Die brandoffer is simbool vir die algehele toewyding aan die HERE

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2019-03-03
Text: 
Levitikus 1
Preek Inhoud: 

As ons in gedagte teruggaan na die tyd van die Ou Testament, die tyd toe daar in Jerusalem offers gebring is, en mens sou te voet, soos die meeste mense toe, Jerusalem nader, sou mens ongetwyfeld ‘n rookwolk bo die berg waarop Jerusalem gebou is, sien hang.  Of dit ‘n sabbat was of ‘n gewone dag, elke dag het daar ‘n rookwolk bo die tempel gehang.  Mens moet dan dink aan ‘n wolk wat in die lug hang wanneer daar byvoorbeeld êrens ‘n veldbrand is, of wanneer ‘n huis afbrand.  ‘n Egte rookwolk.  Destyds was dit die gevolg van al die tientalle diere wat elke dag op die brandofferaltaar by die tempel geoffer is.  Nadat die offerdier geslag is, het die bloed uitgeloop, en daarna is die vleis op die altaar verbrand.

Nou handel die eerste hoofstukke van Levitikus oor die offers.  As mens byvoorbeeld na die opskrifte bo hoofstuk 1 tot 7 kyk, sal jy sien dat daar verskillende soorte offers was.  Die boek Levitikus staan vol aanwysings oor die erediens, soos dit by die tabernakel en later die tempel uitgevoer moes word.  Die boek Exodus eindig met hoe die tabernakel gebou is, hoe Moses dit opgerig het.  En Levitikus gaan dan verder deur te openbaar wat daar nou moes gebeur.  Hierdie erediens kan mens eintlik met een woord saamvat, naamlik bloed.  Dag in dag uit, week in week uit, jaar in jaar uit, moes daar bloed vloei.  By die meeste offers wat in Levitikus 1-7 beskryf word, moes daar bloed vloei.

Voordat ons nou verder fokus op die brandoffer, wat in hoofstuk 1 beskryf word, kom ons kyk eers na die tyd.  Die volk Israel was op hierdie oomblik bevry uit Egipte, wonderbaarlik deur die Rooisee gelei, en na drie maande het hulle by die berg Horeb aangekom.  Daar het hulle die tien gebooie ontvang.

Ook het die HERE aan Moses openbaar hoe die tabernakel moes lyk.  Terwyl Israel daar aan die voet van die Horeb gekamp het, het hulle toe die tabernakel gebou.  Toe dit voltooi was, kon hulle hulle tog rigting Kanaän weer voortsit.  In hierdie bouperiode het God toe ook aan Moses openbaar hoe die erediens by die tabernakel moes werk.  Dit vind ons in die boek Levitikus.

En die rooi draad wat deur hierdie boek loop, is eintlik bloed.  Dit begin direk al met die brandoffer in hoofstuk 1.

Waarom word die brandoffer eerste behandel?  Die rede is dat hierdie offer eintlik die basis was vir alle verdere offers.  Letterlik selfs.

Die brandoffer was die eerste offer wat elke oggend gebring moes word.

Die vuur van die brandoffer het al die verdere offers aangesteek.  Kenmerkend van die brandoffer was dat die offerdier in sy geheel verbrand moes word.

Met uitsondering van die vel.  Die dier se vel is eers afgetrek en dit was die vergoeding vir die priester wat die werk gedoen het.  Die res is verbrand, die goeie vleis, en selfs die vet, wat destyds as die beste deel van die dier beskou is.  In Levitikus 1 vind ons basies dieselfde voorskrifte wat drie keer herhaal word.  Die eerste keer in geval van ‘n bees, die tweede keer in geval van ‘n stuk kleinvee, en derdens in geval van ‘n voël.  Na gelang van die welvaart van die persoon wat kom offer het, het hy dus òf ‘n bees, òf ‘n stuk kleinvee, òf ‘n voël gebring.

Nadat die dier geslag en die vel afgetrek is, moes die priester eers die dier se bloed sprinkel teen die kant van die brandofferaltaar.  Vervolgens moes die dier in stukke gesny word, sodat dit makliker kon brand.  Al die stukke is een vir een op die hout gelê, wat deur die priester al aan die brand gesteek is.

Die kop, die ingewandes, nadat dit eers gewas is, en die vet.  Ten slotte ook die pote.  Ook die pote moes eers gewas word.  So is die hele dier verbrand, en het die geur van die vleis opgestyg na die hemel.

Nou soos u weet het nie net die Israeliete geoffer nie.  Dit was iets wat algemeen voorgekom het in daardie tyd, ook by die omliggende volke.  Wat egter by die brandoffer opval, is dat dit heeltemal verbrand moes word.  Die woord vir brandoffer in Hebreeus kan oor vertaal word met ‘totaal-offer’.  Die verwys na die feit dat die dier in sy totaal, heeltemal, verbrand is.  En dit was uitsonderlik!  Want wat normaal was onder die heidenvolke, is dat slegs daardie dele van die dier wat minder geskik was vir menslike gebruik, verbrand is.  Die vleis en vet het egter oorgebly vir die priester en die persoon wat geoffer het.  Wanneer iemand dus ‘n offer aan sy god kom bring het, was daar eintlik dus nie so ‘n groot verskil met wanneer hy die dier gewoon tuis sou geslag het nie.  Al die bruikbare dele het steeds vir hom oorgebly, met uitsondering van dit wat hy aan die priester moes afstaan.  Hierdie is ‘n opvallende teenstelling tussen ‘n gewone offer in daardie tyd, en die brandoffer wat die HERE voorgeskryf het.  Die hele dier moes in rook opgaan.

Die hele dier moes aan Hom geoffer word.  Die priester het betaling vir sy werksaamhede gekry – die vel – maar die bedoeling was nie dat hy ryk moes word nie.  Soos daar in vers 9 staan: “die priester moet dit alles op die altaar aan die brand steek as brandoffer, ‘n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE.”

Hier sien ons dus ‘n teenstelling, ‘n antitese, in die offerdiens.  In wese die verskil tussen gelowig en ongelowig.  Die verskil tussen iemand wat homself van God afhanklik gevoel het, en iemand wat net vir homself geleef het.

Dit is nie toevallig dat God juis hierdie instruksies vir die brandoffer in Levitikus 1 gegee het nie.  Uit die nakom van hierdie instruksies het naamlik duidelik geword of iemand besef dat hy van God afhanklik was of nie.  En wie nie hierdie instruksies nagekom het nie, wie op sy eie manier soos die res van die wêreld geoffer het, het God op ‘n eiewillige manier gedien, en het daarmee die tweede gebod oortree.  Dink as voorbeeld aan die seuns van die priester Eli.  Oor hulle, Hofni en Pinehas, sê die Skrif in 1 Samuel 2:

“hulle het die HERE nie erken nie” (vers 12).

“Selfs voordat hulle die vet aan die brand steek, kom die dienaar van die priester en sê aan die man wat offer: Gee vleis om vir die priester te braai ...” (vers 15)

“As die man vir hom sê: Laat hulle net eers die vet aan die brand steek, neem dan vir jou soos jou siel begeer – dan sê hy: Nee, maar jy moet dit nou gee; en so nie, dan neem ek dit met geweld.” (vers 16)

Eli se seuns het afgewyk van die offerwetgewing in Levitikus.  Hulle het verwêreldlik, begin offer soos die heidene om hulle heen.  Hulle was afvallig van die HERE en sy wil.  Hulle was as priesters net op hulle eie voordeel uit, net soos hulle kollega-priesters onder die heidene.

In Levitikus 1 was dit dus kenmerkend vir die brandoffer dat dit heeltemal verbrand moes word.  Dit het te make met die betekenis van hierdie offer.

Om dit vir ‘n oomblik te vergelyk met die ander offers.  In Levitikus 3 lees ons byvoorbeeld oor die dankoffer, en in hoofstuk 4 oor die sondoffer.  Die rede waarom daardie offers gebring moes word, was geleë in ‘n spesifieke gebeurtenis.  ‘n Spesifieke sonde byvoorbeeld waarvoor vergewing gevra is, of ‘n spesifieke gebeurtenis, waarvoor iemand sy dankbaarheid wou wys.  Maar by die brandoffer is daar nie sprake van so ‘n spesifieke geberutenis of omstandigheid nie.  Brandoffers is dag in dag uit gebrand, in die oggend en die aand.  Normaalweg is die altaar in die oggend skoongemaak, al die as van die vorige dag verwyder, waarna die brandoffer die altaar vir die nuwe dag aangesteek het.  Daar bo-op is verder deur die loop van die dag al die ander offers gebring.

As ons nou na die betekenis van die brandoffer kyk, kan mens dit eintlik met die eerste gebod vergelyk.  “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.”  Met hierdie gebod eis die HERE ons hele lewe vir Hom op.  Hy is die enigste God wat daar bestaan.  Hy het ons bevry uit die slawerny van die sonde.

By Hom is ons veilig en geborge.  So het God, simbolies uitgedruk met die brandoffer, aan die begin en einde van elke dag, die hele lewe vir Homself opgeëis.  God het reg op, soos daar in Deuteronomium 6 staan, ons hele hart.

Hy verdra nie ‘n verdeelde hart by sy volk nie.  Vandaar dat die brandoffer as geheel verbrand moes word.  Daarmee is bely: Neem my lewe, laat dit HERE, aan u toegewy wees, meer en meer.  ‘n Dier is plaasvervangend op die altaar gelê.  Daardie dier is heeltemal verbrand, plaasvervangend.  Neem my lewe, laat dit HERE, aan u gewys wees!

Soos ek genoem het, is daar geweldig baie brandoffers gebring.  Elke dag, soggens en saans, dikwels ook nog deur die dag.  Die brandoffer was ‘n toewydingsoffer.  Daarmee het die volk die HERE geloof.  Met die daaglikse brandoffer het die priesters elke oggend opnuut heel die lewe van die volk aan die HERE toegewy.  Dit is as ‘n lofoffer aan die HERE opgedra.  Soos die tema sê: Die brandoffer was simbool vir die algehele toewyding van jou lewe aan die HERE.

Met hierdie offer, die eerste wat in Levitikus beskryf word, het die HERE die hele lewe van sy volk opgeëis.  ‘n Onverdeelde hart.  Die boek Levitikus is wat dit betref ingebed in die res van die Pentateug se kernboodskap.  Naamlik dat God ‘n verbond met sy volk sluit, en dat dit genade is om daarby te mag hoort.

En dat die HERE nou ook sy kinders voorhou:

“Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE. Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.” (Deut 6:4-5)

Jou hele lewe vir die HERE.  Nie soos Hofni en Pinehas geleef het nie.

Nee, volledige toewyding aan die HERE.  Nie soos die Jode in Jesus se dae geleef het nie, oor wie Jesus self sê:

“Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.” (Matth 15:8)

Volledige toewyding.

Vandat jy opstaan in die oggend totdat jy weer gaan slaap.  God het jou gekoop, deur die kosbare bloed van sy geliefde Seun.  Jy mag by Hom hoort.

Dit is genade.  Jy mag daarom ‘n sinvolle lewe lei met perspektief.  Jy mag uitsien na die herstel van alle dinge, die herskepping van hierdie aarde.  Jou lewe is deel van daardie groot planne van God.  Wat ‘n voorreg!

Ja sedert Christus se koms na die aarde, sedert sy offer op Golgota, hang daar nie meer ‘n rookwolk bo die tempel in Jersualem nie.  Vanaf die uitstorting van die Heilige Gees woon God nie meer in die tempelgebou nie.  Nou is elke gelowige ‘n tempel van die Heilige Gees!  En as dit goed is, hang daar nou ‘n rookwolk bo jou lewe!  Dan bedoel ek nie letterlik ‘n rookwolk nie.

Destyds was die rookwolk die gevolg van die brandoffer, die dier wat in sy geheel verbrand is.  Maar wat ek bedoel met die rookwolk bo jou lewe, is jou gebed.  Want in die Skrif word die gebed van ‘n gelowige dikwels vergelyk met ‘n offer.  ‘n Offer waarvan die rook ook opstyg tot God in die hemel.  Die brandoffer, soos die tema sê, was simbool vir die algehele toewyding van jou lewe aan die HERE.  Vandag bring ons nie meer letterlike brandoffers nie.

Danksy Christus se eenmalige en unieke offer.  Maar jou gebed, jou daaglikse gebed, as jy soggens uit die bed kom, en as jy saans weer gaan slaap, en ook deur die dag of verskeie momente, dit is jou brandoffers.  Jou daaglikse gebed, dit getuig van die algehele toewyding van jou lewe aan die HERE.  Bo die lewe van ‘n gelowige hang permanent die heerlike geur van daaglikse gebed tot God.  Dit is ons gebedsoffer, ‘n lieflike reuk vir die HERE.

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 20:1,3

Wet

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

1e tafel: Skriflesing: Levitikus 1; Ps 142:1,2

2e tafel: Skriflesing: 1 Samuel 2:12-17; Ps 142:3,4

3e tafel: Lofverheffing; Ps 116:8

Dankgebed

Teks: Levitikus 1

Preek

Ps 50:4,5,11

Gebed

Kollekte

Ps 116:9,10

Seën