Jesus se Naam leer ons dat Hy die enigste Verlosser is

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2018-04-15
Text: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 11
Preek Inhoud: 

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 11

Sondag 11 bevat oorbekende woorde vir elkeen wat al lankal in die kerkbanke sit. Vir elkeen wat op katkisasie was. Die feit dat die naam Jesus Verlosser beteken. Die feit dat daar geen ander Verlosser as Hy is nie. Die feit dat by niemand anders enige saligheid te soek of te vind is nie. Die feit dat mense wat hulle heil by iemand of iets anders soek, Hom met die daad verloën.

Net een van twee is moontlik. Hy is of heeltemal, volkome, Verlosser, of nie.

Hierdie is ‘n leerskool vir elke mens.

Dit is ‘n leerskool wat nie by die doen van geloofsbelydenis ophou nie. Dit is ‘n aanhoudende oefening, dat Jesus jou unieke en enigste Verlosser bly, en dat niks of niemand naas of in plaas van Hom te staan mag kom nie. Daarom is dit met dankbaarheid dat ons vanaand weer van die geleentheid gebruik maak om aan hierdie onderwerp, hierdie juweel, aandag te bestee.

As kerk van Christus bely ons, in verbondenheid met die kerk uit die verlede met die Heidelbergse Kategismus die algenoegdoening van Christus.

Dis Christus, of dis niks.

Tema: Jesus se Naam leer ons dat Hy die enigste Verlosser is

  1. Hy is die Goeie Herder
  2. Hy skenk genade op genade
  1. Hy is die Goeie Herder

    Toe die Vader sy Seun na die wêreld gestuur het, en toe Hy vir Josef en Maria die opdrag gegee het om Hom Jesus te noem, dit beteken Verlosser, toe het hierdie proses van aanvaarding of verwerping van hierdie enigste Verlosser ook by die Jode van daardie tyd begin. Die evangelis Johannes beskryf indrukwekkend hoe hierdie geestelike stryd plaasgevind het. Hoe Jesus Homself gepresenteer het as die Woord wat van die Vader kom.Hoe Hy sy gesag met tekens en wonders onderstreep het. Hoe Hy gepreek het in die sinagoges. Hoe Hy in gesprek gegaan het met die dissipels, maar nie net met hulle nie, ook met mense op straat, oral waar Hy gekom het. Hoe Hy in debat gegaan het met die Fariseërs, die Skrifgeleerdes, die owerpriesters, die Sadduseërs.

    Die hoofstuk wat ons vanaand gelees het, is ‘n voorbeeld daarvan.

    Haas onvermoeibaar het Jesus sy identiteit openbaar en verdedig. Voorwaar, voorwaar – ‘n dubbele amen – Hy is die goeie herder. Hy gaan by die deur die skaapstal in. Wie van ‘n ander kant af inkom, is ‘n dief en ‘n rower. Dis net vir die herder wat die deurwagter oopmaak.

    Hierdie gesprek met die beeldspraak van die goeie herder, gemeente, volg op die wonder wat die Here Jesus in die vorige hoofstuk verrig het. Hy het naamlik ‘n blindgebore man genees. Maar die Fariseërs wou nie die wonder erken nie. Hulle het aangehou verskonings uitdink, dat die wonder nie plaasgevind het nie. En toe hulle dit nie kon regkry nie, toe die blindgeborene se ouers bevestig het dat dit inderdaad hulle seun is, maar dat hulle nie weet hoe hy skielik siende geword het nie, toe het hulle die blindgeborene self begin viktimiseer. Hy mog nie Christus bely nie, anders sou hy uit die sinagoge geban word. Die blindgeborene, wat siende geword het, het egter voet by stuk gehou. Die eerste keer in sy lewe kon hy sien! Vir hom was dit so klaar soos daglig dat hier ‘n wonder gebeur het, en dat Jesus ‘n profeet was!

    As Hy nie van God was nie, sou Hy dit nie kon gedoen het nie. Die pynlike afloop was egter dat die Fariseërs hom inderdaad toe uit die sinagoge uitgeban het.

    Maar Jesus het hom gaan opsoek. Soos ‘n goeie herder het Hy sy skapie gaan soek. En Hy het vir hom gevra: Glo jy in die Seun van God? Die man het geantwoord: Wie is Hy, dat ek in Hom kan glo? Jesus het Homself toe geopenbaar: Jy het Hom gesien; en Hy wat met jou spreek, dit is Hy. Die man het toe sy geloof bely: Ek glo, Here! En hy het Hom aanbid.

    In die gesprek wat daarop gevolg het, het Jesus toe met die beeldspraak van die goeie herder verduidelik wat gebeur het. “Tot ‘n oordeel het Ek in hierdie wêreld gekom, sodat die wat nie sien nie, mag sien, en die wat sien, blind mag word.” (vers 39)

    Dis net na die herder se stem, wat sy eie skape luister. Die herder het sy eie skape. Hy sal hulle roep, en hulle sal sy stem herken en Hom volg. Vroeër was dit in Israel so dat daar by elke dorp een skaapstal was, aan die rand van die dorp, waar die skape die nag oorgebly het. Alle herders van die dorp het hulle skape daarheen gebring. Om die beurt het een van die herders gedurende die nag waggehou by die skaapstal. In die oggend het elke herder dan gekom en by die deur, by die ingang van die skaapstal, sy skape geroep. Daar was ‘n vertrouensband tussen hom en sy skape. Die skape het hulle eie herder geken.

    Hulle het sy stem herken. En net die skape wat aan hom behoort het, het dan uitgekom – want hulle het sy stem geken. Die ander skape het agtergebly en gewag tot hulle herder kom.

    Hierdie mooi beeld gebruik Jesus om die band tussen Hom en sy skape uit te beeld. Sy skape ken sy stem, hulle sal ‘n vreemde nooit volg nie. Hulle weet dat by niemand anders hulle saligheid te soek of te vind is nie. Net hulle eie herder het hulle lief. Hulle sal ‘n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug. Soos die gewoonte in die Midde-Ooste, het die herder voor sy skape uitgeloop, en hulle het hom gevolg. Die skape het geweet dat as hulle hom volg, hy hulle na groen weivelde sal vat.

    Dan gaan Jesus ‘n stappie verder. Hy verdiep die beeldspraak. Hy noem Homself nou die deur van die skape. As iemand deur Hom ingaan, sal hy gered word. Wie deur Hom in en uitgaan, sal weiding vind, sal lewe. Dit in teenstelling tot die dief en rower, wat nie die skape se belange op die hart dra nie, maar net kom om te steel, te slag en te verwoes.

    Dan gaan Jesus nóg ‘n stappie verder, die beeldspraak verdiep nog meer. Hy as goeie herder lê sy lewe af vir die skape. In ooreenstemming met sy Naam – Jesus – Verlosser! Sy opofferingsgesindheid sal uiteindelik tot die kruisdood lei, toe Hy daarwerklik sy lewe gegee het as ‘n losprys vir sy skape. Hier vloei die beeldspraak van die goeie herder en die Outestamentiese beeldspraak van die Lam wat geslag word, in mekaar oor. Die herder word geslag. Hy is self die paaslam! Daaruit het sy ultieme liefde vir sy skape geblyk. Enige ander huurling wat voorgee  om ‘n verlosser te wees, is dit nie, maar is soos ‘n huurling. Sodra gevaar dreig, sodra ‘n wolf kom, vlug hy. ‘n Huurling gee nie vir die skape om nie. Maar Jesus wel. Hy ken sy eie en word deur hulle geken.

    Nog steeds gaan Jesus verder met die beeldspraak.

    Vers 16: Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie.

    Ook hulle sal na sy stem luister. Hy is nie net herder van die volk Israel nie.

    Daar is ook skape uit die ander volke. Hy, die goeie herder, het nie net vir Israel gekom nie, maar vir die hele wêreld (Joh 3:16-18). Uiteindelik is dit slegs een kudde, slegs een herder. Daar ontstaan ‘n nuwe eenheid rondom hierdie herder. Vir heel sy kudde lê Hy sy lewe af. Hy doen dit, omdat die Vader Hom gebied het om dit te doen. Maar Hy doen dit ook vrywillig.

    Gemeente, die kern van die heilsfeite, die kern wat Jesus as Verlosser gekom het om te doen, lê in hierdie beeldspraak van die goeie herder opgesluit. Maar op daardie stadium het dit vir baie beeldspraak gebly. Die mense het nie gesnap wat Hy presies bedoel het nie. Meer nog, sommiges wou dit net nie so aanvaar nie. Daar het verdeeldheid onder die Jode gekom. Baie het begin laster. Hy is van die duiwel besete. Hy is kranksinnig. Maar ander het hulle koppe geskud. Sulke mooi woorde kan nie uit ‘n besetene se mond kom nie.

    En, die duiwel kan nie die oë van blindes open nie – verwysende na wat in die vorige hoofstuk gebeur het, naamlik dat Jesus die man wat blind gebore was, se oë geopen het.

    Johannes beskryf verder hoe Jesus in gesprek met die volk was. Tydens die fees van die tempelwyding, in die pilaargang van Salomo. Daar het Hy openlik erken dat Hy die Christus is. En sy wonderwerke onderstreep dit. Maar, wie nie deel van sy kudde is nie, sal nie wil glo nie. Die skape van sy kudde sal egter luister en volg. En dan, vers 28, verduidelik Jesus weer so mooi wat sy naam beteken: Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. Ja Hy is Jesus – dit is Redder, Verlosser, Heiland! Elkeen wat die Vader aan Hom gegee het, sal Hy vashou. Niemand sal hulle ooit uit sy hand ruk nie. Ek en die Vader is een.

    Johannes beskryf dat die Jode geskok op hierdie opmerking gereageer het.

    Hulle het weer klippe opgetel om Hom te stenig. Wat ‘n gespanne situasie!

    Maar Jesus retireer nie. Dis soos ‘n regsaak. Die waarheid word aangeval. Maar Hy hou stand by die waarheid. Hy daag hulle uit: Sê vir My: oor watter werk van My wil julle my stenig? Die Jode reageer dat hulle Hom nie oor ‘n goeie werk wil stenig nie, maar oor godslastering, omdat Hy wat ‘n mens is, Homself God maak. Gemeente, merk u hoe die proses van aanvaarding of verwerping hier gaande is. Jesus skaam Hom nie vir wie Hy is nie. En as hulle nie sy woorde wil glo nie, as hulle sy woorde Godslasterlik vind, let dan op sy dade! Doen Hy nie die werke van sy Vader nie? As hulle die wonderwerke wat plaasgevind het, eerlik sou erken, sou dit hulle tot die belydenis bring:

    Die Vader is in Hom, en Hy in die Vader.

    Maar die Jode, die wat nie van sy kudde was nie, wou nie luister nie. Weer het hulle geprobeer om Hom gevange te neem. Maar dit was nog nie die regte tyd nie. En die Vader het dus gesorg dat Hy wegkom. Vanuit Jerusalem het Jesus toe uitgewyk na oorkant die Jordaan. Daar, op ‘n rustiger plek het Hy gebly.

    Maar, ook daar het sy eie skape sy stem herken. Baie het na Hom gekom.

    Baie het daar in Hom geglo. Geglo dat Hy die Verlosser, die Redder is!

    (Tema: Jesus se Naam leer ons dat Hy die enigste Verlosser is

  1. Hy is die Goeie Herder)
  2. Hy skenk genade op genade

    Gemeente, wat ‘n pragtige hoofstuk! En, om gered te word – hoe eenvoudig is dit nie! Die skapie hoef maar net die herder te volg. Die skapie moet maar net na die stem van die herder luister. Elke dag weer luister, as die herder roep.

    Jesus is die herder. Sy Naam beteken Verlosser. Hy is die enigste goeie herder.

    By niemand anders is enige saligheid te soek of te vind nie. Moenie jou saligheid soek by iemand of iets anders nie, of dit die heiliges is of wie ook al.

    Moet jou saligheid ook nie by jouself soek nie. Want dan verloën jy die enigste Verlosser en Heiland. In Hom het jy alles wat vir jou saligheid nodig is.

    Nou sal u uself dalk afvra. Wat is die verhouding tussen wat ons in hierdie preek hoor – naamlik dat slegs Christus die volkome Verlosser is, dat ons in Hom alles het wat vir ons saligheid nodig is – aan die een kant, en aan die ander kant die feit dat ons ook so dikwels in preke opgeroep word om ‘n goeie lewe te lei. Dat die dominee tog ook so dikwels vanaf die kansel oproep dat ons ons lewens moet verbeter. Dat die dominee waarsku dat wie nie ‘n goeie lewe lei nie, verlore kan gaan. Hoe werk dit? Is die dominee dan nie besig om jou in die rigting te druk dat jy jou eie saligheid moet verdien nie?

    Geliefde gemeente, hierdie twee dinge sluit mekaar nie uit nie. Die oproep tot daaglikse bekering, die oproep tot ‘n beter lewe, verminder nie die feit dat slegs Christus ons volkome Verlosser is nie. Later in die Kategismus, in die derde deel, gaan ons aandag skenk aan ‘n lewe van dankbaarheid. Tog is dit goed om vir ‘n oomblik hierdie twee – verlossing (die tweede deel) en dankbaarheid (die derde deel) langs mekaar te sit. Die oproep wat u so dikwels vanaf die kansel hoor om u lewe te verbeter, is deel van die dankbaarheid. Maar die oproep tot dankbaarheid is nie ‘n teenprestasie vir die verlossing nie. Die oproep tot ‘n goeie lewe is nie om die laaste 5 of dalk slegs 1% van ons saligheid nog self bymekaar te maak nie. Johannes Calvyn het dit treffend dubbele genade genoem. Genade op genade (Joh 1:16).

    Ons verlossing is een honderd persent genade. Maar ons dankbaarheidslewe is ook een honderd persent genade. Dit is dubbele genade. Tweehonderd persent. Genade op genade. Nadat Hy ons verlos het, skryf Calvyn, plaas Christus ons in die skool van sy Heilige Gees. In hierdie skool leer die Gees ons om ‘n toegewyde lewe te lei. Maar, in hierdie skool word nie leeggelê nie.

    Siedaar die noodsaak van gereelde waarskuwings, gereelde vermanings, aanhoudende aanmoedigings. Die hele bedoeling van ‘n skool is, dat die mense wat daarop sit, vordering maak. Dat hulle as ‘n beter mens die skool verlaat as wat hulle daar ingekom het. Meer toegerus in verskeie opsigte. Dit geld ook vir die skool van die Gees. In die skool van die Gees moet daar hard gewerk word.

    Want Hy is besig om ons meer en meer toe te wy, ons meer en meer gelykvormig te maak aan ons Hoof, Christus. Om dit prakties te maak, gemeente. As jy byvoorbeeld sewentig is, en jy skinder nog net so veel as toe jy twintig was, dan het jy leeggelê op die skool van die Gees. As jy sestig is, en jou sondige seksuele gedagtes is nog maar dieselfde as toe jy twintig was, dan het jy nie gevorder op die pad van heiliging nie. As jy nog steeds dieselfde rassistiese grappies as veertig jaar gelede maak, dan het jy bewus die werk van die Gees geblus. As jy al jare nie wil praat met ‘n ander medegemeentelid nie. As jy  jou lewensjare benut het om te groei in welvaart, huis na huis te koop, belegging op belegging, maar jy het nie gegroei in die vrugte van die Gees nie, dan het jy die tydjie wat God jou hier op aarde gun, verspil. Wie lyf wegsteek in die skool van die Gees, al is hy of sy ‘n kerklid, sulkes moet ek herinner aan Jesus se eie woorde:

    Baie is geroep, maar min uitverkies (Matth 20:16; 22:14).

    God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking (1 Thess 4:7).
    God het julle van die begin af verkies tot saligheid in heiligmaking van die Gees (2 Thess 2:13).

    Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking, waarsonder niemand die Here sal sien nie (Hebr 12:14).

    Soos ek genoem het, later sal ons terugkom by die heiligmaking, die derde deel van die Kategismus. Die derde deel is onlosmaaklik aan die tweede deel verbonde. Verlossing en heiliging is onafskeidelik. Wie verlos is, sal strewe na heiliging. Vir wie Christus die een en al is, sal elke moontlike geleentheid aangryp in die skool van die Gees, sal geen enkele onderlinge byeenkoms van Christus se kudde wil mis nie, sal lief wees vir die tien gebooie. As dit nie so is nie, is Christus nog nie die een en al in jou lewe nie.

    Toe die Kategismus geskryf is, het die Roomse kerk die leer van die algenoegdoening, die volkome genoegdoening van Christus, skepties bejeën.

    Dit sou lui Christene veroorsaak. Maar die kerk wat uit die Reformasie voortgekom het, het die teendeel bewys. Juis die sekerheid van verlossing in Christus het gesorg dat die Protestante oorgevloei het van goeie werke, veel meer vergeleke by die Roomses, wat naas Christus ook op hulle eie verdienstes moes staatmaak.

    Sondag 11 bely die sekerheid in Christus. Christus se skape ken sy stem, en sal Hom volg waar Hy ook gaan. As Hy sy skape in die skool van sy Gees plaas, sal hulle groei. En as dit by jou nog nie die geval is nie, dan moet jy teruggaan na die basis. Terug na Christus. Is jy werklik ingeplant op Hom? Is Hy werklik die een en al in jou lewe? Want as die basis reg is, dan sal die daaropvolgende dinge ook regkom. As jy ingeplant is in Christus, dan sal die vermanings, waarskuwings, oproepe van die Gees tot ‘n beter lewe vir jou soos musiek in die ore klink. Dan sal jy sy tugtiging as genade ervaar.

    Dis die staf van die herder, wat jou terugtrek, elke keer as die prediking jou tot introspeksie dwing. Dit die stok van die herder, wat die vyande wegjaag en jou verdedig, elke keer as die prediking waarsku teen valse leer, ketterye, verwêreldliking, jou ou mens. So bewaar Jesus jou, deur sy Gees en Woord, by die verworwe verlossing. Sy Naam herinner ons keer op keer dat Hy die enigste Verlosser is. Hy is die goeie Herder. Hy skenk dubbele genade.

    Ja genade op genade.

    Amen.

     

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 113:1,2

Gebed

Skriflesing: Johannes 10

Sb 12:1,3

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 11

Preek

Sb 36:1-5

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 23:1,2 (2e ber)

Kollekte

Ps 23:3 (2e ber)

Seën