Christus het die kuns van vergifnis vervolmaak

Text: 
HK Sondag 51
Date: 
2017-06-18
Preek Inhoud: 

 

Nie alle dinge in die lewe gaan vanself nie. Vir amper elke beroep het mens ‘n opleiding nodig. Die een spesialiseer homself daarin om motors reg te maak. Die ander om siek mense gesond te maak. Vir baie dinge in die lewe het mens ‘n opleiding nodig. Oefening baar kuns, soos die spreekwoord sê. En die beste metode is meestal om die vak by iemand anders te leer, iemand wat ervaring het.

As ons vanaand aandag skenk aan skuldvergewing, is daar gelukkig ook Iemand by wie ons dit kan leer. Dit is ons Here Jesus Christus self. En Johannes 4 is ‘n skoolvoorbeeld van hoe Hy te werk gegaan het. Ek verkondig u vanaand die Evangelie van skuldvergifnis, met hierdie tema:

Tema: Christus het die kuns van vergifnis vervolmaak

Met die vyfde bede vra ons:

1 Of Hy ons hierin wil voorgaan

2 Of Hy ons hierin wil oplei

1 Of Hy ons hierin wil voorgaan

Christus het Homself opgeoffer vir die skuld wat ons gehad het. Dit het Hy gedoen tydens sy lewe op aarde, veral aan die kruis, daar is volledig betaal.

Maar nie net aan die kruis nie. Gedurende sy hele tyd op aarde het Jesus ons geleer wat dit is om uit skuldvergifnis te lewe. Skuldvergifnis nie net met woorde, maar ook met jou houding, met dade. ‘n Vergewingsgesinde houding, om sondaars te wen. Wat ons gelees het in Johannes 4 is ‘n pragtige voorbeeld daarvan. Kom ons kyk hoe Jesus tyd geneem het om ‘n sondares te red.

 

Daar staan: Jesus moes deur Samaria reis om in Galilea te kom (vers 4).

Eintlik is dit nie waar nie, Hy kon ook ‘n ander pad gevat het. Trouens, die meeste Jode, as hulle van Jerusalem in die suide na Galilea in die noorde gereis het, het ‘n ompad gevat. Hulle het aan die oostekant van die Jordaan gereis.

Dit het hulle ‘n reis deur die land van die Samaritane bespaar, onreine en agterlike mense. Tog het Jesus bewus hierdie roete gekies, want ook hier was daar mense wat skuldvergewing nodig gehad het. Daarom moes Hy deur Samaria gaan.

Onderweg het Jesus, toe dit midde op die dag was, by ‘n fontein, ‘n put, gaan sit.

Hy het waarskynlik bietjie skaduwee gesoek om uit die brandende son te kom.

By ‘n fontein, of waterput, het meestal ‘n klompie bome gestaan. Terwyl Hy sit, kom daar toe ‘n vrou aan. Heeltemaal alleen met ‘n emmer om water te haal.

Dit is snaaks, dat sy heeltemal alleen was. Meestal het die vroue van die stad saam in ‘n groot gesellige groep kom water haal. In die môre vroeg, of in die middag laat. Hierdie vrou het egter alleen midde op die dag gekom. Skynbaar wou sy nie saam met die groep gaan nie. Toe die vrou by die put aankom, het Jesus met haar begin praat. ‘n Man met ‘n vrou, in die openbaar. Dit was baie ongebruiklik. Die vrou was tereg hoogs verbaas. Hoe durf hierdie man sommer met haar praat? En dan is Hy ook nog ‘n Jood. Jode het strik geskeie van die Samaritane geleef. Wat haar ook opgeval het, was dat hierdie man gewoon bly sit het. In die ou nabye Ooste was dit die gewoonte dat die belangrikste persoon gestaan het. Die minder belangrike persoon het altyd gaan sit, byvoorbeeld op die knieë. Maar Jesus het gewoon bly sit, net asof Hy die mindere was.

Hy het haar toe vir water gevra.

Hy het geen emmer by Hom gehad en die put was diep. Maar het hierdie man dan nie besef dat alle gebruiksvoorwerpe van die Samaritane vir die Jode onrein was nie? Hy het gemaak asof daar geen verskil was nie. Dit het die vrou selfvertroue gegee en sy het ‘n gesprek begin.

