Die HERE doen groot dinge in ons midde

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2018-06-17
Text: 
Rut 4
Preek Inhoud: 

Preek: Rut 4

Die skrywer van die boek Rut neem ons na twee plekke in hierdie hoofstuk.

Eerstens kyk ons saam met hom na wat daar gebeur by die stadspoort van Betlehem. En tweedens gaan ons saam met hom op geboortebesoek. Op beide plekke gaan dit oor slegs een onderwerp. Naamlik die groot dinge wat God besig is om te doen.

Tema: Die HERE doen groot dinge in ons midde

Hoekom vat die skrywer ons eers saam na die stadspoort? Dit was die plek waar in daardie tyd regsake gevoer is. In ‘n stadjie soos Betlehem, een van die klein Israelitiese stede, was die straatjies so smal dat die enigste oop ruimte by die poort was. Daar was dit moontlik vir ‘n klomp mense om bymekaar te kom. Dit was sê maar die dorpsplein van ouds, die hart van die publieke lewe.

Daar, by die poort, sien ons vir Boas. Vanoggend het ons gelees in die vorige hoofstuk dat Boas vir Rut beloof het dat hy werk sou maak van Naomi en Rut se benarde situasie. Dis hoekom Boas die volgende dag na die stadspoort gegaan het.

Daar was nog ‘n rede hoekom ons Boas by die stadspoort sien.  Die poort was naamlik die enigste uit- en ingang van die stad. Alle mans wat in die oggend op pad na hulle werk was op die landerye buite Betlehem, moes deur die poort kom. As mens iemand wou ontmoet, was die maklikste om soggens vroeg by die poort vir hom te wag. Boas het daar staan wag vir die naaste losser van Naomi. Toe hy verbykom, het Boas hom aan die arm gevat en maak staan.

Daar moes toe ook tien oudstes plaasneem, want Boas het ‘n regsitting aangevra. So het dit vroeër gewerk. Natuurlik het ‘n aantal mense ook nuuskiering saamgedrom. Want die onderwerp van die regsitting was interessant. Dit het gegaan oor ‘n lossing, ‘n nie onbelangrike saak vir die boere van Betlehem nie. ‘n Stuk grond is te koop aangebied. Boas het dit aangekondig, en hy sê vir die eerste losser: Dit gaan oor ‘n stuk grond wat die eiendom is van wyle Elimeleg. Hierdie stuk land word nou deur Naomi, wat uit die vlaktes van Moab teruggekeer het, te koop aangebied.

Gemeente, let op hoe Boas die saak aanpak. Hy respekteer die regte van die eerste losser ten volle. Dis hoekom hy nou, die volgende dag, by die poort staan. Sê nou maar die eerste losser sou met Rut wou trou, dan sou hy ook daaraan sy samewerking verleen. Dit aan die een kant. Maar aan die ander kant gaan hy wel handig te werk. Uit taktiese oorwegings praat hy net oor die stuk grond. En eers daarna noem hy die feit dat by die grond ook nog die vrou van die oorledene hoort.

Het Boas dit verwag? Dat die betrokke naaste losser homself bereid sou verklaar om Naomi se grond te los? Wat het dit eintlik ingehou? Om ‘n stuk grond te los het in feite beteken dat hierdie persoon nou reeds die opbrings van die stuk grond tot aan die eerskomende jubeljaar aan Naomi sou uitbetaal.

Dit was ‘n welkom kapitaaltjie vir Naomi om as weduwee van te lewe. In ruil daarvoor het die losser dan die vruggebruik van haar stuk grond ontvang tot die jubeljaar. Want volgens die wet van Moses het ‘n kontrak met betrekking tot grond, of onroerende goed, slegs regsgeldigheid gehad tot die eerskomende jubeljaar. Dit staan in Levitikus 25.

Daar sê die HERE: “Die grond moet ook nie vir altyd verkoop word nie; want die land is myne, omdat julle vreemdelinge en bywoners by My is.” (vers 23)

Dus as ‘n arm boer noodgedwonge sy grond moes verkoop, dan sou hy of sy kinders die stuk grond in die jubeljaar weer terugkry. So is daar nuwe kanse vir die armes geskep.

Die eerste losser was dus bereid om Naomi se grond te koop. Maar, toe noem Boas ook dat naas die erfbesit, Noami ook nog ‘n erfgenaam het. Want haar oorlede seun Maglon het ‘n jong, kinderlose weduwee agtergelaat. Dus, die losser sou, behalwe vir die stuk grond, ook vir Rut moes los. Die geslag van uitsterwing behoed. Vandaar dat Boas sê:

“Die dag as jy die grond uit die hand van Naomi koop, dan verwerf jy tegelyk Rut, die Moabitiese, die vrou van die dode, om die naam van die dode in stand te hou oor sy erfdeel.” (vers 5) Dit hou onder andere in dat as sy ‘n kind sou kry, die kind die naam van Maglon sou voortsit.

Dit was egter vir hierdie losser een te veel, en hy vra toe aan Boas om die lossingsreg oor te neem. Hy sê: “Ek kan dit nie vir my los nie, anders bederf ek my erdeel”. (vers 6) Het hierdie kombinasie vir hom te duur geword? Hy sou dan nie net die koopbedrag vir die grond moes neerlê nie, maar ook vir Rut moes onderhou, en miskien haar toekomstige kinders. Of was daar ander redes hoekom hy nie vir ‘n huwelik met Rut kans gesien het nie? Ons het geen verdere inligting hieroor nie. Maar gelukkig het Boas geen moeite daarmee gehad om die lossersplig oor te neem nie. Die man het sy skoen, sy sandaal, uitgetrek en dit aan Boas oorhandig.

Vir die skrywer van die boek Rut was hierdie waarskynlik alreeds ‘n argaïese gebruik, daarom verduidelik hy dit. Destyds was dit ‘n vaste uitdrukking: Jou skoen op iets plaas, of gooi. Jou skoen was simbool vir eienaarsreg. In Psalm 108 sê God: “op Edom werp Ek my skoen” (vers 10, sien ook Ps 60:10).

Daarmee bedoel Hy: ook die volk Edom en hulle land behoort aan My. Nog ‘n ander voorbeeld: Die priesters wat in die tempel diens gedoen het, moes dit altyd kaalvoet doen. Die simboliek daaragter was dat hulle in ‘n huis was wat nie aan hulle behoort het nie. So het die naaste losser sy skoen aan Boas oorhandig, en daardeur afstand gedoen van sy lossersreg.

Boas het geen oomblik geaarsel nie. Hy verklaar plegtig teenoor die tien oudstes en omstanders: “Julle is vandag getuies dat ek alles wat aan Elimeleg en alles wat aan Giljon en Maglon behoort het, uit die hand van Naomi koop. En ook Rut, die Moabitiese” (vers 9-10). Baie eksplisiet verwys Boas na die wet op die swaershuwelik: “ook Rut, die Moabitiese, verwerf ek vir my as vrou om die naam van die dode oor sy erfdeel in stand te hou, sodat die naam van die dode onder sy broers en uit die poort van sy woonplek nie uitgeroei word nie.” (vers 10) As daar dus ‘n seun uit die huwelik gebore word, sou hy op naam van Maglon kom te staan.

Soos ons in die vorige preek al gesien het, gaan dit hier oor twee wette. Die lossingswet met betrekking tot grondbesit. En die wet met betrekking tot die swaershuwelik. Volgens die letter van die wet was die lossers slegs tot die eerste verplig, die lossing van die grondbesit. Maar soos ons gesien het, Boas het opgetree nie net volgens die letter nie, maar ook na die gees van die wet.

Dis daarom nie verbasend nie dat die tien oudstes sonder aarseling direk ingestem het met die voorstel. Hulle het besef dit was ‘n baie gul voorstel.

Boas was bereid om meer as sy plig te doen. God se wet wil mense vry en bly maak, hulle verlos van wettisisme. Die HERE se wet leer mense om, soos Paulus dit later aan die Filippense skryf, in fyngevoeligheid “die dinge waarop dit aankom te onderskei” (Fil 1:10). Vir almal was dit duidelik dat hierdie jong vroutjie se lot dubbel beklaenswaardig was. Sy was nie net ‘n weduwee nie, sy was ook kinderloos. Boonop was sy ‘n vreemdeling in ‘n vir haar vreemde land. Boas se rojale aanbod is deur die omstanders met blydskap begroet.

Op versoek van Boas verklaar hulle hulself graag as getuies.

En dan word Boas op tipies Israelitiese wyse gelukgewens. Meer nog, op eg gelowige wyse. Hulle het God se seën uitgespreek oor Boas se besluit. Rut is nou nie meer ‘n vreemdeling nie. Sy het al self aangedui dat sy graag by God se volk wou hoort, toe sy vir Naomi gesê het: u volk is my volk en u God is my God. Nou is sy weer, danksy die swaershuwelik, volwaardig ‘n lid van God se volk. Aan Boas word ‘n ryke kinderseën toegewens.

Nie net ‘n eerste seun om die naam van Maglon in lewe te hou nie, maar nog baie kinders ook vir sy eie naam. En dan verwys die mense en die oudstes veelbetekenend na die swaershuwelik destyds tussen stamvader Juda en Tamar. Ja, dit was ook ‘n swaershuwelik. En Boas het selfs daaruit afgestam!

Hulle het Boas ‘n nageslag toegewens wat net so beroemd sou word as die van Juda, danksy sy huwelik met Tamar.

So het dit dus gebeur, vertel die skrywer, dat Boas sy vrou Rut gekry het. Hy het onder die indruk gekom van haar trou, haar ywer, haar nederigheid, haar opofferingsgesindheid, haar liefde, haar geloof. Om so ‘n vrou te ontmoet, dis iets wat ‘n man nie elke dag meemaak nie. Boas trou met Rut. En God skenk die fel begeerde swangerskap. Sy het ‘n seun in die wêreld gebring. Die skrywer gaan vinnig verder met die verhaal.  In vers 14 verskuif die plek van die stadspoort na ‘n geboortebesoek. Ook die buurvroue kom op besoek en hulle prys God. Die HERE doen groot dinge in ons midde!

Dit het, gemeente, alles plaasgevind in die donker Rigtertyd. Toe amper niemand hulle meer aan God se wet gesteur het nie.Toe het die HERE self gesorg vir sy lof en prys, deur hierdie indrukwekkende gebeurtenisse. Wie sou dit ooit verwag het? Dat ‘n buitelandse skoondogter vir Naomi meer sou beteken as sewe seuns! So kan God soms sy eie kinders beskaam. Vir Naomi was dit ‘n teregwysing. God het kwaad met goed vergeld. Want Naomi het aanvanklik gedink dat Rut haar niks te biede gehad het nie. Toe sy besluit het om terug te keer uit Moab na Betlehem, mog haar skoondogters maar agterbly. Sy wat haarself Mara genoem het, het aan almal vertel:

“Vol het ek weggetrek, maar leeg het die HERE my laat terugkom.” (Rut 1:21)

Dit het sy aan almal vertel, terwyl Rut nota bene aan haar sy gestaan het.

Waarlik, God het kwaad met goed vergeld.

Die buurvroue het die kindjie Obed genoem, wat dienaar beteken. Naomi mog sy pleegmoeder word. En die skrywer van die boek kom dan met ‘n veelseggende slot: hier Obed was die vader van Isai, die vader van Dawid.

Op hierdie geboortebesoek het die buurvroue Naomi gelukkig geprys. Sy hoef haar oudag nie meer in eensaamheid te slyt nie. God het groot dinge vir haar gedoen. Maar die skrywer wys ons op ‘n nog ‘n groter ding. ‘n Toekoms nie net vir Naomi en die geslag van Elimeleg nie. ‘n Toekoms ook vir heel Israel. Dis soos die eerste strale van die sonsopkoms na die donker nag van die Rigtertyd. God bring ‘n plan ten uitvoer. Hy sorg vir ‘n Losser vir heel Israel.

‘n Koning, en die skrywer ken sy naam: Dawid. Hierdie koning sou al die narigheid van die Rigtertyd ten einde bring.

Sedertdien, gemeente, het die geskiedenis nog verder gegaan. Die geslagsregister aan die einde van Rut kan ons verder aanvul. Tot by Jesus Christus. God het gesorg, via Boas, die losser van Naomi en Elimeleg, via David, die losser van Israel, vir die Losser van die hele wêreld: Ons Here Jesus Christus. God het groot dinge gedoen!

Die slot van hierdie boekie gee ons ‘n nuwe kyk op hierdie hele geskiedenis.

Ek het vanoggend genoem dat die hoofkarakter nie Rut is nie, maar Naomi.

As ons egter die slot van die boek op ons laat inwerk, sien ons daar is nog ‘n dieper laag. Behalwe vir die mooi verhaal van Rut, behalwe vir die karakterontwikkeling van Naomi, is daar ‘n derde laag. Naamlik dat die HERE in al hierdie menslike gebeurtenisse besig is om sy groot verhaal te weef. In sy groot raadsplan maak Hy gebruik van klein en onbelangrik mense.

Gemeente, ons tyd vertoon ooreenkoms met die Rigtertyd. Vir die kerk is dit in die Westerse wêreld ‘n tyd van afbraak en afval. ‘n Tyd waarin elkeen doen wat goed is in sy eie oë. In hierdie dwase tyd, waarin mense hulle vry waan, lei satan hordes weg in slawerny. Maar ons kan ons troos aan die boek Rut.

God sal sy kinders, wat trou volgens sy wet bly leef, wat op Hom bly vertrou, vashou. Sy wette is nie swaar nie, maar bring geluk. Wat Hy van ons vra in sy wet, het Hy self eers vir ons moontlik gemaak. En selfs as ons onsself in ‘n spinneweb van sondes vasgeloop het, gee Hy nuwe kanse. So het Hy in die Rigtertyd gedoen. Vir Naomi en Rut het Hy nuwe moontlikhede geskep.

Hulle lewens, hoe onbelangrik ook in die oë van die wêreld, het vir Hom waarde. Hulle wel en wee is ingebed in sy raadsplan. Hy doen groot dinge in ons midde. Daarom geliefde gemeente, bly by u Verlosser.

As Hy ons liefgehad het, toe ons nog sy vyande was, soveel te meer noudat ons deur Hom gered is. Dit is so seker as wat julle vandag die brood en die beker wyn gesien en geproe het.

Amen.

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 80:1,2

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)

Sb 18:3,4,5

1e tafel: Skriflesing: Rut 4; sing: Ps 23:1,3 (1e beryming)

Lofverheffing & Gebed

Teks: Rut 4

Preek

Ps 80:3,4,5,8

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Sb 18:7,8

Kollekte

Ps 80:9,10

Seën