Die goeie voorsienige God versorg, bestuur en regeer alle dinge op daaglikse basis, ja elke sekonde

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2015-05-03
Text: 
NGB 13
Preek Inhoud: 

Dit gaan in artikel 13 oor God se voorsienigheid.

Die term voorsienigheid vind ons nie in hierdie artikel nie, wel in art. 12.

Die term vind ons ook nie in die Bybel nie.

Tog omskryf dit ‘n Bybelse waarheid, net soos ander terme wat ons ook nie in die Bybel vind nie, soos die terme Drieëenheid, of sakramente.

 

Met die term voorsienigheid bely ons dat God alles wat Hy geskape het, ook onderhou, in stand hou, sodat dit optimaal kan funksioneer volgens die doel waarvoor dit geskape is.

Met sy voorsienigheid bely ons ook dat God die wêreld regeer.

Hy lei elke skepsel en elke situasie na die deur Hom beoogde doel.

Sy regering van alles is solied, niks kan Hom van sy doel laat afbring nie.

Hy hou ook die duiwel en al ons vyande in toom, sodat hulle ons sonder sy toelating geen skade kan aandoen nie.

 

Ek wil die tema van die preek soos volg saamvat:

Tema: Die goeie voorsienige God versorg, bestuur en regeer alle dinge op daaglikse basis, ja elke sekonde

-          Voorsienigheid teenoor denkrigtings wat God uit die daaglikse lewe wegdink

-          Voorsienigheid teenoor die noodlot

-          Wat dit is om te sondig teen God se voorsienigheid

-          Wat dit is om te vertrou op God se voorsienigheid

 

-          Voorsienigheid teenoor denkrigtings wat God uit die daaglikse lewe wegdink

Die fokuspunt van hierdie belydenis is dat dit vir ons ‘n troos is.

Niks kan per toeval oor ons kom nie.

As geen mossie op die aarde sal val sonder die Vader se wil nie, hoeveel te meer sal Hy vir sy kinders sorg!

Die hare van julle hoof is almal getel! Sê Jesus in Mattheüs 10:30.

Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.

 

Jesus gebruik in Mattheüs 10 die woord Vader.

God is ons Vader, dit hou in: iemand wat naby is, iemand wat sterk is, iemand wat sorg.

Ons weet dat ons ‘n doel het in die lewe, dat God ‘n doel het met ons lewe.

Dit is ‘n troos wat ons mag vashou in die lewe.

Ons mag met ‘n basisgevoel van geborgenheid deur die lewe gaan.

 

Hierdie basisgevoel staan haaks op die wêreldbeeld wat die Epikureërs bv. aangehang het.

Die Epikureërs word aan die einde van art. 13 genoem.

God sou Homself met niks op aarde meer bemoei nie, alles aan die toeval oorlaat.

Hoekom het die Epikureërs dit beweer?

Dis dalk goed om bietjie nader aandag te skenk aan die leer en lewenswyse van die Epikureërs.

Epicurus was ‘n ou Griekse filosoof wat ruim 300 jaar voor Christus gelewe het.

Sy aanhangers het bekend gestaan as die Epikureërs.

Waarom noem Guido de Brès hulle eintlik?

Dis nie toevallig nie.

Dis nie omdat hy bloot teoreties ‘n ou Griekse wysgeer onder die stof vandaan haal nie.

Guido de Brès doen dit, omdat dit wat Epicurus geleer het, die lewenswyse en wêreldbeeld verteenwoordig van hoe baie mense in sy tyd ook gelewe het.

En ons kan maar daarby voeg: ook vandag is dit die lewensinstelling van baie mense om ons heen.

Epicurus het naamlik geleer dat ‘n mens se lewensdoel daarin bestaan, dat sy wense bevredig moet word.

‘n Mens het jou ulieme lewensdoel bereik, as jy aan die einde van jou lewe geen wense meer oor het om te bereik nie.

Die hoogste toestand wat jy kan bereik is wat Epicurus noem die atarksie, dit is die toestand waarin die siel deur geen enkele wens meer in beweging gebring word nie.

As jy elke item op jou wenslysie wat jy in jou lewe wou gedoen of ervaar het, afgetiek het.

Maatgewend vir of jou wense bevredig is of nie, is jou gevoel.

Wat genot gee, is goed.

Wat geen genot en bevrediging skenk nie, is sleg.

Die tipiese epikureër wil nie hard werk nie, maar maksimaal geniet.

Die tipiese epikureër bemoei hom ook nie met familie, politiek en godsdiens nie.

Want dit is alles dinge wat verpligtinge met hulle meebring.

Die tipiese epikureër konsentreer net op sy eie bevrediging.

Hy lewe ook asof God nie bestaan nie, of altans, asof God hom nie met die wêreld bemoei nie.

Dus hoef jy jou ook nie oor God te bekommer nie.

Moenie tyd mors met godsdiens nie, gebruik jou tyd om te geniet.

 

Gemeente, ek dink dis nou redelik duidelik dat Epicurus se gedagtegoed, sy lewenshouding, nog baie wydverbreid is ook in ons tyd.

Leef baie mense nie so rondom ons nie, word ons nie ook daardeur beïnvloed nie?

Ons het ‘n wenslysie van dinge wat ons nog graag wil doen in ons lewe.

Lekker dinge.

Jy werk sodat jy genoeg geld het om al jou wense te bevredig.

Jy wil dinge en plekke gesien het in jou lewe, jy wil dit meegemaak het.

En so tiek jy jou wenslysie af, en hooplik dat jy lank genoeg lewe sodat jy aan die einde van jou lewe kan sê: ek het alles gedoen wat ek wou gedoen het.

Bonoop is dit baie egoïsties, want dit fokus net op vervulling van jou begeertes, jou persoonlike wenslysie.

Jy is nie bekommerd oor ander mense nie.

Dit gaan net oor jy, en oor wat jy alles wil beleef.

Hierdie lewenswyse hou geen rekening met God, met die diens aan God, met ‘n ewige lewe, met ‘n voorbereiding daarop, dit gaan alles net oor die hier en nou.

Die mens leef asof God ver weg is, asof Hy nie geïnteresseerd is in wat op aarde gebeur nie.

Tot sover die epikurisme.

 

‘n Ander lewensbeskouing wat God uit die daaglikse werklikheid wil verwyder, is die Deïsme.

Dit het veral vanaf die 17e eeu opgang gemaak.

God bestaan wel en het alles ooit geskape, maar Hy bemoei Hom nie meer daarmee nie.

Hy is ver weg.

Die aarde draai verder op basis van die natuurwette.

Die Deïsme het oorgegaan in die Atheïsme, veral vanaf die 19e en 20e eeu, wat God se bestaan heeltemal ontken.

 

Epikurisme, Deïsme en Atheïsme is teenoorgesteldes van God se voorsienigheid.

Mens sou kon sê, dis antonieme.

Dis belangrik om te besef dat baie wetenskap deesdae hierdie lewensbeskouings as uitgangspunt het.

Jy mag nie God in die wetenskap inbring nie, as Hy al sou bestaan.

Regte wetenskap, daarenteen, behoort konkreet rekening te hou met God se voorsienigheid.

In die wetenskap praat mense oor natuurwette, en natuurkragte.

God se voorsienigheid is net soseer ‘n krag in die natuur, wat ‘n geweldige invloed het.

God se voorsienigheid sluit die natuurwette in, maar is veel meer as net dit.

Dit is nog veel grootser, nog veel ingewikkelder.

Met die paar natuurwette wat die mensdom al kon opspoor, is hulle nog maar ‘n klein entjie oppad om ‘n beskrywing te gee van God se voorsienigheidswette.

Ons kan iets daarvan begryp, iets daarvan opspoor, en in wetenskaplike terme dalk definieer, maar die geheelprentjie gaan ons verstand volledig te bowe.

 

-          Voorsienigheid teenoor die noodlot

Dit is belangrik om voorsienigheid en noodlot nie met mekaar te verwar nie.

Voorsienigheid beteken nie dat God alles vooruit kan sien en dat daar niks aan verander kan word nie.

Voorsienigheid beteken dat God voorsien in die behoeftes van sy skepping.

Natuurlik kan God vooruit sien, maar Hy is nie onderworpe aan die noodlot nie.

Hy kan dinge verander.

Hy verander dikwels die gang van ‘n mens se lewe, byvoorbeeld in antwoord op ‘n gebed.

Ons moenie leef met die houding asof die toekoms tog al vasstaan en jy kan niks daaraan verander nie.

Dan leef jy fatalisties.

Die woord fatalisties kom van die woord fatum, wat noodlot beteken.

Ook moet ons besef dat daar nie ‘n spanningsveld is tussen God se voorsienigheid en die natuurwette nie.

Asof die natuurwette fatalisties is, en God se voorsienigheid iets heel anders.

Inteendeel, God se natuurwette is onderdeel van sy voorsienigheid.

In sy voorsienigheid gebruik God die natuurwette wat Hy geskape, sodat daar seisoene is, sodat die gewasse op die land kan groei, elkeen in die regte seisoen.

Ook moet ons nie ‘n teenstelling maak tussen God se voorsienigheid en ons mense se handelingsvaardigheid, besluitvaardigheid nie.

Net soos die geval is met die natuurwette, sluit God se voorsienigheid ook ons handel en wandel in.

God se etiese wette, dink aan die 10 gebooie, wat ons handel en wandel reël, is onderdeel van sy voorsienigheid,.

As jy kies om volgens God se gebooie te leef, en as gevolg daarvan het jy ‘n gelukkige en stabiele lewe, dan is dit nie jou prestasie nie, dit is te danke aan God se voorsienigheid, wat in die eerste plek daardie wyse wette aan jou geopenbaar het in sy Woord, en in die tweede plek ook vir jou die omstandighede geskep het om jou gehoorsame lewe met sy seën te bekroon.

Ons maak dikwels teenstellings wat daar nie is nie.

God se voorsienigheid is groots en ongelooflik ingewikkeld, ons snap maar net ‘n klein bietjie daarvan.

Maar die feit dat ons daarvan op die hoogte is, maak ons wel ongelooflik gelukkig, soos art. 13 sê, dit is ‘n onuitspreeklike troos, dit gee ‘n geweldige gevoel van sekuriteit.

Niks kom per toeval oor ons nie, Hy waak oor ons met vaderlike sorg.

 

Hierdie is die spits, die fokuspunt van art. 13.

Dat ons getroos word.

Dat ons nie bang hoef te wees nie.

Niks gebeur per toeval nie.

Al ons hare is selfs getel.

Geen mossie val toevallig op die aarde nie (Matt 10:29-30).

 

Terselfdertyd kan ons nie beweer dat ons deur God se voorsienigheid willoos raak nie.

Hoewel God die kwaad toelaat en dit sy bestuur nooit onkant sal vang nie – is Hy nie daarvoor verantwoordelik nie.

In Jakobus 1:13 leer ons: “Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie.”

Versoeking, sê vers 14, is die gevolg van die mens se eie sondige begeerlikheid.

Hierdie is vir ons verstand nie verklaarbaar nie.

Ons harde skyf hierbo is te klein om sulke ingewikkelde sake te prosseseer.

Ons bely met die NGB: ons wil nie verder as wat ons kan verstaan, nuuskierig ondersoek instel na dinge wat bo die vermoë van die menslike verstand is nie.

Ons eerbiedig eerder in alle nederigheid en aanbidding die regverdige oordele van God wat vir ons verborge is.

 

-          Wat dit is om te sondig teen God se voorsienigheid

Kan mens teen God se voorsienigheid sondig?

Kan mens God se voorsienigheid verag?

Ja, mens kan.

As jy byvoorbeeld nooit die HERE dank vir sy gawes elke dag nie.

As jy lewe met die houding dat jyself, jou harde werk, jou sukses bepaal het.

As jy bygelowig is.

As die getal 13 jou bang maak.

Die swartmense in Suid-Afrika het baie bygelowige tradisies, wat stam uit hulle heidense godsdienste.

Die bygeloof dat die getal 13 ‘n ongelukkige getal is, is egter ‘n bygelowige tradisie wat nog stam uit die Europese heidendom.

Dit is gebaseer op ‘n ou Noorse mite dat 12 gode partytjie gehou het in Valhalla, hulle hemel.

Terwyl hulle feesvier, het ‘n 13e god binnegekom, die skelm god Loki.