In die gesprek, wat ons gelees het, word ‘n aantal dinge duidelik. Die vrou het agtergekom dat sy met ‘n profeet te make gehad het. ‘n Profeet wat trouens alles oor haar geweet het. Ook oor haar persoonlike lewe. Byvoorbeeld dat sy tot vyf keer toe geskei was en tans saamgewoon het. Nie ‘n reputasie om oor huis toe te skryf nie. Die vrou het vinnig probeer om die onderwerp van die gesprek te verander. Ons vaders aanbid op hierdie berg, die Gerisim. Maar julle Jode doen dit in Jerusalem. Haar bedoeling met hierdie opmerking, so uit die bloute:

Ek sien dat U ‘n profeet is, maar ek is nie een van u skapies nie. Ek is ‘n Samaritaan. U is ‘n profeet vir die Jode. U het nie ‘n boodskap vir my nie.

Tog het die Here Jesus aangehou.

Selfs op haar opmerking het Hy ‘n antwoord gehad. Die tyd kom en dit is nou, dat die waaragtige aanbidders die Vader sal aanbid in Gees en waarheid.

‘n Tempel op ‘n heilige berg, of dit Sion of die Gerisim is, dit sal dan nie meer relevant wees nie. Want die Gesalfde van God het ‘n boodskap vir almal. Ook vir die Samaritane is daar skuldvergewing en versoening.

Selfs vir die grootste sondares.

Gemeente, die benadering van die Here Jesus het resultaat gehad. Ons sien in hierdie gebeurtenis hoe Hy ons voorgaan in die kuns om ‘n ander te vergewe.

Want om ‘n ander te vergewe, dit is eintlik om die band weer te herstel. Nie dat Jesus die sonde deur die vingers gesien het nie. Inteendeel. Egskeiding bly ‘n groot sonde, en so ook die eiewillige godsdiens van die Samaritane. Maar deur sy houding stimuleer Christus die Samaritaanse vrou om haar skuld te bely. Deur sy benadering maak Hy dit vir haar onmoontlik om in haar sondes te volhard.

En dit het resultaat gehad. Tydens die gesprek sien mens hoe die respek van hierdie vrou vir die Heiland toeneem. Sy noem Hom aanvanklik ‘n Jood, later noem sy Hom Here of Meneer, later ‘n Profeet. En aan die einde is haar gevolgtrekking dat hy die Messias, die Redder van die wêreld is!

Christus se houding het resultaat gehad.

Want die vrou het terug na die stad gegaan om almal te roep. En baie het tot geloof in Hom gekom. So het ons Heiland tyd vir sondaars geneem. Hy het twee dae in hulle stad, Sigar, gebly. Iets wat ‘n Jood nooit sou gedoen het nie. Kyk maar net na die reaksie van die dissipels toe hulle sien dat Jesus met ‘n vrou in gesprek was.

Geliefde gemeente, in hierdie geskiedenis leer die Heilige Gees ons dat ook die grootste sondaar by Christus mag aanklop. Meer nog, Christus soek hom of haar self op. En geen sondaar is te gering om in sy koninkryk ‘n taak te kry nie. Hy gebruik hierdie vrou byvoorbeeld om baie ander na Hom toe te bring. Baie in die stad Sigar het tot geloof gekom. Dit in reaksie op wat die vrou vertel het, en veral op die woord van Jesus self.

Geliefde gemeente, gesien die geskiedenis in Johannes 4 maak Christus dit vir sondaars maklik om met hulle skulde na Hom toe te kom. Hy ontvang niemand anders nie as slegs sondaars. Hy weet ook hoe om onderskeid te maak tussen die sonde en die sondaar. Die sonde duld Hy nie. Die sondaar het Hy lief. Wil Hy red.

Christus leer ons om ons toevlug te soek by ‘n vergewingsgesinde God. Dit is die hart van die Evangelie. God het sy Seun in die wêreld gestuur, nie om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered sou word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie. Ja daar bestaan geen sondaar te groot vir ons Heiland nie. Christus het die kuns van vergifnis vervolmaak. Die Vader het sy middelaarswerk aanvaar. Laat ons daarom elke dag na Hom gaan om vergifnis te vra. Hy het dit maklik gemaak om te bid: vergewe ons ons skulde.

(Tema: Christus het die kuns van vergifnis vervolmaak

Met die vyfde bede vra ons:

1 Of Hy ons hierin wil voorgaan)

 

2 Of Hy ons hierin wil oplei

Nadat Jesus die Onse Vader aan sy dissipels geleer het, was sy eerste opmerking daarna:

“Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.” (Matth 6:14-15)

Is God se vergifnis dan afhanklik van ons vergewingsgesindheid? Ek dink dat dit duidelik is dat dit nooit kan nie. Dit sou vir ons ‘n ramp gewees het. Ons is hoogstens bereid om iemand een, of twee, of drie keer te vergewe, en dan hou dit eg op. Tog vra Christus dat ons mekaar 70 keer 7 keer moet vergewe.

Sondag 51 verwoord hierdie saak op ‘n baie mooi manier, maar nie so helder nie.

Ek kom agter dat my katkisante soms sukkel om hierdie sin te verstaan: omdat ons hierdie bewys van u genade in ons vind: dat ons die ernstige voorneme het om ons naaste van harte te vergewe. Die Kategismus bedoel hier: God het die inisiatief geneem. Hy het eerste vergewe. Hy het sy Seun na die aarde gestuur sonder dat ons daarvoor gevra het. En omdat God dit gedoen het, weet ons nou dat daar soiets soos vergewing bestaan. Vergewe en vergeet. Ons het die vergewingsgesindheid van God geproe. Letterlik, vandag aan die nagmaal.

Ook oordragtelik, soos Hy elke dag ons ‘n nuwe kans gee. God leer ons wat die kuns van vergifnis is. Ons kan die kuns by Hom afkyk. Met die opmerking van Jesus: as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie, benadruk Hy hoe essensieel dit is dat ons God hierin navolg. Omdat God teenoor ons eerste vergewingsgesind was, moet ons nou ook vergewingsgesind wees. Ons mag dit nie nalaat nie.

Gemeente, dit is nie moeilik om vir God vergewing te vra nie. God maak dit vir ons maklik om dit te doen. Maar om ‘n ander nou ook te vergewe, dit is lastiger.

Juis daarom is vergewingsgesindheid die proef, of ons regtig uit genade lewe.

As dit al ‘n kuns is om vergewing te vra, ‘n veel groter kuns is dit om ook vergewing te skenk.

In hierdie verband is dit goed om te noem dat vergewing twee kante het.

Vergewing is eintlik ‘n gebeurtenis wat uit twee dinge bestaan. Daar is iemand wat vergewing vra. En daar is iemand wat vergewing skenk. As albei kante hulle deel doen, dan vind daar vergewing, oftewel versoening, plaas.

As iemand sondig, dan word ‘n band verbreek. Dit is die wese van sonde. Ons het deur ons sonde die band, die verbond met God verbreek. En sonde verbreek ook die goeie band tussen mense. Al is dit dalk ‘n sonde net wat een aspek betref, tog word die band in sy geheel aangetas. Een sonde kan alles ontwrig.

In ‘n huwelik, in ‘n gesin, in die kerk, op die werk, waar ook al. En as dit nie goed opgelos word nie, dan sal die sonde en gevolge daarvan soos ‘n kanker bly voortwoed. Daarom leer Christus ons dat dit so belangrik is dat daar vergewing, versoening plaasvind. Nie net tussen God en ons nie, maar ook tussen ons onderling. En in Johannes 4 leer ons dat mens aktief moet werk aan vergewing.

 

Die eerste reaksie as iemand teen ‘n ander gesondig het, is:

ek wil daardie persoon nie meer sien nie, ek wil nie meer met hom praat nie.

Die sonde verbreek dus die band. Daar het iets tussen mense ingekom.

Christus roep ons op om die band te herstel. Daarvoor is belangrik dat aksie van beide kante onderneem word.  As die een opreg berou toon, en as die ander ‘n houding van vergewingsgesindheid openbaar, dan kan die band weer herstel word. Berou plus vergewingsgesindheid bring dus vergewing, versoening tot stand. As een van beide kante egter ontbreek, kan vergewing nie plaasvind nie.

