Die HERE Here sorg dat sy Naam heerlik bly op aarde

Text: 
Psalms 8
Date: 
2017-09-03
Preek Inhoud: 

Aan die begin van die lente, afgelope Vrydag was lentedag, het ek ‘n psalm gekies wat oor die skepping juig. Meer nog, wat juig oor die Skepper. Die skepping waarin ons lewe vertoon die glans en heerlikheid van haar Skepper.

En dit sal in hierdie lente ook weer in al sy glorie voor ons oë afspeel. Die Psalm wat vandag die teks vir die preek is, sing daaroor. ‘n Pragtige lied om aan die begin van die lente te sing. ‘n Lied wat egter ook gemengde gevoelens oproep. Want dit klink eintlik te mooi om waar te wees. En inderdaad, ook in ons tyd, die 21e eeu, is dit net te mooi om waar te wees. Kan mens Psalm 8 nog wel sing?

Ek verkondig u die Evangelie uit Psalm 8 met hierdie tema:

Tema: Die HERE Here sorg dat sy Naam heerlik bly op aarde

  • Die tragiek van die mens se ontspoorde rentmeesterskap
  • Die herstel van die mens se rentmeesterskap in Christus

Die tragiek van die mens se ontspoorde rentmeesterskap

Kinders, wanneer laas het julle die sterrehemel bewonder? As mens met donkermaan buite die stad op die platteland is, en jy kyk boontoe, dan duisel jy van al die sterre aan die hemel. As mens regtig nadink oor hoeveel ligjare jy in die lug inkyk, is dit oorweldigend, duiselingwekkend. ‘n Mens voel dan intens klein. Dawid, wat hierdie psalm geskryf het, het net so gevoel. Dawid het dikwels onder die sterrehemel gesit, voordat hy koning geword het, toe hy nog skaapherder was. En dan het hy homself baie klein gevoel.

Die mens, alhoewel hy as koning heers op aarde, is tog maar net ‘n nietige stippie in die ruimte. Die maan en sterre, die kunswerk van God se vingers.

Hierdie hele psalm is ‘n uitroep van bewondering. ‘n Uitroep waar mensewoorde tekort skiet.

Wanneer alle moontlikhede van die menslike verstand ingeskakel word om God se skepping te deurdink, dan blyk die skepping te groots vir ‘n mens om te verstaan. En dan is dit heeltemal onbegryplik, dat God soveel verantwoordelikheid in die mens se hande geplaas het. Dat God die mens as koning oor sy skepping aangestel het. Ja, mens duisel van hierdie hoë en verantwoordelike posisie. Van al die mag wat in ‘n mens se hande is. Veral as mens daaraan dink wat alles fout kan gaan.

Ons ken baie voorbeelde uit die geskiedenis, en ook uit ons eie lewe. Voorbeelde wat alles fout gegaan het. Bewyse hoe die mens dinge stukkend gemaak het. Hoe hy sy hoë posisie misbruik het. Dit is iets van alle eeue. En dit is dan goed as die mens weer op sy plek gesit word. Dat die mens gedwing word om weer op te kyk na die hemel. Na die sterre, om sy eie nietigheid te besef. Want vergeleke met God se grootheid, die majesteit van die Skepper, is die mens maar ‘n stippie. God regeer. En ook as mense sy heerskappy ignoreer, gaan sy regering wel deur. En alle klein mensies op aarde is instrumente in sy hand. As konings en presidente sy Naam nie bely nie, as hulle die diens aan Hom aan die kant skuif, ignoreer of selfs teenwerk, dan gaan God se regering gewoon deur. Soos die digter sing:

Uit die mond van kinders en suiglinge grondves Hy sterkte.

Uit kindermonde sal volwassenes die waarheid hoor.

Sal volwassenes se monde gesnoer word.

God almagtig, Hy sorg dat sy Naam heerlik bly op aarde.

Maar wie is hierdie almagtige God dan? Hieroor laat die psalm geen onduidelikheid nie. God is nie net ‘n vae hoë mag, wat ons nie ken nie. God is nie net die oerbegin agter alles nie. God is nie maar net dit wat goed is in die algemeen nie. Nee, Dawid praat hier direk en vol vertroue met ‘n Persoon: O HERE, onse Here! Hierdie psalm begin met ‘n uitspraak van liefde, oorgawe en vertroue aan ‘n bekende God.

Die eerste HERE in vers 2 word heeltemal met hoofletters gespel. Dit verwys na sy Hebreeuse naam: Jahweh. Hy is nie ‘n God van ver nie, Hy is nie net ‘n vae hoë mag nie. Jahweh is ons Skepper, wat Hom ook in die geskiedenis aan ons geopenbaar het. Wat met Dawid se volk ‘n verbond gesluit het. Mense het nie na hierdie God op soek gegaan nie. Maar Hy het, in sy genade, ons opgesoek. Hy het Homself aan ons geopenbaar. Die HERE, die lewende God wat uit vrye welbehae Homself verbind het aan sy volk.

Die HERE is vir ons ‘n Vader. Hy is ‘n persoonlike God, wat jy kan vertrou.

Sy Naam is heerlik op die hele aarde. Soos die spreekwoord sê: sy Naam is ook sy faam. Iemand wat ‘n goeie naam het, het dit verwerf deur sy goeie optrede.

Dit is sy reputasie, sy faam. En so is God se Naam heerlik op die ganse aarde.

God is beroemd. Net soos ‘n argitek beroemd word deur ‘n indrukwekkende bouwerk. So is God se Naam heerlik in sy hele skepping. Dis nie net die naam van ‘n vae hoë mag nie. Maar die HERE, Jahwe, die persoonlike God, Skepper en Vader. Wat Hom spesiaal aan sy volk verbind het.

Waarom het God Homself juis aan die volk Israel verbind? Amper twee duisend jaar het God ‘n intensiewe pad juis met hierdie volk gestap. Hoekom?

God het dit gedoen om die mensdom te leer dat Hy nie van mense afhanklik is nie. Want Israel was maar ‘n onbenullige volkie. God het nie die wêreldleiers uitgekies, die Assiriërs, Egiptenare, Babiloniërs of Grieke nie. God is onafhanklik van mense. Hy het ‘n onaansienlike volk opgesoek, om hulle, onder sy seën, groot te maak. Om deur hulle alle ander volke te seën, omdat Hy dit so gelei het dat die Messias gebore sou word uit hierdie volk.

Wat Dawid in hierdie psalm sing oor klein kinders en suiglinge dui ook hierop.

God se heerskappy word besing deur klein kinders. God het nie behoefte aan belangrike en welsprekende mense nie. Kinders vertel onbevange van sy grootheid. Dink aan hoe hierdie vervul is toe Hy sy Seun na die aarde gestuur het, gebore uit sy volk. Nadat Jesus ‘n siek man by die tempel genees het, het die kinders heel spontaan gesing: Hosanna vir die Seun van Dawid! (Mattheüs 21). Die kinders het Hom bely. Die kinders het Hom erken vir wie Hy was.

Terwyl die leiers van die volk dit nie wou doen nie.

So blyk God se grootheid uit heel sy skepping. Uit die klein en die groot dinge.

God se skeppingskrag blyk elke keer weer by ‘n pasgebore baba. Hoe is dit moontlik dat dit direk na die geboorte, kan begin asemhaal? Hoe is dit moontlik dat die direk kan begin drink. Ons noem dit instink. As ons maar net nie vergeet dat instink dit is wat deur God ingeskape is nie. Wat is die mens tog? Ook as jy na jouself kyk, die uniekheid van elke mens, elke mens se genepoel skreeu uit dat daar ‘n Goddelike ontwerp agter skuil. Hoe heerlik is sy Naam op aarde, tot in die mees mikroskopiese details. Maar omgekeerd ook. Wie deur ‘n teleskoop kyk, kom dit net so agter. Is stomgeslaan oor God se majesteit, tot die verste uiteindes van die heelal.

Dawid sing:

As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het – wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U na hom omsien?

Uit hierdie woorde spreek die geweldige kontras tussen God se onmeetlike grootheid, en sy aandag vir elke mens. Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word, dui veral op die nietigheid van die mens. ‘n Stippie in die heelal.

Te midde van ‘n ontelbare see van sterre en planete, sien God tog vir jou.

Wat ‘n kontras! Die kleinheid van die mens, teenoor die grootsheid van die skepping. Maar ook: wat ‘n kontras tussen die kleinheid van die mens en sy hoë posisie. U laat hom heers oor die werke van u hand. Skape en beeste – verwysing na mak diere. Maar nie net hulle nie.

Ook die wilde diere van die veld, selfs die voëls en die visse van die see.

Hoe op aarde is dit moontlik dat God so ‘n groot verantwoordelikheid aan die mens toevertrou het? Daar klink verbasing, uiterste verbasing deur in Dawid se woorde in hierdie psalm.

Mens kan dit vergelyk met wanneer vroeër soms  ‘n koning gesterf het, voordat sy kind, die troonopvolger, volwasse was. Dan was sy seun, die troonopvolger, al vanaf ‘n baie jong ouderdom koning. ‘n Seuntjie van nog maar net 10 jaar oud wat oor ‘n land moet regeer. Dit is eintlik ‘n lagwekkende situasie. Tog laat verse 5 en 6 mens hieraan dink.

Die mens, so nietig, so onervare, maar tog so ‘n hoë verantwoordelikheid.

In vers 6 staan: u het hom ‘n weinig minder gemaak as ‘n goddelike wese.

Nou moet ons hierdie nie verkeerd verstaan nie. Hierdie vers moedig nie die vergoddeliking van die mens aan nie. Hierdie vers sluit direk aan by vers 7:

U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel.

Die ooreenkoms tussen God en mens lê hier in die posisie wat hy ontvang het.

Hy moet regeer oor die diere. Vir die diere, vir die skeppings, is hy soos God, vervul hy die funksie van God, verteenwoordig hy die Skepper. In God se Naam is hy sy ambassadeur op aarde. Hierdie gesag is hom deur God verleen.

Die skepping val onder hom. Hy is daarvoor verantwoordelik. En dit is inderdaad duiselingwekkend. En nou, na die sondeval, is dit nog meer duiselingwekkend. Ons kan onsself eintlik nie meer indink hoe dit moontlik was dat God so ‘n swaar en verantwoordelike taak aan die mensheid kon toevertrou nie. Want as ons nou, in die post-sondeval wêreld, om ons heen kyk, sien ons op daaglikse basis al die negatiewe dinge wat daar in die wêreld gebeur. Hoe die mens dit nie regkry om in verantwoordelikheid en in harmonie oor die wêreld te regeer nie. Hoe die mens sy posisie misbruik.

Hoe die skepping daaronder moet ly, hoe mense onder mekaar moet ly, hoe heel die skepping stukkend gemaak word deur die wanbestuur van die mens.

Die mens het egoïsties geword, hy soek net sy eiebelang.

Tog was die mens se toestand en ingesteldheid voor die sondeval so dat hy wel ‘n goeie rentmeester kon wees.

Toe was hy wel in staat om in verantwoordelikheid en harmonie te heers oor die werke van God se hande. Maar deur die sondeval, sy opstand teen God, het die mens al hierdie moontlikhede verloor. Hy fokus nou net op sy eiebelang, en pleks van harmonie het daar nou stryd en jaloesie gekom. Die mens wil nie meer sy Goddelike oorsprong erken nie. Die mens wil nie meer God se Naam op aarde bely nie. Die mens onderdruk die waarheid.

Hoogstens sal net kinders nog daarvoor uitkom.

(Tema: Die HERE Here sorg dat sy Naam heerlik bly op aarde

Die tragiek van die mens se ontspoorde rentmeesterskap)

Die herstel van die mens se rentmeesterskap in Christus

Maar in Christus is daar weer hoop vir die skepping. Wie in Christus ingelyf word, word herstel as rentmeester. Mag met val en opstaan weer hierdie hoë taak ter hand neem. Sy lewe op aarde wy aan die herstel van harmonie.

Tussen God en mens, tussen mense onderling, tussen mens en skepping.

God gee sy leefreëls. Soos die skepping funksioneer volgens die ingeskape reëls – ons noem dit deesdae natuurwette – so word die mens – die in Christus wedergebore mens – opgeroep om weer te begin leef volgens God se reëls vir die mensheid. Volgens sy Woord, die kompas in sy lewe. Sy persoonlike lewe.

Sy huwelikslewe. Sy arbeidsame lewe. Heel sy lewe. Respek vir die huwelik, dit is gewortel in respek vir God. Respek vir die lewe is gewortel in respek vir God. Herskape in Christus besef die mens weer sy hoë verantwoordelikheid.

En dan moet ek weer dink aan daardie knapie van 10 jaar oud wat koning van ‘n land moet word. Vaar ‘n land daar wel by? Nee, tensy so ‘n knapie wyse raadgewers het. En dit is wat elke mens nodig het. ‘n Raadgewer bo hom, wat wyser is as hyself. Buite Christus en sy Woord om is die mensheid se selfontplooing op aarde soos ‘n tydbom. Ons sien hoe die tydbom tik, orals om ons heen. Mense wat hulle eie wette maak. Mense wat vir hulleself die norm is.

Mense wat dink hulle het beheer oor die lewe. Ek dink dan nie net aan die regering en hooggeplaastes nie, natuurlik ook hulle, dubbel en dwars.

Ek dink ook aan mense in ons direkte omgewing. En ook aan onsself.

Want die suigkrag is baie sterk op ons om ook so te begin lewe. Te dink dat jy jou eie lewe beheer. Jou eie lewe beheer, dit wil sê dat jy maar jou eie reëls kan maak. Die mens bepaal hoe hy wil leef.

Die mens bepaal of hy wil trou of net saamwoon.

Die mens bepaal met wie hy wil saamleef, homo of hetero.

Die mens bepaal met wie hy wil uitgaan, gelowig of nie, kerklid of nie.

Die mens bepaal wanneer hy wil kinders hê.

Die mens bepaal hoeveel kinders hy wil hê.

Die mens bepaal of en wanneer en waar hy wil kerk toe gaan.

Die mens bepaal wanneer hy wil doodgaan.

Die mens, die mens, die mens. En God se Woord verdwyn by die agterdeur uit.

En so, aan die einde van die dag, bly daar niks meer oor van die heerlikheid waarmee God die mens gekroon het nie.

As mens Psalm 8 lees, dan gee dit op ‘n manier gemengde gevoelens. Ja, elke woord is waar wat hier staan. En veral as mens met vakansie is, omring deur die majestueuse natuurskoon, dan is jy ontroerd, en sing jy hierdie psalm van ganser harte. Soos Totius dit so treffend berym het:

As ek, o HEER, u nagtelike hemel daarbo aanskou die tint- en glansgewemel; hoe deur U toeberei die skugter maan met stille gang oor sterrevelde gaan.

En as mens op die plaas is, of ‘n wildsplaas, dan spreek die psalm ook direk jou aan:

Die os en skaap en wat in wildheid lewe, die voëls wat deur hoë lugte swewe ... – tesaam het U dit in sy mag gegee.

Ja dit is waar. Alles is in die mens se mag. Ons weet dit in die 21 eeu nog meer as ooit tevore. Waar vir eeue lank mense ‘n stryd gevoer het teen wilde diere, het die laaste honderd of tweehonderd jaar dinge verander. Diere het begin uitsterf. En die mens is nie meer bang vir diere nie, hy het hulle nou heeltemal onder sy beheer. Maar meer as in vorige eeue sien ons in ons tyd hoe die skepping nou sug onder die selfsugtigheid van die mens. Meer as ooit besef ons die noodsaak van verantwoordelike rentmeesterskap. Maar ons sien ook dat die mens uit homself dit nie regkry nie. En so sug die skepping, verlang die skepping na verantwoordelike rentmeesters. Soos ons uit Romeine 8 gelees het: Want die skepping is aan die nietigheid onderwerpe – nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het –

In die hoop dat ook die skeping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe. As gevolg van die sondeval, die las van die mensdom se sonde, het ook die skepping verganklik geraak. Dit sug onder die las. Net soos as ‘n pa, die hoof van die huishouding, verkeerd lewe. As hy verslaaf is aan drank, of dobbel, of pornografie. Dan sug die hele gesin, dan ly die hele gesin daaronder. So sug en ly die skepping onder die sonde en onverantwoordelikheid van haar hoof, die mens, wat veronderstel was om rentmeester te wees, maar dit nie meer is nie.

Daarom die oproep aan u, aan ons almal.

Laat die majesteit en heerlikheid van God se Naam skyn in julle lewe.

Julle is duur, met bloed, gekoop. Moenie terugsak in ‘n wêreldgelykvormige lewe, ‘n ek-gesentreerde lewe nie. In Christus is daar hoop, wag daar ‘n herskepping. Elke mens wat in Christus ingeplant word, ‘n nuwe lewe in sy diens begin, is ‘n teken van hoop, en laat die skepping opleef. Soos Jesaja lank gelede al geprofeteer het: die berge en heuwels sal voor julle in gejubel uitbreek, en al die bome van die veld sal in die hande klap (Jesaja 55:12)

Hulle verwelkom die nuwe rentmeesters, wat van God ‘n nuwe kans gekry het, wat in Christus, en deur die werking van sy Gees, weer in staat gestel word om ‘n diensbare lewe te lei, en nie ‘n egoïstiese lewe wat net uitbuit vir eiebelang nie. Hier in Christus se kerk begin dit, hier leer u ‘n nuwe diensbare lewe.

Hier in sy kerk begin dit, dat die HERE sy heerlike Naam weer op aarde herstel.

Psalm 8 is ‘n lied wat gemengde gevoelens oproep. Dit klink eintlik te mooi om waar te wees. Maar moenie vergeet nie: HERE is sy Naam!

Hy sal sorg dat sy Naam heerlik bly op aarde. Ook in die 21e eeu.

Sy Seun vergader ook vandag vir Homself ‘n gemeente, waar mense toegerus word om weer waarlik rentmeesters te wees, soos Hy hulle bedoel het om te wees by die skepping. En dit mag jy ook wees. Dit mag jy ook geniet om te wees. Rein gewas in Christus, nie net van jou sondes nie, maar ook van jou selfsugtigheid, en jou egoïsme, sodat jy weer ‘n effektiewe, ‘n sorgsame rentmeester vir hierdie skepping kan wees.

Meer as ooit is daar behoefte aan sulke mense op aarde. Daarom pleit ek vurig: laat jou met Christus versoen. Laat jou deur sy Woord alleen lei.

Dan sal Hy van jou weer ‘n betroubare rentmeester maak, ‘n voorbode van die herskepping, iemand oor wie die skepping sal juig, die bome sal handeklap.

In Christus kan ons hierdie Psalm van harte weer sing, sonder om gemengde gevoelens te hê, sonder om skuldig te voel.

Amen.

Liturgie: 

Oggend:
Votum
Seën
Ps 8:1,2
Wet
Ps 119:49,59
Gebed
Skriflesing: Psalm 8 & Romeine 8:18-30
Ps 8:3,4
Teks: Psalm 8
Preek
Ps 8:5-7
Gebed
Kollekte
Sb 8:4,5
Seën

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata