Die HERE bewaar sy kinders in tye van verslapping

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2018-08-19
Text: 
Rigters 1:1-20
Preek Inhoud: 

Preek: Rigters 1:1-20

Ek het ‘n paar weke gelede begin met ‘n serie oor die Rigterboek. Daar kom ‘n helder boodskap tot ons uit die somber Rigtertyd. Dit was ‘n tyd toe daar geen koning in Israel was nie, en elkeen maar gedoen het wat reg was in sy oë. Na ‘n tyd van sterk leiers, Moses en Josua, laat die Rigtertyd ‘n gebrek aan leiers sien. Tog het die HERE sy volk deur hierdie tyd heengeloots. Die HERE bewaar ook sy kinders in tye van verslapping. Dit is die boodskap wat tot ons kom uit hierdie eerste hoofstuk. Ons fokus vandag op die eerste helfte van hierdie hoofstuk.

Tema: Die HERE bewaar sy kinders in tye van verslapping

Soos ek genoem het, die refrein van die Rigterboek is: In die dae was daar geen koning in Israel nie. Elkeen het gedoen wat reg was in sy oë. (Rigt 21:25)

Daar was ‘n gebrek aan samebindende leiding. Voor die Rigtertyd was daar sterk leiers. Daar was Moses, en na hom was daar Josua. Josua se nalatenskap word in hoofstuk 2:7 so beskryf: “En die volk het die HERE gedien al die dae van Josua en al die dae van die oudstes wat na Josua nog in die lewe was, en al die groot werke van die HERE gesien het wat Hy vir Israel gedoen het.”

Maar toe Josua sterf, het daar nie ‘n nuwe samebindende leier gekom nie. Daar was ‘n leierskapsvakuum, en die twaalf stamme het al hoe meer in ‘n krisis begin raak.

Die gedeelte wat ons teks vir vandag, gaan egter oor hierdie periode kort na Josua se dood. Die impak van sy leierskap was nog duidelik merkbaar. Daar was nog oudstes in lewe wat Josua persoonlik geken het (Jos 2:7). Josua se gepassioneere oproep aan die einde van sy lewe lees ons in Josua 24:

“Vrees dan nou die HERE en dien Hom in opregtheid en waarheid ... Maar as dit verkeerd is in julle oë om die HERE te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: of die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.” (Jos 24:14-15) Gehoorsaam aan hierdie oproep sien ons aan die begin van Rigters, hoofstuk 1:1, dat die volk na bo kyk. Na die dood van Josua het die kinders van Israel die HERE geraadpleeg. Hier staan nie eksplisiet hoe hulle dit gedoen het nie. Ons kan daarvan uitgaan dat dit deur die Urim en Tummim gebeur het. Uit Numeri 27 weet ons dat Josua, met sy aanstelling, die opdrag gekry het om die HERE te raadpleeg deur die Urim (Num 27:18-23).

Die vraag wat hulle besig gehou het, was: Wie moet eerste optrek teen die Kanaäniete? Die HERE se antwoord was dat Juda eerste moes optrek. Hierdie antwoord was vir die volk waarskynlik geen verrassing nie. Het stamvader Jakob nie al op sy sterfbed gesê: “Die septer sal van Juda nie wyk nie” (Gen 49:10).Juda was al voorbestem om die leiding te neem. En dit begin hier gestalte kry. Ook Otniël was van Juda (3:7-11). Hier, aan die begin van Rigters, begin iets wat sal uitloop op die leierskap van Dawid en Salomo, die tyd waarin die boek Rigters waarskynlik geskryf is. Hier begin iets wat bedoel was om uit te loop op uiteindelik Jesus, die groot Seun van Dawid, Israel se Messias, die Leeu uit die stam van Juda (Gen 49:9; Openb 5:5).

