Ons burgerskap is in die hemel

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2018-02-11
Text: 
Filippense 3:20
Preek Inhoud: 

Preek: Filippense 3:20

Ek het hierdie jaar begin met ‘n serie preke uit die brief aan die Filippense. Ons gaan vanoggend verder met hierdie serie. Filippens is ‘n brief van blydskap. Paulus is dankbaar oor Christus se werk in Filippi. Paulus is dankbaar oor die Filippense se gesindheid. Hulle het hom op die hart gedra, deur dik en dun. Hulle het hulle nie vir hom geskaam toe hy in die tronk gesit het nie.

In die eerste hoofstukke van die brief vind ons Paulus se bede dat die gesindheid van Christus net nog mooier en mooier mag word in die gemeente van Filippi. Hy gee erkenning vir wat Christus reeds in hulle midde gedoen het. En hy moedig hulle aan om verder te groei. As ons op Christus se gesindheid fokus, is daar nog oneindige moontlikhede om deur te groei rigting die volmaaktheid.

Ons gaan vandag verder met die behandeling van hierdie brief aan die Filippense, en ek mag u die Evangelie verkondig met hierdie tema:

Tema: Ons burgerskap is in die hemel

  • Dis die kruis of niks
  • Dis ons plek van burgerskap wat bepalend is
  • Dis die kruis of niks

    Paulus was van plan om Timotheüs spoedig na Filippi te stuur (2:19). Hy gee ‘n goeie getuienis van Timotheüs. In teenstelling tot ander wat net hulle eie belange soek, en nie Jesus Christus s’n nie. En daarna hoop Paulus ook om, nadat hy Timotheüs gestuur het, self spoedig te kom.

    Vervolgens vertel Paulus oor Epafroditus se omstandighede (2:25). Hy is deur Filippi na Paulus gestuur.  Hy het ‘n donasie uit Filippi vir Paulus gebring.

    Maar, skryf Paulus, in die tyd wat Epafroditus by hom was, het hy ernstig siek geword. Hy het by die dood omgedraai. Watter siekte dit was weet ons nie, maar uit vers 30 klink dit dat dit verband gehou het met sy opofferingsgesindheid, ter wille van die werk van Christus. God was hom egter barmhartig en hy het herstel. Paulus is baie droefheid bespaar.

    Paulus stuur hom nou terug na Filippi, ook met ‘n goeie getuienis. Sulke manne moet die gemeente in eer hou.

    En dan, aan die begin van hoofstuk 3, roep Paulus die Filippense nogmaals op om hulle in die Here te verbly. En dan skakel hy oor na baie ernstige woorde.

    Paulus waarsku naamlik die Filippense teen die honde. Nogal ‘n baie sterk uitdrukking, want dit gaan hier nie oor honde nie, maar oor mense!

    Slegte arbeiders. Meer spesifiek, Paulus gebruik hier die woord versnyding.

    Dit is afgelei van die woord besnydenis. Dis duidelik dat die saak Paulus na aan die hart lê.

    Ook in die Filippense was daar spanning, konflik, met die sinagoge. Rondom die vraag: wie is nou eintlik die ware kerk? Wie is nou eintlik God se ware volk? Paulus skryf met klem: ons is die besnydenis.

    Nou: dis nie dat Paulus die heidenchristene aangemoedig het, dat hulle beslis besny moes word nie. Daar was Christenjode wat heilig oortuig daarvan was, weet ons uit die res van die Nuwe Testament. Maar Paulus het nie op daardie punt getwyfel nie. Heidenchristene hoef nie meer besny te word nie.

    As hy skryf, ons is die besnydenis, dui hy op die besnydenis van die hart.

    Uiteindelik gaan dit oor die vraag: wie is God se verbondsvolk? En met klem hou hy die Filippense voor: dis hulle wat aan Christus Jesus behoort.

    Dis hulle wat op Hom roem, en nie op die vlees nie.

    Pasop vir die honde, pasop vir hierdie dwaalleraars, wat die besnydenis en die Joodse spyswette as toelatingsvereistes na vore skuif om aan die kerk te mag behoort. Nou is dit nie toevallig dat Paulus hierdie term honde gebruik nie.

    Dit was in daardie tyd onder die Jode naamlik ‘n gewoonte om na die onrein heidene as honde te verwys. ‘n Heiden, net soos ‘n hond, laat jy nie toe in jou huis nie, en sit nie saam met jou aan tafel nie, hulle deel nie met jou die badkamer of selfs die sitkamer nie. Hulle is onrein buitestaanders. Maar Paulus draai dit nou om. Juis daardie leraars wat die heidenchristene uit die gemeente weer, omdat hulle nie besny is nie, omdat hulle nie die spyswette nakom nie, juis hulle is honde!

    Nou sê nou maar die ou besnydenis was die kriterium, as dit die paspoort na die saligheid was, dan sou dit eintlik vir Paulus maklik gewees het. Hy het aan al die vereistes voldoen, om ‘n vooraanstaande lid te wees van God se uitverkore volk. Besny volgens voorskrif op die agtste dag. Afkomstig uit die stam Benjamin. ‘n Hebreër uit die Hebreërs, ‘n Fariseër. Ywerig om die gemeente te vervolg. Onberispelik in die geregtigheid van die wet.

    Wat wil ‘n Jood nog meer?

    Maar nee, daar het nou ‘n nuwe bedeling aangebreek. In die nuwe bedeling werk dit anders. Wat vir my vroeër wins was, dit ag ek nou om Christus’ wil skade.

    In verse 8-9 skryf Paulus op indrukwekkende, ontroerende wyse, dat in die nuwe bedeling alles om Christus draai! Daarom, ter wille van Christus sal ek alles prysgee en dit as drek beskou. Sy geregtigheid wat hy as Fariseër gehad het uit wetswerke, vergelyk nie naastenby met die geregtigheid wat hy nou verkry het, enkel uit geloof in Christus nie. Weer eens gebruik Paulus sterk woorde! Dit lê hom na aan die hart. Die kern van die Evangelie staan op die spel. Honde! Drek! Sjoe!

     

    Paulus skryf hier baie persoonlik, steeds in die ek-vorm. Maar dis wel bedoel as ‘n preek, as onderrig vir die Filippense. So het die Heilige Gees dit spesifiek bedoel. Die Filippense mog hulle inleef in Paulus se situasie.

    Paulus is ‘n perfekte voorbeeld van ‘n Jood waarin daar geen gebrek is nie.

    Desnietemin, hierdie verworwenhede, hierdie bevoorregte posisie uit die verlede, ag Paulus as drek, ja drek, die oomblik as hy dit vergelyk met wat hy nou in Christus gekry het. Daarom skryf hy: ek vergeet wat agter my is – dit het alles niksseggend geword! – en ek jaag na wat voor my is.

    Ons proe in vers 14 die beeldspraak van ‘n wedren. Die kinders sal dit goed kan verstaan, want dis mos nou die atletiekseisoen. As jy hardloop, dan kyk jy nie om jou heen nie, nog minder agterom. Want as jy dit doen, word jou spoed vertraag. Jy kyk net vorentoe, reguit vorentoe, na die wenstreep. Daar wag die prys, daarna jaag jy.

    Paulus se bevoorregte posisie in die verlede is nie meer relevant of aantreklik nie. Hy begeer nou die hoë roeping van God in Christus Jesus. Wat Paulus hier skryf, mag as aansporing dien vir die Filippense. Paulus roep hulle op: wees my navolgers (3:17)! Hy mag hulle rolmodel wees, nie as ‘n onbesproke Fariseër nie, maar een vir wie Christus die een en al in sy lewe is!

    Hoofstuk 3 eindig waarmee dit begin het. Dit het met die honde begin.

    ‘n Waarskuwing teen hulle. Die hoofstuk eindig weer met hulle. Moenie in hulle invloedsfeer kom nie.  Aan die einde van die dag is hulle vyande van die kruis van Christus. Vyande van die kruis van Christus.

    ‘n Mooi uitdrukking, wat in hierdie konteks baie beteken. Hierdie honde, hierdie predikers wat die Filippense weer wou terugtrek in de nakoming van allerlei Joodse verpligtinge, hulle probeer die Filippense verlei om self, deur die nakoming van hierdie verpligtinge, krediete by God op te bou. En om nie meer net op die kruis te vertrou nie – naamlik dat al ons skuld reeds deur Christus aan die kruis betaal is. As iemand iets langs die kruis plant, waarop jy ook moet vertrou, dan word mens per definisie ‘n vyand van die kruis.

    Dis die kruis of niks!

    (Tema: Ons burgerskap is in die hemel

  • Dis die kruis of niks)
  • Dis ons plek van burgerskap wat bepalend is

    Paulus roep die Filippense op: moenie jou identiteit verleen aan om onderdeel te wees van die Joodse volk, die ou verbondsvolk nie. Want ons burgerskap is in die hemel. Ons verwag, ons hoop op die hemel. Vandaar sal Christus terugkom, om ons vernederde liggaam aan sy verheerlikte liggaam gelykvormig te maak.

