Bly by die gekruisigde

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
(onbekend)
Date: 
2017-08-14
Text: 
Galásiërs 6:11-18
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Wie is ek? Wie is ons? Wat maak jou die persoon wat jy is? Wat maak van ons die gemeente wat ons is? Dit is alles vrae na identiteit. Identiteit – elke persoon, elke groep mense hét dit; elke persoon, elke groep mense soek ook daarna. Veral in jou tienerjare – elke tiener, elke jongmens gaan deur ‘n fase waarin hy/sy sy/haar eie identiteit soek; en as jongmens soek jy dan na rolmodelle, mense – gewoonlik nie jou pa en ma nie – soos wie jy graag wil wees. Jy trek aan soos daardie persoon (dis nou, as jy – of jou ouers – dit kan bekostig), jy kam jou hare soos daardie persoon, jy praat soos daardie persoon. Dit kan ‘n onseker tyd wees, vir sommige selfs ‘n deurmekaar tyd. Want wie is ek eintlik? Wie wil ek wees? Waarop wil ek trots wees? Maar moenie fout maak nie, ook ouer mense kan worstel met die vraag na identiteit. As dít waarin jy jarelank jou identiteit gesoek het, skielik verander of verdwyn, dan kan dit vrae oproep. Of as dit skielik blyk dat die persoon wat jy gedink het om te wees, eintlik maar net iets van jou verbeelding was, dan kan dit jou in ‘n identiteitskrisis laat beland, selfs al is jy 50 of 60 jaar oud. Ek dink as kinders en kleinkinders van emigrante, wat baie van ons maar is, kan ons soms vrae hê oor ons nasionale identiteit: is ek ‘n Nederlander? Is ek ‘n Suid-Afrikaner? En indien laasgenoemde, kan ek myself dan ook ‘n Afrikaner noem?

Maar ook as gemeente – as kollektief – kan daar identiteitsvrae wees, veral vir ‘n relatief jong gemeente soos hierdie. Hierdie gemeente was tot redelik onlangs nog ‘n ‘tiener’, om dit so te stel. Hoe verskil ons van ons buurgemeente, waaruit ons in 1997 ontstaan het? Wat is ons eie karakter? Ek hoor mense praat: Maranata is die konserwatiewe gemeente in die VGK, by Maranata is dit baie moeilik om enige iets verander te kry – is dit wie ons wil wees? Is dit ons identiteit? En nou met die samesprekings met die Gereformeerde kerke in die omgewing, en die nadering van die eerste kanselruil met die einste gemeente waarmee daar amper 50 jaar gelede ‘n skeuring was, kan ek my voorstel dat dit by sommige gemeentelede identiteitsvrae laat ontstaan. Want vir só lank was dit deel van ons identiteit dat húlle verkeerd was en óns reg was, en dat hulle skuldbelydenis moet doen, en dat ons jongmense eintlik nie met iemand van hulle jeug kan trou nie, en as dit dan wel gebeur, dan moet hulle by ons aansluit. Kom ons wees eerlik, daarin het ons gedeeltelik ons identiteit gevind. En as skielik die predikant van daardie gemeente op hierdie kansel kom staan, ja, dan roep dit vrae op: wat dan van dié dinge waarvoor ons jarelank gestry het? Wie is ons eintlik nog? En as ons dan nader aan mekaar gaan groei, loop ons nie die gevaar om iets van ons eie identiteit te verloor nie? Vir sommige, veral ouer lidmate, kan dit ‘n kerklike identiteitskrisis meebring.  

 

Identiteit – hoewel ons die woord nie in ons teks teëkom nie, is dít ten diepste waaroor hierdie persoonlike slot van Paulus se Galasiër-brief gaan. Ek noem dit ‘n ‘persoonlike slot’, want vanaf vers 11 neem Paulus self die pen op: “Kyk met watter groot letters ek met my eie hand aan julle skrywe.” Paulus het, soos die gewoonte was in daardie tyd, sy briewe aan ‘n soort sekretaris gedikteer, maar aan die einde het hy dan nog in sy eie handskrif ‘n persoonlike slot toegevoeg, waarin hy ‘n groet of ‘n aantal persoonlike opmerkings oorgedra het. Maar hoekom hierdie keer met groot letters? Kon Paulus dan nie goed skryf nie, of het hy dalk aan een of ander oogsiekte gely, of het sy hande weens ouderdom begin bewe? Nee, gemeente, Paulus sê nie dat hy gebrekkig of moeilik leesbaar geskryf het nie, maar dat sy letters groot is. Vandag sou ons sê dat hy in hoofletters geskrywe het. Groot letters, omdat Paulus klem wil plaas op die inhoud van hierdie eiehandige slot. Ná alle emosionele uitinge wat ons deur die loop van hierdie brief vind – dink aan 1:8 (“Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met dié wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees”), of 3:1 (“o, Onverstandige Galasiërs...”), of 5:12 (“Ag, as die wat julle opstandig maak, hulleself tog maar ook wou vermink” [letterlik: kastreer]) – ná dit alles, wil Paulus vir ‘n laaste keer die boodskap van sy brief beklemtoon, en daarvoor gebruik hy hoofletters. Vir ‘n laaste keer roep hy sy lesers toe: BLY BY DIE GEKRUISIGDE! Wat is die rede vir hierdie emosionele naskrif?

 

Wel, dit het alles oor identiteit gegaan! In Galasië vind ons naamlik gemeentes (meervoud!, sien 1:2), bestaande uit sowel Joodse christene as christene uit die heidendom. Nou, die Joodse christene was in ‘n lastige situasie. Hulle het uiteraard in die Joodse gemeenskap opgegroei, ‘n hegte gemeenskap met noue familie- en vriendskapsbande. ‘n Gemeenskap met ‘n duidelike stel reëls wat die onderlinge bande, veral in ‘n heidense omgewing, nog verder versterk het. Want hulle is immers die uitverkore volk van God, ‘n volk wat hulle nie met ander volke mag vermeng nie. Hierdie Joodse identiteit was dus besonder sterk. Maar toe word hulle christene – pragtig, natuurlik! Maar dit het hulle wel in ‘n identiteitskrisis gebring, want skielik het hulle broers en susters uit ander volke gehad (die christene uit die heidendom). En daardie broers was nie besny nie. Hulle het goeie kontakte gehad met hierdie gelowiges uit die heidendom, hulle het saam met hulle geëet. Ja, in die begin was dit moeilik, hulle moes hulleself oorwin om hierdie heiden-christene as broers en susters te behandel. Maar die grootste probleem was dat hulle familie en vriende uit die ou gemeenskap so ‘n groot beswaar daarteen gehad het. Die ou, Joodse gemeenskap het geëis dat hulle hierdie kontakte moes verbreek; indien hulle dit nie sou doen nie, het hulle die gevaar geloop om hulle plek in die Joodse gemeenskap te verloor. Lastige situasie! Maar die joodse christene het toe ‘n oplossing bedink. As die christene uit die heidendom hulleself nou laat besny, dan was die probleem opgelos. Ja, vir ‘n paar dae sou dit pynlik wees vir hierdie broeders uit die heidendom, maar daarna sou alles net soveel makliker wees. ‘n Goeie oplossing, nie waar nie?

Maar Paulus stem nie saam nie. Sy hele brief lank al stem hy nie saam nie, maar tot dusver het hy homself ingehou deur nog net die onderwerpe behandel – die onderwerpe van kruis, wet, volk, Abraham en besnydenis. Maar hier, reg aan die einde van sy brief, ruk Paulus nou die maskers af en raak dit persoonlik. Julle, joodse christene – sê hy – julle wil maar net ‘n mooi vertoning in die vlees maak (vers 12). Daarmee bedoel Paulus dat hulle eintlik maar net mense hier op aarde wil beïndruk. Hulle wil hulle nie-christelike volksgenote beïndruk, want hierdie ongelowige Jode sal dit baie waardeer wanneer die joodse christene daarin kan slaag om nuwe proseliete vir die jodendom te wen. Ja, dis waar, as joodse christene staan hulle onder verdenking in die Joodse gemeenskap. Maar as hulle nou op hierdie manier hulle ongelowige volksgenote kan beïndruk, dan kan hulle die dreigende vervolging van die kant van hulle mede-jode ontduik. En hulle doen dit, sê Paulus in vers 13, onder die voorwendsel dat hulle die goeie wet van Moses wil onderhou (dus, hulle motiewe lyk eerbaar), maar dit is nie waar nie. Want self is hulle glad nie sulke fantastiese wetsvolbringers nie. Eintlik gaan dit vir hulle maar net oor die behoud van hulle Joodse identiteit! Hulle wil hê dat julle besny moet word, sodat hulle in julle vlees kan roem (vers 13). Hulle wil hê dat die christene uit die heidendom besny moet word, sodat hulle trots kan wees op hulle Joodse identiteit. En dan sê Paulus vir hierdie joodse christene, wat in hierdie saak sy teenstanders geword het: maar julle kan nie tegelykertyd vriende met julle ongelowige volksgenote bly én ‘n dienaar van Christus wees nie. As julle christene is, dan bepaal Christus julle identiteit. En besef goed, dit is hierdie Christus wat deur die ongelowige Jode verwerp is. Soos hulle die Meester vervolg het, so sal hulle die dienaars ook vervolg, veral wanneer die dienaars kontak onderhou met onbesnede mede-christene.

 

En dit is op hierdie oomblik dat Paulus, nadat hy eers die maskers van die joodse christene afgeruk het, as’t ware nou ook sy eie masker afhaal. Baie persoonlik plaas hy homself teenoor die joodse christene wat daarop aandring dat die heiden-christene besny moet word. En met nadruk sê hy: “Maar wat MY betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die KRUIS van onse Here Jesus Christus” (vers 14). Onthou, Paulus is ook ‘n Jood; hy sit met dieselfde identiteitsvraag as die ander joodse christene. Maar anders as hulle wil hy sy identiteit nie meer soek in sy jood-wees nie. Sy enigste roem is sy nuwe Heer en Eienaar, Jesus Christus, die Gekruisigde – en dit oorstyg sy volksidentiteit. Paulus is trots op die kruis, daarin soek hy sy identiteit.

Nou, ons is gewoond daaraan dat die kruis die teken, die simbool, van die Christelike geloof is. Hier hang hy, lewensgroot. Maar vir die mense in Paulus se dae moes dit baie vreemd gewees het dat iemand trots kan wees op ‘n kruis. By omtrent almal in daardie dae het die kruis walging en weerstand opgeroep. Dit is soos om vandag te sê: Ek roem in die elektriese stoel, of ek is trots op die gaskamer, ek is trots op die galg of die dodelike inspuiting. Wie is nou trots op so iets? Watter organisasie sal van die elektriese stoel sy logo maak? Watter organisasie sal die gaskamer op sy briefhoof sit? Dan is daar mos êrens iets fout met jou! Nou, ‘n soortgelyke reaksie moes die kruis in Paulus se dae opgeroep het – die kruis was ‘n martelwerktuig, bedoel om iemand se sterwe so pynlik as moontlik te maak en so lank as moontlik uit te rek. ‘n Verskriklike dood! En dit is nou die simbool van die kerk; dit is waarop Paulus trots is, dit is waarin hy sy identiteit vind. Omdat hy ‘n lewende verhouding met sy Verlosser het! Dit is deur die kruis van Christus dat die wêreld vir hom gekruisig is en hy vir die wêreld (vers 14b) – bedoelende dat die sondige wêreld nie meer mag oor Paulus het nie; die sondige wêreld is dood vir hom. Al die dinge wat vir mense belangrik is, waarna mense in hierdie wêreld strewe, al die dinge waarin mense hulle identiteit probeer soek (mag en aansien en welvaart), dít alles het vir Paulus onbelangrik geword. Hy noem dit in Filippense 3:8 selfs drek (uitwerpsel): “Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry.”