Rigters begin dus deur hierdie voorspoedige optrede van Juda te beskryf. En Simeon het op Juda se versoek saam met hom opgetrek. ‘n Bondgenootskap is gesluit. Dit het voor die hand gelê, want die gebied wat aan Simeon toegewys is, het binne in Juda se gebied geval (Jos 19:9). Hier, aan die begin van die boek Rigters, sien ons dat daar nog eenheid en lojaliteit tussen sommige stamme is. Later sou dit verander, later sou elke stam net aan sy eie belange dink, en wegsink in tribalisme. Maar hier sien ons nog samewerking, en die vrugte wat dit oplewer. Want die taak wat Josua hulle nagelaat het, was nie eenvoudig nie. Nie alle gebiede van Kanaän was ewe maklik om in besit te neem nie. Veral daardie dele waar groot bevolkingsgroepe in versterkte stede gewoon het. Een stam op homself sou moeilik in so ‘n operasie kon slaag. Dus, as Israel wou slaag, sou hulle moes saamwerk. En dit is wat ons in die eerste helfte van Rigters 1 sien gebeur. Veral die kleiner stamme, soos Benjamin, sou baie uit samewerking kon baat. Maar ook die groter stamme soos Juda. En die feit dat Juda, nadat hulle aangewys is om te begin, om eerste op te trek, die feit dat hulle die hulp inroep van die buurstam, Simeon, is op sig ‘n bewys van Josua se positiewe invloed wat nog steeds merkbaar was. En die HERE, wat sy seën beloof het, as die volk trou bly aan Hom, het sy seën ook daadwerklik gegee. In hoofstuk 1 kom die HERE se seën uit in twee gebeurtenisse wat in bietjie meer detail beskryf word. Eerstens ‘n miltêre oorwinning. En tweedens die huwelik van Otniël.

Eerstens dus die militêre oorwinning.

Die HERE het die Kanaäniete en Feresiete in hulle hand gegee, vers 4-5. Hierdie twee was waarskynlik nie twee onderskeie volke nie. Die Feresiete het verwys na die mense wat op die platteland gewoon het. En die Kanaäniete na hulle wat in versterkte stede gewoon het. Dit was ‘n enorme oorwinning. Tien duisend is by Besek verslaan, asook Adoni-Besek. Hoewel Josua al heelwat konings van die Kanaäniete verslaan het, het hierdie een dus nog oorgebly.

Adoni-Besek was nie sy eienaam nie, maar beteken: heer van die stad Besek. Hy was ‘n gedugte teenstander, want hy het self al sewentig konings verslaan.

Hierdie was sy eie woorde en waarskynlik bietjie oordrewe. In elk geval, hy was ‘n gedugte teenstander. En ook ongenaakbaar. Hy het naamlik die konings wat hy oorwin het, se duime en groottone laat afkap. ‘n Vernedering, want sonder groottone kon hulle nie meer ordentlik loop nie, en sonder duime kon hulle nie meer wapens hanteer nie. Hierdie was ‘n gewoonte wat meer in die oudtyd voorgekom het. Des te meer ‘n vernedering om hierdie mense die krummels onder sy tafel te laat eet.

Juda het nou sy eie duime en groottone afgekap, as straf op sy wrede gewoonte om dit met ander te doen. Was Juda se optrede geregverdig, dat hulle Adoni-Besek ook so behandel het? Die skrywer van Rigters gee nie ‘n beoordeling nie. Hy is subtiel in sy beskrywing. As ons egter die HERE se bevel naas hierdie gebeure lê, moet ons noem dat Juda se optrede nie in lyn daarmee was nie. Juda se opdrag was nie om die heidene te martel nie, maar om hulle met die dood te straf, met die banvloek te tref.

Adoni-Besek is toe saamgevat na Jerusalem, waar hy gesterwe het. Onthou net, op daardie stadium was Jerusalem nog nie in besit van Juda nie. Juda was dus nie verantwoordelik vir sy dood nie. Hy het daar onder heidene gesterf.

En eers in vers 8 lees ons dat Juda Jerusalem inneem, met die skerpte van die swaard verslaan en die stad aan die brand gesteek het. Maar ook hier moet iets bygevoeg word. In die oudtyd was daar altyd binne-in ‘n stad nog ‘n burg.

Ingeval ‘n stad aangeval is, het die mense in die burg, na die versterkte vesting gevlug. By die inname van Jerusalem het Juda egter nie ook die burg Sion ingeneem nie. Tussen hakies, Jerusalem het ook nie in die aan hulle toegewese gebied gelê nie, maar in die van Benjamin. En tussen Juda en Benjamin was daar op daardie stadium nie van samewerking sprake nie. In elk geval, die Jebusiete het die aanval oorleef en daarna hulle stad weer opgebou. Die burg Sion is eers eeue later deur Dawid ingeneem (sien 2 Sam 5:6).

Verder lees ons het Juda geveg teen die Kanaäniete in die bergagtige dele asook in die Laeveld – dis die gebied na die Weste nader aan die see. Onder andere Hebron is verslaan, vroeër genaamd Kirjat-Arba. En Debir, oftewel Kirjat-Sefer. Nou hierdie twee plekke, Hebron en Debir, is reeds deur Josua verower. Mens kan dit lees in Josua 14 en 15. Tog is hierdie gebied toe nog nie heeltemal skoongemaak nie, dit het eers nou gebeur. Kaleb was daarby betrokke. Hy het beloof dat wie hierdie dorp inneem, met sy dogter Agsa mog trou. En dit bring ons by die huwelik van Otniël. Otniël (hy moes vir Kaleb oom sê) het dit ingeneem. En hy word beloon vir sy dapperheid.

Hy het toe dus met sy niggie Agsa getrou, Kaleb se dogter. Soos u sal onthou, Kaleb was een van die verspieders wat Moses uitgestuur het om die land te verken. En net hy en Josua het op die HERE vertrou. Soos ons lees in Numeri 14:24, waar die HERE sê: “Maar my kneg Kaleb, omdat ‘n ander gees in hom was en hy volhard het om My te volg – hom sal Ek bring in die land”.

Duidelik was Kaleb se dogter uit dieselfde hout gesny as haar pa. Sy was nogal bydehand, en het ‘n trougeskenk van hom gevra. En toe blyk dat die trougeskenk, die stuk grond, in die droë Negev woestyn lê, het sy daarop aangedring dat Otniël van haar pa ook waterfonteine vra.

Kaleb kon nie nee sê vir sy dogter nie, en gee toe vir haar stukke grond waar waterfonteine op was, op die hoogte en in die laagte, sodat hulle die land ook kon natlei. Dis nie verkeerd om te vra nie, en Kaleb het hulle dit nie kwalik geneem nie. Inteendeel, Otniël en Agsa het karakter gehad, hulle wou hulle hande uit die moue steek, om van die woestyn ‘n vrugbare oase te maak.

Dan vind ons in vers 16 ‘n opmerking oor Moses se swaer se kinders, wat saam met Juda opgetrek het – die Keniete. Destyds het Moses hulle versoek om die Israeliete by te staan op hulle tog deur die woestyn (Num 10:29-34).

Hulle was egter nie baie hulpvaardig nie. Nou lyk dit egter of die verhouding verbeter het. Die Keniete, wat nomades was, het nou in Juda se nabyheid kom woon. Dit kan mens sien as ‘n pluimpie vir Juda. Hierdie nomades het stabiliteit gevind hier waar Juda die septer geswaai het.

Juda saam met Simeon het ook die Kanaäniete in Sefat verslaan en met die banvloek getref (vers 17). Die stad is ook Horma genoem. Horma is afgelei van die Hebreeuse woord vir banvloek. Mens sou dit ook kon vertaal met: die banstad. Daar was ‘n historiese rede hoekom hulle met die banvloek getref is.

Toe die koning van Arad die Israeliete op hulle tog na die beloofde land belemmer het, het Israel die gelofte afgelê dat hulle hierdie gebied met die banvloek sou tref (Num 21:1-3). Dit het toe ook gebeur, maar Sefat skynbaar toe nog nie, maar nou dus wel.

En dan laastens het Juda ‘n begin gemaak om die gebiede van die Filistyne in te neem: enkele Filistynse stede word genoem: Gasa, Askelon, Ekron. En so eindig die eerste deel van Rigters 1. Vers 19: Die HERE was met Juda, sodat hy die gebergte in besit geneem het. Maar die bewoners van die laagte kon hy nie verdrywe nie, want hulle het ysterwaens gehad.

Opvallend eintlik, ten spyte van alle suksesse wat Juda en Simeon behaal het, eindig die geskiedenis van hulle verowerings tog in die mineur. Juda het inderdaad groot krag getoon, maar tog nie tot die einde toe nie. Ten slotte het Juda naamlik teruggeskrik vir die yster strydwaens van sy teenstanders. Asof Josua die volk nie hierteen gewaarsku het nie. Sien Josua 17:18: “want jy moet die Kanaäniet verdrywe, al het hy ysterwaens, al is hy sterk.” En asof die HERE nie die leër van koning Jabin en sy bondgenote by Merom in Israel se hand gegee het nie, al het hulle strydwaens gehad! (Josua 11) Met dit in gedagte, tog teleurstellend, dat Juda nou ineens terugdeins vir die ysterwaens.

As ons onsself nou afvra: wat kan ons uit hierdie hoofstuk leer? Wat is die boodskap wat die skrywer vir ons wil gee uit hierdie geskiedenis? Dan is dit belangrik om te besef dat die skrywer van die Rigterboek baie subtiel is.

Behalwe vir sy refrein – elkeen het gedoen wat goed was in sy oë – vind mens nie werklik eksplisiete beoordelings of veroordelings in hierdie boek nie. Neem die bekende voorbeeld van die rigter Simson. Die skrywer beskryf die omstandighede van sy lewe, sy eintlik baie sondige lewe, sonder om eksplisiet te evalueer. Wel toon hy aan hoe die volk in hierdie moeilike tye bewaar en uitgered is. Hoe God met die rigters, wat krom stokke was, tog ‘n regte hou geslaan het.

Nou dieselfde subtiele benadering sien ons ook hier in hoofstuk 1. Die skrywer nooi ons uit om hierdie geskiedenis te lees, en self te beoordeel. Ons moet dit wat hier staan beoordeel aan die hand van God se wet wat Hy vir Moses gegee het, en aan die hand van die beloftes wat hy in die verlede aan sy volk gegee het. En as mens dit vervolgens doen, en mens kyk dan na die stam Juda se aktiwiteite, hulle verowerings, dan kry mens ‘n gemengde prentjie.

Aan die een kant was daar vertroue, en sukses. Maar aan die ander kant ‘n toenemende gemaksug, en gebrek aan vertroue. Juda het beheer oorgeneem oor die bergagtige dele. Daar het hulle hulleself gevestig. Daar het hulle veilig gevoel. Maar toe het die motivering om die stryd voort te sit begin afneem, om ook die vlaktes in te neem, daar waar die mense met die ysterstrydwaens gewoon het. Daar het verslapping ingetree in hulle moed en veerkrag.Hulle het die stryd nie voortgesit nie, maar uitgestel. Die vlakte waar die Filistyne gewoon het, is maar gedeeltelik ingeneem. Maar die Filistyne kon hulleself daarna weer herstel in die vlaktes. Dit lyk of die Israeliete moeg was om te veg. Hulle was nie meer lus nie. Maar hulle het nie nagedink oor wat dit vir die toekoms, vir hulle kinders en kleinkinders sou beteken nie. Daaroor gaan ons nog meer in Rigters lees, hoe erg die Filistyne die nageslag lastig geval het.

As lesers moet ons dan beoordeel: ja maar die HERE het mos belowe dat Hy die vyand in hulle hand sou gee! Die HERE het Jerigo mos op ‘n wonderbaarlike wyse laat val! Die HERE het mos in die verlede Josua laat oorwin, al het die vyande ysterstrydwaens gehad! Die HERE het mos beloof aan Juda: “Kyk, Ek gee die land in sy hand.” (vers 2) So waar is daardie vertroue nou?

Geliefde gemeente, eintlik is hierdie hoofstuk so herkenbaar. Is dit nie ook in ons tyd so, was dit nie deur al die eeue so nie? Dat die HERE se kinders soms sterk staan in vertroue, maar daar is ook tye van verslapping, gebrek aan vertroue. In watter omstandighede is ons as gemeente tans? ‘n Tyd van sterk vertroue? Of ‘n tyd van verslapping? Die goeie nuus uit Rigters 1 is, die HERE gaan voort. Hy sal sy gemeente bly vergader, ook deur tye van verslapping heen. Hy sal weer tye van terugkeer skenk, Reformasie, hernude vertroue, hernude veerkrag. So laat ons nie verslap nie, ook as daar baie om ons is wat wel verslap. Laat ons die oog gevestig hou op ons Leier, die Leeu uit die stam van Juda. Laat ons slegs Hom behaag. Hy is ons Bruidegom, ons sy bruid. Ons lewenstyl is soos die trourok. Ons maak onsself mooi, aantreklik, omdat Hy ons bruidegom is. Geliefde gemeente, laat ons weer gesterk word deur hierdie nagmaal, waar Christus die Gasheer was. Hy het ons gevoed en weer sterk gemaak, sodat ons nie sal verslap nie. Want ons weet dat ons met sy hulp sal oorwin!

Amen.

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 108:1

Wet

Ps 38:13,14,15

Gebed

Nagmaalsformulier 

Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)
Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

1e tafel: Rigters 1:1-8; Ps 107:17

2e tafel: Rigters 1:9-20; Ps 78:19

3e tafel: Lofverheffing; Ps 78:20

Dankgebed

Teks: Rigters 1:1-20

Preek

Ps 103:3

Gebed

Kollekte

Ps 103:9

Seën