Die gebed dat die God van vrede deur ons Here Jesus Christus, daardie Groot Herder van die skape, in ons werk om sy wil te doen

Minister: 
Ds Hannes Breytenbach
Church: 
Maranata
Date: 
2016-06-12
Text: 
Hebreërs 13 : 20-21
Preek Inhoud: 

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

God ons Vader, openbaar Homself deur Jesus Christus, as die goeie herder wat na sy skape omsien.

Die herder wat na sy kudde skape omsien beeld die verhouding van God tot sy volk uit, en van God wat sy volk lei. Hierin gebruik Hy gestuurdes om sy volk te lei en te versorg.

God is die Herder van Psalm 23.

Maar Hy stuur ook altyddeur herders na sy volk om hulle met sy liefde te versorg.

So het Hy vir Moses gestuur wat die volk uit die slawerny van Egipte gelei het.

So het Hy  die Rigters, koning Dawid, die priesters en die profete gestuur om sy volk te lei.

En so word die saak van die herderlike werk van God vir sy volk vervul en saamgetrek in die lewe en werk van daardie gestuurde en groot Herder Jesus Christus. In sy herderlike werk (Johannes 9 en 10) gaan die profesie van Jesaja 40:11 en Esegiël 34 in vervulling.

Die apostel bid in ons teks tot God dat die gemeente volmaak mag word in elke goeie werk, dit is volmaak word  in die doen van die wil van God ter willle van die bloed wat die opgestane Christus gestort het. En dat hulle deur Christus se werk  in hulle  God behaag en Christus verheerlik.

Eers, in die uiteensetting van Hebreers is die gelowiges bemoedig en vermaan om te volhard omdat deur Christus se bloed daar ‘n nuwe verbond opgerig is. In Hebreers 13 vers 18 en 19, het die apostel die gebede van die Hebreers vir homself gevra sodat hy in goeie gewete goed kan wandel. Nou, in ons teks, bid Hy tot God se troon van genade vir die Hebreers. Want nou is Christus daardie groot Herder wat deur sy gestuurdes, sy apostels laat getuig van sy werk vir sy kudde. En ons word deur hierdie gebed geleer om self te bid  vir die kudde dat Christus se evangelie in ons werk sodat God verheerlik word. Dat God die Woord van genade laat ingang vind in die harte van die gemeente. Dat hulle toegerus deur God, nie verslap of afvallig raak nie, maar in die geloof volhard. In besonder is hierdie gebed ‘n hartlike  gebed van ‘n pastor, tot die pastor van alle pastors, Jesus Christus, “daardie Herder” wat met sy bloed en sy opstanding ‘n ewige verbond opgerig het, om die gelowiges te lei en te versorg  met sy verdienste om elkeen diensbaar aan God te wees. Dit is ‘n gepaste gebed vir die predikant wat preeekmaak, dit is ‘n gepaste gebed vir die ouderling wat voorberei om op huisbesoek te gaan, dit is ‘n gepaste gebed vir die onderwyser wat die verbondskinders onderrig, dit is ‘n gepaste gebed vir die ouer wat sy of haar kind onderrig.

 

Tema: Die gebed dat die God van vrede deur ons Here Jesus Christus, daardie Groot Herder van die skape, in ons werk om sy wil te doen

 

  1. Wie die God van vrede, tot wie ons bid, vir ons is

  2. Wie daardie Groot Herder Jesus Christus, wat in ons werk, vir ons is

  3. Wat God se werk deur die Herder vir ons diens aan Hom inhou

 

  1. Wie die God van vrede vir ons is

 

Die God van vrede tot wie die Apostel bid het letterlik daardie groot Herder Jesus Christus uit die dood teruggebring, en dit is moontlik deur die bloed van die ewige testament. God het deur Jesus Christus vrede en versoening bewerk, Romeine 5:1-5: Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus;  deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.  En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk,  en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop;  en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is..

 

God word ook elders in die apostoliese briewe God van vrede genoem, Rom 15:33, 16:20, 2 Kor 13:11, 2Tes 3:16.

 

 In die  hoofstukke voorafgaande aan ons teks het die skrywer duidelik uiteengesit hoe God deur Jesus die vrye toegang tot sy heiligdom vir ons bewerk het.

 

In die opwekking van die gekruisigde erken God die volkome regdoen, dit is die geregtigheid van sy Seun. Hy verhoog Hom vir altyd. Hy lei Hom letterlik uit die wereld van die dood weg. Die dood as straf het deur die offer van Christus tot ‘n einde gekom want die vrede van God is vir altyd herstel.

 

God van vrede wys op die verhouding van God tot sy volk, wat sy reg handhaaf, want sy reg is herstel uit die slawerny van sonde en dood en uit die vyandskap en haat teen God. Sy volk mag kom Heb 12:23…by die feestelike vergadering en die gemeente van die eersgeborenes wat in die hemel opgeskrywe is en by God, die Regter van almal….

 

Die gevalle mens is onder sy oordeel. Hy is uitgedryf uit die tuin. Maar deur die volmaakte gehoorsaamheid van Christus keer God sy vriendelike aangesig tot ons.

 

Sonde het ons van God vervreem. En van sy vriendelike aangesig. Die mens leef in vyandskap met God en God se toorn ontbrand teen die sondaar. God haat die werk van ongeregtigheid. God haat die bose. God se reg was aangetas. Die mense was verlore in hulle sonde.

 

In sy groot genade en ontferming het Hy sy seun gestuur as daardie groot Herder om versoening te bewerk. Hy moes die toorn van God oor sy volk wegkeer na Homself, as ‘n genoegsame offer om te voldoen vir al die skuld van God se volk.

 

Christus het vrede gebring, Hy het Jode en heidene in een liggaam met God versoen deur die kruis en so is Hy ons vrede, Ef 2:14-16:  Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep  en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het.  En Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was en aan die wat naby was;  want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader. Hy het vir baie gesterwe en so vir baie versoen met God. Daarom is God se toorn oor ons vervang met sy guns, sy vrede. Dit beteken nie dat Christus tussen ons en God ingespring het en moes sterwe om God se guns te wen nie. Nee die Vader is self die oorsaak van die losprys wat Christus vir ons kom betaal het. Christus is die plaasvervanger wat deur die Vader gestuur is. Hy het alle verhindering deur die sonde en die dood vir ons weggeneem. Die vrede van God kenmerk die lewe van die gelowiges nou. God se uitnemende liefde beheers ons lewens.

 

God het Christus uit die dood teruggebring. Dit is die bewys van God se vrede jeens ons.Toe Hy Christus uit die dood opgewek het, het Hy gewys dat sy toorn gestil is, dat Christus genoeg gedoen het, dat Hy voldoen het aan alle skuld wat ons by God gehad het. God het die losprys aanvaar wat Christus gegee het om ons te verlos.

 

Hier word duidelik gestel dat die Vader vir Christus opgewek het uit die dood, spesifiek die God van vrede. Dieselfde in Hand 2:36: Laat dan die hele Israel weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het. In ons teks lê die klem nie soveel op die goddelike krag as op die reg wat geskied het en aanvaar is. God wat as regter die reg handhaaf. Hy het Jesus weer teruggebring uit die dood. In die toestand van die dood was Hy onder die toorn van God, maar nou is Hy die Redder wat uit die gevangenis gebring is, en die woorde weer teruggebring benadruk dit. Hy het dit ter wille van ons regverdigmaking gedoen, Romeine 4:25 Hy is oorgelewer ter wille van ons misdade en opgewek  ter wille van ons regverdigmaking.. Die seun was tot in die graf gehoorsaam aan sy Vader. Hy het gewag dat sy Vader Hom verhoog.

 

Ons God van vrede open alle deure na Hom toe. Deur die bloed van Christus se volkome versoening en die Herderskap van die opgestane Heer. Hy versamel sy uitverkore volk en rig sy verbond met ons op deur die bediening van die versoening wat  ons groot Herder vir ons met God bewerk het. Sodat ons tot diens van God kan wees.

 

  1. Wie daardie groot Herder, Jesus Christus vir ons is

 

In sy opstanding deel almal wat in Jesus Christus glo. Want sy kudde ken sy stem en volg Hom. Hy is daardie groot, daardie magtige herder van die skape deur die bloed van die ewige verbond. Hy is die goeie Herder wat sy lewe gegee het vir sy skape, Joh 10.