As daar geen berou is, of net oppervlakkige berou, kan daar geen versoening plaasvind nie, al is die ander bereid om te vergewe. En as daar wel opregte berou is, maar die ander wil nie vergewe nie, is nie vergewingsgesind nie, dan kan daar ook nie versoening plaasvind nie.

Geliefdes, dit is dus baie belangrik dat ons besef dat ons in beide gevalle ‘n taak het. Ons het ook ‘n taak as iemand teen ons gesondig het. As ons sy berou nie wil aanvaar nie, dan staan ons in daardie opsig skuldig teenoor God. Laat ons Christus hierin navolg. Hy het gedemonstreer hoe ‘n mens, selfs nog voordat die ander berou begin toon, die berou kan uitlok deur ons houding, deur vergewingsgesindheid. Laat ons dit vir mekaar maklik maak om ons sondes te bely.

Christus het sy eie reputasie op die spel geplaas om met ‘n Samaritaanse vrou in gesprek te gaan. Laat ons dit ook as ‘n uitdaging sien om die band te herstel, selfs met die grootste sondaar. Vir God is natuurlik geen sonde erger as ‘n ander nie.

Elke sonde verbreek ‘n band. Met elke sonde gaan die deur na die hel oop, al is dit maar op ‘n skrefie.

Ons mag daagliks van God se vergewingsgesindheid lewe. God aktiveer selfs ons berou deur sy liefde. Laat ons as Christene dieselfde houding aanneem, as ‘n ander iets teen ons gedoen het. Christus het hierdie een van die bedes van die Onse Vader gemaak. Dit onderstreep hoe belangrik Hy dit ag.

As julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, hoe kan julle dan blywend by die Vader bly aanklop vir vergewing?

Christus leer ons die vyfde bede omdat Hy ons so goed ken. Dat dit vir ons makliker is om berou te hê as om vergewingsgesind te wees. Maar juis vergewingsgesindheid is die ware navolging. Selfs as daar van die ander kant nog geen spoor van berou sigbaar is nie.

Ons vergewingsgesindheid kan die berou bespoedig.

Ek het ‘n keer gelees hoe die kerk in Korea tot stand gekom het. Daar is tans meer as sestien miljoen Christene in Korea. Aan die begin van die vorige eeu was daar verskeie Westerse sendelinge in die Verre Ooste aktief. In Korea was dit ook die geval. Maar in Korea is die werk lamgelê deur die feit dat twee invloedryke sendelinge heeltyd in konflik met mekaar was.

Hulle kon nie mekaar uitstaan nie. En die mense van Korea was bewus daarvan.

Die Christen bekeerlinge het begin besef dat solank as wat dit voortduur, daar niks meer van die sendingswerk tereg sou kom nie. Wel, om ‘n lang verhaal kort te maak, hierdie jong Koreaanse Christene het die een sendeling sover gekry dat hy sy skuld erken het. En saam het hulle toe deur hulle houding van berou asook vergewingsgesindheid uiteindelik die ander sendeling ook sover gekry. Dit het meer as ‘n jaar geduur. Maar toe die versoening uiteindelik plaasgevind het, vanaf daardie oomblik het die Koreaanse kerk begin groei.

Selfs veel meer as in die ander Verre-Oosterse lande.

Wat ons hieruit kan leer is dat vergifnis ‘n effek het. Baie Samaritane uit die stad Sigar het tot geloof in Christus gekom. Baie Koreane het Christene geword.

Wie weet watter kragtige dinge Christus nie in ons tyd sal doen nie, daar waar versoening plaasvind.

Amen.

 

 

 

Liturgie: 

PRETORIA-MARANATA, 18 Junie 2017 AD, 17:30 (Nagmaal)

Votum

Seën

Ps 32:1,2

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed (afgesluit met die sing van die Onse Vader)

Sb 45:1,3

1e tafel: Skriflesing: Johannes 4:1-42; Ps 32:3

Lofverheffing & Gebed

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 51

Preek

Ps 32:4,5

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 32:6

Kollekte

Ps 103:5,7

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 51

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata