As seun van die mens bekommer God's seun hom oor sy broers

Minister: 
Ander
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Hebreërs 2
Preek Inhoud: 

Johannesburg, Vertaal D Byker, Sep 88.

Sing: Psalm 34: 1
Psalm 34: 7 (na die wet)
SB 2: 1, 2
Psalm 25: 8, 9, 10
Lees: Lev. 16: 1-5 en 29 - 34 & Hebr. 2: 5 - 18
Teks: Hebr. 2: 16 - 18

Gemeente in onse Here Jesus Christus,

Ons moet klaarblyklik diep onder die indruk gebring word deur die werklikheid van ons verlossing deur die Here Jesus Christus, asook die volledigheid en die krag daarvan. As ons daarvan nie diep be-indruk is nie, staan ons in gevaar om Hom op die beslissende oomblik los te laat.

Die mense aan wie hierdie brief in die eerste plek geskryf is, was diep beindruk. Hulle was bly, hulle was dankbaar...... maar daar het ook ander indrukke gekom. En onder die krag van die ander indrukke het die eerstes verflou.

Insinking was die gevolg.

Dreigende ondergang was die voortvloeiende vervolg.

Hulle was nie op pad na die gevaar toe nie, maar het hulle reeds binne in die gevaar begeef. En die duiwel het dit geweet, en hulle in versoeking gelei.

Hulle word met opset weer voor die vraag geplaas wie die Here Jesus Christus wel is. Wat van ewigheid af gewees het en ook bly.

Wie Hy in hierdie tyd geword het, en ook dieselfde gebly het. En hoe Hy, die Seun van God, mens geword het, en vandag met ons meeleef.

Die teks sê:

As Seun van die mens bekommer God's Seun hom oor sy broers.

Ons hoor drie dinge:

  1. oor wie Hy Hom wou bekommer
  2. hoe Hy hom moes bekommer
  3. Dat Hy Hom nou nog bekommer

1. Die woord 'bekommer' kom in ons afrikaanse vertaling van vers 16 tweemaal voor: "Hy bekommer Hom nie oor die engele nie, maar oor die geslag van Abraham bekommer Hy Hom. "

Die bekommernis moet reg wees, want in die volgende vers lees ons dat Christus barmhartig moes wees: "'n barmhartige en getroue hoëpriester". 'n Barmhartige hoëpriester is een wat hom bekommer.

Tog sê die teks met hierdie woord iets meer. Om dit duidelik te maak kan ons die teks 'n bietjie anders lees. As ons die begrip 'aangryp' sou gebruik, dan lees ons: Hy gryp engele nie aan nie (d. w. s. na Hom toe aantrek nie) maar Hy gryp die nageslag van Abraham aan (trek na hom toe aan). Hy trek die volk na Hom toe aan om hulle aan Hom te bind.

Hy gryp iets aan. Hy gryp iemand aan. Hy gryp baie mense aan. Maar dan bepaalde mense. Mense in 'n gemeenskap, 'n volk. Watter volk? Watter mense? Die nageslag van Abraham!

Nou kan ons op verskillende maniere iemand aangryp. Indien met slegte bedoelinge, dui dit op die ondergang. Indien met goeie bedoelinge, dan is dit om iemand te help.

So kom die woord wat hier in die teks gebruik word, in die bybel voor met twee teenoorgestelde betekenisse. Ons lees in Luk 20: 20 en 26 dat die skrifgeleerdes en die owerpriesters in hulle vyandskap jeens Christus spioene uitgestuur het om Hom op 'n woord te betrap, (gryp). Dan volg daar 'n bietjie later: "En hulle kon Hom nie voor die volk op 'n woord betrap nie... " Hulle kon Hom nie aangryp nie.

Die woord word hier dus in ongunstige sin gebruik.

Elders lees ons (1 Tim. 6: 12, 19) "Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe...... " en later: "sodat hulle die ewige lewe kan verwerf.... " weereens sou ons die woord "gryp" in sekere sin hier kon gebruik. Hier word die woord in die goeie sin gebruik.

En nou terug na die teks. Daardie woord " aangryp" of " gryp" word hier gebruik: Hy gryp nie na engele nie. Dit gaan hier nie oor engele nie maar oor bepaalde mense op aarde. Die engele laat Hy aan hulle lot oor. Hulle intereseer Hom in hierdie opsig glad nie. Die nageslag van Abraham, hulle wil God Hê! Hulle intereseer Hom besonder! Met hulle het Hy iets beplan, vir hulle sal HY iets doen!