 

Sy skape deel daarom nou ook in sy lewe. In Christus word die gelowiges ook nou weggelei uit die lewe van die dood. Danksy die bloed van die ewige verbond. Dit gaan om die werk van die Herder maar ook om die uitlei van die herder uit die wereld van die dood. Dit is duidelik dat sy opwekking as Herder en sy uitleiding uit die wereld van die dood moontlik geword het deur sy eenmalige bloedstorting waardeur die nuwe verbond, die nuwe bedeling, ingewy is, Heb 10:5-18: En ook die Heilige Gees gee aan ons getuienis;   want nadat Hy tevore gesê het: Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit ná dié dae, spreek die Here verder: Ek sal my wette gee in hulle hart, en in hulle verstand sal Ek dit inskrywe,   en aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie.  Waar daar nou vergifnis van hierdie dinge is, is daar geen offer meer vir die sonde nie. Dit is ‘n duursame verbond, ‘n ewige verbond. Dit het geen einde, dit maak alle verkrygde geskenke deur Christus, vir altyd beskikbaar. En dit maak die verkrygde geskenke deur Christus, effektief in ons lewens. Sodat ons nie verder vlugtend is van God nie, maar versoen met God en diensbaar aan God.

 

Daardie groot Herder wys op Christus se besondere amp wanneer Hy uit die dood gebring word, sy amp in verband met die vrede van God. Daardie groot Herder wys na die belofte van die Ou Testament. Soos Psalm 23, en Jesaja 40:11: Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n Herder. Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra, die lammerooie sal Hy saggies lei.

 

Hy is die ware ampsdraer, die volmaakte herder, die gestuurde wat die valse herders (die priesters en leiers van Israel) van Esegiel 34 vervang en in liefde na sy volk kom omsien, soek en vind wat verlore is, soek en vind die lammes en die kreupeles, die behoeftiges, die blindes (in Joh 9 en 10). Hy het gekom om sy kudde te eis van die hand van die valse herders. Hulle het sy kudde opgeeet. Maar Hy sal sy kudde lei in spore van geregtigheid. Eseg 34:23: En Ek, die HERE, Ek sal vir hulle ‘n God wees, en my kneg Dawid ‘n vors in hulle midde. Ek, die HERE, het dit gespreek. Die God van vrede plaas sy kudde in die hande van ons Verlosser wat versoening vir ons gedoen het, om deur Hom regverdig en heilig gemaak te word, om deur Hom volmaak gemaak te word vir elke goeie werk.

 

Hy is deur God deur die bloed van die ewige testament uit die dode teruggebring. Hoeveel te meer kan ons dan daarop reken dat ook ons teruggebring word deur God uit die dood? Hy is nie teruggebring in privaatheid nie, maar as die plaasvervanger vir almal wat Hy deur sy bloed versoen het.  Vir ons het Hy eenmaal met sy eie bloed ingetree in die heiligdom van God (Heb 9:12) sodat ons nou met ‘n rein gewete die lewende God kan dien (Heb 9:14). Christus het gekom om sy Vader te behaag en sy wil te doen deur sy gehoorsaamheid tot in die dood. So het Hy ons geheilig dat ons ook God se wil doen.(Heb 10:7-10). So word sy plaasvervangende offer, verlossing van die dood vir die Herder en vir sy skape wat Hy red van die dood.

 

Sy bloed moes werklik vloei om versoening te werk. Hy maak ons regverdig deur sy offer vir ons sonde. In ons tyd word kritiek gelewer op die offer van ons Here Jesus Christus. Hy sou gesterf het, maar God wou nie werklik hê dat Hy  ons regverdig  maak deur te moes sterf nie, God is nie so bloeddorstig nie, word deur moderne mense beweer. Dit is maar agterna deur die evangelieskrywers en die kerk as bloedige offer vir regstelling verduidelik, beweer hulle. Dit maak vir hierdie mense net nie sin dat God regverdigheid sal bewerk deur die bloed van sy seun nie. Jesus se dood was geen slagoffer nie, by sy dood was geen Levietiese priester betrokke nie, en Hy is ook nie in die tempel gedood nie, word beweer. Jesus se offer was algehele toewyding, wat die dood kon insluit en inderdaad ingesluit het.

 

Maar gemeente, die herderskap van Jesus Christus was toewyding om die wil van sy Vader te doen, om ons voor God regverdig te maak.  Johannes 10:17 en 18 is duidelik hieroor dat die Herder sy lewe as gestuurde van die Vader en uit sy eie gehoorsaamheid aan sy Vader kom aflê het: Daarom het die Vader My lief, omdat Ek my lewe aflê om dit weer te neem.  Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem. Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang.