Deur sy toedoen het Hoder, die blinde god van die duisternis, vir Balder, die god van vreugde, met ‘n pyl geskiet.

Met die gevolg dat Balder gesterf het en die aarde donker geword het.

Vanaf toe is die getal 13 as ‘n ongelukkige en gevaarlike getal beskou.

Dit is, in kort, die historiese oorsprong van die vrees vir die getal 13.

 

As mens dit so hoor, dink jy dalk, wat ‘n onsin!

Inderdaad, dit is onsin, heidense onsin.

Tog het dit nog steeds ‘n impak.

So ‘n impak dat lugrederye op Vrydag die 13e miljoene dollers se omset verloor.

Hierdie bygelowe appeleer op ‘n bepaalde gevoel van onsekerheid, wantroue, in ons menslike siel, ‘n gevoel asof ons aan die noodlot oorgelewer is.

Dit is deel van ons ou mens wat nie op God alleen wil vertrou nie.

Self wil ons ons lot bepaal.

Maar terselfdertyd besef ons dat die wêreld om ons heen so groot en ingewikkeld is, dat ons onmoontlik onsself kan beskerm.

Deur allerlei bygelowige gewoontekies probeer die mens om self sekuriteit te bewerkstellig.

Om hieraan deel te neem is egter openlike wantroue in God se voorsienigheid.

Ek wonder of Guido de Brès, wat die NGB geskryf het, aspris die artikel oor God se voorsienigheid artikel 13 gemaak het?

Beskerm deur God se voorsienigheid hoef ons nie met vrees deur die lewe te gaan nie.

Bygelowige gewoontes en tradisies hoef nie ons hart onseker te maak nie.

 

Daar is nog ‘n ander manier, wat ook baie in die mode is, waardeur ons God se voorsienigheid openlik wantrou.

En dit is as jy deelneem aan die lotery.

Die lotery, soos die Engelse sê, it flies in the face of Gods providence.

Daar’s min dinge waaruit meer veragting spreek vir God se voorsienigheid.

Jy vertrou nie meer die HERE, dat Hy vir jou sal sorg nie.

Jy vertrou Hom nie dat Hy jou gelukkig sal maak nie.

Jy vertrou nie meer sy Woord, sy gebooie, dat in daardie weg jy ‘n goeie lewe sal hê nie.

Laat ons nie teen die Here se voorsienigheid sondig deur ondankbaar te wees nie.

Die lotery maak Suid-Afrikaners ondankbaar, en hebsugtig.

Gelowiges is nie outomaties immuun daarvoor nie.

Ons kan ook ondankbaar word as ons heeltyd net fokus op hulle wat meer het as ons.

Pleks daarvan dat jy raaksien hoe God in jou huidige omstandighede vir jou sorg.

Dankbaarheid maak ‘n mens ryk.

Ek bedoel dit letterlik, daar is bewys dat mense wat dankbaar is, gouer ryk word.

As jy dankbaar is met wat jy het, gee jy jou geld minder gou uit.

Dankbare mense leef minder met skulde as ondankbare mense.

Wie met skulde leef, verarm.

Maar ek bedoel dit veral figuurlik, dankbaarheid sorg dat mens die materiële minder belangrik vind.

Dankbaarheid sorg dat jy besef hoe ryk jy is met dinge wat vir geen geld te koop is nie.

 

-          Wat dit is om te vertrou op God se voorsienigheid

Ons het vanaand Psalm 91 gelees.

Psalm 91 handel eintlik as geheel oor God se beskermende voorsienigheid.

Om in die skuilplek van die Allerhoogste te sit.

Om te vernag in die skaduwee van die Almgtige.

Die feit dat die HERE my toevlug en bergvesting is.

Psalm 91 is een van die mooiste psalms.

Tog veroorsaak hierdie psalm soms by ons ook ‘n gevoel van twyfel, en wantroue.

Hierdie psalm klink amper te mooi om waar te wees.

Jy kan maar op ‘n leeu en adder trap, God sal jou red...

Sy engele sal jou bewaar op al jou weë.

Tienduisende sal val deur die pes, na jou sal dit nie aankom nie.

Sê ons eie ervaring nie vir ons dat dit eintlik nie so werk nie?