     

    Die woord burgerskap is die vertaling van die Griekse woord politeuma.

    Die woord beteken: die plek van jou burgerskap.

    Nou was daar in Filippi verskillende politieke of etniese groeperings. Daar was ‘n groot garnisoen oud-Romeinse soldate. In die Latynse taal is Filippi amptelik ‘n colonia genoem. Dis die Latynse vorm van die Griekse politeuma.

    As colonia het Filippi al die regte geniet van ‘n Romeinse stad. Hulle was op Rome georiënteerd, dit was die plek van hulle burgerskap.

    Maar verder was daar in Filippi ook ‘n Joodse politeuma of gemeenskap.

    Orals waar die Jode gewoon het, het hulle hulle eie gewoontes en tradisies saamgebring. Hulle het nie met die ander mense gemeng nie. Hulle was op Jerusalem georiënteerd, dit was die plek van hulle burgerskap.

    Nou het die Christene in Filippi hulleself afgevra: wat is ons vaderland?

    Wat is die plek van ons burgerskap?

    Assosieer ons met die Romeine, hulle wat die politieke oorheersers is?

    Of assosieer ons met die sinogoge, die Joodse gemeenskap?

    Of assosieer ons gewoon net met die ‘locals’?

    Nee, skryf Paulus, as gemeente van Christus is julle ‘n sameraapsel uit alle volke en tale. En julle hoef nie ‘n aardse oriëntasiepunt, ‘n aardse plek van burgerskap, te hê waaraan julle jul identiteit ontleen nie. Dit gaan slegs verdeeldheid in die gemeente veroorsaak. Die Jodechristene sal steeds na Jerusalem toe trek. Hulle sal die Joodse tradisies en gewoontes bly koester.

    Die Romeinse Christene gaan egter op Rome fokus. En die ou heidene gaan hulle lokale kultuur probeer handhaaf, as Macedoniërs. ‘Local is lekker’.

    Maar wat is jou identiteit as Christen? En wat moet jy as gemeente doen, waar Jode, Romeine en ‘locals’ bymekaar kom? Moet ons nou maar aparte gemeentes stig? ‘n Joodse kerk, ‘n Romeinse kerk, ‘n Macedoniese gemeente?

    Nee, Paulus lei hulle om bo hierdie onderlinge verskille uit te styg. Paulus skryf baie bewus: Julle burgerskap is in die hemel!

    Dit is julle plek van burgerskap.Dit is julle oriëntasiepunt. Daar sit julle Owerste, Christus Jesus, op die troon. As in die teks die woord hemel in die meervoud staan, hemele, dan wys dit spesifiek op die troon van God. Vandaar verwag jullle Hom terug! En julle almal, Romeine, Jode, Macedoniërs, julle almal vorm saam ‘n nuwe burgerskap, ‘n nuwe colonia.

    ‘n ‘Kolonie’ van die hemelse ryk op aarde!

    As ons almal saam dieselfde burgerskap het, dan bring dit ook eenheid.

    Dit is waartoe Paulus dan ook oproep, verskeie kere in hierdie brief.

    “Laat ons eensgesind wees” (3:16).

    “Maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin.” (2:2)

    Dit is so maklik dat daar groepsvorming in die gemeente optree. Dat die Jodechristene byvoorbeeld meer liefde vir hulle eie mense het, as vir die res van die gemeente. Dit mag nie so wees nie. Christus bou ‘n nuwe eenheid, ‘n nuwe identiteit. Dit is sy kerk, uit alle volke, nasies en tale. Die ou Joodse verbondsvolk het afvallig geword. Hulle eie kultuur en identiteit het vir hulle meer geweeg as Christus. Hulle het ‘n krom en verdraaide geslag geword, soos Paulus skryf in 2:15. Paulus sinspeel hier op die lied van Moses uit die Ou Testament, waar die HERE se volk, wanneer hulle van Hom af wegdwaal, ‘n “verkeerde en verdraaide geslag” genoem word (Deut 32:5).

    En dit, skryf Paulus, het waar geword in sy tyd. God se ou volk, deurdat hulle die Messias verwerp het, het ‘n krom en verdraaide geslag geword.

    Die gelowiges moet onder hulle skyn soos ligtende sterre.

    Wat Paulus hier skryf, skryf hy ook uit eie ervaring. Dit val op hoe persoonlik Paulus in hoofstuk 3 is. Hy skryf steeds in die eerste persoon. Dit sou baie maklik gewees het om by die een groep aan te sluit. As gebore Hebreër, besny op die agtste dag, uit die stam Benjamin, selfs ‘n Fariseër, is sy papiere reg.

    Sy bloedlyn is suiwer, hy hoef oor niks skaam te wees nie. Hierdie lys met eienskappe wat Paulus oor homself noem, is waarskynlik wat die Joodse predikers ook gedoen het. Dit was hulle ‘pedigree’, dit is wat hulle status gegee het in die Joodse gemeenskappe. Wel, vir Paulus geld presies dieselfde.

    Sy ‘pedigree’, sy status styg selfs uit bo die van daardie Joodse predikers. Hy kan elke Jood reguit in die oë kyk.

    Dit sou so maklik vir hom gewees het om gewoon aan te gaan, soos vroeër, met Jerusalem as sy politeuma, sy plek van oriëntasie en burgerskap.

    Maar nee, soos ek genoem het, druk hy homself baie sterk uit. Hierdie dinge het vir my geword soos drek! Drek het nie waarde nie, mens spoel dit weg sonder om eers daarna te kyk. Hierdie is ‘n ernstige oproep aan die mense in Filippi met Joodse wortels: Moenie jou taal, kultuur, tradisie, jou besnydenis bo Christus plaas nie!

    Aan die ander kant het Paulus ook ervaring daarmee gehad om ‘n Romeinse burger te wees. In teenstelling tot baie ander Jode het hy ‘n dubbele paspoort gehad, by wyse van spreke. Hy kon ook gekies het om sy plek van oriëntasie, sy plek van burgerskap, Rome te maak. Hy het die voorregte van ‘n Romeinse burger geniet, en het ook daarvan gebruik gemaak. Ons kan daaroor lees in die boek Handelinge, hoe hy handig sy Romeinse burgerskap gebruik het (Hand 16:37, 22:25, 23:27).

    Maar ook dit was aan die einde van die dag drek. Drek as mens dit teenoor die burgerskap van die koninkryk van die hemele plaas! Ja dit is sy oriëntasiepunt – daar waar Christus is!

    Waar Hy gesete is, op die hemelse troon! Wat ‘n rykdom, wat ‘n voorreg, hou Paulus die Filippense voor. Moenie onder mekaar redekawel wat die beste is, of jy ‘n Joodse burger, ‘n Romeinse burger, ‘n Macedoniër, of wat ook al is nie.

    Staan saam, en fokus saam op Christus. Dit is so oneindig veel ryker, die feit dat julle plek van burgerskap die hemel is!

    Nou is Paulus se oproep aan die Filippense net so relevant en aktueel vir ons as gemeente. Want wie is ons? Wat is ons burgerskap? Is ons grotendeels Afrikaners? Of is ons Suid-Afrikaners? Of is baie van ons nog Hollanders?

    Het jy ‘n Suid-Afrikaanse paspoort? Of het jy ‘n Hollandse paspoort?

    Of het jy dalk albei? Is dit verkeerd om twee paspoorte te hê?

    Beteken dit dat jy nie werklik toegewyd is aan die land waar jy woon nie?

    Wanneer is jy toegewyd aan die stad of land waar jy woon? Wanneer is jy ‘n Afrikaner? Is jy eers ‘n regte Afrikaner as jy jaarliks die Voortrekkermonument besoek op Geloftedag? Wanneer is jy nog ‘n Hollander? As jy ‘n Hollandse paspoort het, moet jy dan per sé die funksies bywoon wat by die Hollandse ambassade gereël word? Ek weet, gemeente, dat hierdie ongemaklike vrae is. Dit is vrae wat ons besig hou, net soos dit baie mense in ons land besig hou. Dit is vrae wat ook baie maklik verdeeldheid kan veroorsaak. Dit is so maklik om eksklusief te begin raak, ander te etiketteer, groepsvorming in die hand te werk met hierdie tipe onderwerpe. Hoe bereik mens eenheid?

    Maar gemeente, met die teks van vandag tel Christus ons bo hierdie verdeeldheid uit. Die oproep aan die gemeente in Filippi is ook die oproep aan ons. Laat ons eensgesind wees. Hoe bereik ons eensgesindheid?

    Ons bereik dit nie deur maar liewerste nie openlik oor hierdie sake te praat nie, en dit te verswyg. Ons bereik dit nog minder deur van almal te verwag om Afrikaners te word? Ons bereik eenheid juis deur hierdie sake te relativeer.

    Of soos Paulus skryf: dit as drek te beskou. Solank ek vir Christus mag ken!