Oor wie bekommer die Here Jesus Christus Hom dan nou?

Ons sou kon dink: as dit nie oor engele gaan nie, dan sekerlik oor mense.

Maar nee, dis nie wat daar staan nie. Hy gryp nie sonder meer na mense nie. Wel na 'n bepaalde soort mense. Die nageslag van Abraham!

Daar is onderskeid tussen engele en mense. Binne die mensewêreld maak die Heiland as Ontfermer ook nog onderskeid.

Laat ons nou eers nagaan hoe dit nou met die die engele gesteld is. Oor engele word in die voorafgaande gedeelte nogal baie gesê.

Hulle word hier al vir die tiende maal in hierdie brief genoem. Ons het meer met engele te doen as wat ons gewoonlik dink. Hulle is 'n belangrike faktor in die wêreldgebeure. Hulle is van groot betekenis vir en in ons persoonlike lewe. God het nie die engele virniet geskape nie, en hulle eie take en plekke gegee nie!

Maar in die engelewêreld het iets ernstig gebeur. Daar het twee soorte engele gekom wat in fel teëstand teenoor mekaar staan: goeie en bose. Oor die goeie engele is heelwat gesê. In die eerste twee hoofstukke van hierdie brief is hulle al nege keer genoem. Die bose engele word ook genoem. Die twee verse wat ons teks voorafgaan het melding gemaak van die duiwel wat so mag oor die dood het, en mense in vrees vir die dood laat sidder. Die groot leier van die opstandige engele - die bose geeste.

En nou: " na engele gryp Hy nie". Die opstandige engel met sy mede-bose-geeste sal nooit gered word nie. U eie belydenis, uself- spreek daarvan in geloof: God het die engele goed geskape om sy gesante te wees en om sy uitverkorenes te dien. Sommige van die engele het uit die verhewenheid waarin God hulle geskep het, in die ewige verderf geval...... hulle is vanweë hulle eie boosheid tot die ewige verdoemenis veroordeel, en hulle verwag daagliks hulle verskriklike pyniging. So word die skrifte nagespreek in art. 12 NGB.

Na die engele gryp Christus nie. Vir hulle doen Christus waneer Hy mens geword het, geen moeite nie.

Met die engele is dit heel anders gesteld as met mense. Die engele is nie uit een bloed geskape soos die mense nie.

Die Here het nie met die engele Sy verbond opgerig nie, soos Hy wel met mense gedoen het nie.

Die engele is nie na God's beeld geskape nie, die mense wel.

By die engele is daar geen sprake van erfskuld soos by die mense nie.

Ons het almal in Adam gesondig. Daar is een menseskuld in hierdie wêreld: "die sonde van die hele menselike geslag". soos die kategismus dit in sondag 15 noem.

Maar die bose geeste het nie almal in satan gesondig nie. Elke bose gees het gesondig in onderskeid van duisende en tienduisende ander wat dit nie gedoen het nie en trou gebly het.

Dit is wat die engele betref, alles volkome anders, as in die mensewêreld. Vir hulle is daar nie 'n Middelaar van die verbond nie. Vir hulle nie die Seun van God wat aan hulle gelyk geword het nie. God het nie vir hulle 'n redding weggebêre nie.

Ons weet uit ander tekste in die bybel (die brief Judas) dat hulle bewaar word deur die Here deur ewige bande, tot die oordeelsdag. Hulle bestaan is in die duisternis en hulle einde is ewige duisternis.

Maar dan: die nageslag van Abraham! Dit is iets vir Christus. Daarvoor sal Hy nou omgee. Hy gryp dit aan; plaas alles op die spel; die laaste: Sy lewe.

Hoekom die nageslag van Abraham? Hoekom nie alle mense nie? Slegs een woord: uitverkiesing! nog 'n woord: verbond! en nog 'n woord: geloof!

Dit is met Abraham iets besonders. God het Abraham uitverkies. Met hom 'n verbond opgerig. God het hom geroep - en Abraham het geluister en gegaan! Hy het geluister en geglo. Abraham het die Here geglo toe die Here hom ongelooflike dinge belowe het. God het vir Abraham 'n land belowe wat menslikerwys nooit kon verkry word nie. En - Abraham het God geglo! Die Here het vir Abraham veiligheid en loon belowe toe veiligheid en loon wel baie onbereikbaar gelyk het. Abraham het geglo. Die Here het vir Abraham 'n nageslag belowe, terwyl Sara, sy vrou, onvrugbaar was. Abraham het geglo. En later, as Abraham en Sara beide te oud geword het sodat almal weet: nou is dit absoluut onmoontlik, het God weereens vir Abraham belowe dat hy en Sara vader en moeder sal word -- het Abraham geglo!! Hy het elke keer weer geglo! Hy het bly glo!

In hierdie geloof het Abraham gesterwe. En die Here het met Abraham 'n verbond opgerig. Abraham sal alles kry wat God aan hom toegesê het. God Almagtig maak die beloftes sonder uitsondering waar: eers Isak, die wonderkind; daarna kleinseun Jakob, die wonderkind; daarna 'n hele volk uit die twaalf seuns van Jakob.

Wanneer dié volk sukkel om te bestaan, dan floreer hulle juis!

As farao die mans hulle laat kapot werk en die seuntjies wat gebore is, laat verdrink, en die volk moet uitsterf, dan gebeur dit: die volk groei bo-normaal, die volk vir Abraham belowe, kom; daardie wondervolk. Nie van benede gebore nie, maar deur God's woord. Nie uit vlees verwek nie, maar kinders van die belofte. Straks: die gelowiges met hulle kinders. Abraham is tog die vader van alle gelowiges? Die Jode is nie Abrahams nageslag nie, maar Israel is Abrahams saad. In Israel word daar baie ingelyf, alle soorte mense, uit alle moontlike lande en volkere.

Abrahams nageslag?

Hier! Vaders en moeders en ouer gemeentelede, wat in geloof die kinders voorgaan!

Nageslag van Abraham?

Hier! Seuns en dogters, wat aan vader en moeders hand saam kerk toe gebring word; deur die kleuterskoolonderwyseres en deur die jeugverenigingleiers die stappe geleer word op die weg van die verbond waarop vader en moeder hulle ook al leer gaan het! Seuns en meisies wat christelik en godvresend opgevoed word; Wat, indie enigsins moontlik aan ander kinders van Abraham toevertrou word, die onderwyser, die lektor, op skool en verder. Seuns en dogters, met wie tuis in geloof oor kerk en katkisasie en skool gepraat en gebid word.

Hulle is daar. Hulle sal daar wees. En dis hulle waarna die Here Jesus Christus gryp!

Soos die owerpriesters en die skrifgeleerdes eens na Jesus wou gryp en Hom op 'n woord wou betrap. Hulle wou Hom gryp om Hom kwaad te doen; Soos ons moet stry om na die ewige lewe te gryp, tot ons heil. So wil die Here Jesus Christus die nageslag van Dawid gryp om nou vir Hom te hê en dit later aan God die Vader aan te bied. So wil Hy almal gryp wat by Israel ingelyf is. Daarvoor sal Hy enigiets doen. Moedgewend vir sendelinge!

2. Hy het die nageslag van Dawid nie sommer so nie! Ons hoor oor wie Hy hom bekommer en lees ook hóe Hy dit doen. Hierdie nageslag van Abraham - wat se mense is dit? En die kinders van die gelowiges - hoe lyk hulle? Kan sulke seuns en dogters ooit deur God aangeneem word?

Een woord sê hier alles: hulle is vuil. Net so vuil soos al die ander. Hul lewens spel die woord: sonde, skuld. Wat begin ons daarmee voor God en Sy hemel, en die nuwe aarde?

Wie sal ons versoen en voor God skoonmaak?

Dit sal iemand moet wees, wat heeltemaal met ons een is; wat staan waar ons staan; leef waar ons leef; werk waar ons werk; volledig een met ons, uitgesonder die sonde: net so 'n swak en sieklike liggaam; dieselfde senuweekwaal, soortgelyke gesinslewe; wat op ons plek moet staan en moet reg maak wat ons verknoei het. Wat alles moet volbring wat ons moes gedoen het.

'n Geskonde huwelik kan nie deur 'n buitestaander reggemaak en tot goeie huwelikslewe gebring word nie. 'n Verbond kan nie stand hou na verbreking nie, en nie herstel word deur iemand wat nie tot die verbondsgemeenskap behoort nie. Die wet van die liefde kan slegs nagekom word deur iemand wat onder die wet gestel is. Wil God se Seun ons neem, ons gryp? Dan is dit so: die Seun van God moet heeltemaal een met ons word, aan ons gelyk: gebore uit 'n vrou, gebore onder die wet, om hulle wat onder die wet was vry te koop..... Dit weet ons van God self, wat dit self bekend gemaak het. Die Here het ons dit al vroëer laat sien. Dit was toe Hy die hoëpriester gegee het om die volk se sondes te versoen. Die hoëpriester moes wees uit die volk van God, Abraham se nageslag. Hy het daar gestaan en moes doen wat die volk moes gedoen het, en die volk versoen -- en hy kon dit nie doen nie. Hy het met die priesters die hulp van die leviete. Maar hy kon nie. As hy tot sterwe gekom het, miskien na lang en getroue diens, was daar nog geen blywende versoening nie. Iemand anders het hom opgevolg. Die nuwe man kon dit ook nie. En die sondes van die volk moes versoen word! Elke groot versoendag het dit weer getoon: hierdie jaar is daar soveel diere geslag, dag en nag is offers gebring; altyd het die altaar gerook, maar nog was die versoening nie daar nie. Die hoëpriester kon dit nie doen nie; sondaar tussen sondaars en eindige mens. Die offer wat hy gebring het kon dit nie doen nie, dit was maar net dierebloed. Die een groot versoendag het die ander opgevolg. Maar die skuld van die volk was nie gedelg nie.

Wanneer is dit dan sover?

Dit was een roep om dié Hoëpriester, wat alles alleen en goed sou doen; een roep om dié offer, wat eenkeer gebring, alle skuld sou delg.

Nou spreek die teks van dié Hoëpriester, wat daardie offer sou bring en alles sou doen. Ons lees: "Hy moes 'n barmhartige en getroue hoëpriester word". So staan dit daar: barmhartig en ook trou.

Barmhartig: vol van meedoë, vol ontferming. Hy moes hier kom en bewoë wees met wat Hy hier sou ontmoet: swakkes en sukkelaars, mismaaktes, ontsier en onmoontlik. Ons Hoëpriester moet so bewoë wees, dat Hy vir sulkes álles wou doen, om hulle te red. Mense in so 'n ellende, omdat hulle deur eie skuld daarin verkeer.

Ons moet van ontferming leef, gemeente.

Barmhartig, maar bowendien ook trou. So trou, dat ook as elkeen Hom in die steek laat, Hy hulle wat Hom in die steek laat, nie in die steek laat nie! Hy moet die Middelaar van die genadeverbond wees. Ook as die hele nageslag van Abraham Hom in die steek laat en as die God van Abraham Hom afwend en nie na Hom hoor nie, dan moet Hy die nageslag van Abraham nog vashou en --"My God, My God, waarom het U My verlaat? " --Sy God bly vashou.

So moes Hy Hom ontferm. Teenoor ons hardheid Sy barmhartigheid. Teenoor ons ontrou Sy trou. Weet u nou wat barmhartigheid is? Weet u nou wat trou is? Alleen as u Jesus Christus kén, dan kan u sê: Ja! Hy het hom ontferm. Hy is getrou. Ons leef van Sy ontferming. Ons lewe deur Sy trou.

3. Nou kan Hy verder gaan. Hy bekommer Hom meer dan ooit.

Ons het eers gehoor oor wie Hy Hom wou bekommer; daarna hoe Hy Hom moes ontferm; Dan hoor ons ook nog dat Hy Hom nou kan ontferm.

Ja, Hy het dit gedoen. Altyd was Hy met ontferming bewoë.

Ons lewens is immers siek en meer as siek: ons lewe is 'n voortdurende sterwe. Ons sê dit in die gebed as 'n kindjie gedoop word. Die dood is in daardie lewetjie al besig al voor die doop plaasgevind het. Ons is van kop tot tone aangetas. Die Seun van God het as mens hier op aarde die dood nie ontwyk nie. En nou as Hy op die hemelse troon sit, wil Hy dit nie teëstaan nie. Die oorsaak van al hierdie ellende? Die sonde. En die oorsaak van die vloek is die sónde. Nader gesien: ons sonde. Bedink wel: dié sonde bestaan nie, óns sonde wel. My sonde. Niemand kan hom van Adam losmaak nie. Erf-skuld, Erf-smet. Dit is nie leë woorde nie.

Ons Heiland wil nie siekte hier sien nie. Hy wil gesonde mense hê. Hy wil heel mense, mense wat met heel hul hart en heel hul siel en heel hul verstand en al hul krag in liefde die wet van God kan nakom. Daar mag geen kragteloosheid, geen hartkwaal, of enige aantasting van die lewe in enige vorm wees nie. En Hy -- Hy gaan eers die oorsaak van al hierdie dinge wegneem, die sonde. Hy bring die groot offer wat alle skuld bedek. Hy voltooi dit met die roep: "Dit is volbring!" God neem ook aan wat Hy gedoen het en wek Hom op uit die dood. God gee Hom sy loon. Watter verheerliking en mag kry nou!

Want as Hy klaar is, dan is Hy nie klaar nie!

Wat het die hoëpriester gedoen? Wat het Aäron gedoen? Sy opvolger?

Die hoëpriester het geoffer. Hy het bloed op en voor die versoendeksel gesprinkel; hy het alles aan God opgedra. En dan, as hy klaar was, dan was hy nie klaar nie; dan kon en moes hy op grond van die bloed vir die volk bid en Gods seën aan die volk gee. Hy het vir die volk by God gepleit. Hy het die volk namens God geseën. En Gods gawes het neergedaal. Die lewe het voorspoedig voortgegaan.

Die groot Priester gaan nou verder.

Ons lees die slot van ons teks: "Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word. "

Hy is in alles versoek gewees. Hy sou mos die werke van die duiwel verbreek? Hy sou vir ons pleit in die regsaak wat God met ons het. Die satan het Hom direk en indirek genader. Versoeking het gekom deur middel van Sy moeder, om Hom van Sy werk af te trek. Deur sy disipels, wat Hom van Sy werk afgetrek het. Versoeking het gekom deur middel van soldate wat Hom wou weglok van sy groot taak met 'n verdowingsdrank. Die versoeking het gekom deur middel van 'n man aan 'n kruis langs Hom, wat Hom getreiter het met 'n verlossingswonder. Hy is regstreeks in versoeking gewees in die woestyn vir veertig dae, en daarna op baie maniere in sy lewe. Hy het dit alles geweet en gevoel. Hy het die metodes van die duiwel geken as dié met lis en met dom dinge gekom het. Hy het deur hom gesien, ook toe hy met uit die skrifte geplukte "tekste" gekom het. God's Seun, Seun van die mens geword, het alles betaal. Hy weet presies wat ons kan oorkom en wat ons nou deurmaak. Hy weet dit ook as onsself niks daarvan agterkom nie. Hy kan diegene wat versoek word, tot hulp kom.

Dit is nou Sy priesterskap. Op grond van Sy offer help Hy ons as ons versoek word; Op grond van Sy offer verdedig Hy ons voor God; Op grond van Sy offer open Hy deur Sy Gees ons oë, sodat ons ook sien, ook stry, stry teen die sonde, die duiwel en heel sy ryk.....

In die begin van hierdie preek het ons oor engele gesels. Nou kyk ons nog vlugtig na 'n voormalige engel, die duiwel. Die duiwel is so geslepe en slinks. Hy kom asof hy Gabriël is, 'n engel van die goeie boodskap. Hy kom deur middel van jou nooi, jou kêrel. Hy doen dit deur onregvêrdige behandeling op skool, waardeur ouers verlei word om die kinders in 'n ander skool en in verkeerde hande te plaas. Hy werk deur die politiek: vermink die waarheid! En ons beef.

Word ek ook saamgesleur?

Soms is jongeres onder ons bang om geloofsbelydenis te doen. Hulle het gesien dat andere dit gedoen het en tog weer meegesleep en weggesleep geraak het: sal ek dit kon volhou? Hoevele duisende dink vandag nie dat hulle gereformeerd is, maar hulle Bybel al lankal verloor en vergeet het nie? Hulle veranderlike god is nie die God van die skrifte, die Almagtige nie. Die waarheid word 'n vraag. Hulle weet nie meer nie. Die twyfel word verheerlik.

Hou ons, hou ek dit vol?

Ja -- as ons ons toevlug tot Jesus Christus neem. Dan kom die stryd. Hy weet dit presies, Hy is soos ons, versoek. Ons voorbidder, advokaat: Helper in alle nood! Hy pleit ons by God vry; Hy gee kragte tot ons beskerming soos u weet: die goeie engele, die dienende geeste wat uitgestuur word om hulle wat die heil sal beërwe te dien.

Die laaste woorde van ons teks juig ons toe. Derhalwe moet ons nie insink en moedeloos word nie. Gryp Hom aan wat u aangryp! Die ope hemel straal bo u, die kragte breek los, al lyk dit soms asof die hel sal wen en ons te swak is! Die mag van alle versoekings loop hulle vas teen die barmhartigheid en trou van Christus wat Hom oor ons ontferm!

Begryp u die noodkreet: Here ontferm U oor ons! Wie dit uitskreeu is oorwinnaar!

Here, vol van medelye, dank U vir U medelye! In alle versoekinge is ons meer as oorwinnaars deur U barmhartigheid en U trou!

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)