In die Skrif vind ons die juweel van die volharding van die heiliges

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2017-11-12
Text: 
Dordtse Leerreels 5 par 5-10
Preek Inhoud: 

Die laaste hoofstuk van die Dordtse Leerreëls handel oor die volharding van die heiliges. Dit het alles te make met sekerheid, sekerheid van redding, sekerheid van uitverkiesing. Dit is ‘n juweel wat die Reformasie weer in die Skrif ontdek het, nadat die kerk dit vir eeue oor die hoof gesien het. Dit is ‘n juweel wat die Sinode van Dordrecht taai bly verdedig het, teen die Remonstrante, wat net soos die Roomse kerk, weer onsekerheid begin aanprys het.

Tema: In die Skrif vind ons die juweel van die volharding van die heiliges

  • Die gelowiges word nouliks gered
  • Die gelowiges val nog in sonde
  • Die sekerheid van redding laat die gelowiges nie leef in sonde nie

Die gelowiges word nouliks gered

Vier mense het haastig by Sodom se poorte uitgegaan. Dit was nog donker en die mense van die stad was nog vas aan die slaap, onbewus van wat daardie dag met hulle sou gebeur. Die engele het wel vir Lot en sy familie vertel wat op koms was. Daar was nie tyd om enige besittings saam te neem nie. Daar was slegs tyd om hulle eie lyf te red. Alles moes hulle agterlaat.

Lot se skoonseuns het gelag tot hy hulle probeer oorreed het om saam te kom.

Hulle het die storie nie geglo nie. Die engele het vir hulle gesê dat hulle moes maak dat hulle so gou moontlik wegkom, sonder om agterom te kyk. So het vier figure Sodom en Gomorra verlaat.

Maar een van die vier, Lot se vrou, het nie ver gekom nie. Sy het nie in Soar aangekom waarheen hulle oppad was nie. Sy het agterkom gekyk, sy het getalm, teen die uitdruklike instruksie van die engele in. Met die gevolg dat die swawel en vuur haar ingehaal het en sy net soos die goddelose stede ‘n soutpilaar geword het. Lot se vrou het omgekom, en dit was haar eie skuld.

In die Nuwe Testament waarsku die Here Jesus ons: “Dink aan die vrou van Lot!” (Luk 17:32) Hoekom? Omdat Lot se vrou ‘n voorbeeld is van iemand wat amper gered is, maar toe tog verlore gegaan het.

“As die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn?” (1 Petrus 4:18)

Sowel Lot as sy vrou het saam met Abraham uit Ur vertrek. Hulle het aan dieselfde tafel geëet, in dieselfde bed geslaap, maar tog is net die een gered, en die ander een het verlore gegaan. As God nie redes uit Homself geneem het nie, sou Lot net so goed omgekom het. Lot is gered. Hy was ‘n swak sondaar, sy lewe was ver van onbesproke, maar het wel sy anker in God gehad. Soos ons in Petrus kan lees, Lot het homself baie gekwel oor die losbandige lewe van die sedelose mense (2 Petr 2:7).

Hy en sy gesin het ver weggesak in hierdie sedelose moeras, maar hy is ternouernood gered. Eerlik gesê, het hy dit nie verdien nie.

Wat leer die geskiedenis van Lot ons oor die volharding van die heiliges?

Ons leer dat Lot gered is, ten spyte van al sy sondes. Ons sien hoe sy vrou omgekom het, ten spyte van die groot voorregte wat sy geniet het. Sy mog vir jare lank in die verbond lewe, sy het ook die verbondsvoorregte geniet.

Desnieteenstaande het sy omgekom. Hieruit leer ons hoe noodsaaklik dit is dat ons ons roeping en verkiesing moet vasmaak. Ons kan dit nie as van  selfsprekend aanneem nie. Baie mense in die kerk is soos Lot se vrou. Dit lyk of hulle gered sal word. Hulle is op die pad van ontsnapping by die oordeel geplaas. Hulle gaan kerk toe, maar hulle hart is nog steeds in Sodom. Hulle kyk om. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees, het Jesus gewaarsku.

Hierdie geskiedenis kan ons bang maak. As iemand so naby aan redding kon gekom het, maar dan tog omkom, wie kan dan gered word? As ons eerlik na onsself kyk, moet ons erken dat daar nog baie sonde en wêreldgelykvormigheid in ons skuil. Ons is bang dat ons ook gaan opeindig soos Lot se vrou. Tog, die feit dat iemand bang is daarvoor, sê wel iets.

Mense wat hipokriet is sal nie bang wees nie. Maar ‘n ware kind van God is dikwels bang. As hy na homself kyk, sien hy raak dat daar alle rede is dat God presies dieselfde met hom moet doen, as met Lot se vrou. ‘n Ware gelowige is dikwels bang dat die Heilige Gees uit sy lewe sal wegbly. Dawid het in groot angs gebid: “Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.” (Ps 51:13)

Die HERE strek sy arms uit na hulle wat bang na Hom toe vlug. Om eerlik te wees, God ken sy kinders deur en deur. Hy is nie verras as hy sien dat sy kinders in sonde val nie. Dit wil nie sê dat Hy dit goedkeur nie. Hy ken ons swakhede. Hy weet hoe om met sy kinders te werk. Hy weet, daar was nooit en daar sal nooit enige rede in onsself wees wat dit vir God die moeite werd maak om ons te red nie. God weet dat ons soms so onnosel is dat ons ons ewige saligheid op die spel plaas, ter wille van ‘n kortstondige sondige aardse plesiertjie. Maar dit is God se wil dat Hy sy kinders wil red, en Hy sal hulle red, ter wille van sy eie Naam en eer.

Opregte gelowiges worstel soms met die vraag: het ek nie nou teen die Heilige Gees gesondig nie? Maar, gemeente, die blote feit dat iemand bekommerd is dat hy teen die Gees gesondig het, is ‘n indikasie dat hy dit nie gedoen het nie.

Want wat is sonde teen die Heilige Gees? Dit is as mense wat eens die waarheid geken en bely het, hulle rug daarop draai, die Evangelie openlik bespot, geen spyt en bekering toon nie, nie belangstel in vergewing nie. Dit laat mens dink aan die ernstige woorde uit Hebreërs 6.

“Want dit is onmoontlik om die wat ... die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het – om die weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.” (vers 4-6).

Hierdie is soos die mense in die gelykenis van die saaier, waar die saad in slegs baie vlak grond geval het. Daar is mense wat baie gawes het, hulle is welsprekend, hulle kan indrukwekkend bid, maar hierdie gawes kan die feit dat die ware genade nog nie in hulle harte is nie, verberg. Hulle dink hulle is ware gelowiges omdat hulle so baie gawes het. Maar hulle het geen gebrokenheid van hart en opregte nederigheid voor God nie. Hulle lewe nie volgens die basiese beginsels van die Evangelie nie. Hulle is, soos Lot se vrou, op die pad van redding geplaas, hulle geniet al die verbondsvoorregte, maar vir hulle is dit vyf voor twaalf …

As alles maar net glad verloop in jou geloofslewe. As daar nooit ‘n innerlike stryd is nie, dan moet mens eerder bekommerd wees. ‘n Uitverkorene se geloofslewe verloop nie gladjies nie. Elke gelowige word opgeroep om hom aktief te bekeer, berou oor sy sonde te toon, en te glo. Die Here toon ontferming oor wie gebroke van hart is. ‘n Ware gelowige is ontsteld oor hoe sleg hyself steeds is. Terselfdertyd kan ‘n ware gelowige nie uitgepraat raak oor hoe goed God is nie. God gee die krag om die sonde te oorwin, ‘n krag wat ‘n sondaar nie in homself het nie. Die volharding van die heiliges is moontlik omdat God trou bly. Omdat God nie moed opgee nie.

Dit is die geheim van die volharding van die heiliges!

Soos die ou spreekwoord sê: God het ons nie ‘n rustige vaart beloof nie, maar wel ‘n behoue aankoms.

Ons vaart en aankoms is eerder vergelykbaar met skipbreukelinge. Soos die HERE in Sefanja 3 sê: “Ek sal … laat oorbly ‘n ellendige en geringe volk wat by die Naam van die HERE skuiling soek.” (vers 12)

Inderdaad, dis maar nouliks dat die regverdige gered word. Dat uitverkorenes tot die einde volhard. Dis net aan God te danke, wat redes in Homself gevind het om dit te doen. Dis net aan God te danke, dat gelowiges opregte berou toon en op die regte pad terugkeer. Ja die gelowiges word maar nouliks gered.

(In die Skrif vind ons die juweel van die volharding van die heiliges

Die gelowiges word nouliks gered)

Die gelowiges val nog in sonde

Die volharding van die heiliges is ‘n geweldig troosvolle leer wat die Skrif openbaar. ‘n Ware gelowige sal nie uit die genade uitval nie. Dit beteken egter nie dat ‘n ware gelowige nie in sonde kan val nie. God is in staat om te verhoed dat ons val, maar tog laat Hy soms toe dat ons val. Selfs in growwe sondes.

Dink aan die voorbeeld van Dawid en Petrus uit die Bybel. Die val in sondes het ook skadelike gevolge, nie net vir die sondaar self nie, ook vir sy omgewing. God behandel ons nie as stokke en blokke nie, maar as mense met ‘n eie wil. As gelowiges in sonde val, het hulle niemand om te blameer behalwe hulleself nie. Gelowiges word opgeroep om hulle heil uit te werk met vrees en bewing. (Fil 2:12)

Hoekom het Dawid in sonde geval? ‘n Kind het ‘n keer gesê: hy het daardie oggend nie vir die Here gebid nie. Daar skuil baie waarheid in hierdie antwoord. Mens kan ook daarop wys dat Dawid verveeld was. Sy leërs het uitgetrek, maar hy het nie – soos hy veronderstel was – saam met hulle uitgetrek nie. Hy het in Jerusalem agtergebly. In sy verveeldheid het hy ‘n prooi vir die satan geword.

Hoekom het Petrus vir sy Heiland verloën? Dit was omdat hy sy eie krag oorskat het. Hy het die krag van die satan onderskat. Hy moes nooit agter Jesus aangegaan het tot in die paleis van Kajafas nie. Daar was dit te gevaarlik vir hom.

Ons kan nog baie voorbeelde uit die Bybel noem. Hoekom het Simson tot ‘n val gekom? Hy het die invloed wat Delila op hom gehad het, onderskat. So val die gelowiges in sonde.

Maar, ware gelowiges lewe nie in sonde nie. ‘n Kenmerk van ‘n ware gelowige is, dat as hy val, hy berou het en deur die krag van die Gees weer opstaan. Al is dit baie erg en is ons meestal geweldig geskok, behoort ons nie verbaas te wees as ons hoor dat ‘n kind van God in sonde geval het nie, veral as dit oor ‘n in ons oë dramatiese sonde gaan. In ons midde gebeur dit ook, en dit veroorsaak dikwels groot skade, vir die persoon self, vir sy of haar gesin, en vir die kerkgemeenskap. Dit is slegs danksy die Gees as so iemand, wat in sonde geval het, nie ook uit die genade uit val nie. Die Heilige Gees wys ons dat ons nie net gesondig het teen ‘n heilige en regverdige God nie, maar ook teen ‘n liefdevolle God, ‘n Vader wat vir ons omgee.

Juis hierdie besef bring trane van berou voort. Dis wat die verlore seun laat nadink het, toe hy tussen die varke gesit het. Die feit dat hy eintlik ‘n baie liefdevolle vader het. Die sonde verwyder ons van ons hemelse Vader. Maar as ons ver van Hom af weg is, dan voel ons eensaam. As ons in sonde leef, selfs as ons dan nog kerk toe gaan, is dit tog anders. Toe Dawid gesondig het, het hy nog steeds na die tabernakel gegaan, hy het nog steeds sy godsdienstige pligte gedoen. Tog het hy geen bemoediging, geen seën daaruit meer ontvang nie.

As ons in sonde leef, en ons hoor die Woord, dan raak dit ons nie.

As ons bid, voel dit of ons gebed net tot by die plafon gaan. Sonde bring eensaamheid en donkerheid oor ons siel. Jy weet dat dit nie so kan aangaan nie, maar jy wil nie jou sonde opgee nie, jy maak steeds verskonings vir jou gedrag. So lank as wat jy dit doen, sal God se aangesig vir jou verborge bly.

Dit is die geestelike stryd wat in jou aangaan. Dit kan nie altyd so aangaan nie, dit maak jou stukkend. Weet dan, die Vader staan gereed om te vergeef.

Soos in die gelykenis van die verlore seun. Die Vader het na die verlore seun toegehardloop, ja met ope arms hom ontvang (Luk 15:20).

En laat almal van ons besef, veral as ons iemand sien struikel, dat dit net so goed met ons kan gebeur. Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie (1 Kor 10:12). Die duiwel gaan rond soos ‘n brullende leeu (1 Petr 5:8).

As ons nie ‘n biddende en waaksame lewe lei nie, gaan hy ons ook onkant betrap. Die volharding van die heiliges beteken dat jy jou anker uitgooi op die rots, Christus. Sorg dat jou anker daar bly lê, moenie dit weer ophys nie.

Christus is die Leidsman en Voleinder van die geloof (Hebr 12:2).

In paragraaf 6 bely ons: God neem sy Heilige Gees nie heeltemal weg nie, selfs nie in hulle jammerlike val in sonde nie. Hy laat hulle nie so diep val dat hulle uit die genade uitval en in die ewige verderf stort nie. En in paragraaf 7: Dit is deur sy Woord en Gees dat God hulle vernuwe tot berou. Sodat hulle weer die genade van God besef, om daarna met groter ywer hulle heil met vrees en bewing uit te werk. En paragraaf 8: dat hulle nie heeltemal uit die genade en geloof uitval nie, is te danke aan God se barmhartigheid. Want sy voorneme kan nie herroep word nie. Die bewaring van Christus kan nie kragteloos gemaak word nie, die verseëling deur die Heilige Gees kan nie vernietig word nie. Daarom kan die gelowiges sekerheid hê van die bewaring van die uitverkorenes.

(In die Skrif vind ons die juweel van die volharding van die heiliges

Die gelowiges word nouliks gered

Die gelowiges val nog in sonde)

Die sekerheid van redding laat die gelowiges nie leef in sonde nie

Dit is moontlik om seker te wees. Dit is een van die vrugte van die Reformasie.

Hierdie juweel, naamlik geloofsekerheid, het die Reformatore weer uit die Skrif opgediep.

Die Roomse kerk het onsekerheid aangeprys. Volgens die Roomse kerk was sekerheid hoogstens beskore vir heiliges en martelare. Die gros van gelowiges leef in onsekerheid. Die gros van gelowiges moet eers nog ‘n tyd in die vaevuur deurbring. Maar die Reformasie het die Bybelse juweel van sekerheid weer ontdek.

Hierdie sekerheid, bely ons in paragraaf 10, spruit nie voort uit een of ander besondere openbaring buite die Woord om nie. Hierdie sekerheid kom as mens wandel en volhard op die smal weg. Ten spyte van die feit dat gelowiges val in sonde, soms diep val in sonde, soms oor en oor val in sonde. Tog, desnieteenstaande, ontvang gelowiges die krag van bo om weer op te staan.

Dis juis die sekerheid van redding, die sekerheid van ‘n behoue aankoms, al is die reis hoe onstuimig, wat die gelowige weer laat opstaan. Moenie hierdie sekerheid jou laat afvat nie. Moenie jou anker lig nie. Bly geanker in Christus.

Dan behou jy ook die sekerheid!

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 71:1,2,13

Gebed

Skriflesing: Genesis 19

Ps 16:2

Teks: Dordtse Leerreëls 5, paragraaf 5-10

Preek

Ps 51:5,6,8

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 16:4,5

Seën