, maar ons weet dit sélf nog maar alte goed: vanjaar Matriek geslaag en 'n lewensfase aan die Hoërskool afgesluit, hierdie jaar getroud, die baba wat die HERE hierdie jaar gegee het, die nuwe baan of die nuwe huis, die weersien na jare met familie oorsee.

Maar ook minder mooie herinneringe: die onpeilbare verwarring en verdriet toe die skielike berig van die dodelike ongeluk gekom het, en alle implikasies daarvan langsaam maar seker begin deurdring het; die verdrietige huwelikskonflik wat tot 'n uitbarsting gekom het, die onttrekking aan die kerk van Christus van 'n kind, van familie, van 'n vriendin...

Daar is dinge wat in ons geheue gebrand staan en juis vanaand die emosies weer losmaak.

Maar mag ek vir u vra, broeders en susters: wanneer u so op 'n Oujaarsaand terugkyk op u lewe van die afgelope jaar en die hoogtepunte en dieptepunte, die dae van verdriet en die oomblikke waaraan u met dankbaarheid terugdink, weereens die revue laat passeer, het u dan ook 'n gewoonte daarvan gemaak om u sondes daarin te betrek?

U tel die seëninge van die HERE- maar tel u ook u oortredinge teenoor die HERE?

U oorweeg u sorge van die afgelope jaar- maar ook u sondes?

Daar wás mos in hierdie jaar 1991 ook 'n magdom aan sondes waarmee u die HERE en u naaste verdriet aangedoen het?

U moet 'n slag probeer om vir uself 'n jaaroorsig saam te stel van alle sondes wat daar in u lewe was in die afgelope jaar. Sou dit nie 'n onoorsienbare lys word nie?

Of hou u nie daarvan om op die Oujaarsaand dáárby stil te staan nie? Wil u dit liewerste maar so gou as moontlik vergeet? Gewoon nie meer daaraan dink nie. Wat gebeur het het gebeur en gedane sake het mos geen keer nie?

Maar dan sê die HERE vanaand, aan die einde van hierdie jaar, vir u: sondes moet nie vergeet word nie, sondes moet bely word. Daarmee moet gebreek word. Alleen dan kan u met 'n rustige gewete aan 'n nuwe jaar begin.

Ek verkondig u vanaand

DIE SEËN VAN DIE SKULDBELYDENIS

  1. AS JY JOU SONDES BEDEK WIL HOU, BRING JY JOUSELF IN DIE NOU
  2. MAAR AS JY JOU SKULD BELY, IS JY WEER VRY

1. Een sondag in November het die kerkraad aan u meegedeel dat daar broeders en susters in ons gemeente was wat willens en wetens teen een van God se heilsame gebooie gesondig het, maar dat hulle vervolgens ook hul skuld ingesien en van harte voor sy aangesig bely het. Die kerkraad het dit publiek meegedeel sodat almal sou weet: daardie sonde is vergewe, hulle mag ten spyte van hul sonde weer verder in Vader se ontferming.

Hoeveel van u het na die diens daardie broeders en susters gou-gou die hand gedruk of by die skouer gekry en gesê: "Baie geluk! Nou is alles weer reg, nè"?

Ons wens mekaar wel geluk as daar 'n baba gedoop is, of as broeders tot ampsdraer bevestig is. Dan skud ons mekaar met blydskap die hand en spreek goeie woorde.

Maak u ook so as u gehoor het dat iemand sy skuld teenoor die HERE opreg bely en daarmee gebreek het? Of het u nie mooi geweet wat om met daardie afkondiging te moet maak nie?

So'n publieke kanselafkondiging dat die skuld waarvan omtrent almal inmiddels weet, bely en versoen is, was geen nuwigheid van die kerkraad nie. Dis 'n baie oud gebruik wat al in die oudste uitgawes van ons Kerkorde vasgelê is.

Dié ou gebruik het egter al hoe meer in onbruik geraak omdat kerkrade en lidmate al hoe meer die bedoeling van so'n kanselafkondiging uit die oog verloor het. Dit is algaande nie meer as 'n publieke versoening ervaar nie, maar as 'n publieke bestraffing. Pleks van dat die sondaar weer met blydskap in die midde van die gemeente ontvang is, is hy vir sy gevoel en vir die gevoel van die gemeente aan die skandpaal genael.

Sulke vrees is daar i. v. m. dié afkondiging in Novembermaand onder ons ook wel geuiter: Hoe sal die reaksies wees??

Is dit nie maar die probleem waarmee ons eintlik almal worstel, broeders en susters: dat ons sonde veels te veel met menseoë bekyk? Dat ons, as daar gesondig word, dadelik na mekaar kyk en nie in die eerste plek na die HERE, ons hemelse Vader nie?

Die sondaar is daaroor bekommerd wat die ménse nou van hom sal sê en dink. En die omstanders het weer stof om hul hoof te skud en te skinder: wie het dit nou gedink van daardie suster? Of: 'n Mens kon dit natuurlik verwag van so'n persoon!.

Bepaal nie meesal maar die oordeel van ons medemense die swaarte van ons skuldgevoel nie?

En dan probeer ons natuurlik so veel as moontlik ons sondes bedek hou. Niemand moet dit te wete kom nie!

Ons wil mos nie vir die mense ons aansien verloor nie. Liewerste bewaar ons die skyn en doen onsself mooier voor as wat ons inderwaarheid is.

Hoe selde gebeur dit dat 'n lidmaat tydens 'n huisbesoek, of in 'n spontane besoek aan sy predikant, sélf die kwaad in sy lewe eerlik blootlê en beken hoe veel stryd dit hom kos.

Dit is meesal juis andersom: as die ouderlinge padlangs daarna vra of die vinger op die wond lê, word daar meteens vergoeilikend gereageer: "Nee wat, dit rêrig nie so vreeslik soos die broeders dalk dink nie!" En met baie verskonings word dit wat sonde genoem moet word, direk weer toegesmeer.

En as Ma of een van die kinders in hul argeloosheid nog nie dadelik oor daardie ding ophou nie en weer 'n tippie van die sluier lig, probeer Pa nogal gegeneerd die situasie red om later, na die huisbesoek, teen sy huisgenote uit te vaar dat 'n mens tog seker nie álles aan die ouderlinge hoef te vertel nie.

Gaan dit dikwels nie so nie? Wie durf openlik uitkom vir die sondes waarmee sy lewe vol is?

Ons het almal wel van daardie kamers in ons lewe wat ons die liefste maar potdig hou. Kamertjies waar die skimmel van die kwaad op die wande woeker. Ander mense, selfs jou huisgenote, hoef niks daarvan te weet nie. Self wil ons eintlik ook nie daarvan weet nie.

Ons hou onsself groot. Ons praat met niemand daaroor nie. Ons dring dit weg uit ons gedagtes. Ons trek 'n gordyn daarvoor. Ons barrikadeer die deur aan die binnekant.

Maar al sulke barrikadeer- en wegsteekpogings is dwaasheid, broeders en susters, as u bedink dat daar Een is wat u met geen moontlikheid buite die deur kan hou nie. Die HERE, ons God, het lankal binnekant die deur gekyk en agter die gordyn. Hy weet presies hoedat dit in u lewe lyk.

Immers:

"Hy deurgrond en ken my,
Hy ken my sit en my opstaan,
Hy verstaan van ver my gedagtes.
Hy deurvors my gaan en my lê
en Hy is met al my weë goed bekend.
Waar sou ek heengaan van sy Gees;
waarheen vlug van sy aangesig? "

Wie meen dat hy sy oortredings bedek kan hou, reken glad nie met die HERE nie.

Dié maak asof dit God nie raak nie.

Terwyl enige sonde juis allereers en allermees die HERE raak.

Want nie dit wat die ménse oor ons doen en late sal sê en dink, maak saak nie, maar dit wat ons hemelse Vader daarvan sê en dink.

Ons lewe is van Hom. Ons lewe moet vír Hom wees. Hy kyk elke dag toe op dit wat ons met ons lewe doen en nie doen nie. Hoedat ons ons deur sy Woord en wil laat lei, of nie. Gedra ons ons as sy kinders?

Sonde, gemeente, is altyd 'n oortreding teenoor die HERE in die hemel. Sy wet bepaal die maat van ons kwaad. Ons doen Hom verdriet!

En die HERE prik deur alle vrome skyn heen. Hy ken ons binnekant en buitekant. Hy het vanaand van elkeen van ons, soos ons hier sit of staan, 'n volledige en gedetailleerde jaaroorsig. Van dag tot dag, van uur tot uur, van minuut tot minuut.

Hy weet dit as u afgode daarop nahou deur aan bepaalde sake in u lewe telkens voorrang te gee bo die diens aan die HERE.

Hy weet hoe die verhouding is tussen die bedrae wat u vir uself en u plesiertjies gebruik en die bydrae wat u aan Kerk, Skool, Sending en so meer gee.

Hy weet dit as hoë slaagsyfers en onderskeidings van u kinders vir u belangriker was as hul ywer vir die Katkisasies en die Bybelstudievereniging.

Hy weet van die rusies wat u by die huis gehad het, as man en vrou, as ouers en kinders, as kinders onder mekaar.

Hy weet dit as u telkens weer daardie slegte lektuur in huis gehaal het. Hy onthou elke televisieprogram en elke video waarna u gekyk het.

Hy weet dit maar altegoed as daar 'n paartjie is wat self lankal skelm die huweliksgemeenskap vooruitloop en reëlmatig saamslaap (maar wel daarvoor sorg dat daar geen baba verwek word nie- daar is mos voorbehoeding vandag) en dan agter hul rug daardie ander paartjie uitlag waarvan die kerkraad vanaf die preekstoel meedeel dat hulle hul sonde teen die Sewende gebod as skuld teenoor die HERE moes bely.

Hy weet hoe en waar ons jeug hulle vryetyd deurbring en die hoeveelheid drank wat daarby gedrink word.....

Ja waarvan weet die HERE nie? Ook die kwaad wat in ons oë dalk maar klein en onbetekenend is, sien Hy raak. Ons kan niks vir sy diepborende blik wegsteek nie.

En wie dit nogtans probeer "is nie voorspoedig nie", sê ons teks. Dié bring homself in die nou, want hy loop met sy sondes subiet vas, wil dit sê.

So'n mens vergaan dit soos Dawid na sy owerspel met Batseba en sy moord op Uria. Dawid het dit self vertel in Psalm 32: "Toe ek geswyg het en die skyn opgehou het, het my gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag. My murg het verander soos deur somergloed".

Ons sou daardie beeldspraak so nie meer oorneem nie, maar dit is in elk geval wel duidelik dat Dawid stadigaan gebreek is onder sy skynheiligheid. Die rus was weg uit sy lewe. Die sonde wat hy bedek wou hou, het aan hom geknaag.

Sonde doen is erg, maar jou sonde probeer bedek is erger!

Wat daar gebeur as 'n kind van God sy oortredinge bedek, staan baie treffend beskrywe in die Dordtse Leerreëls, hoofstuk 5, art. 5. So'n kind van God "bedroef die Heilige Gees, leef 'n tyd lank nie meer as 'n gelowige nie, hy verwond sy gewete ernstig en verloor soms vir 'n hele ruk die besef van genade. Die lig van God se vaderlike aangesig gewaar hy nie meer nie".

Daar daal 'n donker skaduwee oor die lewe waardeur dit onbehaaglik word.

Die blydskap, die rus en die vrede wat kenmerkend is vir die lewe met die HERE, het verdwyn. Die kerkdienste sondags gee nie meer so veel vreugde soos vroeër nie. Skriflesing en gebed by die huis het 'n sleur geword. Die vreugde in die daaglikse werk is nie meer soos dit was nie, die huweliksomgang is nie meer so ryk en oop soos eers nie, die kontak met die kinders word stroewer....

Dit gebeur daar wanneer sondes wat ons nooit bely het nie, ons die gesig op Vader in die hemel beneem. Ons sien Vader se gesig waarvan gewoonlik vrolikheid en lig afstraal, nie meer in ons lewe nie.

Maar intussen voel ons wel Vader se hand wat, om dit met Dawid te sê, al hoe swaarder op ons begin druk.

Vader se hand wat ons laat voel dat dit skeefloop as ons aan die sonde bly vashou. Vader se hand wat ons fors kan neerdruk om ons tot inkeer te bring. Want anders sal ons tot in ewigheid Vader se gesig nie meer sien nie, as naamlik die sonde vir ewig tussen Hom en ons in bly lê.

Dis hoekom ons hemelse Vader sy swaar hand op ons lewe lê en aan die deure en vensters wrik. Hy wil hê ons moet oopmaak. Tot ons redding.

2. Daarom roep die HERE ons in hierdie laaste kerdiens van die jaar 1991 op, broeders en susters, om ons sondes te bely.

Dit is beter om maar openlik daarvoor uit te kom hoedat dit in ons lewe gesteld is. Die HERE weet mos tog alles al daarvan.

Dit is die beste om die gordyne maar eenkant te skuiwe en die deure en vensters oop te sluit en die HERE met sy ontdekkende lig in te laat kom.

Vader verlang dat ons nie langer die skyn ophou nie, maar beskaamd ons trotse kop buig en stamel: "O God, wees my, sondaar, genadig".

Want slegs dan kan Vader se aangesig weer oor ons skyn en sál Hy ons genadig wees.

Dan gebeur daar die groot wonder.

Nee, dit wat party ménse dan dalk mag dink, is hoegenaamd nie meer belangrik nie. Dit wat Gód doen, is van lewensbelang. Hy skenk onverdiende vryspraak.

Wie teenoor die aardse justisie 'n skuldbelydenis aflê, teken sy eie vonnis. Maar wie voor die hemelse Regter al sy oortredinge beken, sonder om iets agter te hou, is van die een oomblik op die ander 'n vrye mens!

Want dan bedek God self die sondes!

Met die bloed van Jesus Christus, sy Seun, ons Advokaat en Borg.

Wie sy sondes bely, is weer vry. God se Seun neem dit van ons oor en haal dit vir eens en vir altyd onder God se oë vandaan.

En God se Gees begin 'n nuwe krag in die lewe ontplooi waardeur ons die sondes voortaan ook laat staan. Want wie opreg 'n oortreding as 'n oortreding bely het en 'n afkeer van homself gekry het oor daardie sonde- die wíl nou tog ook daarmee breek?

Die stryd teen die sonde is die beste bewys van 'n afkeer van die sonde.

Dan kan ons ons hemelse Vader weer reguit in die oë kyk, broeders en susters. Ons hoef mos niks meer verberg nie.

En wat meer is: Vader wil óns ook weer in die oë kyk. Vir Hom lê die skuld nie langer tussen Hom en ons nie. Sy vriendlike aangesig het vrolikheid en lig vir alle opregte harte.

Opregte harte: van mense wat hulleself nie mooier voordoen as wat hulle is nie en niks meer probeer bedek hou nie, maar van God se ontfermende genade wil lewe. Oor sulke sondaars ontferm die HERE Hom vol vergewing, danksy ons Here Jesus Christus. Hy handel met ons nie na ons sondes nie en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie. Maar soos 'n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees.

En dan gaan die lewe weer oop vir ons!

Maar wanneer ons almal slegs van hierdie ontferming van God kan lewe, gemeente, moet ons dan ook nie maar ophou om teenoor mekaar die skyn op te hou nie? Is dit dan nog sinvol om u teenoor mekaar mooier voor te doen as wat u is?

Ons staan mos teenoor onse God almal eweseer skuldig. Ons benodig almal eweveel ontferming.

Kom ons kyk mekaar dan ook maar eerlik in die oë. Moenie uself vir die ander hooghou nie. Moet nog veel minder op die ander neersien nie.

Laat ons ook maar aan mekáár ons sondes bely. "Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar sodat julle gesond kan word" hou Jakobus ons voor in die laaste hoofstuk van sy brief. Jakobus het blykbaar ook al geweet dat 'n mens siek kan word van sy sondes. Hy het ook geweet dat 'n skuldbelydenis genesend kan werk.

'n Skuldbelydenis suiwer nie net die verkeer met God nie, ook die verkeer met mekaar klaar daardeur op.

Probeer dit maar 'n keer: dit werk bevrydend om teenoor 'n ampsdraer jou hart bloot te gee. En om dan agter te kom dat daardie broeder jou veel beter kan begryp as wat jy verwag het, omdat hy self ook 'n sondige mens met sy stryd en aanvegting is. Hoe aangrypend kan dit dan wees om vervolgens saam te bid en alles aan die HERE voor te lê!

Dit werk bevrydend om as man en vrou, ouers en kinders, as boeties en sussies teenoor mekaar te beken dat ons verkeerd gedoen het: daardie verkeerde woord, daardie driftige uitval, daardie leuentjie vir beswil...

Dan kom daar weer die ruimte om mekaar regtig te kan vergewe pleks van om die saak in die doofpot te stop.

'n Kollega wat jarelank op Irian Jaya sendeling was, het eendag vir my vertel dat in sy tyd ons Papoea-broeders en susters op 'n reëlmatige basis gemeentebyeenkomste gehou het op die Saterdagaand, waartydens verskeie lidmate openlik bely het waarin hulle die afgelope dae gesondig het. Hulle het dikwels spontaan daarmee vorentoe gekom, ook sonder dat daar eers aandrang op hulle uitgeoefen is.

So moes dit eintlik ook onder ons kan wees. Maar so kan dit alleen wees in 'n gemeente waarin almal saam terdeë bewus is daarvan dat almal van dieselfde genade van God lewe.

In so'n gemeente kan 'n kerkraad in gevalle waarin daar van 'n publieke sonde sprake is, vrymoedig besluit om die hele gemeente dit ook te laat wanneer die sonde opreg voor die aangesig van die HERE bly is.

Want dan sal so'n mededeling in die hele gemeente blydskap bewerk. Blydskap die sigbaar en voelbaar gemaak word in 'n ontroerde en bemoedigende handdruk.

"Baie geluk".

Met daardie gelukwens sal ons netnou hierdie laaste erediens in 1991 afsluit, gemeente. Psalm 32: "Welsalig -baie geluk- wie van skuld en straf onthewe, die woord mag hoor: jou sondes is vergewe".

Kan ons dit sonder aarseling vir mekaar sing?

As daar nog onbelede sondes in u lewe is, teenoor die HERE, teenoor 'n familielid, 'n broeder of suster- maak dan vanaand nog skoonskip.

Kniel temidde van alle geknal buite voor Vader in die hemel neer en neem kontak op met daardie medemens.

Dan kan u vry en vrolik 'n nuwe jaar ingaan.

AMEN

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)