Christus gebruik die kerk om feesklere uit te deel

Text: 
Dordtse Leerreels 2
Date: 
2017-09-24
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 24 September 2017 AD, 17:30

Votum: Ps 121:1

Seën

Ps 147:1,2

Skriflesing: 1 Konings 19:1-18

Ps 4:1

Skriflesing: Mattheüs 22:1-14

Ps 4:2

Teks: Dordtse Leerreëls hoofstuk 2

Preek

Ps 4:3,4

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Ps 147:4

Kollekte

Sb 43:3,5,6

Seën

Preek: Dordtse Leerreëls hoofstuk 2.

In hierdie tyd van die jaar is die Finansiëlekommissie en die kerkraad onder andere daarmee besig om die jaarrekening asook die begroting vir die volgende jaar op te stel. Hierin staan hoeveel uitgawes die kerk die huidige jaar gehad het. En ook hoeveel inkomste daar was. Uit VVB, uit kollektes. En as mens hierdie syfers sien, kan jy jouself afvra: Hoekom bestaan die kerk eintlik? Hoekom is dit nodig om die kerk ook finansieel gesond te hou, om te sorg dat daar genoeg inkomste inkom. Wat is die rede dat ons elke jaar weer geld skenk aan die kerk en uitgee deur die kerk?

Ek dink dat vir baie van ons, as ons hierdie vrae probeer beantwoord, dat ons onsself sal betrap dat al hierdie dinge maar net gewoonte, tradisie, is. So was dit altyd, en so doen ons dit nou maar eenmaal. ‘n Gewoonte is nie verkeerd nie. Wel is dit goed as ons gewoontes van tyd tot tyd toets. En dus ook om onsself weer ‘n keer konkreet af te vra: Hoekom bestaan ons as gemeente?

Hoofstuk 2 van die Dordtse Leerreëls help ons om duidelikheid te kry oor die doel, die belang van die kerk. Die kerk is naamlik ‘n middel in God se raadsplan. Deur hierdie middel sorg God dat mense redding ontvang. Ewige lewe. Wat hierdie middel betref, die kerk dus, gee God ons ‘n geweldige groot verantwoordelikheid! Hoewel dit gelukkig nie so is nie dat die kerk van ons as mense afhanklik is nie, tog is daar ‘n groot verantwoordelikheid. Aan hierdie dinge gaan ons vanaand in die preek meer aandag bestee. Ek verkondig u die Evangelie aan die hand van hoofstuk 2 van die Dordtse Leerreëls, en wel met hierdie tema:

Tema: Christus gebruik die kerk om feesklere uit te deel

Die Dordtse Leerreëls bestaan uit vyf hoofstukke, omdat die Remonstrante vyf stellings gemaak het, wat die Dordtse Sinode vanuit die Skrif weerlê het.

As ons nou na hoofstuk 2 gaan kyk, is dit goed om te weet watter stelling hier weerlê word. Dit gaan oor die volgende stelling van die Remonstrante:

Christus het vir alle mense gesterwe.

Is hierdie stelling Skriftuurlik? Kom ons kyk nou na die nege paragrawe van hoofstuk 2, waar die Bybel oor hierdie punt aan die woord kom.

Paragraaf 1 beklemtoon dat God sowel volkome barmhartig as volkome regverdig is. Hierdie paragraaf herinner ons aan die eerste deel van die Heidelbergse Kategismus, oor ons ellende. Aan God se geregtigheid moet daar voldoen word. Die aanklag teen die sondaar eis ‘n ewige straf vir liggaam en siel. Maar die mens kan wel aan hierdie straf ontsnap, skemer daar deur aan die einde van paragraaf 1. Hoewel, moenie dink dat die onreg deur die vingers gesien sal word nie.

Paragraaf 2 vestig ons aandag vervolgens op God se volkome barmhartigheid.

Omdat ons self nie in staat is om te betaal nie. Daarom het God uit onmeetlike barmhartigheid sy eniggebore Seun as Borg gegee. Vir ons en in ons plek. Hy het ‘n vloek aan die kruis geword. Nogmaals: God is volkome regverdig en barmhartig. Hierdie twee eienskappe van God byt nie vir mekaar nie. Dit het by uitstek geblyk in God se keuse om sy Seun te veroordeel tot die kruisdood, om sodoende ons te kan red.

Paragraaf 3 beklemtoon dat die kruisdood van Christus volledige betaling bied. Die krag van hierdie offer is meer as genoeg om alle sondes van die hele wêreld te versoen! Wat is die implikasie van hierdie uitspraak? Die implikasie is dat Christus se kruisoffer kragtig genoeg is vir elke mens op aarde, en dat niemand dus hel toe hoef te gaan nie. Dit lê nie aan Christus of aan sy offer dat sommiges in die hel tereg kom nie. Vergewing het Hy in aanbieding in oorvloed. Hy en sy kruis is ‘n bron van genade wat nooit opdroog nie. Daar is niemand maar dan ook niemand op hierdie aarde wat bekommerd daaroor hoef te wees dat die offer van Christus nie vir hom bedoel is nie. Elkeen wat die Evangelie te hore kry, mag hierdie reddingsboei aangryp. Niemand hoef te dink: dit is nie vir my nie. Ek is verwerp en uitgesluit. Nee, die Evangelie roep werklik ieder en elk op om te glo, en om te profiteer van Christus se offer!

Paragraaf 4 verduidelik dan hoe dit moontlik is dat Christus so ‘n perfekte offer kon gebring het. Dit is te danke aan die feit dat Hy nie net mens is nie, maar ook God. Die Vader het die volle gewig van sy toorn, die las van al ons sondes, oor sy eie Seun uitgestort. En dit het geblyk dat die Seun in staat was om dit te dra!

Vervolgens vra paragraaf 5 veral aandag vir die een kant van die muntstuk.

U onthou hopelik nog, die muntstuk waaroor ons al eerder gepraat het by die behandeling van die Dordtse Leerreëls. Ons saligheid is vergelykbaar met twee kante van dieselfde muntstuk. Die een kant het in hoofstuk 1 sterk na vore gekom. Naamlik God se raadsplan, sy ewige verkiesing. Die tweede hoofstuk, en met name paragraaf 5, vestig nou ons aandag op die ander kant van die muntstuk. Naamlik: die belofte van die Evangelie is bedoel vir elkeen wat in die gekruisigde Christus glo. Elkeen wat in Hom glo, sal nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe ontvang. Aan ALLE VOLKE EN ALLE MENSE tot wie God na sy welbehae die Evangelie stuur, moet sonder onderskeid  hierdie belofte openlik verkondig word met die bevel, tot geloof en bekering. Dus, die leer van die uitverkiesing het geen passiwiteit, oftewel lydelikheid, tot gevolg nie. Die boodskap is nie dat jy maar moet bly afwag tot God iets met jou doen nie. Die boodskap is nie dat jy jouself soos ‘n robot moet gedra nie. Nee, die boodskap is: God wil dat jy kies! En as jy die keuse gemaak het, moet jy aktief raak. Volhard in jou keuse, en bring ander mense tot dieselfde keuse. Agteraf sal jy sien dat die Here jou aktiwiteit ook ingespan het. Juis deur jou optrede was jy ook ‘n skakel in God se raadsplan. Een van die baie skakeltjies, wat gelei het tot die redding van nog ‘n mens, wat anders in die hel verlore sou gegaan het. Die belofte van die Evangelie mag jy dus sonder onderskeid opdring aan ander mense, wie jy ook ontmoet. Openlik verkondig en bekend gestel, met die eis tot bekering en geloof - skryf paragraaf 5.

Want hierdie boodskap is iets waar mense lewenslank, ja tot in ewigheid, baat by sal vind. Juis daarom durf jy om dit ongevraagd ook met ander te deel.

Dink aan die sendingswerk. As ons eerlik is, wie sit en wag op die Evangelie?

Niemand nie. Maar tog word sendelinge uitgestuur. In opdrag van hulle Sender, in liefde vir die mense. Dink ook aan evangelisasiewerk. Wie sit en wag daarop? Eerlik gesê, niemand nie. Mense ervaar evangeliste eerder as lastig. Dit lewer die spanning op in evangelisasie werk. Moet ons dit werklik doen, as niemand daarna uitsien nie? Tog lê ons ons nie daarby neer nie. En volstaan ons nie by ‘n houding dat die kerk homself na binne keer en net genoeg aan homself het nie. Juis die liefde vir die naaste dryf ons na hulle toe.

Die Remonstrante het gedink dat die leer van die uitverkiesing ‘n rem sou plaas op sendingsywer, en evangelisasieywer. Maar dit is omgekeerd. Die prediking is ‘n middel tot genade.

Sendelinge en evangeliste mag op pad gaan met die wete, dat Christus die lieflike voete van die Evangelieverkondigers stuur na diegene wat Hy voorbestem het tot die ewige lewe. Ons weet nie wie hulle gaan wees nie, Christus wel. So vorm sending en evangelisasie, elke prediking, ‘n onmisbare skakel in die goue ketting van God se verkiesing. Juis hierin het die kerk ‘n baie verantwoordelike taak. Die Evangelie moet gebring word, met die bevel van geloof en bekering. Stel jou vertroue op die Here Jesus en jy sal gered word, jy en jou hele huis! Hierdie indrukwekkende woorde het Paulus aan die tronkbewaarder van Filippi voorgehou.

Paragraaf 6 vestig die aandag opnuut op die perfekte offer van Christus. Dit is volmaak. Dit was groot genoeg. En, staan daar, as jy agterkom dat daar mense is wat desondanks nie hulleself bekeer en nie in Christus glo nie, dan kom dit nie omdat Christus se offer aan die kruis gebrekkig of ontoereikend was nie.

Nee, dit is hulle eie skuld. Mens kan ‘n perd by die water bring, maar jy kan hom nie laat drink nie. Dit geld op ‘n manier ook vir mense. Jy kan ‘n ongelowige by die bron van lewende water bring. Jy kan hom laat sien hoe jy uit daardie bron drink. En hoe dit genesend op jou eie lewe inwerk. Maar die persoon moet self kies of hy ook gaan drink. As hy in trots of om watter ander rede ook al besluit om nie te kniel nie, en nie ook uit die bron van lewende water te drink nie, dan gaan hy ten onder in sy eie verharding en ongeloof.

En dit is volledig sy eie skuld. Die man wat sonder ‘n bruilofskleed in die feessaal ingekom het, is uitgegooi – Mattheüs 22. En dit was sy eie skuld.

U moet weet dat die mense destyds, as hulle na so ‘n koninklike bruilof gekom het, nie self vir hulle bruilofsklere hoef te gesorg het nie. Elke genooide is voorsien van ‘n pragtige, skitterende bruilofskleed. Dus as daar iemand desondanks sonder ‘n bruilofskleed in die feessaal gesit het, dan was die rede dat hy self die aanbod van ‘n bruilofskleed van die hand gewys het. Dat hy byvoorbeeld sy eie klere mooier gevind het as wat die koning hom aangebied het. En dit was uiteraard ‘n growwe belediging vir die koning. Hy het die feeskleed verag wat die koning hom aangebied het. Wie in selftrots die feeskleed, die soenoffer wat Christus jou aanbied, van die hand wys, hy word in die buitenste duisternis gegooi. Hy kon dit gekry het, maar het dit van die hand gewys. Dit het nie aan die Koning gelê nie. Dis is nie dat die Bruidegom byvoorbeeld nie genoeg feesklere gehad het nie. Feesklere het Hy in oorvloed, sy kruisoffer is kragtig genoeg om die hele wêreld te versoen!

Paragraaf 7 laat sien dat dit ook anders kan. Daar is gelukkig baie wat wel kniel, en die lewende water indrink. Deur Christus se offer word hulle van hulle sonde en van ewige ondergang bevry. Ja dit kan ook anders! En hoe?

Omdat hierdie mense beter is? Nee, die oorsaak lê nie by hulleself nie. Hulle het mos die feesklere aangebied gekry. Aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, staan daar in Openbaring 19.

 

In paragraaf 8 vind ons weer die eerste kant van die muntstuk. Volgens God se soewereine raadsplan kom die kosbare dood van sy Seun ten goede aan alle uitverkorenes. Hierdie opmerking klink beperkend. Slegs ‘n bepaalde groep.

Tog blyk dat op baie plekke in die Bybel as die uitverkiesing aan die orde kom, die nadruk nie lê op die beperkende nie, maar juis op die rojale! En daarop vestig paragraaf 8 ons aandag. Wat aanvanklik sou uitloop op die definitiewe ondergang van die menslike geslag deur hulle eie skuld, dit kry nou ‘n verrassende wending! Want God kies uit alle volke, stamme, geslagte en tale mense uit om hulle te red en die ewige geluk te skenk. Hoewel hulle dit nie verdien het nie, gebeur dit tog maar! Ek dink dat dit een van die manipulasies van satan is om steeds maar weer ons aandag te wil vestig op die beperkende van die uitverkiesing. Dit terwyl die Bybel so baie spreek oor die rojale keuse van ‘n genadige God. Dit staan op die eerste plek. En in die tweede plek kom dan die realiteit dat daar wel ‘n grens is – nie almal nie.

Hierdie paragraaf wys weer op die goue ketting. Uitverkiesing, roeping, bekering, geloof, volharding, saligmaking. Hierdie skakels van die ketting is onlosmaaklik aan mekaar verbonde. Ook hieruit blyk God se genade. Hulle wat uitverkies is, word vervolgens nie op eie bene salig nie. Steeds het God die eerste woord. Steeds neem Hy die inisiatief. Nie net by die uitverkiesing nie, maar ook by jou roeping, bekering, geloof en volharding. As jy agterom kyk in jou lewe, dan mag mens as jy ouer word, al hoe meer oog daarvoor kry. Jou lewe vol ‘toevallighede’ word wel deeglik deur God gelei.

En dan kom ons by paragraaf 9. Dit is volgens my een van die mooistes uit die Dordtse Leerreëls. Daar sal altyd ‘n kerk van gelowiges wees, gegrond in die bloed van Christus. Ons kan dikwels baie bekommerd wees. Hoe sal dit met die kerk gaan in die toekoms? Wat sal daar nog van die kerk oorbly? Kom ons noem dit die Elia-mentaliteit. Ek is so ongeveer die enigste een wat oorbly. Die enigste persoon wat dinge goed sien. Maar ongelukkig wil niemand na my luister nie. Selfbeklag. Ons kan baie hierdeur gepla word. En so het Elia eensaam onder ‘n struik gelê in die woestyn, heeltemal depressief. Hy het begeer om te sterf. Almal was teen hom. Niemand wou na hou luister nie.

Iedereen het hom gehaat. Selfbeklag.

Toe God vervolgens aan Elia verskyn, was sy boodskap aan hom sowel vermanend as vertroostend. ‘n Engel het by hom gekom en gesê: Staan op, eet.

Dit wil sê: hou op om te kla. Wat verbeel jy jou eintlik? Is die kerk van jou afhanklik? Dink jy werklik dat alles inmekaar sal stort as hulle nie vir jou luister nie? Die kerk is van Christus. Hy is die Bruidegom. Hy vergader sy kerk.

Hy sorg dat sy uitverkorenes die weg na die kerk sal vind, elkeen op sy of haar tyd. Ja daar sal altyd ‘n kerk van gelowiges wees, gegrond in die bloed van Christus. So het die HERE sy kerk ook in die Ou Testament beskerm.

“Ek sal seweduisend in Israel laat oorbly, al die knieë wat nie voor Baäl gekniel en elke mond wat hom nie gesoen het nie.” (1 Kon 19:18)

Seweduisend.

Ook hierdie getal moet ons nie beperkend verstaan nie. Dit is juis ‘n simboliese getal: seweduisend. ‘n Baie groot getal. ‘n Volmaakte getal.

Dit was ‘n vermaning rigting Elia. Hoeveel u ook vir die kerk beteken,

hoeveel u ook vir die kerk gedoen het, die kerk hang nie van u af nie.

Die kerk is van Christus. Tegelykertyd is dit ‘n enorme troos. Juis ook vir ons hier in Suid-Afrika, waar ons ons in vergelykbare omstandighede bevind.

Elia het gearbei in die tienstammeryk. Dit was ‘n tyd waarin alles agteruit gegaan het. Agab se tyd. Met agteruit gaan bedoel ek spesifiek die diens aan die HERE. Ekonomies het dit in Agab se tyd voor die wind gegaan. Agab het aangepas by die afgode van sy vrou Isebel. Die afval het hals-oor-kop toegeneem. Wie kon dit nog keer? Ons lewe ook in ‘n land wat versadig lyk te wees van die Evangelie. Mense wil die vaste kos van die Evangelieverkondiging nie meer verdra nie. Die kerk kalf af.

‘n Luisterhouding na God se wil is ver te soeke. Dit geld nie net vir die samelewing nie, dit geld ook vir die kerk self. ‘n Tyd waarin God se eie kinders lui en slap geraak het. Jesus het oor sulke verbondskinders gesê:

Baie is geroep, maar min uitverkies (Matth 20:16).

En Jesus herhaal hierdie woorde in Mattheüs 22:14, wat ons vanaand gelees het: Want baie is geroep, maar min uitverkies.

Let wel, Jesus spreek hierdie woorde nie op die sendingsveld nie, maar te midde van die ou verbondsvolk. Net so is hierdie woorde op sy plek binne in die kerk vandag. Elke gemeente wat lui en ongeïnteresseerd geraak het, moet nodig hierdie woorde hoor: Baie is geroep, maar min is uitverkies.

Juis in so ‘n tyd van afval is dit ‘n vertroosting vir die gelowige res. Die verkiesende God gaan verder. Hy sal sorg dat daar seweduisend is wat nie hulle knie voor Baäl buig nie. Die Baäl ook van ons tyd. Dat jy lewe net vir jouself. Dat jy self uitmaak hoe jy lewe, hoe en waar jy die Here wil dien, alles self wil uitmaak. Te midde van hierdie selfgesentreerdheid gaan God verder.

Hy sal sorg dat daar ‘n kerk van gelowiges sal wees. Hy gaan voort om feesklere uit te deel. Christus werk dikwels op verrassende wyse.

Deesdae gaan daar meer mense in China kerk toe, as in die hele Europa.

Dalk nie in elke generasie in elke land nie, maar desnietemin: daar sal altyd ‘n kerk van gelowiges wees, gegrond in die bloed van Christus.

En, soos ons tema sê:

Christus gebruik die kerk om feesklere uit te deel. Laat ons hierin aktief bly.

Laat ons lojaal en toegewyd bly, waar Christus ons geplaas het.

Laat ons dit wat ons in Sondag 21 bely, vanaand onsself weer toeëien:

Ten eerste dat ek lid is van hierdie kerk en deel het aan die Here Christus en al sy skatte en gawes. Ten tweede dat ek verplig is om my gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede hier om my aan te wend.

Amen.

 

 

 

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata