Dankoffer en Nagmaal herdenk God se Geskenk

Text: 
I Samuel 1 : 24-28
Date: 
2017-08-21
Preek Inhoud: 

In 1 Samuël 1 het ons gelees hoe Hanna ‘n dankoffer aan die HERE gebring het. Die HERE het haar gebed verhoor en haar ‘n kind gegee. In die boek Levitikus lees ons oor die dankoffer in sowel hoofstuk 3 as 7. Die doel van die dankoffer was om die gemeenskap, die samesyn, tussen God en sy kind te vier. Meer spesifiek: gemeenskap tussen God, die Bron van alle seëninge, en die persoon wat ‘n gelofte gemaak het. Hanna het ‘n gelofte aan die HERE gemaak. Sy kon geen kinders kry nie. Sy het aan die HERE belowe dat as sy ‘n seun mag ontvang, sy hom as ‘n dienaar na die tabernakel sou bring. Die HERE het Hanna verhoor en haar ‘n seun gegee. ‘n Paar jaar later, nadat hy gespeen was, het sy hom na die tabernakel gebring. Maar, soos ons uit 1 Samuël gelees het, sy het nie net vir hom gebring nie. Sy het ook drie bulle saamgevat, staan daar in vers 24. ‘n Beter vertaling moet hier eerder wees: ‘n bul van drie jaar oud.

Die wetgewing ten aansien van die dankoffer  in Levitikus 3 praat ook oor ‘n bul in enkelvoud. ‘n Bul dus, en verder ‘n efa meel. ‘n Eva was ongeveer 22 liter. En verder ‘n sak wyn. Hierdie dinge het sy saamgevat na die huis van die HERE.

Hierdie dinge was voorgeskryf volgens die wet van Moses, soos ons in Levitikus gelees het, wat betref die dankoffer.

En sodra sy by die tabernakel aangekom het, het sy hierdie dinge voor die HERE neergelê, as haar dankoffer. ‘n Deel hiervan is gebraai op die altaar, en ‘n ander deel was bedoel as ‘n maaltyd vir die priesters saam met die offeraar en sy familie. Saam met die HERE het hulle so feesgevier, Hom gedank, die Bron van alle seëninge, vir die feit dat Hy na Hanna se bede geluister het, en haar ‘n seun geskenk het. Saam was hulle bly en het hulle die HERE geprys, daar by sy huis.

En soos daar in Levitikus 7 staan, alles moes op dieselfde dag opgeëet word, of hoogstens die dag daarna. Dit was nie net vir higiëniese redes nie, maar om ook te beklemtoon dat dit ‘n fees moes wees, waar suinigheid nie gepas was nie.

Dit was ‘n wonderlike voorreg vir die volk Israel, om die lewende God in hulle midde te hê. God het in die tabernakel gewoon tussen sy volk. En dit was die taak van die priesters om die erediens by die tabernakel waar te neem, dit in ooreenstemming met die wil van God. En inderdaad, God het spesifieke instruksies gegee oor die manier hoe sy volk aan Hom moes offer, hoe hulle Hom moes dien by die tabernakel. Hierdie manier was nogal heel anders as die manier waarop die heidene hulle gode vereer het. Die essensie van ‘n heidense offer het daarin gelê dat dit ‘n transaksies tussen ‘n mens en sy god was. Hulle was wedersyds van mekaar afhanklik. ‘n Heidense offer was ‘n magiese manier om lewenskrag en lewensgeluk te waarborg. In teenstelling hiermee benadruk die Bybelse offers die totale afhanklikheid van die lewende God.

Bybelse offers is nie transaksies met God nie, maar ‘n saak van dankbaarheid.

In hierdie konteks staan ook die verbod op die eet van vet en bloed, soos dit in Levitikus 7 genoem word. Neem die drink van bloed byvoorbeeld.

As die heidene hulle offers gebring het, het hulle, nadat ‘n dier geslag is, dadelik die bloed van die dier opgedrink, terwyl dit nog warm was. Hulle het geglo dat hulle so die lewenskrag van die dier kon ontvang, en sodoende hulle eie lewenskrag verhoog. Hierdie ritueel het berus op die bygeloof dat ‘n mens vir jouself lewenskrag, ja selfs ewige lewenskrag, kan verkry deur genoeg bloed van ander lewende wesens te drink. So het jy jou eie lewenskrag op peil gehou.

Dit is vir hierdie rede dat die Bybel die drink van bloed verbied het. Dit was nie net bygeloof nie, dit was afgodery. Bloed van diere of selfs ander mense – soos jou vyande – kan nie vir jou die ewige lewe gee nie. Die ewige lewe kan ‘n mens slegs ontvang uit God se genade. Daarom het die HERE sy volk beveel om die bloed op die grond uit te gooi. Antiteties is so gedemonstreer dat bloed nie veel werd was nie. Gehoorsaamheid aan God was die enigste manier om seën in die toekoms te verwag.

Dieselfde het ook vir vet gegeld. Net soos met bloed, het die heidene geglo dat die lewenskrag van die dier in sy vet opgebêre was. Dit was die beste deel van die dier. Die HERE het egter beveel om die vet op die altaar te lê.

Hanna het dus al die vereiste dinge vir die dankoffer met haar saamgevat – ‘n drie jaar oud bul, ‘n eva meel en ‘n sak wyn.

In Levitikus 3 is voorgeskryf hoe hierdie dankoffer op die altaar gebring moes word. Eerstens moes sy haar hand op die kop van die dier sit, ‘n simbool dat die dier in jou plek geslag word. Net soos die dier aan die HERE toegewy word as ‘n offer, so belowe jy om jou lewe aan Hom toe te wy. Daarna is die dier geslag by die ingang van die tabernakel. Daarna het die priesters die bloed gesprinkel teen die altaar aan alle kante. Daarna is ‘n spesifieke deel van die dier op die altaar geplaas. Al die vet wat rondom die interne organe van die dier was – Levitikus 3:3 – wat oor die binnegoed lê. Spesifiek word ook verwys na die twee niere en die lewer, die vet daaraan en daaromheen. Met hierdie organe, soos die lewer, het die heidene ook bygelowige dinge gedoen (vgl. bv. Esegiël 21:21).

Die HERE het egter alle bygelowige gebruike streng verbied. Die offers wat Hy voorgeskryf het, was bedoel om bygeloof te bekamp, en die werklikheid van genade te benadruk. Dit is nie deur rituele dat jy jou eie lewe kan red, en jou eie toekoms kan veilig stel nie. Dit is slegs deur genade. En as jou wens uitgekom het, soos in Hanna se geval, was dit slegs genade van die HERE. Hanna het dit besef. Daarom het sy ‘n dankoffer gebring, toe sy teruggekeer het na die tabernakel, om juis die HERE te dank. Sy het ook haar gelofte nagekom.

Vanaf daardie dag het Samuël by die tabernakel gebly, as dienskneg van Eli.

Later kan mens lees hoe Eli se eie seuns al hoe meer die offers by die tabernakel begin ombuig het in ‘n heidense rigting. Hulle het nie meer ag geslaan op die instruksies in Levitikus nie. Hulle het afvallig van die HERE en sy wet geword.

Ons weet ook uit die geskiedenis hoe hulle daarvoor gestraf is. Daarenteen het Samuël opgegroei en wel die HERE gevrees, en wel na sy gebooie geluister.

In sy eie persoonlike lewe, maar ook in sy ampsdiens. Hy het die volk hierin voorgegaan. En later het hy selfs koning Saul op hierdie punt vermaan:

“Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.” (1 Samuël 15:22)

Inderdaad, dit was met goeie redes dat die HERE sy volk voorgeskryf het hoe hulle Hom moes dien. So het Hy sy volk vir bygeloof en afgodery, bewaar, vir die heidense godsdienste, waar angs en onsekerheid die botoon gevoer het. Waar die volk uitgebuit is deur die priesters. Dink aan hoe Eli se seuns op hierdie punt later ook heeltemal wêreldgelykvormig geword het. Deur sy goeie gebooie, ook ten aansien van die offers, het die HERE sy volk by die vryheid bewaar. Hy het hulle uit Egipte bevry, nog meer, uit die slawehuis van die sonde, om vir Hom te lewe. Hy het hulle by sy genade bewaar. Samuël was ’n geskenk van God om sy volk weer terug te bring by sy diens, by die vreugde van sy diens. Ja, Samuël was ook ’n geskenk van Hanna aan die HERE en sy tempeldiens, in antwoord op haar gelofte. Maar primêr was Samuël God se geskenk aan Hanna. En dit gaan nog dieper. In sy raadsplan was Samuël ook ’n geskenk van die HERE aan sy volk, waardeur Hy sy volk uit die donker heidense rigtertyd sou uitlei. So het hierdie dankoffer God se geskenk herdenk.

En net soos die dankoffer vroeër in die Ou Testament, so herdenk ons vandag in die Nuwe Testament God se Geskenk met die nagmaal. Eeue later het God nog ’n veel groter geskenk na sy volk gestuur, om sy volk finaal uit die slawehuis van die sonde uit te lei. Hy het sy eie Seun gestuur, ons Here Jesus Christus, om self ’n offer te word. Ons mog vandag sy offer gedenk aan die nagmaal. Laat die nagmaal nie vir ons net ’n ritueel wees wat ons doen om God tevrede te stel nie.

Dan sak ons af na die heidense ritualisme. Laat die nagmaal ’n bevrydingsfees vir ons wees. ’n Dankoffer, waaraan ons deelneem, in teenwoordigheid van die Gasheer, die HERE Christus self! Net soos die volk destyds trou moes bly aan die offerwette van Moses, en dit met goeie rede,  so word ons opgeroep om trou te bly aan Christus, aan die manier hoe Hy die nagmaal ingestel het.

Die nagmaal hou ons aandag vas by Christus sy offer aan die kruis, eens en vir altyd gebring. En net soos die dankoffer is die nagmaal ook ’n gemeenskapsoffer.

Ons vier dit almal saam, in teenwoordigheid van die Gasheer. Blydskap voer die botoon. Dankbare gesigte aan tafel, wat gedenk wat Christus vir ons gedoen het.

Die hele nagmaal, en dan dink ek aan die aanloop daartoe – dat ons onsself ondersoek en gereed maak vir die viering; en dan die voorbereiding vandag deur weer die formulier te lees en te besef waaroor dit gaan, en dan die viering self, en dan die afloop nou, die nabetragting, en die aanmoediging om weer vol dankbaarheid die alledaagse lewe in te gaan, ja die hele nagmaal is ’n geskenk, bedoel om ons by Christus, God se grootste Geskenk, by sy verlossing en sy diens te bewaar. Dankoffer en nagmaal herdenk God se geskenk.

Amen.

Liturgie: 

PRETORIA-MARANATA, 20 Augustus 2017 AD, 10:15 (nagmaal)
Votum
Seën
Ps 40:3
Wet
Ps 40:4
Gebed
Nagmaalsformulier
Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)
Apostoliese Geloofsbelydenis
Ps 20:3
1e tafel: Levitikus 3:1-5; Ps 4:3
2e tafel: Levitikus 7:11-27; Ps 20:4
3e tafel: 1 Samuël 1:9-11, 24-28; Ps 4:4
Lofverheffing & Dankgebed
Teks: 1 Samuël 1:24-28
Preek
Ps 116:8-10
Gebed
Kollekte
Ps 50:5,7
Seën
Preek: 1 Samuël 1:24-28

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata