Gesag is 'n geskenk

Minister: 
Ds FJ Bijzet
Church: 
(onbekend)
Date: 
2008-10-05
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 39
Preek Inhoud: 

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 46: 4,6

Wetslesing

Ps 19:4,6
Gebed
L. Rom. 13: 1-7
Ps. 19: 7
Prediking
Ps. 2: 6
Gebed
Kollekte
SB 26: 1,2,7,11
Seën

 

 

Mugabe. Moet jy so’n man as die Staatshoof aanvaar en aan hom gehoorsaam wees? !

Dalk het iemand van u agtergekom dat sy baas by die werk al ‘n paar maande met sy sekretaresse lol, terwyl hy by die huis ‘n vrou en 3 kinders het. Moet u van daardie einste man onderdanig bevele aanvaar?! Moet daardie man vir u vertel wat u wel en wat u nie mag maak nie?!

Sê-nou jy het ‘n Pa wat gereeld drink en dan op ‘n onredelike manier te kere gaan by die huis. Kan jy so’n Pa nog liefhê, vrees en eer?!

Dis die soort vrae wat onvermyde-lik opkom as ons oor die Vyfde Gebod van God se Verbondswet nadink, gemeente. “Ons moet aan ons vader en moeder en aan almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou bewys.... omdat God ons deur hulle wil regeer”.

Maar daar is tog ‘n grens? Waar hou dit op om eer, liefde en trou te moet bewys?

 

As ons volgens ons gevoel te werk gaan, is die antwoorde op vrae soos wat ek so pas gevra het, nie moeilik nie. Wie kan nog ontsag hê vir sulke mense?

Maar ons gevoel is ‘n gevaarlike gids. Dit veroorsaak meestal maar net meer ellende as wat reeds daar was.

 

Christus se Gees moet ons gids wees. Slegs die Heilige Gees leer ons die regte, heilsame houding teenoor almal wat oor ons geplaas is. Laat ons daarom vanaand luister na dit wat Christus se Gees ons in die Skrif leer m. b. t. die gesag wat God in hierdie wêreld aan mense skenk en die ontsag wat Hy daarvoor vra.

Ek verkondig u:

GESAG IS ‘N GESKENK

En ek wil u agtereenvolgens wys op
GOD SE HAND

GOD SE HART

GOD SE HAAT i. v. m. die gesag. 

 

1. Ons ken seker almal wel voorbeelde van swak onderwysers wat glad nie orde kan hou nie. Die kinders in ongeseglik, brutaal, maar hy weet nie hoe om dit te hanteer nie. Daardie onderwyser het geen gesag, word in so’n geval gesê.

Daar is egter ook onderwysers wat glad nie probleme het om orde te hou nie. Die kinders hou van hom, hy hoef nie dikwels te waarsku nie, en as hy moet waarsku, is ‘n enkele woord genoeg. Daardie onderwyser het gesag, sê ons dan.

Ons kan dieselfde maar toepas op ouers, op die baas by die werk, op owerhede. Party het ‘n natuurlike gesag, ander het glad nie.

 

Maar kan ons so sê? Het daardie mense regtig geen gesag nie?

God se Woord leer dat ook ‘n swak onderwyser gesag het. En alte toegeeflike ouers. En ‘n baas by die werk wat eintlik nie vir sy taak bereken is nie. Selfs ‘n regering wat sy land in ‘n chaos dompel. Want gesag is nie dieselfde as mag nie. Gesag is nie dieselfde as die vermoë om aan mense leiding te kan gee nie. Gesag is nie ‘n natuurlike aanleg wat ‘n mens nou maar eenmaal het of iets wat jy spontaan of onder ‘n deskundige leiding kan ontwikkel nie. Gesag moet aan jou gegéé word. Deur God.

‘n Mens het nie eers gesag as jy ontsag by ménse afdwing nie.

‘n Mens het gesag so gou as wat Gód dit aan jou gee. Gesag is ‘n geskenk.

Gesag is ‘n taak, ‘n opdrag wat God aan ‘n mens gee. ‘n Roeping waarvan God ook eendag reken-skap vra. En nie die wyse waarop jy jou gesag uitoefen, bepaal of jy regtig gesag het nie; maar die feit dat God aan jou gesag gegéé het.

God stel in hierdie wêreld mense aan wat leiding aan ander mense moet gee. Ons glo mos dat daar in hierdie wêreld niks per toeval gebeur nie, maar dat alles uit God se hand na ons toe kom.

Die duidelikste voorbeeld dat ook gesag uit God se hand kom, is wel die gesag wat ouers oor hul kinders ontvang. Waarskynlik is dit die rede waarom in die Vyfde Gebod juis hierdie gesagsverhou-ding genoem word: “Eer jou vader en jou moeder... “.

‘n Kind kan mos nie sy eie pa en ma kies nie. Ouders kan nie eers hul eie kinders kies nie. God gee ‘n kind aan sy ouers en ouers aan daardie kind. En Hy gee die ouers die opdrag om hul kind te versorg en op te voed tot selfstandigheid. God het dit boonop so gelei dat ‘n kind ‘n hele paar jare volkome van die sorg van sy ouers afhanklik is.

Maar ook die gesag wat ‘n man oor sy vrou het, kom uit God se hand. God het die man as hoof en die vrou as hulp geskep. En Hy lei vandag nog na elke man met sy hand dié vrou wat Hy vir hom bestem het. Vanaf daardie oomblik het die man gesag oor haar ontvang.

 

God se hand lei ook die wêreld-gebeure. Hy stel politieke leiers aan en laat hulle weer verdwyn.

Ons Here Jesus Christus het dit selfs aanvaar van Pontius Pilatus, daardie weifelagtige en oneerlike Romein. As Pilatus hom op ‘n stadium daarop beroem dat hy die mag het om Jesus los te laat, maar ook die mag om Jesus te laat kruisig, antwoord ons Here: “Jy sou geen mag teen My hê as dit jou nie van bo gegee was nie, Pilatus”. Jou gesag oor My kom uit die hand van my hemelse Vader.

Paulus kan dan ook in sy alge-meenheid aan die Romeine skryf: “Daar is geen mag, oftwel gesags-draer, behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel”.

Selfs die gesagsdraers wat ons self kan kies, ontvang hulle roeping van God: ‘n gekose Staatspresi-dent, ‘n gekose regering. Ons kan hulle nie slegs aanvaar en respek-teer solank as wat hulle maak soos ons wil nie. Ook as hulle in afwy-king van verkiesingsbeloftes en gemaakte afsprake hulle gesag gebruik vir sake waarvan u glad nie hou nie, moet u God se hand in hulle regering bly sien en eerbie-dig.

U kan in heelwat gevalle self kies onder watter baas u wil werk. Maar daardie baas kan môre aan ‘n hartaanval of ‘n motorongeluk dood wees. Deur God se hand. En daar word hy opgevolg deur ‘n persoon waarvan u glad nie hou nie. Nogtans sal u sy gesag moet aanvaar en eerbiedig solank as wat u daar bly werk. Eers as u uit u werk bedank en ‘n ander baas soek, verloor u vroeëre baas sy gesag oor u.

Telkens wanneer God iemand roep en aanstel om ‘n leidinggewende posisie te beklee, broeders en susters, telkens wanneer God dit in ons lewe in sy voorsienigheid so lei dat iemand gesag ontvang, vra Hy van ons dat ons aan daardie persoon alle eer, liefde en trou sal bewys.

 

Kom ons kyk bietje na daardie woorde wat die Kategismus gebruik: “Eer, liefde en trou”. Eer staan voorop. Daarmee moet dit naamlik begin. Liefde het ‘n mens vir ‘n persoon. Maar eerbied betref die amp, die roeping wat die mense wat oor ons gestel is, van God ontvang het. Dié eerbied moet allereers ons houding teenoor gesagsdraers bepaal. Daardie mense het nie hulleself in daardie verantwoordelike posisie gemaneuvreer nie. God het hulle daarin aangestel. Omdat Hy mede deur hulle ons lewe wil regeer. En al oefen hulle hul gesag ook hoe swak uit- hulle is dienaars van God.

En elke gebod wat hulle uitvaar-dig, moet ons aan gehoorsaam solank as wat dit nie regstreeks teen God se gebooie ingaan nie. Van die stilhou voor ‘n stopstraat of ‘n rooi robot en die eerlike opgawe van ons inkomste op die belastingformulier tot en met die wegbly van plekke waarvan jou Pa en Ma gesê het hulle wil nie hê jy moet soontoe gaan nie.

Maar God vra meer as net respek en onderwerping. Daar moet vervolgens by ons ook liefde vir die gesagsdraers bo ons wees. Hierdie mense dra ‘n groot verant-woordelikheid. Terwyl hulle ook maar swak en sondige mense is. Hulle moet eendag rekenskap gee. Dié wete moet ons dryf in ons houding teenoor hulle, ook as hulle foute maak. Of miskien moet ek liewer sê: juís as hulle foute maak! Liefde maak geduldig; liefde leer jou om vir hulle te bid.

En dan noem die Kategismus nog trou: wat maak kinders met hulle ouers as dié oud en hulpbehoe-wend geword het? Lei hulle eer-bied en liefde dan ook tot ‘n troue versorging tot die dood?

Wat maak u met ‘n werkgewer onder wie u omtrent ‘n lewe lank gewerk het en wat sy beste kragte vir sy werknemers gegee het, as hy oud en gebreklik geword het? Gee u nog ’n blyk van respek en mee-lewe af en toe?

Want maak ‘n volk met sy vors of sy staatspresident na hy vanweë sy leeftyd of sy gesondheid moes aftree? Bewys die volk nog gereeld dat hulle van hom en sy regering nog nie vergeet het nie?

In sulke bewyse van eerbied, liefde en trou, eer ons nie net ‘n mens nie. Ons erken en aanvaar daarmee die hand van God oor ons lewe wat sondige mense inskakel om ons te regeer.

 

2. En daardie hand van God is ‘n goeie hand, broeders en susters. Ja, in daardie hand wat in hierdie wêreld mense met gesag beklee, gaan God se hart vir ons oop. (My tweede punt).

Want dis eintlik ‘n wonder dat daar vandag steeds gesagsdraers is!

Want hoekom is daar gesagsverhoudings? Dis was uit die staanspoor,l vanaf die skepping, ‘n goeie geskenk van God wat Hy wou inskakel om sy skepping tot die volle ontplooiing te bring. Want God het ‘n belangrike taak vir die mens gehad. Die wêreld het mos nog maar aan die begin van sy geskiedenis gestaan. Nou moes die skepping oopgelê, ontwikkel, uitgebou word. En in daardie ontwikkeling mog die mens ‘n hoofrol speel. Maar dié gigantiese onderneming het ‘n veelvoudige taakverdeling geeïs.

Dis dié dat God gesagsverhoudings ingestel het. ‘n Hele sisteem van range en stande, gesag en ontsag, moes daarvoor sorgdra dat die ontwikkelingswerk in God se skepping uitgevoer sou word.

Daar was uit die staanspoor die gesag van die man oor die vrou. Hy hoof, sy hulp.

Uit hulle samewerking sou gesag van ouers oor kinders ontwikkel. Ouers sou kinders kry om op te voed.

En ook al die ander gesagsverhou-dings sou vervolgens soos vanself ontstaan.

Onderwysers en leerlinge, leiers en arbeiders, owerhede en onder-dane, dit was alles ingepas in God se plan.

 

Gesag is dus van oorsprong ‘n skoon geskenk in die goeie skep-ping. ‘n Waardevolle ratwerk om die skepping te laat draai.

Daarom is die feit dat daar in ons wêreld vandag, na die sondeval, steeds gesagsverhoudings is, baie meer as ‘n noodsaaklike kwaad. Gesag is ‘n goeie ding. Gesag is, nog meer as by die skepping, ‘n geskenk! Dit is ‘n blyk van God se genade oor ons lewe dat daar vandag nog steeds gesag geoefen word in hierdie sondige wêreld. Dit is ‘n wonderlike bewys daarvan dat God na die sondeval sy skepping nie aan die chaos en die verderf prysgegee het nie!

Die mens het mos teen sy God opgestaan. Hy wou “net soos God” wees. So het die duiwel hom dit ingefluister. Die mens wou nie langer in ‘n geordende samelewing aan die verheerliking van sy Skepper saamwerk nie, maar hy het aan sy eie geskiedenis en toekoms begin bou. Hy het inder-waarheid aan sy eie ondergang begin bou.

Sindsdien is die wêreld mos vol individualiste, vol ontbinding en chaos. Huwelike breek stukkend, ouers en kinders vervreem van mekaar, werkgewers en werk-nemers maak mekaar die lewe suur met dreigemente en stakings, diktatuur en opstand dompel lande en volkere in ellende.....

Sê-nou God sou sy hart vir ons toegesluit het. Sê-nou Hy sou ons aan die chaos wat ons selfs veroorsaak het, prysgegee het.

Probeer u voorstel: ‘n wêreld sonder gesagsdraers. Geen regering, geen wette, geen polisie en justisie en geen tronke meer nie. Elkeen maak soos hy wil en is sy eie baas. By die fabriek en in die kantoor geen direkteur en geen afdelingshoofde meer nie. Geen onderwysers en skoolhoofde meer nie. Tuis geen Pa en Ma om leiding te gee nie.....

Dit mag dalk ‘n oomblik aantreklik lyk, inderwaarheid sou dit die ene chaos word. ‘n Verskrikking! Die begin van die hel.

Maar God het sy hart nie vir ons toegesluit nie. Hy het ten spyte van ons opstand in die sondeval, sy hart juis vir ons oopgemaak.

Pleks dat God hierdie wêreld aan die hel prysgegee het, het Hy sy Seun aan die hel prysgegee om ons sondes, ons opstandigheid en magsmisbruik te versoen en om die voltooiing van sy skeppingsplan tog te bereik.

Die aarde moet verder ontwikkel word. Die deur die sonde aange-taste skepping moet herskep word. Die mens moet eendag weer in heerlikheid met Hom lewe. Deur Christus het God dit moontlik gemaak. In Christus het God se hart vir ons oopgegaan. Danksy Christus kan die ratwerk wat vasgedraai het, tog aanhou draai.

 

Dáárom is daar nog steeds gesagsverhoudinge in hierdie wêreld. Want God se Seun wat Self alle mag in die hemel en op die aarde ontvang het en die Koning van die konings en die Here van die here geword het, skakel steeds die gesag van die een mens oor die ander en die gehoorsaamheid van die een aan die ander in om die herskepping van God se wêreld te bereik.

Hy sit vandag aan God se regter-hand en mag daardie hand van God lei. Deur Christus gee God vandag aan elke man sy eie vrou uit sy hand. Deur Christus maak God se hand vandag mense Pa en Ma oor ‘n kind, stel Hy onderwysers aan in die skool en direkteure in ‘n besigheid. Deur Christus maak God mense tot maghebbers en verstoot Hy hulle weer uit hulle pos.

So bou God in Christus aan die voltooiing van sy skeppingsplan. En die blote feit dat daar dus vandag, in ‘n sondige wêreld, steeds gesagsstrukture gevind word, moet ons, christene, nie met ergernis en frustrasie nie, maar met dankbaar-

heid en verwondering vervul. Dit laat ons in God se hart kyk. Dit bewys dat hierdie wêreld nie in ‘n doodloopstraat gekom het nie, maar steeds ‘n toekoms het.

 

3. Maar daarom is dit nou ook baie gevaarlik om die gesag wat God in hierdie wêreld steeds handhaaf, te minag. Wie so maak, trap God op die hart en haal hom God se haat op die hals! (My derde punt tenslotte)

God haat dit as julle ‘n brutale houding aanneem teenoor julle ouers of ‘n onderwyser, seuns en dogters. God haat dit as julle skelm tog iets doen wat hulle verbied het.

God haat dit as ‘n besigheid deur wilde stakingsaksies platgelê word.

God haat dit as u u belastingform oneerlik invul.

God haat dit as u minagtend praat oor ons regering of ons staats-president.

Want as ons so maak, sien ons sy hand en sy hart nie meer nie.

Ja, ek weet, daar is baie slegte gesagsdraers in hierdie wêreld.

Mans brutaliseer hul vrouens. Ouers verwaarloos en mishandel hul kinders. Onderwysers het ‘n behae in lyfstraf. Direkteure gedra hulle soos slawedrywers. Ampte-nare en ministers handhaaf hulle-self deur vuile korrupsie, konings en presidente word tiranne en diktators.

Ons gevoel sê vir ons: Aan sulke mense hoef jy jou tog nie te onderwerp nie? Ons kan tog nie sê dat ook dáárdie mense deur God oor ons gestel is nie?

Maar God se Woord leer dat ons sal moet aanvaar dat ook sulke gesagsmisbruikers nogtans seggenskap oor ons het, solank as wat God nie aan hulle hul gesag ontneem nie.

En God laat gesagsmisbruikers soms ‘n hele ruk hulle gang gaan.

Hy kan ‘n vrou laat sug onder ‘n heerssugtige man. Kinders moet soms grootword onder liefdelose ouers. Jy sal jou in die skool moet onderwerp aan ‘n onderwyser met sadistiese neigings. God kan werk-nemers gebuk laat gaan onder die onbegrip en hardheid van hul baas. En hele volke is deur die HERE in die hande van wrede tiranne gegee.

Hoekom maak die HERE so?

Die HERE laat sulke dinge gebeur om ons die hardhandig ellende te laat ervaar wat ons self in sy wêreld veroorsaak het. Hy kan dit egter terselfdertyd gebruik om ons skuldbesef en ons dankbaarheid oor Christus se verlossingswerk te versterk. Hy gebruik dit om die verlange na die voltooiing van die verlossing in ons lewendig te hou.

Daarom vra Hy ook in sulke moei-like situasies steeds respek vir die gesag wat Hy gegee het van ons. Ons sal moet erken en aanvaar dat God ook moeilike mense wat hulle gesag misbruik, kan inskakel om ons te regeer vir ons beswil.

Ons mag iemand wat sy goddelike opdrag skend, nie sommer eenkant skuif nie, want die Hére skuif so iemand nie dadelik eenkant nie! En solank as wat Hy nie aan hulle hul gesag ontneem nie, mag ons wél die gesagsmisbruik verwerp, maar moet moet ons terselfdertyd die gesagsdraer bly eerbiedig.

En wee ons, as ons nie so maak nie. Dan verwerp ons nie net ‘n mens bo ons nie. Ons verwerp God se leiding oor ons lewe. Ons verwerp God self. Ja, dan haal ons ons die haat van die HERE op die hals.

Dit pleit natuurlik daardie slegte gesagsdraers wat hulle mag mis-bruik, nie vry nie. Hulle haal hul nie minder die haat van die HERE op die hals nie. Hy het hulle aan-gestel en ingeskakel om sy genade oor die versondigde menselewe konkreet sigbaar en voelbaar te maak. Hulle het nie gesag ontvang om hulle eie haan koning te laat kraai nie, maar om in hulle heer-skappy diensbaar te wees aan God se koninkryk. Hulle moet die beeld van Christus vertoon op aarde.

As owerhede egter meer luister na die eise van mense as na die wil van God, of hulle hoë posisie misbruik om net hulleself te verryk- as maghebbers heul met terroriste en rebelle- as direkteure van hul personeel geen respek afdwing nie, maar seksuele plesiertjies- as ouers nie vol van die Heilige Gees is nie, maar vol van drank en hulle dienooreen-komstig gedra- as mans hulle vrouens terroriseer- kortom: as mense so die gesag wat God hulle verleen het, belaglik maak, speel hulle met vuur: “Wees tog ver-standig, o konings” klink dit in Psalm 2; “laat julle waarsku, o regters van die aarde”. En u kan maar gerus toevoeg: en ook julle, mans, ouers, onderwysers, werkgewers ensomeer! “Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie. Want gou kan sy toorn ontvlam en Hy het die mag om julle te verpletter met ‘n ysterstaf, julle flenters te slaan soos ‘n erdepot”.

Dit is ‘n hoë eer om die God van die hemel en die aarde as ‘n gesagsdraer te mag dien. Dit is ‘n hoë eer om sy hand oor die menselewe voelbaar en sy hart vir die menselewe sigbaar te maak.

Maar wee diegene wat dit nie doen nie, dog sy gesag misbruik vir presies die teenoorgestelde.

Dié kry met God se haat te make.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)