 

In ons teks word baie duidelik gestel dat die God van vrede die Herder van die skape deur die bloed van die testament heen, teruggebring het met ‘n doel, dat ons die goeie kan doen, dat ons sy wil kan doen, dat ons kan doen wat Hom behaag. Want indien ons nie deur Christus versoen is met God nie, indien God nie Christus se bloedige offer wou hê nie, indien dit nie die wyse was waarop God ons regverdig wou maak nie, en as Christus dit nie in gehoorsaamheid gedoen het nie, sou God nie vir Christus uit die dood teruggebring het as ons groot Herder nie. En dan sou ons ook steeds dood gebly het in ons sondige en eiegeregtige werke en sou ons werke nooit goed wees nie, en sou ons God se wil nooit doen nie, en sou ons Hom nooit behaag nie.

 

  1. Wat God se werk deur die Herder vir ons diens aan Hom inhou

 

Die gebed tot God is dat die God van vrede deur die terugbring van Jesus Christus uit die dood die gelowiges volmaak in elke goeie werk om sy wil te doen, deur in hulle te werk. Hierdie gebed is ‘n opsomming van die hele brief. Die bloed van die ewige testament of verbond staan teenoor die bloed van bulle en bokke, en die groot Herder wat teruggebring is uit die dood staan teenoor Moses wat lankal dood is.

 

Deur die bloed van die ewige verbond wat Hy gestort het vir sondaars het Hy die groot Herder van die skape geword – en die skape sy duur gekoopte eiendom.

 

Deur Christus se versoeningsbloed is God die God van vrede vir sy volk, die vyandskap met sy volk uit die weg geruim. God van die vrede is dit op grond van die verbond self wat Hy met sy volk gesluit het.

 

As ewige regter is God van die vrede se toorn gestil en aan sy geregtigheid voldoen, en is ons verseker van sy vrede.

 

Hy is versoen met ons in en deur Christus. Hy reken ons nie meer ons ongeregtighede toe nie. Hy neem van ons weg alle straf en boosheid en gee ons alle voorregte en reg om vrye kinders van Hom te wees.

 

Die ewige verbond van Christus bloed, die nuwe verbond in Christus sal altyd vasstaan as ‘n blywende erfenis, Heb 9:15: En daarom is Hy Middelaar van ‘n nuwe testament, sodat, terwyl daar ‘n dood plaasgevind het vir die verlossing van die oortredinge onder die eerste testament, die wat geroepe is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang. Dit het alle gevolge vir my en jou vandag, maar ook vir ons toekoms in hierdie lewe, en vir ewigheid. Dit is nie maar ‘n kenteken wat ons ontvang dat ons deel van God se volk op aarde is nie, dit is ‘n blywende erfenis sodat ons as regverdiges voor God mag lewe indien ons glo.

 

Die gevolg van hierdie plaasvervangende werk van Christus is ewige redding van sondaars wat hulle tot God bekeer omdat hulle versoen is met Hom. God gee aan sondaars vergewing van sonde en ‘n nuwe gehoorsaamheid. Deur die geloof in Christus en sy geregtigheid word ons gered, deur die genade van God.

 

So het ons nou vrymoedigheid om tot God te bid omdat ons met Hom versoen is, Rom 5:1,2: Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus; deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God. ……dit hou ook in dat die dienaar van die Woord (predikant, ouderling, huisvader) die vrymoedigheid mag neem om te bid vir die uitwerking van die Woord in die lewens van die kudde wat hy versorg, op grond van die offer wat daardie groot Herder, ons lewende Heer,  gebring het. Hoe lewensbelangrik is hierdie gebedswerk van die onderherder. Die apostel het in die brief die Hebreers geleer en vermaan om te volhard in die uitnemendheid van Christus en nou bid hy tot God dat Hy hulle sal laat volhard in die navolg van die uitnemende Jesus Christus. Dat die werk van Christus in hulle lewens sal werk tot verheerliking van God.

 

Hierdie gebed maak staat op die fontein van alle vrede naamlik God. In die ewige raad van sy wil het Hy genade en vrede aan sondaars geskenk. Die kanaal is die dood en opstanding van Christus. God is die gewer en Christus is met sy verdienste ons versekering om ons te heilig en te volmaak.

 

Die hoofsin van ons teks is: mag die God van vrede wat Jesus die Herder deur die bloed van die verbond uit die dood teruggebring het, julle volmaak, bevestig, dit beteken ons toerus, uitrus vir elke goeie werk. Uitrus met alles wat nodig is om God se wil uit te voer. Ons is geensins in onsself toegerus om goed te doen nie, tensy ons met Christus se verdienste toegerus word deur God. Sonder sy versterking van ons, kan ons nie, ons het die volharding nodig wat Hy gee. Ons kan God se wil nie uit onsself doen nie. Soos skepe deur storm geteister, stuurloos, met gebreekte mas en geskeurde seile is ons met ons eie geregtigheid sonder Christus. Om weer te kan vaar moet ons nuut uitgerus word. Al wat ons weer soos ‘n skip seewaardig maak is die Herder met sy verdienste. Daarvoor bly ons bid en Hom glo.

 

Om God se wil te doen is waarom dit in ‘n mens se lewe gaan. Jou wil kan nooit God se guns wen nie. Hoe hard jy probeer, jou perfekte lewe voor God is ‘n skimbeeld. Maar ons bid: laat U wil geskied.  Laat op aarde soos in die hemel U wil geskied. Ons lewe beantwoord in sy doel as ons die wil van God soek deur ons vertroue nie op onsself nie maar op Christus stel. Die goeie Herder se stem hoor en Hom volg. In vertroue op Hom en sy leiding in jou lewe na te dink, te beplan en af te weeg en te besluit, te praat en te doen. In vertroue op Hom en sy leiding, leiding te gee en te versorg, te onderrig en aan te moedig en te vermaan.

 

Ons mag alleen bid dat God ons volmaak, wanneer ons God se werk in die opstanding van Christus erken. En wanneer ons vir Christus self as ons pastor erken. Ons kyk op na Christus omdat ons op God self vertrou vir ons hulp. Daarvoor is Christus teruggebring uit die dood om as opgestane Heer ons groot herder in die laaste dae te wees: sodat ons nuutgemaak word vir die ewige lewe deur dieselfde krag van God.

 

Geen werke is goed behalwe die volgens God se wil. Rom 12:2: En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.. Volmaking  om meer en meer te leef in gehoorsaamheid aan sy wil. Deur die geloof in Christus is ons werke vir God volmaak – deur Christus se voldoende offer sien God ons in genade aan. Niks van ons kan perfek, niks kan aanvaarbaar vir God wees sonder die versoening deur Jesus Christus. Ons werke omvou deur Christus se verdienste is ‘n lieflike geur wat God en Christus verheerlik en vir God welbehaaglik is.

 

Gemeente laat u lei deur daardie groot Herder van die skape wat Hom ontferm  oor u en u diensbaar maak aan God.  Openbaring 7:15-17 lees ons:  Daarom is hulle voor die troon van God en dien Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal sy tent oor hulle oopspan.   Hulle sal nie meer honger en nie meer dors hê nie, en nooit sal die son of enige hitte op hulle val nie;   want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van hulle oë afvee.  Hoor u? Die Lam wat in die middel van die troon is, daardie groot Herder van hulle, sal hulle na lewende waterfonteine lei. Hulle sal nooit meer dors hê nie, want ons Lam was geslag vir ons sonde. En Hy is as ons groot Herder teruggebring uit die dood sodat ons kan lewe. Ons Heiland sal ons Lam van God en ons Groot Herder vir ewig bly. Laat ons God se Naam prys en eer. Amen

 

Liturgie: 

Votum
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het.
Groet
Genade vir u en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus. Amen
Psalm 97:1,5,7
Lees van die Wet
Psalm 32:1,4
Gebed om vergifnis en seën op die diens
Skriflesing: Esegiël 34:1-16, Johannes 9:1-7, 35 -10:18, Hebreers 13:18-21
Psalm 23:1,2,3
Teks: Hebreers 13:20,21
Preek
Antwoord Psalm 80:1,8,10
Dankgebed en voorbidding
Kollekte
Psalm 81:1,2,3,10,11,12
Uitspreek van die seën
Die Here sal u seën en u behoed
Die Here sal sy aangesig oor u laat skyn en u genadig wees
Die Here sal sy aangesig oor u verhef en aan u vrede gee
Amen