Die HERE verwek ‘n roede en ‘n rigter vir sy volk

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2018-09-23
Text: 
Rigters 3:5-11
Preek Inhoud: 

Preek: Rigters 3:5-11

Ons vervolg vandag met die serie uit die boek Rigters. Al is Rigters in baie opsigte ‘n donker boek, daar straal wel ‘n helder boodskap uit. ‘n Boodskap van uitredding en bevryding. ‘n Boodskap wat veral skitter teen die donker skaduwees van die verval waarin God se volk gekom het.

Tema: Die HERE verwek ‘n roede en ‘n rigter vir sy volk

  • Die HERE laat sy volk die bitter vrugte van afval proe
  • Die HERE laat sy volk die soet vrugte van rus en vrede proe
  • Die HERE laat sy volk die bitter vrugte van afval proe

    In ons teks kom ons in ‘n periode waarin die laaste van Josua se geslag uiteindelik gesterf het. Josua se dood, en die van sy tydgenote, was ‘n grens in die tyd. Aanvanklik was die herinnering aan hulle nog lewendig. Maar soos die tyd aangegaan het, het dit al hoe vaer geword. Die nuwe generasie moes nou self ‘n weg vind in die lewe. In ‘n veranderende wêreld was herinneringe nie genoeg nie. Op die kompas van hulle eie beginsels moes hulle nou vaar. Die nuwe generasie moes leer verstaan dat, hoewel Josua nou dood was, die God wat Josua gedien het, nog steeds daar was. En dat sy beloftes ook vir hulle gegeld het, en sy opdragte ook vir hulle gegeld het.

    ‘n Mens se geheue is bedrieglik en vlietend. As dit nie konstant versterk word deur nuwe onderrig nie, word dit vaag. Te vaag om op sig ‘n anker te wees in ‘n nuwe tyd. En as dit begin, dan begin dinge te verskuif. Dit is wat gebeur het met die Israeliete, nadat Josua en sy generasie weggeval het.

    Daarom het die HERE so duidelik beveel dat die nuwe geslag onderrig moes ontvang. Eerstens was dit die taak van die ouers.

    “hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.” (Deut 6:6-7)

    Tweedens was dit die taak van die leiers van die volk, spesifiek die Leviete.

    “as die hele Israel kom om te verskyn voor die aangesig van die HERE - moet jy hierdie wet voor die hele Israel, voor hulle ore lees  -En hulle kinders wat dit nie ken nie, moet hoor en leer om die HERE julle God te vrees al die dae wat julle lewe in die land” (Deut 31:11-13)

    So die feit dat die geheue vaag geraak het, en die nuwe generasie al hoe minder geweet het van Josua en sy tydgenote, meer spesifiek, van God se wonderdade uit die verlede, dit was nie ‘n verontskuldiging nie. Dit was spesifiek verslapping van die kant van die ouers en die Leviete, wat die onderrig nagelaat het. Die verbondsbelofte, om hulle kinders te onderrig en te laat onderrig, is nie nagekom nie. En so kon dit gebeur dat vir die nuwe geslag God se wonderdade nie meer ‘n lewendige realiteit was nie. Die HERE, die God van hulle voorvaders, Abraham, Isak, Jakob, Moses, en Josua, het hulle nie meer as groot en invloedryk ervaar nie. Eerder die Baäls en Astarte, die afgode in die nuwe land waarin hulle gewoon het. Die woord “heilige boomstamme” in vers 7 kan ook met Asjera’s of Astartes vertaal word. Astarte was die vroulike godin van Kanaän.

    Gemeente, verslapping is ‘n keuse. Afval is om ‘n beginsel agter jou te laat, waarin jy voorheen wel geglo het. Om afvallig te word is nie iets wat ‘n mens oorkom nie. Dit is ‘n bewuste koerswysiging.

    Nadat die Josua-generasie begrawe is, het die Israeliete begin doen wat verkeerd was in die oë van die HERE. Dit is ‘n refrein wat ons telkemale in Rigters vind (3:5-7; 3:12; 4:1; 6:1; 10:6; 13:1). Nou het die volk dit self nie verkeerd genoem nie. Wat verkeerd in die HERE se oë was, kon hulle self regpraat. Hulle het gewys op die omstandighede. Pleks van om die Kanaäniete met die banvloek te tref, veral hulle plekke van afgodsdiens, het hulle die pad van akkomodasie gekies. En so het waar geword wat die Engel van die HERE voor gewaarsku het, dat die Kanaäniete se gode vir hulle ‘n strik sou word (Rigt 2:3). Nou waarom het die Israeliete hierdie pad gekies? Waarom het die diens aan die Baäls en Astartes vir hulle aantreklik geword? Die Israeliete was naamlik landbouers saam met die heidene in die land Kanaän. Die Kanaäniete was al generasies lank in hierdie land, en het sy weersomstandighede geken.

    Die veranderlike seisoene, die herfs- en lentereëns, maar ook die bloedig warm en droë somers. Hulle het geweet wat om te plant, en waar en wanneer. En as hulle goeie oeste gekry het, het hulle dit toegeskryf aan hulle gode. Gode wat die natuurkragte gesimboliseer het. Daarenteen het die Israeliete nog nie landbouervaring gehad nie. Hulle voorouers was slawe in Egipte. In die woestyn is hulle met manna gevoed. Maar toe hulle in die beloofde land aankom, het die manna opgehou (Jos 5:12). Nou moes hulle boer. Hulle het aangepas by die lokale kultuur. Daarby het ook die Baäl en Astartediens gehoort. Vir die Israeliete was dit dus eintlik ‘n logiese ontwikkeling.

    Maar die HERE het anders daarna gekyk. In terme van die verbond wat Hy met sy volk gesluit het, was dit owerspel. Daarom dat die toorn van die HERE teen hulle ontvlam het. Ons moenie te lig dink oor sy toorn nie. Dan maak ons dieselfde fout as wat die Israeliete toe gemaak het. Ons kan eers die erns van sy toorn besef, as ons ook besef dat Israel se afval regtig erg was. Dit was nie net ‘n onskuldige aanpassing om by die tyd te bly nie. Dit moet vergelyk word met die pynlike en verskeurende gevolge van owerspel. Miskien dat net mense wat self die slagoffer van owerspel was, regtig bietjie kan verstaan dat God se toorn tereg was. Ook moet ons onthou dat God se toorn nie onvoorspelbaar was nie. Die HERE het dit alles reeds in die verlede in detail uitgestippel. “As julle die HERE verlaat en vreemde gode dien, sal Hy julle weer kwaad aandoen en julle vernietig, nadat Hy aan julle goed gedoen het.” (Jos 24:20) God laat sien dat Hy betroubaar is. Sy beloftes kom uit, maar ook sy waarskuwings kom uit.

    En, leer ons, God se toorn het pynlike gevolge vir wie dit tref. Vir Israel het dit ingehou dat hulle geplunder is, gewond en verkoop  (Rigt 2:14). Kortom, dit is verskriklik erg as God kwaad vir jou is. En in die Nuwe Testament word ons met net sulke ernstige woorde as in die Ou Testament gewaarsku teen die gevolge wat afval meebring. In sy toorn oor ongeregtigheid gee God mense oor aan hulle eie begeerlikhede en onreinheid. (Rom 1:24) En die uiteindelike gevolg is dat hulle as straf ‘n ewige verderf sal ondergaan, weg van die aangesig van die Here en sy heerlikheid (2 Thess 1:9). Dis nie om dowe neute nie dat Jesus sy dissipels waarsku om veral Hom te vrees wat sowel die siel as die liggaam in die hel kan verderwe (Matt 10:28). Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God (Hebr 10:31).

    Die Israeliete wat die HERE, die God van hulle vaders verlaat het (Rigt 2:12), het met vuur gespeel. En die groot benoudheid (Rigt 2:15) waarin hulle tereg gekom het, was nie hel nie, maar wel ‘n voorsmakie daarvan. Verslapping en afval is nie kleinighed nie. Dit roep God se regverdige toorn op, en die gevolge is eg en intens. Dit is nie net ‘n skynstraf nie. So is die belofte van die beloofde land uitgestel. Die afvallig generasie het nie die volledige besit van die land geniet nie. Die HERE het die heidenvolke nie langer voor hulle uit verdryf nie.

    Tog straf God sy volk in Rigters nie uit vergelding nie. Hy kanseleer nie sy belofte nie, Hy onteien nie sy volk nie. In die sin is dit ‘n genadige toorn. Die HERE God doseer sy toorn. Eintlik is dit nie God se oordeel wat die volk tref nie, maar sy tugtiging. Die tug is naamlik vol liefde. Die tug word bedien met die bedoeling om iemand terug te trek. Terug tot God en sy diens.

    Die boek Rigters openbaar aan ons die dramatiese verhouding tussen die HERE en sy volk tydens die eerste eeue in die beloofde land. Hulle het trou aan mekaar beloof. Maar soos die tyd aangestap het, het hulle verhouding al hoe meer in die probleme gekom. En wat veral in Rigters na vore kom, is die HERE se volgehoue genade. Elke keer sondig Israel weer. Dit maak God kwaad. Hy laat sy volk vervolgens baie swaar kry. Maar tog bly die basishouding van God teenoor sy volk: genade. Telkens verwek Hy rigters oftewel regters, maar nie om hulle te veroordeel nie, maar veral om hulle te red. Verbasend hoe die HERE se genade is. Want hierdie genade is God se antwoord op die mees skaamtelose verraad van die volk se kant. Hulle het die HERE afgeskryf as die God van gister, wat hulle vaders vereer het, maar wat vir hulle nie meer relevant was nie. En wat doen die HERE? Hy verwek ‘n rigter om hulle te red en na Hom terug te bring. Wat ‘n genade!

    Wat ook verbasend is, is dat die genade nie God se reaksie op die volk se berou is nie. Meestal het die volk in die Rigtertyd nie berou gehad nie, of hoogstens net baie oppervlakkig. Maar God se genade is primêr omdat Hy hulle jammer gekry het. As Hy hulle benoudhede waarin hulle verseild geraak het, gesien het, kon Hy dit nie oor sy hart kry om hulle toestand te ignoreer nie. ‘n Egte Vader is Hy. En wat ook verbasend is, is dat sy genade net nie end kry nie. Weer en weer en weer verwek Hy rigters. Elke keer weer het Hy die ekstra myl met sy volk gestap.

    In die Rigterboek sien mens ‘n siklus: Israel verval in afgodediens, Israel raak verstrik, Israel verval tot slawe, Israel roep uit na die HERE, die HERE verwek ‘n rigter, die rigter verlos Israel, daarna dien hulle ‘n rukkie die Here, voordat hulle maar net weer in afgodediens verval. Maar, as mens goed na die Rigterboek kyk, is dit nie net ‘n oor en oor herhalende siklus nie. Dit is ook ‘n neergaande spiraal. Want by elke siklus verval Israel wel dieper in wêreldgelykvormigheid en afgodery.

    Een van die mees fatale dinge wat Israel gedoen het, wat hulle baie vinnig in afgodsdiens laat wegsink het, was om met die Kanaäniete te begin trou. Dit het veroorsaak dat hulle baie vinnig gelykvormig aan die wêreld begin raak het (Rom 12:2). Dit het die koers vergoed verlê van inbesitname na assimilasie.

    Hierdie ondertrouery was ‘n probleem wat Israel reg deur die Rigtertyd heen afgetrek het. Die eerste rigter, Otniël, het nog met iemand getrou wat die HERE gedien het: Agsa, dogter van Kaleb. Maar die laaste rigter, Simson, het ‘n Filistynse meisie getrou. ‘n Afwaartse spiraal. En net vir die duidelikheid, dit was nie ‘n rasiale aangeleentheid nie. Ragab het haar afgodediens agter haar gelaat, en die HERE begin dien saam met Israel. Dieselfde geld vir Rut, die Moabitiese, wat onder die HERE se vlerke kom skuil het. Die probleem was dus nie ras nie, maar verbondsafval. Die Israeliete het huweliksverbonde gesluit met vroue wat die gode van Kanaän gedien het. Die maklikste manier om te verwêreldlik, is om te trou met iemand wat reeds wêrelds is.

    “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie” (2 Kor 6:14).

    Die Israeliete het desperaat geword en gekies om hulle beginsels prys te gee.

    Hulle het te min op die HERE vertrou, dat Hy sou voorsien. Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid (Matt 6:33). Die huwelik met iemand wat die wêreld liefhet, is ‘n daad van bewuste ongehoorsaamheid. En die boek Rigters laat sien watter verwoestende effek dit op God se volk gehad het.

    Die Rigterboek bevat ‘n hele lys met rigters, leiers van die volk. Tog is dit nie ‘n opgaande lyn nie, maar eerder ‘n neerwaartse spiraal. Toenemend faal hulle om aan die verwagtinge te voldoen.

    (Tema: Die HERE verwek ‘n roede en ‘n rigter vir sy volk

  • Die HERE laat sy volk die bitter vrugte van afval proe)
  • Die HERE laat sy volk die soet vrugte van rus en vrede proe

    In sekere sin was Otniël ‘n modelleier. Otniël was ‘n instrument in die HERE se hand om sy volk te bevry van Kusan Risataim. Hy was koning van Mesopotamia, of, Aram. Dis nie heeltemal duidelik waar hierdie koning geregeer het nie. Was dit in die bekende Mesopotamië, by die riviere die Eurfraat en Tigris? Of was dit in Aram, by die twee riviere die Abana en Parpar? Sy afkoms is nie heeltemal duidelik nie. Duidelik is wel dat hy ‘n werktuig in God se hand was, om sy volk te tugtig. Die woord Risataim beteken: dubbel sleg. Dis waarskynlik ‘n bynaam wat hy gekry het van diegene wat deur hom onderdruk is. Hy is uitgekryt as ‘n aartsdeugniet, ‘n dubbel wrede tiran. Maar hierdie tiran word nou deur God ingespan. Israel moes aan hom belasting betaal, belasting wat moontlik nie net uit geld bestaan het nie, maar ook uit mense, kinders. Tog kry Kusan Risataim nie vrye teuels nie. Die HERE verkoop sy volk aan hom, maar nie vir altyd nie. Die HERE doseer die straf.

    Die volk het naamlik in hulle nood tot die HERE geskreeu. Of dit opregte berou was, of maar net ‘n roep uit pyn en desperaatheid, is nie duidelik uit die teks nie. Wat wel hoopgewend is, is dat die volk tot God roep. Hulle het skynbaar tog besef dat dit nie nou sou help om tot die afgode te roep nie. En toe was die HERE vinnig om te help. Hy verwek Otniël om die volk uit Kusan Risaitaim se agt jaar lange skrikbewind te bevry. Daar is hoop vir mense wat tot die lewende God roep.

    Soos genoem, Otniël was soort van ‘n model leier. Ons weet uit Rigters 1 dat hy getroud was met Kaleb se dogter. Dit sê veel, juis omdat ons in Rigters lees dat die ondertrouery met die Kanaäniete so ‘n probleem geword het. Maar Otniël dus nie. Verder was Otniël uit die stam Juda, die stam wat deur die HERE aangewys is om die leiding te neem. Otniël was ‘n man van karakter en waagmoed. In Rigters 1 het hy Debir ingeneem. Hier in hoofstuk 3 groei hy uit tot ‘n nasionale held. Die Gees van die HERE was op hom. Hy het die hele Israel gerig en voor hulle uitgetrek.

    Dis eintlik verbasend dat daar maar weinig in Kinderbybels oor Otniël geskryf word. Verbasend dat ouers nie die neiging het om hulle kinders na Otniël te vernoem nie. As daar een rigter was wat onbesproke uit die Rigterboek te voorskyn kom, was dit hy. Maar uiteindelik is dit nie die doel van die Rigterboek om die rigters vir ons as voorbeelde ten toon te stel nie. As dit die doel was, moes ons baie meer oor Otniël gelees het, en baie minder oor byvoorbeeld Simson. Nou het Simson egter die meeste hoofstukke wat aan hom aandag skenk. So het die Heilige Gees die Rigterskrywer gelei, sodat die boek die oë sou oopmaak vir die noodsaak van ‘n Godvresende koning, ‘n rigter wat ‘n redder is sonder die blaam en skandvlekke van sy eie sondige lewe. Dit het die volk laat verlang na die Messias wat deur God belowe is. Die Christus, wat sy volk sou red, nie net uit die hande van die Kanaäniete nie, maar ook uit die slawerny van die sonde.

    Van die sogenaamde ses groot Rigters word daar die minste oor Otniël geskryf. So gaan die roem in ons teks nie na Otniël nie. Maar die dank is aan die HERE, wat Otniël as ‘n verlosser verwek het (vers 9), en wat sy Gees op hom gelê het. Dit is Hy wat Kusan Risataim in Otniël se hand gegee het. Die boek Rigters is ‘n boek van verlossers, maar agter hulle staan die Een wat hulle bemagtig. Dit is die HERE van die leërskare. Die redding behoort aan die HERE!

    Ons teks sluit af deur die vrugte van die verlossing te beskryf. Die land het rus gekry vir veertig jaar lank (vers 11). Hierdie rus was ‘n geskenk van die HERE aan sy volk, nie hulle eie prestasie nie. Die HERE het Kusan Risataim in Otniël se hand gegee. Verder kon hulle danksy hierdie geskenk nou uiteindlik iets begin geniet van wat God belowe het. Die woestyngenerasie het uitgemis op die beloofde rus, vanweë hulle ongeloof en gebrek aan vertroue (Ps 95:8-11).

    Die Josua generasie het iets begin geniet van die beloofde rus, maar as gevolg van verslapping het dit vir die generasie wat daarop gevolg het weer deur die vingers geglip. Die belofte het egter bly staan: Die geskenk van rus sal geniet word deur hulle wat trou en gehoorsaam is. God vervul sy belofte rojaal. Die veertig jaar rus was vyf keer langer as die agt jare van verdrukking. Otniël se generasie het iets geproe van wat ons in Psalm 30 sing:

    “Al laat Hy ons ‘n oomblik bewe, sy goedheid duur ons ganse lewe.” (Ps 30:3)

    Die rus het die kans gebied dat die landbou weer hervat kon word, gemeenskappe kon weer begin oplewe. Die rus was nie net die afwesigheid van oorlog nie, deur die vrede, in Hebreeus ‘shalom’, kon die gemeenskap in al sy fasette opbloei. So is uiteindelik die boek Rigters meer ‘n boek van uitredding as van oordeel. Meer ‘n boek waarin God se genade skitter.  

    Om saam te vat, die geskiedenis van Otniël skets vir ons die begin van die Rigtertyd. Hy was nie net die eerse rigter nie, hy was ook die modelrigter. Deur sy rigterskap het God bevryding gegee van onderdrukking, redding, rus en vrede.

    Na Otniël het die spiraal stadig maar seker afwaarts begin gaan. Die beperkinge van die rigterskap het steeds duideliker geword. Die rigtertyd was ‘n fase in die heilsgeskiedenis. Dit het nie blywende rus gebring nie. Daarna het die fase van die konings gekom. Maar selfs hierdie fase het geen blywende rus vir God se kinders gebring nie. Eers met die koms van die beloofde Messias, Jesus Christus, is die prys betaal en die waarborg gelewer, wat nodig was om die blywende rus te verdien. En ook al ervaar ons nog steeds nie die blywende rus nie, ons besit dit al wel in Christus as ‘n onderpand. Ons weet dat dit sal kom, so seker as wat Jesus uit die dood opgestaan het. God het in Hom ‘n Rigter, ‘n Redder verwek, wat die Satan verslaan het, wat ‘n bevryding gebring het wat geen menslike rigter ooit sou kon doen nie. So sien ons nou uit na die ewige sabbatsrus vir die volk van God (soos dit in Hebr 4:9 staan), wat gewis en seker op koms is.

    Amen.

     

     

     

     

     

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 108:1

Wet

Ps 6:1,2

Gebed

Skriflesing: Rigters 2:6-3:4

Ps 115:2-6

Teks: Rigters 3:5-11

Preek

Ps 30:1-4

Gebed

Kollekte

Ps 30:5,6,8

Seën