Die wel en wee van ‘n gewone gesin

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2018-06-03
Text: 
Rut 1:1-6
Preek Inhoud: 

Preek: Rut 1:1-6

Die lewe in ‘n gesin is iets waarmee amper elkeen van ons ervaring het. Of as kind, of as ouer. Jou eie familie is uiteraard ‘n veelbesproke onderwerp. As twee families mekaar besoek, begin die gesprek dikwels met allerlei vrae.

Oor die kinders, oor dinge wat die gesin beleef het. En, soos elkeen weet, kan die gesinslewe soms snaakse draaie loop. Daar is gesinne aan wie die Here geen kinders skenk nie. Ander gesinne kry sewe of meer.Daar is gesinne wat ‘n kind, ‘n broer of suster, aan die dood moes afstaan. Daar is huishoudings waar al die kinders al uit die huis is. Daar is ook jong gesinne waar die kinders nog nie skool toe gaan nie. Genoeg dinge om oor te praat.

Met hierdie onderwerp, die gesinslewe, is ons ook in die atmosfeer van die boek Rut. Rut is ‘n egte dorpsroman. Ons lees oor ‘n normale gesin. ‘n Man, vrou, twee seuns. ‘n Gesin wie se lewe ook ‘n snaakse draai geloop het. ‘n Gesin wat ook deur die ongeluk getref is – by herhaling selfs. Maar ook ‘n gesin wat geestelike groei deurgemaak het.

Ons kyk na hierdie gesinsroman deur die oë van die verteller, die skrywer van die boek Rut. Hy het hierdie geskiedenis opgeskryf toe Naomi en Rut al lankal oorlede was. Waarskynlik het hy dit geskryf in die tyd van koning Dawid, twee eeue later. Die skrywer het dit die moeite werd gevind om die geskiedenis van hierdie deursnee gesin te beskryf. Hy is deur die Gees gelei en hierdie kort boekie het ‘n plek in die Bybel ontvang.

Tema: Die wel en wee van ‘n gewone gesin

1 ‘n Ongelukspiraal afwaarts

2 ‘n Wending opwaarts wat meer as net toeval is

1 ‘n Ongelukspiraal afwaarts

Die egpaar Elimeleg en Naomi het geleef in die dae van die Rigters. So begin hierdie roman. Dit is ‘n veelseggende opmerking. Want die eerste hoorders van hierdie geskiedenis het geleef in die tyd van koning Dawid of Salomo.

Hulle het vrede gehad en ‘n stabiele regering. Maar in die dae van die Rigters, twee eeue eerder, was dit anders. Dit was ‘n tyd waarin daar baie oorlog was.

Daar was geen onderlinge eenheid nie. Die skrywer van die boek Rigters eindig met die deprimerende opmerking: Elke stam het na sy eie erfdeel vertrek, en elkeen het gedoen wat reg was in sy oë. Want in daardie dae was daar geen koning in Israel nie.

Die egpaar Elimeleg en Naomi het ook in ‘n tyd geleef waarin daar hongersnood geheers het. Dit was ingrypend vir so ‘n gesin. ‘n Pa en ma, met twee jong seuns wat hulle ore van hulle koppe af kon eet. En dan geen brood in die huis nie. Ek self het drie seuns, en as my vrou inkopies doen en die mense sien al die brode in haar waentjie, vra hulle haar soms of sy vir ‘n koshuis werk. By Elimeleg en Naomi was daar gebrek aan brood. En dit nogal in ‘n dorp met die naam Betlehem, wat beteken: huis van brood. Nogal ironies.

‘n Dorp wat se graanskure meestal vol was. Hoe het dit gekom dat daar hongersnood was? Ons weet nie, die skrywer noem dit nie. Ons weet wel dat daar in die Rigtertyd abnormale dinge gebeur het. Dinge wat nie werklik bevorderlik was vir ‘n opgroeiende gesin nie. ‘n Gesin wat wil ontplooi, het ‘n rustige en stabiele omgewing nodig. In die boek Rigters kan ons egter lees oor vyandelike invalle, wat gereeld plaasgevind het. In die tyd van Gideon het die Midianiete uit die ooste gekom en die opbrings van die land verwoes (Rigt 6:4), sodat daar geen lewensmiddele oorgebly het nie. Hulle het onophoudelik die beloofde land binnegedring en chaos gesaai. En in die tyd van Simson was daar die Filistyne. Hulle het die in die wind golwende graanvelde aan die brand gesteek. En Israel? Kon Israel dan nie optree teen hierdie rowersbendes nie? Kon Israel nie in die Naam van die HERE opstaan en hulle uit de beloofde land verdryf nie? Helaas nie. Israel kon nie ‘n vuis maak nie. Want Israel was nie ‘n eenheid nie.

Daar kom by dat die volk van God, wat destyds uit Egipte bevry is, nou begin verdwyn het tussen die Kanaäniete. Daar het stamme in die land oorgebly, wat al van ouds in Kanaän gebly het. Hulle het die afgode vereer, die Baäls en Astarte. Hierdie gode het volgens hulle gesorg vir die vol graanskure. Baäl was mos die god wat op die wolke gery het. Baäl was die god met die weerligstraal in sy hand. Baäl het reën uitgestrooi waar hy wou. En die Kanaäniete het geweet hoe om Baäl te vereer.

Hierdie Baäldiens was ‘n verleiding vir die Israeliete. Hulle het nog nie so lank in die beloofde land gewoon nie. Dit het sin gemaak om die landboutegnieke van die gevestigde boere oor te neem. Veral as reën vir ‘n lang tyd uitgebly het. Maar, Israel het daarnaas ook die wet van hulle God gehad. Die wet wat hulle in die woestyn ontvang het. Die HERE het sy wette aan hulle gegee, spesiaal met die oog op die beloofde land. En wat blyk?

Die tegnieke van die Kanaäniete was dikwels op gespanne voet met God se wette.  Hulle tegnieke het die bestaan van ‘n ander godheid veronderstel, en die diens aan daardie godheid. Baäl. Hy was die heer van die land. En die diens aan Baäl het dinge ingehou wat lynreg teen die HERE God se wette was. Soos sedelose praktyke. Soos menseoffers. ‘n Regskape Israeliet kon onmoontlik daaraan deelneem.

Die volk was dus in ‘n benarde situasie. Hulle het nie die toekoms geken nie.

Hulle het net ‘n roemrugte verlede agter hulle gehad. Moses, hulle groot man, wat hulle voorouers bymekaar gehou het, en by die HERE God bewaar het.

En toe was daar Josua, die dappere. Maar nou, nou is dit alles verlede tyd.

Nou werk dinge anders. Ja, van tyd tot tyd is daar Rigters. Ook manne van God.

Maar hulle kom en gaan. En hulle kry die volk ook nie meer bymekaar nie.

Onder hierdie omstandighede het die egpaar Elimeleg en Naomi dus gelewe.

Of hulle self die HERE nog trou gedien het, weet ons nie. Of hulle miskien ook gesimpatiseer het met die diens aan Baäl en die Astarte, dit vermeld die skrywer nie. Het hulle wel besef dat hierdie hongersnood van God af gekom het? Het hulle dit wel beleef as ‘n straf van God op die volk se ontrou? As ‘n beproewing? Hoekom het hulle besluit om te emigreer? Hierdie dinge word nie genoem nie.

Die skrywer stel ons slegs voor aan ‘n heel normale gesin. ‘n Pa en ma wat ‘n op sig logiese besluit geneem het. ‘n Besluit in ‘n wêreld vol hongersnood, onreg en onveiligheid. Hulle het besluit om te emigreer. Hulle het ‘n nuwe toekoms gesoek vir hulle kinders. Hulle het as vreemdelinge gaan vertoef in ‘n vir hulle onbekende land. Miskien was Elimeleg en Naomi nie die enigstes wat op hierdie manier geëmigreer het nie. Miskien was daar nog meer Israeliete wat nie meer ‘n toekoms gesien het in die beloofde land nie. Ons het slegs die geskiedenis van hierdie gesin. Uit ons teks blyk dat dit ‘n droewige verhaal is.

Die skrywer veroordeel hulle besluit om te emigreer nie eksplisiet nie. Dit klink dalk tussen die lyne. Beslis nie ‘n verstandige besluit nie. Dink byvoorbeeld aan die geskiedenis van Bileam en Balak, die koning van Moab.

Toe het die volk op die punt gestaan om die beloofde land binne te trek.

Dit was een en ‘n halwe eeu gelede, en waarskynlik nog goed in die volk se geheue. Balak het dit nie reggekry om die volk te keer met die hulp van Bileam nie. Bileam kon die volk slegs seën. Maar Bileam het toe ‘n ander plan gemaak, slimmer en geraffineerder. Hy het die koning van Moab aangeraai om ‘n groot seksfees te organiseer, ter ere van hulle god Kamos. Die plan het geslaag, want so is die jongmanne van Israel verlei. Die HERE was toe baie toornig op sy volk. Moab was, in kort, ‘n sedelose plek. Met dit in gedagte, kan mens kritiese vraagtekens plaas by Elimeleg en Naomi se besluit om na Moab te emigreer.

Emigreer na so ‘n sedelose plek met twee opgroeiende seuns? Dit rym mos nie met God se wil nie? Moes hulle nie bly op die grondgebied wat die HERE vir hulle aangewys het nie?

Aan die ander kant, die eerlikheid gebied om by te voeg dat die beloofde land nou nie juis veel beter was nie. In Betlehem Efrata is daar ook offers gebring aan Baäl, die god van die reën en vrugbaarheid. Tog het die hongersnood voortgeduur. Wat kon die gesin anders doen? Die pa moes sorg dat daar brood was vir sy gesin. Hoe ook al, hulle situasie was uitsigloos. Veral vir Naomi. Dit het wel gelyk asof die HERE afwesig was. Of Hy nie meer aan sy volk gedink het nie. Besef God wel hoe moeilik dit vir sy volk was om sy gebooie te onderhou? Was God nie veels te idealisties met sy wette wat Hy vir hulle in die woestyn gegee het nie?

Gemeente, die antwoord op hierdie vrae vind ons uitgebreid in die Rigtersboek. Dit is ‘n boek wat getuig van God se trou. Hoe Hy elke keer weer rigters gestuur het om sy kinders te verlos. Dit is ook ‘n boek wat nie onduidelik is oor die skuld van die twaalf stamme nie. Hoe die volk, al direk na die dood van Josua en sy generasie, begin afdwaal het. Hoe hulle meer belanggestel het in die afgode van die land.

Die volk het hulp nodig gehad. Nie net in die vorm van brood nie, maar nog veel meer. Dit het veral vir Naomi gegeld. Dit lyk wel of Naomi se lewe ‘n opstapeling van teenspoede was. In ‘n vreemde land aangekom, sterf haar man. Baie erg, maar sy het aangegaan. Sy het darem twee gesonde seuns gehad. Hulle het op ‘n stadium getrou, met meisies uit die omgewing. Sou hulle pa, Elimeleg, dit goedgekeur het?  Maar in elk geval, Naomi het nog sekuriteit gehad in haar seuns. Maar toe, na ‘n rukkie, het God ook dit van haar weggeneem. Sy het heeltemal alleen te staan gekom. Sonder man, sonder kinders. ‘n Weduwee, ‘n ou vrou, ‘n vreemdeling in ‘n vreemde land. Sy het twee skoondogters gehad, maar hulle was tuis in daardie land. Eie kultuur, eie familie, eie godsdiens.

Soms gebeur dit dat iemand se lewe in ‘n negatiewe spiraal tereg kom. Ramp volg op ramp. Dit maak mens op den duur depressief. Jy stel nie meer belang in die toekoms nie. Ander mense kan miskien gelukkig wees, maar jy sien net nog jou eie ongeluk. Jy raak bitter. So het Naomi bitter geraak. Vir my is daar geen toekoms meer nie. En so besluit sy om haar goeters te pak en terug te keer na haar eie land. Die gesinslewe van Naomi het tot ‘n dieptepunt gedaal.

Maar in die tweede punt van die preek gaan ons kyk na die wending. ‘n Wending wat moeilik net aan toeval toegeskryf kan word.

(Tema: Die wel en wee van ‘n gewone gesin

1 ‘n Ongelukspiraal afwaarts)

2 ‘n Wending opwaarts wat meer as net toeval is

In vers 6 sien ons ‘n duidelike wending. Naomi besluit om terug te keer na Bethlehem. Die rede vir die besluit word ook genoem. Sy het gehoor dat die HERE op sy volk ag gegee het. Hy het aan hulle weer brood gegee. Vir Naomi was die keuse voor-die-hand-liggend. Sy het niks meer in die vreemde land Moab oorgehad nie. Geen sosiale sekuriteit nie, hierdie was vir haar die enigste uitweg.

Ons, gemeente, as lesers van hierdie boek, weet dat dit die begin is van ‘n weg omhoog. ‘n Weg uit daardie diep dal. Die afloop van die geskiedenis van Naomi en Rut is nie vir ons onbekend nie. Maar dit is belangrik om te besef dat Naomi en Rut dit op daardie oomblik nie geweet het nie. Hulle het daar gestaan as weduwees. En Naomi was ‘n bitter weduwee. In haar eie lewe, in haar gesin se lewe het sy God se hand nie meer gesien nie. Al toekomsperspektief wat sy nog gehad het, was om as ‘n bitter weduwee die res van haar lewe te slyt. By voorkeur in haar ou omgewing, Betlehem. Want daar kon sy hopelik nog ‘n bietjie barmhartigheid vind. Hopelik het die mense daar nog iets geweet van God se wet, dat jy ‘n weduwee, ‘n kansarme, nie mog laat krepeer nie. Dus het sy besluit om terug te gaan. Terug, sonder haar skoondogters. Die het nie veel meer vir haar beteken nie.

Die vervolg van die geskiedenis vorm nie deel van ons teks nie. Maar dit bepaal wel deeglik die manier waarop ons hierdie eerste verse van die boek Rut lees. Ons teks vorm die inleiding op die boek Rut. In groot lyne word die dekor geskets waarbinne die roman homself afspeel. Aan die einde van die verhaal kan ons sien hoe Naomi gegroei het, as karakter, in haar geloof. Sy het deur die jare God se voorsienigheid leer ken. Sy het leer insien dat God se bedoeling met haar lewe wel deeglik êrens heen gelei het. Hoewel sy gevoel het soos ‘n verlore skaap, toe sy midde in die gebeure was. Sy het geleer om in alles, veral in teenspoed, haar oor te gee aan haar  Skepper. Op haar God te vertrou. Naomi het geleer dat God se weë hoër is as ons weë. Ingewikkelder, vernuftiger, beter.

Die HERE het ‘n langtermyn visie. Hy laat dinge vir ons uitwerk ten goede.

God se weë gaan nie net oor ons persoonlike lewensgeskiedenis nie. Ons lewe naamlik nie net as indiwidue nie. Neem Naomi as voorbeeld. Sy was ‘n mens, maar tussen ander mense. Sy was ‘n kind van God, maar binne die volk van God. As kind van God se verbondsvolk mog sy leer insien dat God se paaie êrens heen lei. Met alles wat oor haar gekom het, het God ‘n bedoeling gehad.

Nie net vir haar as enkeling nie, maar vir sy hele volk. So het Hy ‘n bedoeling gehad vir Rut, wat haar lewe as ‘n heiden begin het. Danksy Naomi mog Rut opgeneem word in God se verbondsvolk. Danksy is dalk ‘n te groot woord, want wat was eintlik Naomi se bydrae? God het dit so gelei. Hy was al besig om ‘n vrou te vind vir sy kind Boas. Hoe kon Boas sy vrou ontmoet het, as Naomi nie teruggekeer het nie?

So kan ons nog baie stukkies van die legkaart inpas, die legkaart van die geskiedenis van Naomi. Naomi se wel en wee was in gebed in God se groot raadsplan. ‘n Plan wat baie dinge omvat het. Want selfs toe Naomi dog dat sy nou verstaan wat die HERE se bedoeling met haar lewe is, was God nog nie klaar nie. Want toe Naomi sterf, toe Rut en Boas al oorlede was, toe het Naomi se familiegeskiedenis nog steeds verder gegaan. Daarvan getuig die skrywer van die boek Rut. Lang nadat Naomi gesterf het, het die skrywer tot die ontdekking gekom dat deur Naomi se terugkeer uit Moab, deur die feit dat haar skoondogter Rut met haar saamgekom het, dit so gelei is dat koning Dawid nou oor die volk geregeer het. Kon Naomi dit ooit gedroom het? Dat wat met haar gebeur het, nie net haar familiekrisis opgelos het nie, maar selfs die groot nood waarin God se volk in die Rigtertyd tereg gekom het! Want so, uit Naomi en Rut se nageslag, het daar ‘n koning gekom. ‘n Koning wat die so verdeelde twaalf stamme weer verenig het. ‘n Volk wat hulle God weer begin vrees het, en sy wette weer begin onderhou het. Koning Dawid het die Baäldiens uitgeroei. So het God self ‘n nuwe toekoms vir sy volk voorberei.

Sy Naam is HERE, dit wil sê, Hy bly naby sy volk! Hy sorg vir sy kinders.

Hy is trou! As mense dink dat alle hoop op herstel verby is, as mense wanhopig raak, is God nog steeds in beheer.

Dit is die boodskap wat ons ook vandag kan leer uit hierdie kort boekie.

Die HERE regeer. Hy bly in beheer. Hy is naby sy kinders. Hy luister na hulle gebede. Die skrywer het God se hand gesien in Naomi se lewe. Hoe die HERE verlossing vir sy volk voorberei het. Ons sien vandag ‘n nog veel groter prentjie, as die skrywer destyds. Uit Naomi se nageslag is nie net Dawid gebore nie, maar ook Dawid se Seun, die Messias, ons Here Jesus Christus, wat ewig op die troon sal sit, wat al God se kinders bymekaar bring. Een kudde, een Herder!

Rut, ‘n boekie oor ‘n gewone gesin. Maar in die lewe van ‘n gewone gesin is God teenwoordig! Die gesinslewe van Naomi was in God se oë waardevol. Die skrywer van Rut het dankbaar vertel oor koning Dawid, en wie sy voorouers was. Moenie nou dink: ja, Rut en Naomi het ‘n spesiale plek in die heilsgeskiedenis gehad. Dus kan ons nie met hulle assosieer nie. Juis wel.

God gebruik gewone mense, soos u en ek. God ontferm hom oor die geslag van Abraham. Met Abraham se geslag word bedoel elkeen wat ‘n kinderlike geloof het, soos Abraham gehad het. Ons lewe is waardevol in sy oë. Ook al weet jy nie wat die toekoms vir jou en jou gesin bring nie. Al het jy nie sig op alles nie.

Vertrou op sy Woord. Elke gesinsroman, elke familiegeskiedenis, maak deel uit van sy groot geskiedenis.

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 78:1

Wet

Ps 78:2,3

Gebed

Skriflesing: Rigters 2:6-23 & Rigters 6:1-10

Ps 106:15,16

Skriflesing: Rut 1

Ps 78:5

Teks: Rut 1:1-6

Preek

Ps 78:19,21,24,25

Gebed

Kollekte

Ps 68:3,5

Seën