Ons sien in die wet van Numeri 5 wat God van jou verwag

Minister: 
Ds FJ Bijzet
Church: 
(onbekend)
Date: 
2008-11-02
Text: 
Númeri 5
Preek Inhoud: 

Liturgie:

Votum en seëngroet
Ps 139: 1, 2, 12
Geloofsbelydenis
Ps 139: 9
Skriflesing: Numeri 5: 11-31
Gebed
Kollekte
SB 21: 1, 4, 5
Prediking
Ps 128: 1, 2
Gebed
SB 28: 1, 4
Seën


Broeders en susters,
“Jy mag nie egbreek nie” - daaroor gaan dit dus vaanaand nog ‘n keer.
Ons weet almal dat daardie woord in die Bybel staan. Ons hoor dit elke Sondagoggend as die Wet voorgelees word. Ons weet ook almal: egbreuk is nie reg nie.
Owerspel is sonde. Die huwelik is ‘n verbond waarin twee mense lewenslank trou aan mekaar belo-we het. Nie net in mooie nie, maar ook in moeilike dae.
Ons wéét dit almal. Maar wat as daar nogtans in ‘n huwelik verwy-dering onstaan? Wat as ‘n egpaar aanhoudend baklei sodat die kinders daaronder ly? Wat as ‘n getroude man en vrou soos kat en hond saamlewe? Wat as jou gevoel vir jou man of jou vrou dood lyk te wees? Wat as die vuur van die liggaamlike aantrekkingskrag as gevolg van rusie en verdriet gedoof het?
Moet ‘n mens dan nog steeds met so ‘n ontwrigte huwelik aangaan?
Moet ons dan nog steeds vir me-kaar bly sê: “Jy mag nie egbreek nie”?
Ja, so staan dit wel in God se wet.
Maar nood breek mos wet? Is dit nie onbillik, ja, onmenslik om in so ‘n situasie van ‘n man en ‘n vrou te verlang dat hulle bymekaar bly nie?
Derglike geluide begin ook onder christene al hoe meer klink. En die getal egskeidings neem gevolglik ook onder kerkmense kommerwek-kend toe. Daarom wil ek op hier-die vrae spesiaal toespits noudat ek vanaand nog ‘n keer God se wil in die sewende gebod van sy verbondswet aan u moet voorhou.
Ek gebruik daarby ‘n hoofstuk waaruit ons baie mooi kan leer hoedat God wil dat ons die huwelik heilig moet hou.
So vat ek die boodskap van vanaand se preek ook vir u saam:

Die HERE wil hê ons moet die huwlik hoog hou

Ons sien in die wet van Numeri 5 wat God van jou verwag
1.as jy jou huweliksmaat ontrou verwyt,
2. as jou huweliksmaat jou ontrou verwyt

Ons het vanoggend gesien dat hier-die klompie bepalings in Numeri 5 deur die HERe gegee is met die oog op die vertrek van God se volk netnou vanaf die Sinaiberg Kanaan toe.  Hy het met hulle ’n verbond gesluit, Hy wou voortaan in die midde van sy volk woon en met hulle saamgaan. En sy volk moes regtig ’n gemeenskap van heiliges wees. Hulle moes rondom hul Verbondsgod ‘n hegte eenheid vorm.
Nie net in hulle verkeer met Hom Self nie. Ook in die onderlinge verkeer moes dit gesien kon word dat die heilige God in die midde van hierdie volk wou woon. Daar-om moes alles wat die eenheid kon verbreek uit Israel se laer wegge-keer of weer weggedoen word.

En ja, dan rig God sy aandag onvermydelik ook op die huwelik.
As daar een ding is waarvan die eenheid ongeskonde moet bly, is dit tog die huwelik waarin God een man en een vrou in ‘n unieke samelewing aan mekaar verbind het: die wat twee was, sal een vlees wees.
Daar was al wel ‘n wet deur die HERE uitgevaardig om die eenheid in die huwelik te beskerm: “Jy mag nie egbreek nie”. Indien iemand owerspel gepleeg het, moes daardie egbreker gestenig word. So heilig is die huwelik vir die HERE! As ‘n man of vrou die unieke eenheid van die huwelik durf skend het, het God Self daardie huwelik dadelik ontbind. Daar het ‘n weduwe of wewenaar agtergebly. Die doodstraf is voltrek.
Maar die HERE het geweet dat daar ook situasies kan wees, wat ‘n mens nie sommer van owerspel kan praat nie. Partymaal is daar net vermoedens, dalk het ‘n buitestaander verdagmakings geuiter, of die man kry die indruk dat sy vrou haar nie meer soos vroeër gedra nie. Hy raak jaloers sodra sy maar net kyk na daardie een man.
U kan uself hierdie soort situasies seker maar voorstel, broers en susters.
Ook op so’n wyse kan ‘n man en ‘n vrou uitmekaar groei en kan wan-troue en verwyte hul huwelik al hoe meer ondergrawe. Soms is die agterdog tereg, maar jy kan dit nie bewys nie en die ander een swyg maar net, of ontken dit heftig.
Soms is die wantroue ook geheel en al ten onregte, maar hoe moet jy jou man of vrou daarvan oortuig as hy of sy jou nie wil glo nie?
Onderwyl slaan die agterdog diep wonde.
Hierdien soort situasie kan begin met onbelangrike woordewisse-linge. Maar klein onenighede kan tot groot verwydering uitgroei as die kwaad nie direk in die kiem gesmoor word nie.
So ‘n verwydering word nie altyd vir ander mense sigbaar nie. ‘n Mens hang jou huweliksverdriet nie dadelik aan die groot klok nie. Selfs die ouderlinge mag dit nie tydens die huisbesoek agterkom nie.
Maar onderwyl na buite toe die eenheid instandgehou word, leef man en vrou binne die vier mure soos vreemdes met mekaar.

Dis vir hierdie soort situasies dat die HERE die wet van Numeri 5 gegee het, broeders en susters. Hy wil hê ook derglike situasies moet so gou as moontlik verdwyn. Ook nou is die eenheid van die huwelik mos op dei spel. Die agterdog en verwyte mag nie voortduur nie, maar daar moet helderheid kom: óf die huwelik moet weer word soos dit was, óf dit moet definitief ontbind word.

Kom ons kyk eerste na wat die HERE beveel aan die een wat sy huweliksmaat van ontrou verdink. Die wet van Numeri 5 gaan uit van die situasie dat dit die man is. Maar dit kan natuurlik ook andersom wees.
Die man kry nie toestemming om ‘n egskeiding aan te vra weens duursame ontwrigting van die huwelik nie. Dit is wat in die wêreld lankal as vanselfsprekend aanvaar word. Maar vir die HERE bly dit onaanvaarbaar. So maklik mag die band van die huwelik nie ontbind word nie. Dit is vir God nie ‘n verskoning om te sê: “Maar dit is mos g’n lewe nie. So kan ons nie langer aangaan nie. Hierdie situasie maak ons altwee gedaan. Nou dit tog al so ver gekom het, moet ons maar liewerste uitme-kaar gaan”. Nee, man en vrou het aan mekaar trou belowe totdat die dood hulle sal skei. Maar dan kan ook alleen die natuurlike dood, óf die doodstraf in geval van ower-spel hul huwelik ontbind.
Tog vra die HERE ook nie van ‘n mens dat jy dus maar moet leer om met hierdie gebroke situasie saam te leef nie. ‘n Gewapende vrede is in so ‘n  huwelik ewemin die oplossing. Man en vrou mag nie noodgedwonge in dieselfde huis bly saamwoon en saam eet, en miskien selfs nog wel saamslaap en sodoende oënskynlik steeds ‘n egpaar vorm, terwyl hulle agter daardie mooi voorgewel totaal en al aan mekaar verby leef, elkeen hul eie weg gaan en mekaar so veel as moontlik ontloop nie.
So ‘n situasie kan maklik ontstaan: die verwyte oor en weer kan die atmosfeer in die huis laat verkil en ‘n man en vrou uitmekaar drywe sonder dat dit ooit tot ’n egskei-ding kom. Hulle verwerk aanvan-klik hul verdriet in stilte, raak gaandeweg gewoond daaraan en aanvaar op die ou end die triestige situasie maar as ‘n onveranderbare feit.

Dit is egter vir die HERE onaan-vaarbaar, gemeente. Ook so ‘n samelewing is in sy heilige oë feitlik ‘n egbreuk. Daarom wys Hy in die wet van Numeri 5 ‘n ander, ‘n beter weg: hulle moet na die priester toe gaan; dus: na sy heiligdom toe gaan, en dus eintlik: na Hom Self toe gaan! Geen groot rusies met harde verwyte oor en weer waarvan die kinders en die bure kan saamgeniet nie- nee, hulle moet  saam na die HERE toe gaan en aan Hom die huweliks-nood voorlê.

As daar in Numeri 5 staan dat die man sy vrou na die priester moet bring, moet u u dit nie so voorstel asof hy haar soos ‘n gevangene moet saamneem nie. Nee, vir ‘n man wat ly onder die ellende in sy huwelik is hierdie gang maar ‘n moeilike ding. Hy moet voor die HERE se aangesig verskyn met ‘n gemors. Hy was nie in staat om sy huwelik heilig te hou nie. Hy het sy vrou nie só sterk aan hom kon bind dat dít nie kon gebeur het nie.
Daarom moet die man ook ‘n spysoffer saambring waardeur die verdrietige situasie ekstra onder-streep word. ‘n Spysoffer was bedoel om die persoon wat die offer kom bring het, by die HERE in herinnering te roep. Maar dié keer is dit ‘n offer sonder al die bestanddele wat gewoonlik so’n offer aantreklik gemaak het. Dié keer g’n olie en wierook nie, en pleks van fyn meel die growwere garsmeel. Met hierdie offer word ‘n aaklige huwelikssituasie by die HERE in gedagtenis gebring: ’n ongeregtigheid wat voor sy oë nie so mag bly voortbestaan nie. Twee verslae mense kom soek die HERE om hulp te kry vir hul huweliks-konflik.

Miskien het u uself die vraag afgevra, broeders en susters, hoekom in hierdie wet niks gesê word oor ‘n teregwysing aan die adres van die man in geval hy geheel en al ten onregte sy vrou van ontrou en owerspel verdink het. Moet ‘n verkeerde agterdog dan nie bestraf word nie? Dis reg, ja, maar vir die HERE is dit blykbaar die belangrikste dat so ‘n man wat sy vrou ontrou verwyt, met sy agterdog die regte pad loop. Hierdie man kon oor die hele ding sy skouers opgehaal het omdat hy nie eintlik omgee wat sy vrou maak as hy nie by die huis is nie; of hy kon die saak maar gelate aanvaar het; hy kon ook ’n beskamende rusie ontketen het...
Maar as hy met sy moeite na die heiligdom toe gaan, doen hy die regte ding. Dan wys hy daarmee dat hy besef sy huwelik moet vir die HERE heilig bly. Dan wys hy dat hy wel deeglik omgee wat sy vrou maak wanneer hy nie by die huis is nie; omdat die HERE omgee!
Let ‘n bietjie daarop, gemeente, hoe dikwels in hierdie Skrifgedeel-te die woord “verontreinig” ge-bruik is: iemand wat owerspel pleeg, maak nie net sy huweliks-maat seer nie. Soiemand het ‘n onreine geword binne God se volk. En aangesien die HERE Self in die midde van sy volk woon, sien vs 4 en 5 van Numeri 5, is dit onver-draaglik.
Maar ook ‘n man wat die huweliks-ontrou van sy vrou sou laat sloer, sou saam skuldig wees aan daardie ongeregtigheid.
Dis dié dat daar aan die einde van die hoofstuk staan dat ‘n man vry van ongeregtigheid sal wees as hy volgens hierdie wet gehandel het! Of sy wantroue tereg of ten onregte was maak nie so veel saak nie - watter pad hy met sy moeite geloop het, dít is die ding waarop dit aankom.

Hierdie wet wys daarom ’n heil-same weg, broeders en susters, wat ook ons in die Nuwe Verbond steeds kan gaan: die weg na die heiligdom, na die HERE toe met ons moeites.
Ons hoef dit vandag nie meer te doen deur die bemiddeling van ‘n menslike priester by ‘n heiligdom hier op aarde nie. Ons mag deur die bemiddeling van ons groot Hoëpriester, Jesus Christus, padlangs na die hemelse heilig-dom toe gaan. Ons mag die weg van gebed gaan.
Voordat u gaan hulp soek by huweliksberaders en sielkundiges, moet u eerste die weg van gebed gaan en by die HERE hulp soek, in die wete dat u huwelik Hom ter harte gaan.

En dan moet u veral sáám daardie weg gaan. Die man en vrou moet in Numeri 5 ook saam voor die HERE verskyn. Nie elkeen afsonderlik om sy verhaal te doen nie. So moet ook vandag steeds ‘n man en vrou wat besig is om uitmekaar te groei, saam in gebed hul huweliksnood aan die HERE voorlê. Hoe bevrydend kan dit wees om saam die knieë te buig voor die huweliksbed wat g’n vreugde meer bied nie, en om verslae van die HERE hulp en uitkoms te vra.
Pleks van om jouself teenoor die ander te wil staande hou en harde woorde na mekaar se hoofde te slinger, is dit beter om saam die hoofde te buig voor die aangesig van die Almagtige God wat die harte van sy kinders ken en keur en wat die huwelik heilig wil hou. Alleen al so ‘n gebed bring jou nader aan mekaar.
Dit sal ook duidelikheid bring omtrent die skuldvraag.

2. Want daardie skuldvraag wil die HERE in die wet van Numeri 5 juis oplos. Waar daar verwyte en wantroue die onderlinge verkeer versuur het, moet daar duidelik-heid kom. Het die verwyte merie-te? Is hierdie huwelik deur ontrou verontreinig? Kan hierdie huwelik voor God nie langer bestaan nie?
Of word hier ten onregte verwyte geuiter? Dreig die huwelik om ten onregte te strand?
As die mense nie in staat is om die waarheid aan die lig te bring nie, sal die HERE Self duidelikheid bring.

Hy doen dit deur die vrou aan ‘n hele ritueel te onderwerp. Sy moet voor sy aangesig gaan staan, in die voorhof. Haar hoofhare word losgemaak as ‘n teken van rou om die triestige situasie ekstra te benadruk. Sy moet die eenvoudige spysoffer vashou en vervolgens ’n vervloeking aanhoor wat oor haar sal kom indien haar man se wan-troue tereg blyk te wees. En op daardie bedreiging moet sy selfs “Amen” sê en sodoende haarself by voorbaat aan die moontlike vervloeking onderwerp.
Tenslotte moet sy dan nog daardie bitter water drink waarin stof en vuiligheid van die voorhof gemeng is en waarin ook die blad waarop die priester die vervloeking geskry-we het, afgewas is.
Hier die uitvoerige simboliek was bedoel om enersyds die beskamen-de van die ontstane huwelikskon-flik te benadruk; maar om ander-syds ook duidelik te maak dat God Self nou as Regter sou optree in hierdie uiters verdrietige aange-leentheid. Hy kan ook dit wat verborge is, aan die lig bring. Hy is die God van Psalm 139 wat sy kinders deurgrond en ken; wat hul gaan en hul lê deurvors en met al hul weë terdeë bekend is.

Dalk is hier vanaand vroue en meisies wat sit en dink: Ek sou dít nie doen nie! As ek onskuldig was, as ek heeltemal ten onregte allerhande aaklige verwyte moes aanhoor, sou ek nie so gewillig saamgaan en my aan so ’n verne-derende behandeling onderwerp nie! Nie ek nie!
Maar, broers en susters, die HERE het juis hierdie weg waarop die vrou haarself wou verneder, aan-gewys as die heilsame weg waarop alles weer kan regkom.
Dit is die kern van hierdie wet.
Want die vrou wat aan hierdie prosedure gewillig wou saamwerk, het nie haarself voor die mense verneder nie. Sy wou haarself voor haar God verneder, om sodoende haar huwelik wat gestrand het, hoog te hou. En dié weg sou vir haar ‘n bevrydende uitweg word.
Ek is seker: ‘n vrou wat regtig skuldig was aan huweliks ontrou, sou nooit die pad wat hierdie wet voorgeskryf het, end-uit wou loop nie. Natuurlik nie: dit sou haar dood word!
Daarom het hierdie wet in die meeste gevalle ook maar net ‘n pro-aktiewe werking gehad. In geval daar regtig owerspel plaas-gevind het, is hierdie wet waar-skynlik selde of nooit end-uit toegepas nie. Net die dreiging om volgens hierdie wet te handel, was voldoende om die waarheid aan die lig te bring.
Maar indien die verwyte nie tereg was nie, indien die verwydering onnodig was, kon hierdie wet ‘n heilsame uitwerking hê, juis om-dat die huweliksmaat wat onskul-dig beskuldig was, bereidwillig die vernederende pad na die HERE toe wou saamgaan.
Indien sy nie verontwaardig ook beskuldigings te begin rondslinger het nie, indien sy nie kwaad uit die huis uit geloop het nie, en deur ook nie tot ‘n koue onverskilligheid verval het nie, maar saam met haar wantrouige man na die HERE toe wou gaan, het so’n vrou  gewys hoeveel die huwelik haar nog steeds werd is.
Moet ou lot in die hande van jou God lê, sê hierdie wet. Wys in jou hele houding dat jy vir die HERE niks het om weg te steek nie.
Wys, deur jou te wil verneder, dat jy nie vir jou eie eer veg nie, maar dat jy besef dat die HERE se eer met jou huwelik gemoeid is.
So sal alles kan regkom!

Ons ken vandag nie meer so ‘n ritueel in die kerk nie, gemeente.
Dalk meen u dis jammer aangesien daar destyds by Israel darem direk duidelikheid gekom het in situasies van ingewikkelde huwelikskonflik-te. Tog wys God ook vir ons vandag steeds die goeie weg in hierdie wet: moet, wanneer die onder-linge liefde en vertroue nie meer daar is nie, jou lot in sy hande lê en jou beroep op Hom wat ons harte en diepste gedagtes ken.
Wys in jou houding dat jy bereid is om jou te verneder, omdat jy die huwelik hoog en heilig wil hou.
Op hierdie pad kan daar dan ook vandag nog duidelikheid kom in ‘n ingewikkelde konflik. Op hierdie weg word naamlik taamlik gou duidelik wie uiteindelik die meeste skuld dra van die verwydering wat ontstaan het.
Indien man en vrou albei voor die aangesig van die HERE geplaas word en opgeroep word om vir die behoud van hul huwelik te veg, word ook vandag nog steeds baie gou duidelik by wie die wortel van die konflik lê. Die wat nie van harte bereid is om saam met die ander op die knieë voor God te verskyn nie; die wat nie wil kop gee nie, maar homself wil staande hou; die wat nie aan gesprekke met die predikant en die wyksouderling, en daarna miskien ook ’n huweliksberader wil saamwerk nie; die wat maar net veg vir homself en nie vir die behoud van die huwelik wil veg nie; die wat glad nie meer beïndruk blyk te wees deur die toorn van die HERE oor egbrekers nie - ontmaskter homself, of haarself, baie gou as die wat die meeste skuldig staan aan die konflik.
Vir derglike mense bevat Numeri 5 nog steeds ‘n ernstige waarsku-wing: God sal sulke huweliksontrou nie ongestraf laat bly nie. As daar nie bekering kom nie, haal soie-mand hom ‘n vervloeking op die hals.

En dan kan ons maar bly wees, broers en susters, dat God van-dag, in die nuwe verbond, die vloek nie meer terstond deur ‘n tipe van vloekwater voltrek nie.
Daar is vandag, danksy Jesus Christus, ook vir egbrekers vergewing en die moontlikheid om die pad terug te gaan en hulle huwelik so veel as moontlik nog te herstel. Indien hulle die vergewing ook soék, en indien hulle die pad terug ook sal gaan.
Aan die ander kant sal die man of vrou wat heeltemal ontereg met verwyte belaai is, deur sy of haar houding teenoor die HERE wys dat die verwyte ongegrond is. Die wat in alle opsigte wys dat hy die ander een as ’n huweliksmaat wil vas hou en bereid is omdaarvoor  uit sy pad uit te gaan, omdat die HERE ditwil hê, dié is in staat om sy of haar onskuld aan die ontstane ellende te bewys en die ander een te beskaam.
In daardie geval kan die vreugde van die huwelikslewe weerkeer en kan man en vrou weer saam verder gaan onder die seën van die HERE.
Numeri 5 sê: daar sal die vrou weer kan swanger word. Wat beteken dit anders as, in Nieu-Testamentiese taal: daar kan die huwelik weer ten volle aan die koms van God se Koninkryk diensbaar wees.
Dus: daar beantwoord die huwelik weer aan sy oorspronklike bestemming!
AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)