    Ons burgerskap is in die hemel, daar waar Hy is op die troon! Of ek ‘n Boere-Afrikaner is, of ek ‘n Hollandse paspoort in my agtersak het, of ek die moontlikheid het om Australië toe te kan gaan, dit alles beskou ek as drek.

    Want wat oneindig ver daarbo uitstyg, is dat ek die paspoort het van die koninkryk der hemele. En die feit dat ons almal deur Christus geroep is en saamgevoeg is as sy gemeente, en dat ons op Hom en sy diens gefokus is, dit bring eenheid onder ons. En dan pla dit nie meer dat sommiges Afrikaans praat, ander Engels, of Hollands, of Sotho of Zulu nie.  Daardie identiteite is sekondêr, primêr is ons nuwe identiteit in Christus, ons hemelse burgerskap.

    Ons is toegewyd om arbeiders vir sy koninkryk te wees, waar op aarde Hy ons ook al plaas.

    En as ons van plek verwissel, in die verlede het gemeentelede uit ons midde verhuis na verskillende streke, Australië, Nieu-Zeeland, Nederland, Amerika, dan bly ons primêre burgerskap dieselfde. Solank ons Christus dien. Baie Suid-Afrikaners verhuis na die buiteland primêr uit finansiële oorwegings. In alles wat ons doen, ook as ons ‘n emigrasie oorweeg, moet ons onsself eerlik afvra: dien ek Christus, of dien ek Mammon? Dalk het Christus my juis in hierdie land geplaas met ‘n belangrik taak, as burger van sy koninkryk. Dalk moet ek hier uithou, al beteken dit moontlik minder inkomste, en minder sekuriteit vir my liggaam. Dus bly ek hier, om sy koninkryk te bou. Ek bly nie hier om ‘n Boere Afrikaner te word, of ‘n liberale Afrikaner of Engelsman of wat ook al nie. Al daardie identiteite is drek, soos Paulus se Joodse nasionalisme vir hom drek geword het, nadat hy Christus leer ken het.

    Ons leef in ‘n land vol van mense met die mees uiteenlopende identiteite.

    Elf amptelike tale. Maar wat so mooi is, is dat die boodskap van ons teks perspektief bied, ja ook vir ons land bevryding uit al sy probleme. Wanneer die mense van ons land hulle eie identiteit begin relativeer, ‘n nuwe identiteit in Christus vind, dan sal daar rus en vrede kom. Niemand hoef sy identiteit op te gee nie. Paulus het ook aangehou om ‘n Jood te wees, en hy het sy Romeinse burgerskap behou. Hy het hierdie dinge juis ingespan in diens van sy primêre burgerskap, in diens van die koninkryk van Christus. Dit mag ons ook doen, in ons gemeente, in ons kerkverband. In sy kerk skep Christus ‘n nuwe eenheid, so kosbaar, dat alles daarmee vergeleke maar net drek is.

    Ons strewe in die lewe is nie ‘n outonome staat vir ons eie taal en kultuurgroep nie. Ons strewe is om te skyn soos ligtende sterre te midde van ‘n krom en verdraaide geslag (2:15). Ons fokus is wat die teks sê: ons verwag as Verlosser die Here Jesus Christus. Maranata.

    Kom Here Jesus, verander my vernederde liggaam van gedaante. Maak dit gelykvormig aan u verheerlikte liggaam. Kom terug, en onderwerp alles aan u koninkryk.

    Geliefdes, volgende week mag ons nagmaal vier, die eerste keer vir 2018.

    As u hierdie week voorberei vir die nagmaal, vra uself hierdie vraag. Waar is my burgerskap? Waar is my primêre burgerskap? Is dit die koninkryk van die hemele? En vra uself: streef ek na eenheid met almal wat hierdie selfde burgerskap het? Ons gaan volgende week aan tafel sit met uiteenlopende mense. Afrikaners, Engelse, Hollanders, Sothos. Maar al hierdie identiteite raak op die agtergrond, as Christus op die voorgrond is. Ons kyk op na sy hemelse troon. Dis die plek van ons burgerskap. Dis bepalend.

    Saam mag ons Christus se gemeente op aarde wees, ‘n nuwe identiteit.

    Ons beslissende identiteit. Dis die kruis of niks. Amen

  •  

     

     

     

     

 

Liturgie: 

Votum (Ps 121:1)

Seën

Ps 26:2,5

Wet

Ps 43:3-5

Gebed

Skriflesing: Filippense 2:19-3:21

Ps 113:1-3

Teks: Filippense 3:20

Preek

Ps 73:11,12

Gebed

Kollekte

Sb 8:2,4,5

Seën