Die mens wat tot die dood veroordeel is, doen belydenis van die lewe in die naamsverandering van sy vrou

Minister: 
Ds FJ van Hulst
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Génesis 3
Preek Inhoud: 

Ps. 65: 1, 4
Ps. 65: 2
Ps. 128
Ps. 148: 1, 2
Ps. 148: 5
Lees: Gen. 2: 18 - 25 & Gen. 3: 9 - 20
Teks: Gen. 3: 20

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons lewe in 'n tyd waarin die moederskap skynbaar 'n probleem word. In die wêreld rondom ons hoor ons gereeld van 'n sogenaamde vrywillige kinderloosheid. Veral 'n tydelike kinderloosheid in jou huwelik skyn 'n volkome normale ding te word in hierdie land. "Ons wil die eerste paar jaar nog nie kinders hê nie, want eers wil ons ons huis en die inrigting afbetaal, en verder moet ons nog baie meer aanskaf voor ons kinders kan hê".

Daar is ook mense wat vir 'n blywende kinderloosheid kies.

Die verantwoordelikheid van die moederskap spreek baie mense nie meer aan nie.

As jy as vrou jou goed wil ontwikkel, dan moet jy tenminste 'n eie beroep uitoefen, en jou eie inkomste geniet. En as jy kinders het beteken dit 'n enorme klip-in-die-pad.

Volgens hierdie siening word 'n moeder geteken as 'n slaaf wat nooit tyd vir haarself het nie, omdat sy altyd weer vir haar kinders moet klaar staan.

Daar is ook 'n ander rede wat partykeer genoem word as 'n mens argumenteer waarom hy nie kinders wil hê nie: In die wêreld gaan dit so sleg, dat ek nie daarin wil saamwerk, deur ook 'n paar kindertjies die wêreld in te stuur nie. Hoe meer mense hoe meer probleme.

Ons sal dit waarskynlik 'n bietjie anders uitdruk, maar ons sal daardie argument tog wel aanvoel. As ons bedink hoe dit in die wêreld gaan, kan dit ons ook beangs maak. Hoe gaan dit in ons land lyk as ons 25 jaar verder is? Sal ons dan nog in vryheid kan lewe? Sal daar nog vryheid van godsdiens wees? As ons in gedagte hou hoe ingrypend alles in 25 jaar verander het, word ons benoud vir die volgende 25 jaar.

Wie sal dit waag, om in so 'n situasie, nog kinders te kry? Dit lyk tog sonder uitsig?

Maar laat ons nou ons teks bekyk.

Daar staan Adam. Hy het 'n wonderlike lewe gehad. Alles was volmaak. Sy liggaam, sy lewe, sy geloof, sy huwelik. Maar nou, na hul sonde teen die Here, is dit alles grondig versteur. In sy lewe sal hy voortdurend moet stry. Dis verby met die vrede! Sy vrou sal baie swaar kry met haar swangerskappe.

Die aarde is deur die mens se toedoen, vervloek. Hy sal met swaarkry daaruit 'n bestaan moet maak. En tenslotte, en dis die ergste, hy is tot die dood veroordeel.

Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer.

Erger was nie moontlik nie. Van vers 14 tot vers 19 kom die een onheilsberig na die ander.

En wat is Adam se reaksie? Wat sê hy na al hierdie Jobstydings?

Hy prys die moederskap.

Hy roem oor die lewe wat uit die moeder sal ontspring.

Hy noem sy vrou Eva, lewe, want sy gaan moeder word van alles wat lewe.

Dis die opmerklike, maar ook die pragtige boodskap van ons teks.

Ek verkondig u vanmôre God se Woord soos volg:

DIE MENS WAT TOT DIE DOOD VEROORDEEL IS, DOEN BELYDENIS VAN DIE LEWE IN DIE NAAMSVERANDERING VAN SY VROU.

Want daar is weer:

  1. Uitsig in sy huwelik
  2. Uitsig in sy lewe.

1. As ons die geheel van Genesis 3 in oënskou neem, dan staan ons teks eintlik op 'n baie merkwaardige plek. Genesis 1 vertel ons mos van die sondeval, van die mens en sy vrou. En daarop word Adam deur die Here tot verantwoording geroep, en volg sy veroordeling. Adam word as verdagte deur die Here as Regter skuldig verklaar. Hy word tot die dood veroordeel.

In so 'n situasie is dit passend dat die veroordeelde swyg. In ons teks vers 20, vind ons die eerste reaksie van Adam op die vonnis wat God uitgespreek het. Adam begin al om te praat, nog voordat die eerste onderdeel van die straf, die verbanning uit die Paradys uitgevoer is.

Dit wil voorkom asof Adam die Here in die rede val:

"En die mens het die vrou Eva genoem".

Tussen hakies: Ons praat dikwels van Adam en Eva in die paradys, maar eintlik is dit nie heeltemal korrek nie. In Genesis 2 en 3 is sprake van 'die mens' en 'sy vrou'. In ons teks lees ons vir die eerste keer Eva as 'n eienaam. En eers aan die slot van Genesis 4 vers 25 lees ons die naam 'Adam'. Voor daardie tyd lees ons net van 'die mens'.

Dus as die mens sy vrou die naam 'Eva' gee, is dit 'n duidelike verandering van haar naam. Immers in Genesis 2: 23 is haar naam 'Mannin' en nou 'Eva'.

Nou kom so 'n verandering van naam in die Bybel op meer plekke voor. U kan dink aan Abram wat Abraham genoem gaan word. Of Jakob wat Israel word.

Ook in die Nuwe Testament. Simon ontvang van die Here Jesus die naam Petrus. Vir die betrokke persoon beteken so 'n naamsverandering altyd dat daar 'n nuwe situasie ontstaan het. Daar kom 'n nuwe periode in sy lewe. En dit het nie net betekenis vir daardie persoon nie, maar dit het te doen met 'n groot menigte wat na hulle kom.

Abraham beteken iets soos: 'n menigte van volkere.

Jakob ontvang 'n naam wat deur heel 'n volk gedra sal word.

Op Petrus gaan Christus Sy gemeente vestig.

Dus as die Bybel ons vertel dat iemand 'n nuwe naam ontvang, dan het dit groot betekenis. Ook in ons teks as die mens sy vrou 'n nuwe naam gee.

As ons wil verstaan wat dit beteken, dan moet ons eers besef wat die eerste naam van die vrou was.

Ons kan dit vind in Genesis 2: 23.

Die Here bring daardie vrou wat Hy geskape het by Adam. En Adam reageer entoesiasties: Dit is nou vlees van my vlees. Sy sal 'Mannin' genoem word.

Met hierdie woorde wil Adam sê: Hierdie nuwe skepsel van God is net soos ek. Eindelik het Adam iemand gevind met wie hy op gelyke vlak kan kommunikeer. Dit is sy 'wederhelf' om hierdie outydse woord 'n slag te gebruik. 'n Woord egter, wat presies aandui wat Adam bedoel.

Dit is 'n hulp wat by hom pas.

'n Hulp en 'n steun in die roeping wat Adam moes vervul. Die naam 'Mannin' gee 'n tipering van die vrou vanuit haar man. Sy word na hom genoem. Sy behoort by die man. Sy help hom, en steun hom. Mannin.

Dit is dus die omstandighede voor die sondeval.

Maar wat gebeur dan? Die vrou gaan apart van haar man onderhandel met die slang. Maar so help sy hom die verkeerde kant uit. Sy is nie meer die hulp wat hom help in die diens van die Here nie, maar sy trek hom weg van die Here af.

En dit het die huwelik van die mens en sy vrou stukkend gemaak. Dit het vas geloop.

Luister hoe Adam na die sondeval oor sy vrou praat.

Genesis 3: 12. Dit lyk asof die egskeiding hom al voltrek het. Hy praat nie meer van 'my vrou' nie, maar van die vrou. Die vrou wat U my gegee het, om by my te wees.

Hy skreeu dit uit: Wat maak ek met so 'n vrou? Watter soort hulp is dit dan wat U my gegee het. Ons hoor sommer duidelik, die verhoudings is volledig bederf. Van die eens so volmaakte huwelik van Adam en Eva, het niks meer oorgebly nie. Adam probeer om die skuld weg te skuif na sy vrou, of eintlik na God Self, wat hom met so 'n vrou opgesaal het. Die huwelik is stukkend. Die mens en sy vrou staan nie meer langs mekaar nie, maar teenoor mekaar.

As die Here na die sondeval Sy oordeel oor die vrou uitspreek, hoor ons dat die vrou gaan swaarkry. Met pyn sal sy kinders baar. Haar begeerte sal na haar man wees, en hy sal oor haar heers. Wat die laaste ookal mag beteken, in ieder geval is dit 'n laer waardering, as wat dit voor die tyd was, toe sy 'n hulp was wat by hom gepas het. In die huwelik sal dit nie weer wees soos dit was nie.

Die sonde sal ook daar sy invloed uitoefen, en skade kan aanrig. Dus, die prentjie lyk taamlik somber vir die mens. En Adam besef dit baie goed.

Maar tegelykertyd weet hy dit. Hul situasie is nie hopeloos nie. Die Here het hul nie sonder meer in die mag van Satan oorgegee nie. Hy het hul opnuut gesoek en aangespreek.

In die vloek oor die slang het Adam 'n belofte van heil opgemerk. Agter die duister wolke van die dringende oordeel skyn tog die lig van God se genade. Immers: Die Here het gespreek van die saad van die vrou. Daar sal vir hulle nakomelinge wees. Daar kan mense bly woon op hierdie wêreld.

En eenmaal sal die saad van die vrou die oorwinning op die Satan bewerk.

Adam glo hierdie belofte!

En daarom kan hy nie swyg nie.

Nou dat die Here tot hulle gespreek het, wil hy belydenis doen van sy geloof in God se belofte. En so gee hy vir sy vrou 'n ander naam. 'Mannin' is nie meer voldoende nie. Haar naam word Eva. Dit beteken: Lewe!

Lewe wat God gaan gee. Die Here sal die skoot van Eva moet oopmaak. En langs daardie weg, die weg van die moederskap sal die Here verlossing bring. Daarmee is die nuwe naam, 'n naam van groot rykdom.

In hierdie naamgewing eer Adam sy vrou. Ook aanvaar hy haar hier opnuut as sy vrou.

Adam sien iets van die verlossingsweg wat die Here met hulle wil gaan. Die vrou het eers die slang gehelp. As 'n mannin het sy tekort gekom. Maar in die weg van die moederskap mag Eva baie beteken.

Haar saad sal die kop van die slang verpletter. En so mag ons in hierdie naamsverandering 'n geloofsbelydenis van Adam opmerk.

Hy sien in dat hy self volledig gefaal het, maar tog het hy weer uitsig. As vrou het hy haar bykans opsy gesit, maar as moeder aanvaar hy haar opnuut.

Dit is die begin van herstel van 'n huwelik wat deur die sonde misluk het. Deur die sonde het hulle vreemdelinge vir mekaar geword. Hulle was skaam teeoor mekaar, omdat hulle kaal was.

Maar nou gaan hulle hul weer aan mekaar wy, danksy die belofte van lewe.

In die huwelik is die sonde 'n steurende faktor. Die sonde kan stukkend maak, wat oorspronklik so mooi was. Dis nog altyd so. As die man en die vrou eie paaie in die huwelik gaan, dan kan selfs die beste huwelik op die rotse beland. Dit het wel geblyk by Adam en Eva.

Maar daar is ook herstel, naamlik as hulle weer saam die Here gaan dien. As hulle saam gaan werk aan die koms van Christus. As hulle saam gryp na die belofte van die Here.

Dan is daar uitsig in die, deur die sonde gebroke, wêreld. Dan is daar selfs uitsig in 'n deur die sonde geskonde huwelik.

2. Daar is uitsig in die lewe.

Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer, lees ons in vers 19. In hierdie woorde moet ons 'n doodvonnis beluister. Die mens moet eendag sterwe.

Die bedreiging van Genesis 2 ; 17 gaan in vervulling. Adam en Eva is kinders van die dood!

En wat antwoord Adam op hierdie woorde? Hy sê: Lewe! deur sy vrou Eva - dit is 'lewe' - te noem.

Hoe kan Adam dit doen? Het hy die woorde van God dalk misverstaan? Nee, hoegenaamd nie. Want hy het uit die woorde van die Here verstaan dat daar tog 'n toekoms is. Daar is lewe in die wêreld wat tot die dood verdoem is.

Daar is lewe terwille van die vrouesaad! Die Satan sal sy mag nie onbeperk bly oefen oor die mense nie. Eendag sal die Saad van die vrou die oorwinning behaal. Die moederbelofte!

Op hierdie belofte van God gee Adam 'n gelowige antwoord.

En so is vers 20 die eerste 'Amen' op die prediking van sonde en genade. Hy het haar Eva genoem, omdat sy die moeder geword het van alles wat lewe. Dis 'n profetiese woord van Adam. Ons moet hier vasstel, dis die gees van die profesie wat hier werk.

Adam mag van groot dinge praat. Hy praat van die lewe wat herstel sal word in Christus. Dit is Christus wat die lewe sal teruggee, aan almal wat Hom toebehoort.

Nou sou ons kan sê: Ja maar, het Adam dit alles al geweet? Hy het tog nie geweet van Christus en wat Hy sal doen die? Dis reg. Adam het dit alles nie so verstaan as wat ons dit tans mag weet nie.

In die eerste brief van Petrus lees ons hoe die profete uit die Ou Testament deur die Gees van Christus, wat in hulle was, vooruit verkondig het dat die Christus moet ly, en daarna verheerlik sal word.

So 'n profeet is Adam hier. Die Gees van Christus werk in hom. Die Gees van Christus laat hom verkondig dat die heerlikheid sal kom. Ons mag hier selfs sê dat die Gees van Christus deur die mond van Adam sy moeder aanwys. Eva - moeder van die lewendes! Dat Eva hierdie naam mag ontvang is danksy haar groot nakomeling, Jesus Christus!

Haar naam was: Mannin. Maar haar naam word: Moeder van die lewendes! En nou dink ons vanself aan 'n ander belangrike vrou in die heilsgeskiedenis. Maria. Die maagd Maria.

Maria het 'moeder' geword woordat sy 'mannin' was.

Daar sien ons dat die eerste Adam volledig uitgeskakel is. Die weg van die natuurlike voortplanting kan God vir die geboorte van Sy Seun nie gebruik nie.

Die Seun is die Lewende. Die ewig Lewende.

Aan Hom ontleen die moeder haar eer.

Maria was 'n begenadigde, nie deur haarself nie, maar deur haar kind! Eva is die moeder van die lewendes, die lewensbron, maar hierdie titel ontvang sy enkel vanweë die feit dat die Lewensbron (met hoofletter) haar tot Sy moeder wil maak.

Nogmaals, dit alles het Adam nog nie geweet nie.

Dit was die Gees van die profesie wat hom so laat spreek het. Adam het hom, in geloof laat gebruk, as 'n gewillige instrument van die Gees. In hierdie naamgewing prys hy sy vrou.

Hy prys haar nie vir wat sy op daardie oomblik vir hom beteken nie (soos hy eerder gedoen het, toe hy haar Mannin genoem het nie), maar hy prys haar vir wat sy in die toekoms vir baie sal beteken. Moeder van alles wat lewe.

Alles wat lewe - dit dui op almal wat uit haar sal voortkom. Wat uit haar gebore sal word.

Maar, laat ons ook dit bedink, nie almal wat die lewe (klein letter) uit haar ontvang, sal die Lewe (met hoofletter) hê nie.

Nie alle nakomelinge van die vrou Eva gaan tot die vrouesaad behoort nie.

Die Bybel gaan in die menslike geslag onmiddellik onderskei tussen slangesaad en vrouesaad. Dit het ons verlede week gesien. Daar is twee kampe. Twee partye, waar tussen die Here vyandskap gestel het.

Adam en Eva sal dit in hulle eie gesin weldra skrynend moet ervaar. Die gevolge van die sondeval het sigbaar geword. Hul oudste seun Kaïn het vir die ander kamp gekies. Dit moet vir Adam en Eva 'n groot verdriet gewees het. Hul eersgeborene, van wie hulle dalk baie verwagtings gehad het, het nie tot die vrouesaad behoort nie.

Maar tog Eva, Moeder van almal wat lewe. Adam sien weer perspektief. Eendag sal Eva die Vrouesaad voortbring. Die Verlosser wat God beloof het.

Teenoor die Vors van die Dood, stel God die Moeder van die Lewe. Die Verlosser Jesus Christus wat die Weg, die Waarheid en die Lewe is, Hy kom!

En so mag ook ons vandag uitsig in die lewe hê. Daar is ook uitsig vir moeders wat vandag kinders baar. U sal nie moeders van Die Lewende, soos Eva word nie. Moeder van Christus wat die lewe skenk. Daardie taak is vervul. Maar u mag wel moeders word van lewendes. Van kinders wat met Christus die lewe mag ontvang.

Dink daarom moeders, dat u, vir sover dit van u afhang, nie dooie kinders baar nie. Dit kan gebeur. 'n Mens wat kinders ontvang, maar wat weier om hulle voor te gaan in die weg van die Here, hy sal sy kinders verloor op die pad na die dood. Dan het jy nie lewende kinders gebaar nie, maar dooies. Omdat dit moontlik is kan ons nie sorgvuldig genoeg met ons kinders omgaan nie.

Eva, moeder van almal wat lewe.

In hierdie naam spreek Adam sy vertroue uit in die Here, wat Sy beloftes gegee het. Adam het verstaan, dat die Here in die weg van die moederskap sy beloftes wil vervul.

Dit is vandag nog so.

Die Bybel praat van die getal wat vol moet word, voordat die Here terugkom. En daarin gee God aan moeders 'n plek. Dis nog altyd 'n voorreg om in daardie plan van God opgeneem te mag wees.

Dit beteken nie altyd dat ons gesinne maar so groot as moontlik moet wees, om daardie getal so vinnig moontlik te bereik nie.

Maar dit beteken wel dat ons ook insake die vorming van 'n gesin,, die Here moet dien. Dat ons moet leer om Sy wil te verstaan.

Want as ons kinders kry, dan is dit nie vir onsself nie, maar ook daarin mag ons ons diens verrig. Diens in die Koninkryk van God.

En dan is die moederskap een van die mooiste dinge wat God wil gee, in hierdie gebroke wêreld.

Maar buite Christus is die pragtige gawe van die moederskap tenslotte 'n uitsiglose saak.

Dan stuur jy mos dooie kinders 'n verdoemde wêreld in.

Maar in Christus is daar uitsig. Uitsig op die lewe. Vir ons en ons kinders. En dan mag dit wees dat ons lewe in donker tye, in 'n wêreld vol spannings, maar dan is daar tog hoop.

Hoop op die Lewe.

Of liewer: Hoop op die Lewende.

Die Lewende Christus wat die Lewe verwerf het vir almal wat Hom toebehoort.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)