 

Ons sien dus, broers en susters, dat Paulus sy identiteit in die gekruisigde Christus gevind het. Daarin wil hy roem, daarop is hy trots. En dan wys hy vervolgens in verse 15 en 16, dat hierdie identiteit in Christus alle ander identiteite oorstyg. Vir diegene vir wie die kruis die nuwe identiteitsmerker is waarop hulle trots is, vir hulle verskuif ook die eeue-oue grenslyne – jou identiteit as besnedene (dus, as Jood), of jou identiteit as onbesnedene (dus, as Griek), raak dan onbelangrik. Want Christus skep ‘n nuwe identiteit uit Jood en Griek – ‘n nuwe skepsel, soos wat Paulus dit noem aan die einde van die vers 15. En hierdie nuwe identiteit is van nou af die nuwe reël! In vers 16, waar in ons vertaling die woord ‘reël’ gebruik word, daar het die Grieks die woord kanon. Nou, ons ken die woord ‘kanon’ wanneer dit gaan oor die boeke van die Bybel: die kanonieke boeke. En dit beteken letterlik: riglyn of lineaal. Op soortgelyke wyse is hierdie grens-oorskrydende nuwe identiteit in die Gekruisigde, wat lei tot ‘n nuwe skepsel – dit is nou die norm, die reël. Dit is waaraan christene van nou af hulle eie – en ánder – se identiteit moet meet: die kruis van Christus, waar dit nie saakmaak wat jou nasionaliteit en jou kleur en jou taal is nie; waar jou geskiedenis nie die bepaler is nie; waar dit nie saakmaak wie jy vroeër was nie, maar waar dit net saakmaak wie jy nou in die Gekruisigde is. En hierdie nuwe werklikheid, dít noem Paulus die Israel van God – die nuwe skepping van Christus, waar jou Jood-wees of jou Griek-wees nie die norm is nie, maar waar die kruis die norm is. Die joodse christene hoef daarom nie bang te wees om hulle plek onder die Jode te verloor nie. Daar is immers vir hulle ‘n nuwe plek te midde van almal wat hulle wil buig onder die kanon, die reël, van Christus.

 

Om geloofwaardigheid aan sy woorde toe te voeg, wys Paulus in vers 17 nog daarop dat hyself, hoewel hy as Jood besny is, intussen belangriker tekens aan sy liggaam dra as die besnydenis. Hy dra nou die merktekens van die Here Jesus in sy liggaam. Paulus se liggaam het die spore gedra van die vervolgings deur sy eie volksgenote. Hy het nooit, ook nie wanneer hy in die sinagoges gekom het, probeer om die lyding ter wille van die Gekruisigde te probeer ontvlug nie. Hy het altyd, sonder skaamte, Jesus as Here bely. En dit het hom vuisslae, geseling en steniging gekos: die littekens daarvan is blywend en soms nog pynlik. Maar Paulus noem hierdie littekens stigmata. Hierdie woord verwys na die brandmerke wat slawe gedra het om aan te toon wie sy eienaar is. Hierdie tekens in Paulus se liggaam wys dus aan wie hy behoort. Sy liggaam dra die handtekening van die Gekruisigde. Paulus se identiteit word dus deur die kruis van Christus bepaal, en om dit te bevestig, wys Paulus as’t ware met die vinger die littekens van die vervolging aan. Sy nuwe identiteit is vir hom so werklik en eg, dat hy bereid is om daarvoor te ly, en – soos uiteindelik ook gebeur het – om daarvoor te sterf.

 

Dit is die egte christelike identiteit, gemeente! Om te weet wie ek in Christus is, wie ons in Christus is. En dit beteken dat jy ander dinge, ander persone waarin jy voorheen jou identiteit gevind het, sal moet opgee – of ten minste ondergeskik moet maak aan die kruis. Jy sal dit móét doen, want vir die Jode is die kruis ‘n struikelblok en vir die Grieke is die kruis dwaasheid.

Amen

Liturgie: 

Liturgie (oggend)
Groet en afkondigings
Votum: sing Ps. 124:4
Seën: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus.  
Sing Ps. 108:1 en 2
Wetslesing
Sing Ps. 141:2-4
Gebed
Lees: Galasiërs 6:11-18
Sing Skr. 16:8-10
Preek
Amenlied Skr. 18:4-6
Gebed
Kollekte
Slotsang Skr. 24:6 en 7
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.