Die HERE stuur die Engel van die verbond

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2017-11-26
Text: 
Maleagi 3 : 10
Preek Inhoud: 

Preek: Maleagi 3:10

Dis opvallend hoe R100 baie lyk as mens dit in die kollektesak gooi, maar hoe vinnig mens dit by die winkel uitgee. Dis opvallend hoe lank ‘n uur duur as mens in die kerkbanke sit, en hoe vinnig ‘n uur verby is, as mens met vriende kuier. Dis opvallend hoe maklik ons die koerant glo, en hoe ons geneig is om te twyfel aan dit wat in die Bybel staan. Dis opvallend hoe ons dikwels sukkel om ‘n geskikte datum te vind vir ‘n kerklike vergadering, en hoe maklik ons ons agenda kan aanpas vir ander sake. Nou word daar vanaand broeders in die amp bevestig. Ongetwyfeld het hulle, en ook die ander broeders wat op tal staan, oorweeg of hulle wel tyd het om in die amp te dien. Ongetwyfeld besef hulle dat, as hulle vanaand ja gaan sê, daar vir die komende drie jaar ‘n ekstra verantwoordelikheid op hulle skouers gaan rus, wat tyd gaan kos. Tyd is kosbaar. Waarvoor gebruik ons ons tyd?

Tema: Die HERE  stuur die Engel van die verbond om:

  • Sy volk te toets
  • Sy volk op te roep om Hom te toets
  • Sy volk te toets

    Die profeet Maleagi het gelewe in ’n tyd wat die diens aan die HERE in orde was, altans vanaf die buitekant gesien. Van binne was dit egter hol.

    Die vorme is in stand gehou, maar die hart was nie altyd aanwesig nie. Om hierdie rede moet Maleagi as profeet die koms van die Engel van die verbond aankondig. Maleagi profeteer: die HERE sal skielik na sy tempel kom, naamlik die Engel van die verbond. Hierdie koms sal nie iets wees om na uit te sien nie.

    Wie sal die dag van sy koms kan verdra?

    Maleagi gebruik ‘n vergelyking om te verduidelik. Hierdie dag sal wees soos die vuur van die smelter. Mens kan hier dink aan die proses van die smelt van silwer of goud of yster. Deur hierdie metale te smelt, word alle onsuiwer bestanddele geskei van die metaal. Die vuur laat die metaal smelt. Met die opwarming begin alle vuiligheid bo te dryf, en kan sodoende verwyder word.

    God se volk gaan gesmelt word, nie iets om na uit te sien nie, veral as jy deel van die vuiligheid, die onrein bestanddele is.

    Maleagi gebruik nog ‘n vergelyking.

    Die Engel van God sal ook wees soos die loog van die bleker. Loog is ‘n chemiese oplossing om klere te suiwer, om wit doeke weer spierwit te kry.

    So sal die Engel van die HERE die seuns van Levi reinig. Priesters wat van buite die skoonste klere dra, maar wat van binne onrein is, wat ‘n sondige lewe lei. Die Engel van die HERE sal die tempelpersoneel suiwer. Hy sal persoonlik in sy tempel orde op sake kom stel. Sodat God weer behae kan skep in die offers wat gebring word. Maar nou, in Maleagi se dae, het God gewalg van die offers.

    Die Engel van die verbond sal ook kom om reg te spreek. Maleagi profeteer: Hy sal ‘n vinnige en gedugte aanklaer wees van die towenaars, egbrekers, meinediges, die wat die loon van die dagloner agterhou, wat die weduwee en wees verdruk, die vreemdeling uitbuit, almal wat nie ontsag vir sy wette het nie.

    Die HERE het nie verander in al hierdie jare nie, noem Maleagi. Dit is iets waarmee die mense rekening moet hou, ook die priesters. En dit geld vandag natuurlik nog steeds. As mense verander ons, ook kerkmense verander. Wat gister nie geoorloof was nie, gebeur vandag gewoon. Wat vandag nie geoorloof is nie, wie weet môre wel. Maar by God is dit nie so nie. Dit is vir ons enersyds ‘n troos, ‘n houvas – God se onveranderlikheid.

    Maar andersyds is dit ook ‘n waarskuwing.

    Maleagi roep die mense terug na die HERE. God laat Homself nie om die bos lei nie. Hy sien iets nie deur die vingers nie. Maleagi noem die sonde by die naam.

    Die Engel van die verbond kla die priesters wat in die tempel werk aan. Want hulle beroof God. Mag ‘n mens God beroof? Die vraag vra ‘n antwoord.

    Dis vanselfsprekend, nee, natuurlik mag ‘n mens nie vir God beroof nie? Maar watter snaakse vraag is dit, sou die mens vir Maleagi gevra het! Hoe kan iemand ooit vir God beroof? Wat bedoel Maleagi, as hy sê dat die mense God beroof?

    Maleagi konfronteer die priesters en die volk met die wet van die HERE. Waar is die tiendes, waar is die offergawes? Is julle dalk bang dat julle self te min oorhou, as jy eers vir die HERE gee? Kom maar, beproef My. Dit beteken: probeer My maar uit. Plaas die tiendes eerste op jou begroting. Probeer dit ‘n keer. Maak die diens aan die HERE nommer 1 in jou lewe.Probeer dit maar uit.

    En, dan gee God hierdie waarborg:

    Ek sal die vensters van die hemel, die sluise van die hemel, vir jou oopmaak.

    Wat ‘n uitspraak! Israel is net soos ons land, ‘n waterarme land, vir ‘n groot deel selfs woestyn. Tog sê die HERE: die sluise van die hemel sal Ek ooptrek.

    Hierdie word dan in die volgende verse nog nader toegelig, toegespits spesifiek op die agrariese samelewing waarbinne Maleagi geleef het. God sal daarvoor sorg dat die sprinkaan nie sy verskyning maak nie. Donker wolke sprinkane was ‘n nagmerrie vir elke boer. Hulle kon in een dag die hele oes verwoes. Maar die HERE sal sorg dat die vrug van die land ongeskonde bly tot die dag van die oes. Die wynstok sal oorvloedig dra. Jy sal woon in ‘n begeerlike land. Alle mense oor die hele wêreld sal begeer om in jou land te woon.

     

    Gemeente, broeders wat vanaand in die amp bevestig word, durf u dit?

    Durf u God op nommer 1 te plaas in jou lewe? Die tiendes bo aan jou begroting? En dan praat ek vandag nie net oor geld nie, maar ook oor tyd. Dit wat ons in die wet van Moses lees oor die tiendes, is nie net toepasbaar op ons geld nie, ook op ons tyd, ja op ons hele lewe. In Deuteronomium 14 kan ons lees hoe die volk jaarliks ‘n tiende van die oes aan die HERE moes gee. As ‘n boer die afgelope jaar honderd beeste bygekry het, moes hy tien na die tempel bring. En ‘n graanboer het ‘n tiende van sy oes, miskien ‘n wa vol, na die tempel gebring. Dit kon ook gebeur, as iemand ver van die tempel gewoon het, dat hy – soos daar in Deuteronomium 14 staan – die oes in sy woonplek verkoop het, en dan met die geld na die tempel gereis het.

    En wat moes hy dan in Jerusalem met die geld doen?

    In Deuteronomium staan: as jy in Jerusalem kom, mag jy die geld bestee vir alles waarvoor jy lus is, vir beeste of kleinvee, vir wyn of wat jy ook wens, en jy moet jouself daar verheug voor die aangesig van die HERE, jy saam met jou huisgesin. Ook die Leviet, wat binne jou poorte woon, mag jy nie aan sy lot oorlaat nie, want hy het geen besit of erfdeel nie. Van die tiendes moes die Leviete dus ook onderhou word. Die Leviete het nie net in Jerusalem gewoon nie, maar versprei oor die hele land. Hulle het geen eie grondgebied gehad nie.

    Hulle het in elke stad en dorp die volk onderrig gegee uit die Woord van God.

    God het verwag dat sy volk ‘n tiende van hulle inkomste moes bestee. Dit was bedoel vir die priesters en Leviete. Dit was bedoel vir die openbare erediens.

    Dit was ook bedoel om self fees te vier. Elke gesin moes een keer per jaar na Jerusalem kom. Dit was iets positiefs, mens kan dit met ‘n vakansie vergelyk.

    Want in Jerusalem mog hulle feesvier, juis van die tiendes.

    Maar wat was nou die geval in die dae van Maleagi?

    In sy tyd is daar gekul met die tiendes. Deur almal, sowel die volk as die priesters. Die mense het nie meer die volledige tiendes gebring nie. En as daar geoffer is by die tempel, is die beste deel van die dier nie meer verbrand nie.

    Die vet, dit was in daardie tyd die beste deel. Die priesters het nie die vet verbrand nie, maar dit vir hulleself bewaar. Dink aan wat die seuns van die priester Eli gedoen het (1 Sam 2). Die seuns van Eli het nie met die HERE rekening gehou nie. Elke keer as iemand ‘n slagoffer gebring het, het hulle dit vir hulleself gevat. Nog voordat die vet in rook kon opgaan, het die kneg van die priester vir die persoon wat die offer kom bring het, gesê: Gee die vleis vir die priester, gekookte vleis sal hy nie van jou aanneem nie, slegs rou vleis.

    As die persoon dan antwoord: maar die vet moet mos eers in rook opgaan, dit is mos vir die Here, dan het die kneg gesê: Luister, gee dit nou dadelik, anders vat ek dit met geweld.

    Soortgelyke toestande het in Maleagi se dae voorgekom. So het van die goeie bedoeling van God se wet nie veel meer oorgebly nie. Dat die volk en die priesters saam in vrede kon eet, nadat hulle die beste deel uit dankbaarheid aan die HERE gegee het. Omdat God hulle die hele jaar lank van die beste voorsien het. Nee, die vet is agtergehou, asof die volk die hele jaar deur, nooit vet gehad het nie. So het dit dus gegaan in Malaeagi se dae.

    En dan nog een voorbeeld.

    Daar was ook Israeliete wat geredeneer het: hoekom sou ons nog na die tempel in Jerusalem gaan? Hoekom elke keer weer daardie afstand aflê na die huis van God? Hulle wou nie meer nie. Hulle het geredeneer: die geld wat ek daar uitgee, kan ek ook anders gebruik. Ek bly lekker by die huis. Dis hoekom Maleagi sê: Mag ‘n mens God beroof? Julle beroof God! Julle hou die tiendes vir julleself. Julle lewe die hele jaar van God se seëninge. Maar julle is nog nie eers bereid om ‘n tiende van julle inkomste aan Hom te gee nie. Bloot as blyk dat jy daarvan bewus is dat jy van sy seën, van sy genade, die hele jaar lewe.

    (Tema: Die HERE  stuur die Engel van die verbond om:

  • Sy volk te toets)
  • Sy volk op te roep om Hom te toets

    Watter boodskap het Maleagi nou vandag vir ons?

    Ons kan begin deur te kyk hoe sy profesie in Christus vervul is. Hy is die Engel van die verbond, wat na sy tempel gekom het. Christus het die tempel gereinig, meerdere kere, toe Hy sy ampswerk op aarde vervul het. Hy het met die tempelplein begin, daar waar daar handel gedryf is en baie geld verdien is.

    Die gerinkel van geld het weer plek gemaak vir die lofsange van kinders, en die blye krete van siekes wat genees is. So het Hy die bedoeling agter die tiendes weer in ere herstel, beginnende by die huis van God. Maar sy reiniging van die tempel het nie by die tempelplein gestop nie. Aan die kruis het sy bloed gevloei, en met daardie offer het Hy al die sondes van God se kinders versoen. Sy offer het deurgedring tot verby die voorhangsel, tot in die allerheiligste. Die tempelgordyn het geskeur, soos die wolke bo ‘n droë land skeur en ‘n oorvoedige reën uitgiet. So het, met die skeur van die voorhangsel, die vensters van die hemel oopgemaak. Danksy Golgota word daar nou ‘n oorvloedige seën uitgestort. So mag ons, elkeen van u persoonlik, en ook ons as gemeente, vandag lewe terwyl die vensters van die hemel oopstaan. En ons word opgeroep om gebruik te maak van hierdie oorvloedige seën!

     

    Weet u wat so mooi is aan ons teks? Die woordjie beproef. Dit is die vertaling van ‘n Hebreeuse woordjie, wat wil sê: Toets My maar.

    Net soos mens kosbare metale toets deur hulle te smelt. Soos ‘n edelsmit goud smelt. Dit is ‘n ingrypende proses, waardeur onrein elemente uitgesuiwer word. Soos ons eerder gehoor het: die Engel van die verbond toets ons. Maar nou sê God: toets My nou ook! Beproef ook My! Dieselfde woord word hier gebruik. Wat die Engel van die HERE moet God se volk doen, dit mag die volk nou met die HERE doen! Toets My maar.

    Dan sal julle sien dat Ek betroubaar is!

    Geliefdes, broeders ampsdraers, gaan u die HERE toets? Ouderlinge, diakens, as julle volgende jaar met julle ampswerk begin, gaan julle sommer julle huisbesoeke aan die begin van die jaar afhandel? Nie uitstel tot die laaste twee of drie maande van die jaar nie? ‘n Goeie begin is half gewin, sê die spreekwoord. Maar ons teks sê nog meer: wie sy tiendes bo aan sy begroting plaas, sal agterkom dat God die sluise van die hemel ooptrek! Nie dat ons God met ons tiendes kan omkoop nie.  God is nie van ons gawes, en van ons ampswerk, afhanklik nie. Ons het Psalm 50 gesing, waar God vir sy volk sê:

    As Ek honger sou wees, het Ek julle nie nodig nie. Die hele wêreld is my grondgebied.

    God roep ons tot die tiendes, omdat Hy ons daarmee iets wil leer. Hy werk hiermee aan ons gesindheid. Is jou gesindheid reg? Hoe gee jy jou offergawes?

    Met watter gesindheid? En hoe verrig jy jou ampswerk? Met watter gesindheid? Destyds was die tiendes bedoel vir verskeie sake. Dit het gevarieer van die instandhouding van die openbare erediens by die tempel, die diens van die priesters, die Leviete wat verspreid oor die land die volk moes onderrig. En dan was daar nog die versorging van armes, weduwees en wese, wat meestal in familieverband gebeur het. Die HERE sê: toets My maar!

    Doen hierdie dinge gewillig, en kyk of Ek vir jou sal kan sorg.

    Vandag is alles nie meer presies gestruktureer soos destyds nie. Maar nog steeds moet ook vandag die openbare erediens in stand gehou word. Elke Sondag moet die Evangelie verkondig word, vir God se volk, vir die hele wêreld. Vandag moet die verbondsjeug nog steeds onderrig ontvang. En ook vandag is daar nog steeds armes, weduwees, wese, vreemdelinge.

    Geld die tiendes nog letterlik?

    Nee, maar in die Nuwe Testamentiese tyd, waarin die Evangelie die hele wêreld oor gebring moet word, kan mens wel sê: Minder as ‘n tiende pas glad nie in die Nuwe Testament nie. Meer as ‘n tiende, indien moontlik, lê wel in lyn met die uitdagings van die nuwe verbond. Die een persoon het dit dalk nie breed nie. Maar hy betaal sy tiendes, vertrouende op God.

    Die ander persoon het dit wel breed, en met ‘n blye hart betaal hy meer as ‘n tiende. Die HERE sê: toets My maar!

    Doen hierdie dinge gewillig, en kyk of Ek vir julle sal sorg.

    Dieselfde geld vir ons tyd.

    Spandeer ons ons tyd net vir onsself, vir dit wat jy self lekker vind? Het jy ook tyd vir ander dinge? Wie die gesindheid van Christus het, sal dit juis ook geniet om te dien. In soveel kerke is dit al hoe meer ‘n gesukkel om ampsdraers te vind. Daar is al hoe minder broeders wat die kenmerke vertoon vir ‘n ampsdraer. Soos reg rondom ons gebeur, word dan ook maar susters oorweeg. Maar dit is net ‘n tydelike oplossing, as die gesindheid van Christus nie meer in ‘n gemeente heers nie. Hy het gekom om te dien. Hy het nie eerste na sy eie belange omgesien nie. So word julle ampsdraers ook geroep om die gesindheid van Christus te hê. En deur julle eie voorbeeld van gewilligheid gaan julle die gemeente ook aanspoor. Doen trou jou besoeke, en dit nie op die laaste nippertjie nie. En u as gemeente word opgeroep om nie net op die kantlyn te staan en beoordeel nie. Dis nie net die ampsdraers wat op die veld is nie.

    Die HERE roep ons almal op: toets My maar! Plaas Hom op die eerste plek in jou lewe. Wys jou dankbaarheid. Staan jou tiendes met ‘n dankbare hart af.

    Geld, maar ook tyd. Moenie jouself afvra of jy daarna genoeg gaan oorhou nie.

    Maar beproef God. Durf jy dit? Durf die ampsdraers dit?

    Tyd opsy sit vir jou ampswerk, vertrouende dat die HERE sal voorsien?

    Amen.

     

     

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Sb 49:3,6

Gebed

Skriflesing: Maleagi 2:17-4:6

Ps 50:1,4,5

Teks: Maleagi 3:10

Preek

Ps 50:6,7,8

Bevestiging ampsdraers

Ps 134:4

Gebed

Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 65:7,8

Seën