Ons verwag alles van die heilige Naam van ons God

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2019-04-14
Text: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 47
Preek Inhoud: 

Behalwe die staatspresident, beskou baie mense die minister van finansies as die belangrikste minister.

Die ekonomie is vir baie mense die belangrikste onderwerp in die politiek.

Die stand van die ekonomie bepaal vir baie mense hulle gemoedstoestand.

As dit goed gaan met die ekonomie, is mense bly en opgeruimd.

As dit sleg gaan met die ekonomie, is mense bedruk.

Mense hou hulle oë konstant, 24/7, gevestig op die beurse, en die aandelekoerse, en die wisselkoerse, op die prys van olie en ander kommoditeite.

Gemeente, waarop is ons oë gevestig?

Is ons oë ook konstant, soos die res van die wêreld, gevestig op die ekonomie?

Verwag ons al ons heil en seën van ekonomiese groei?

 

Tema: Ons verwag alles van die heilige Naam van ons God

Met die eerste bede van die Onse Vader vra ons twee dinge:

  1. Gee ons oog vir u werkwyse
  2. Gee ons die krag om daaraan diensbaar te wees

 

  1. Gee ons oog vir u werkwyse

Ons het vanaand die redelik onbekende geskiedenis van koning Josafat uit die Bybel gelees.

Dit is wel ‘n mooi geskiedenis.

Hoe die Here hom deur ‘n bepaalde gebeurtenis gedwing het om werklik van Hom afhanklik te word.

In hierdie hoofstuk kry ons ‘n redelik positiewe indruk van koning Josafat.

Maar daarmee ken ons nog nie alle kante van hierdie koning nie.

Hy was ongetwyfeld baie getalenteerd.

Hy was ‘n ervare politikus.

Op ekonomiese gebied was hy verre van onbekwaam, inderwaarheid hoogsbekwaam.

Maar in ons hoofstuk kom hierdie talente nou juis nie aan die orde nie.

In hierdie hoofstuk ontmoet ons koning Josafat geheel magteloos.

In ‘n toestand van skok.

Hy wat die grense van sy land optimaal beveilig het.

Hy wat verskillende diplomatieke verdrae met buurvolke gesluit het.

Hy kry nou te hore dat maar liefs drie volke saam teen hom optrek ten stryde.

En dat hulle al naby die grens is.

Hoewel koning Josafat verskillende diplomatieke verbonde gesluit het, was dit nou te laat.

Daar was geen tyd meer om ‘n noodkreet te laat uitgaan na die koning van Israel, met wie hy homself verswaer het ter wille van diplomatieke en ekonomiese redes nie.

Hy het beswaarlik tyd gehad om sy eie leër op die been te bring.

Hy was ineens heeltemal magteloos.

Die berig het hom getref soos ‘n donderslag op ‘n skonskyndag.

So word die talentvolle koning Josafat op sy knieë gedwing.

Hy wat gedink het dat hy alles self kon reël.

En dat sy koninkryk maakbaar was.

Nee, hy was nie so goddeloos soos koning Agab van Israel nie.

Hy het regters in die hele land aangestel.

En hy was ook bereid om na die ware profete te luister.

Maar wanneer dit gekom het by ekonomie en landsbeveiliging, dan het hy op sy eie bekwaamheid vertrou.

Meestal het dit goedgegaan.

Meestal het sy bekwaamheid gesorg vir stabiliteit en ekonomiese welvaart.

Maar in hierdie hoofstuk sien ons hoe die Here hom beproef.

Want die Here is nie tevrede met halwe erediens nie.

Hy wil dat sy Naam geëer word op elke terrein van die lewe.

Eer, dit is dieselfde as sy Naam heilig.

Aan God se Naam die regmatige plek gee wat dit verdien.

 

In kort, God het die omstandighede so gestuur dat koning Josafat onverwags skaakmat was.

En dit het hom gedwing om te begin bid.

In sy gebed het hy vir die eerste keer in ‘n lang tyd nagedink oor wie God eintlik is.

Hy het nagedink oor God se almag en geregtigheid, oor sy goedheid en barmhartigheid.

Al die deugde van God waarvan ons ook in Sondag 47 lees.

In sy gebed het hy dus God se Naam geheilig.

Deur die omstandighede daartoe gedwing, het koning Josafat ineens weer besef watter magtige geskiedenis God met Israel agter die rug het.

Die Naam wat Hy in die verlede gemaak het.

Noudat Josafat geen moontlikheid sien om self die situasie te beredder nie, nou het hy aan God gedink.

En opnuut besef hoe almagtig God was.

Die Kategismus noem ‘n aantal van God se eienskappe: almag, wysheid, goedheid, geregtigheid, barmhartigheid, waarheid.

Koning Josafat het teruggedink aan die verlede.

Aan die spektakulêre wyse waarop die HERE Jerigo vir die volk verower het.

Aan die manier waarop Gideon met slegs driehonderd man die hele leër van die vyand kon verslaan.

Aan die heldedade van Dawid, wat in staat was om die reus Goliat te dood met ‘n slingervel.

Opeens het die verlede weer vir hom begin leef.

Hy het op sy knieë geval en nou ook hulp by dieselfde God gesoek.

Gemeente, uit hierdie gebed van koning Josafat kan ons leer wat dit beteken om God se Naam te heilig.

 

En, soos ons gelees het, God het geluister.

Hy het Josafat laat merk dat Hy werklik daar is.

Hy het Homself laat aktiveer deur die gebed van ‘n afhanklike.

So is blykbaar sy werkwyse!

Ons het ook die afloop van hierdie geskiedenis gelees.

Hoe God vir Josafat en sy volk gespaar het.

Hoe Hy hulle selfs die oorwinning geskenk het.

Dit het op ‘n uitsonderlike manier gebeur.

Josafat en sy leër moes hulleself gereedmaak en opstel, maar nie veg nie.

Of die drie volke teen mekaar ontbrand het, en of daar nog ‘n ander faktor was, wat ‘n rol gespeel het, tot op die dag van vandag kan dit nie bepaal word nie.

Net die afloop is bekend.

Dit is goed om by hierdie gebeurtenis bietjie nader te let op die volgende.

Naamlik watter aanwysings die HERE aan Josafat gegee het.

Wat hy en sy leër moes doen.

Dit lyk amper of hulle heeltemal passief was.

Tog is dit nie die regte woord nie.

Hulle moes hulleself wel opstel, hulle moes gereed wees, maar hulle hoef nie te geveg het nie:

“staan gereed, bly staan en aanskou die redding van die HERE by julle” (vers 17).

Dis nie ‘n passiewe houding nie.

Mens kan dit eerder noem: ‘n ontvanklike houding.

‘n Houding inderdaad – hulle moes gereed wees – maar wel ‘n houding van afhanklikheid.

Eintlik ‘n snaakse houding as dit by oorlog kom.

Daarby was daar ook mense wat spesiaal vir die HERE ‘n lied moes sing, terwyl die gewapendes uitgetrek het.

‘n Lied, met orkesbegeleiding op die slagveld.

Nie dat musiek op sig op die slagveld vreemd was nie.

Vroeër het leërs inderdaad gemarsjeer op die kadans van ‘n orkes, van dromme en trompette.

Maar wat apart is in die geval van koning Josafat is dat hulle nie opruiende oorlogsmusiek gemaak het nie, maar dat hulle uit volle bors vir God ‘n lofsang gesing het:

“Loof die HERE, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.” (vers 21)

 

Dit was inderdaad ‘n uitsonderlike manier waarop God te werk gegaan het.

Maar om eerlik te wees, eintlik vind ons orals in die Bybel voorbeelde van hierdie werkwyse.

Ek het nounet al na die val van die stad Jerigo verwys.

Dit was ook ‘n baie uitsonderlike oorlogstrategie.

Die volk was betrokke, maar aan die ander kant heeltemal ontvanklik.

Hulle het gewag totdat die HERE die mure laat instort het.

Dieselfde het gegeld vir die verlossing uit Egipte.

En die reis deur die Rooi See.

En die stryd teen die Amalekiete in die woestyn, toe Moses steeds sy hande in die lug moes hou.

Dit het ook gegeld vir Gideon, vir Dawid en noem maar op.

God het ‘n uitsonderlike wyse waarop Hy te werk gaan.

En ‘n uitsonderlike manier waarop Hy mense inskakel.

Dit is belangrik dat mens daarvoor oog het, anders sien mens dit miskien nie raak nie.

Of as jy dit sien, ontken jy dit.

Dan ontken jy dat dit waar kan wees, omdat dit nie in jou denkraamwerk pas nie.

En as jy sy werkwyse ontken, nie wil raaksien nie, dan weier jy ook om sy Naam te heilig.

 

Gemeente, hierdie God met so ‘n uitsonderlike werkwyse in die Bybel, bestaan vandag nog steeds.

En sedert die geskiedenis van Josafat lank gelede het Hy alweer baie geskiedenis gemaak.

Die mees opspraakwekkende is ongetwyfeld wat Hy met sy eie Seun, Jesus Christus, gedoen het.

Sy werkwyse deur Hom om sodoende vir ons ‘n Redder te verskaf.

Deur Hom het God die loop van die hele wêreldgeskiedenis verander.

En inderdaad, God se werkwyse deur Hom was inderdaad ook uitsonderlik.

Hy het Maria, ‘n onaansienlike persoon, gekies om sy ma te word.

Hy het Betlehem, ‘n onaansienlike dorp, gekies as geboorteplek vir die koning van die heelal.

Nie die hoofstad Jerusalem nie, laat staan die keiserlike stad Rome.

So het God te werk gegaan.

Maria het daaroor gesing:

“Hy het deur sy arm kragtige dade gedoen. Hoogmoediges in die gedagtes van hulle hart het Hy verstrooi. Maghebbers het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog. Hongeriges het Hy met goeie dinge vervul en rykes met leë hande weggestuur. Hy het sy kneg Israel bygestaan, sodat Hy aan sy barmhartigheid sou dink.” (Luk 1:51-54)

 

Sondag 47 noem ook God se barmhartigheid.

Dit is een van die eienskappe wat na vore kom as God aan die werk is.

Maria het daarvoor oog gehad.

Sy het ‘n ontvanklike houding gehad.

Sy het God se werkswyse eerbiedig.

God wil dat elke mens ‘n ontvanklike houding het.

Ook ons.

Dat ons voor Hom op die knieë gaan.

Dat ons ons oog op Hom gevestig hou.

Ook as dit oor die ekonomie gaan.

Ook as dit oor die politiek en die verkiesings in ons land gaan.

Die ekonomie of politiek, die wetenskap of tegniek, kan nie lewens red nie.

Dikwels kom mense wat nie aktief kan saamdraai in die ekonomie, dit die eerste agter.

God is nie van mense afhanklik om sy Naam te heilig nie.

Hy sorg self daarvoor.

Maar in sy genade en wysheid gebruik Hy wel mense.

Danksy God se genade het Josafat oog begin kry daarvoor.

Laat ons, elke keer as ons hierdie bede bid, Hom vra dat ons ook oog kry vir sy werkwyse in hierdie wêreld.

 

(Tema: Ons verwag alles van die heilige Naam van ons God

Met die eerste bede van die Onse Vader vra ons twee dinge:

  1. Gee ons oog vir u werkwyse)

 

 

  1. Gee ons die krag om daaraan diensbaar te wees

Hoe geseënd is ons nie, dat ons as gelowiges oog mag hê vir God se uitsonderlike werkwyse in die wêreld!

Dat ons besef hoe almagtig Hy is!

Ons is geseënd met hierdie perspektief op die wêreld.

En wat ‘n voorreg, dat Hy ons ook betrek in sy grootse planne met hierdie wêreld, soos Hy deur sy Seun Christus met die herskepping daarvan ‘n begin gemaak het.

Ons mag saam bou aan hierdie bouprojek wat eeue omspan.

Ja saam mag ons bou aan die heiliging van sy Naam op aarde.

Hoewel Hy almagtig en onafhanklik is, en die ekonomie van die mens nie nodig het nie, tog neem Hy ons in diens.

 

Hy neem in die eerste plek sommige mense permanent in diens.

Om dit eenvoudig te sê: dit is die kerkmense.

Mense wat bely het dat hulle hulle hele lewe aan Jesus Christus toewy.

Mense wat, soos Sondag 47 sê, hulle daarop rig om met al hulle gedagtes, woorde en werke God se Naam te heilig.

Dit is God se vaste arbeiders.

Op hulle kan Hy staatmaak, danksy Jesus Christus.

Met hulle hulp kan Hy vordering maak met sy bouprojek.

 

Nou is dit belangrik om hier duidelikheid te kry oor watter gebou God besig is om te bou.

Daardie gebou is nie net die kerk nie, maar dit is God se koninkryk.

Die kerk is die gemeenskap van alle arbeiders wat God permanent in diens geneem het.

Hulle is deur Jesus Christus gewerf.

En deur die Heilige Gees word hulle konstant bekwaam gemaak.

Hulle leer steeds meer om met hulle hele lewe God se Naam te heilig, ten dienste van die koninkryk.

Wat dit betref staan die eerste bede van die Onse Vader in die lig van die tweede bede: laat u koninkryk kom!

God is nou al besig met die voorbereidings vir die nuwe hemel en aarde, sy koninkryk.

Die herstel en wederoprigting van alle dinge.

Die sanering van die hele aardse ekonomie.

Sodat alles weer op Hom gerig sal wees.

Dit is sy toekomsplan.

En danksy Christus en sy Gees mag ons daaraan meewerk.

In die kerk ervaar mens al iets van hoe dit later in die koninkryk op die hele aarde sal wees.

In die kerk is almal gewillig en bereid, al sy vaste arbeiders.

 

Tog kan mens nie sê dat God buite die kerk geen arbeiders het nie.

Behalwe sy vaste arbeiders, maak Hy ook intensief gebruik van deeltydwerkers.

Om eerlik te wees, eintlik is alle mense by God in diens, of hulle dit weet of nie.

Selfs as hulle Hom aktief probeer teenwerk en Hom as hulle Skepper verloën.

Werk wat vanuit verkeerde motiewe gedoen word, kan God tog ombuig om te sorg dat sy Naam geheilig word.

Mense maak dikwels misbruik van goeie dinge.

Mense produseer soms iets wat kwaad en sondig is, met goeie middele.

Dink aan dinge soos televisie en internet, wat op sig goeie instrumente is.

Maar dit word helaas ook vir baie sondige dinge misbruik.

Maar God kan dus selfs die kwaad ombuig, sodat sy Naam uiteindelik geheilig word.

Nie dat dit vir mense ‘n verskoning mag wees om meer te begin sondig nie.

 

Ja in die kerk, onder God se vaste werknemers, gebeur daar ook soms erge en sondige dinge.

Hulle sleep sy heilige Naam ook soms deur die modder.

Dit beteken ‘n terugslag vir God se bouprojek.

Ook onder sy kinders in die kerk, is daar soms sprake van korrupsie, en gebrek aan samewerking.

Ook onder sy kinders in die kerk loop huwelike soms op die rotse.

Of deserteer sommiges en loop weg van sy bouprojek af.

Hierdie tipe dinge hou ons as kerkmense nederig.

Uit onsself is ons, die vaste arbeiders, niks beter as die ander mense buite die kerk nie.

Maar dan is dit ‘n troos om te weet dat die heiligheid van God se Naam nie van ons afhang nie.

God sorg self daarvoor.

Ook as ons sy Naam deur die modder gesleep het, mag ons tog na Hom terugkom.

Mag ons vra of Hy die brokstukke wil opruim.

Of Hy die smaad wat op ons, sy gemeente rus, wil wegneem.

 

En dit kan Hy!

Die mooiste voorbeeld daarvan is miskien die voorbeeld van Serubbabel, net na die ballingskap, toe die nuwe tempel in gebruik geneem is.

Die ou mense wat daarby was, kon nog onthou hoeveel skade God se Naam gely het, toe die eerste tempel verwoes is.

Maar nou het hulle gehuil van blydskap.

Die jong mense het nie meer geweet van die smaad uit die verlede nie.

Hulle het nog harder geroep van vreugde.

 

Om God se Naam te heilig, dit beteken dat ons in die eerste plek oog kry vir sy uitsonderlike werkwyse op aarde.

As ons God aan die werk sien, gee dit vir ons krag.

Sodat ons ons ons lewe vervolgens wy aan die groei van sy ekonomie.

Wat ‘n voorreg dat God juis onbelangrike mense gebruik.

Dikwels mense wat nouliks saamtel in die land se ekonomie.

Ook mense wat in die verlede groot foute gemaak het en die sig op God kwytgeraak het.

Hulle kry ‘n nuwe kans.

Net soos koning Josafat.

So mag ons as gemeente, as sy vaste arbeiders, groei om steeds meer en meer te verwag van die heilige Naam van ons God.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 138:1,3

Gebed

Skriflesing: 2 Kronieke 20:1-30

Ps 136:1,3,4,5

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 47

Preek

Ps 150:1,3

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Sb 37:2,3

Kollekte

Ps 138:2,4

Seën