Daar is mos ook baie gelowiges, net soos ongelowiges, wat sterf?

En waar was die engele om hulle te beskerm?

Hoe werk dit eintlik?

Kan mens Psalm 91 lees op ‘n begrafnis, of sal dit teenstrydig wees?

 

Gemeente, ons kan in die eerste plek leer van die Here Jesus se antwoord op satan, toe satan met hierdie einste psalm aangekom het om Jesus aan te moedig om van die tempel se dak af te spring.

Daar sal mos engele wees om Hom op te vang...

Die Here Jesus het toe geantwoord dat jy die Here nie moet versoek nie.

Jy moet leef volgens sy wette.

Dit HERE gee jou ‘n verantwoordelikheid.

Sy wette beskerm jou as jy jou daaraan hou.

Sy etiese wette, sy natuurwette.

As jy hulle oortree, kies jy vir die gevaar.

 

Dit in die eerste plek.

In die tweede plek, ons moet hierdie psalm lees in die konteks van God se hele raadsplan.

God het ‘n plan met hierdie wêreld, met elke mens, met elke skepsel.

Sy raadsplan is ‘n goeie plan.

Die NGB sê: die goeie God sal, as Hy iets geskep het, dit nie aan die toeval of noodlot oorgee nie.

Ons mag met hierdie besef lewe: ons lewe is veilig by God geborge.

Hy bepaal ons geboortedag, Hy bepaal ons sterfdag.

En die duiwel en geen bose mag sal daar tussenin kan kom nie.

Inderdaad, daar is mense wat 90 jaar oud word en meer.

Daar is ook mense wat veel vroeër sterf.

Psalm 91 ontken dit nie.

Maar niemand van ons sal ‘n ontydige dood sterf nie.

Ons kan onsself aan God toevertrou en veilig voel.

Natuurlik wil ons almal ten minste 100 jaar oud word en gesond bly tot ons laaste dag.

God se raadsplan vir die toekoms is egter nie aan ons bekend nie.

In God se raadsplan word nie al sy kinders ewe oud op aarde nie.

Maar laat ons ons nie blindstaar op slegs die aardse werklikheid nie.

Want God se raadsplan, dit het Hy in sy Woord geopenbaar, is veel mooier en grootser as om 100 jaar oud te word.

Hierdie menslike ideaalbeeld is maar arm vergeleke by God se planne.

God se raadsplan werk daarna toe dat ons die sonde afsterf, dat ons die ewige lewe beërf, dat ons vele male ouer gaan word as 100 jaar, nie net ons siel nie, maar ook ons liggaam sal opstaan om die ewige volmaakte lewe te beërf.

Psalm 91:16: “Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien.”

Nadat God sy eie Seun na die aarde gestuur het, het dit vir ons baie duidelik geword wat God se heil presies inhou.

Dit is veel en veel meer as net ‘n lang aardse lewe.

In Christus skenk God ons ‘n heil wat die sterflike werklikheid by verre oortref.

 

Laat ons daarom, net soos die Here Jesus gedoen het, Psalm 91 verstaan en gebruik in die konteks van God se volledige openbaring in die Skrif.

Christus het geweet dat die HERE se raadsplan was dat Hy aan die kruis sou moes sterf, terwyl Hy nog maar in sy dertigs was.

Maar Christus het ook geweet dat sy Vader se raadsplan verder gaan, dat dit nie in die graf sou stop nie.

Laat ons Psalm 91 nie misbruik vir ons eie egoïstiese sekuriteit, ons selfgesentreerde planne met hierdie lewe nie.

Dis wat die satan doen, en waartoe hy Jesus wou verlei.

Laat ons besef: ons beste en mees rooskleurige toekomsplanne is nog maar vaal vergeleke by die planne wat God met sy kinders het vir die toekoms.

Laat ons altyd hierdie wyer perspektief van God se openbaring, en sy raadsplan, ja van sy voorsienigheid, in gedagte hou.

 

Amen.

 

 

Liturgie: 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief vir ds PG Boon
Kopiereg word voorbehou.

Aand:
Voorsang: Sb 12:1-4
Votum
Seën
Ps 3:1
Gebed
Skriflesing: Psalm 91
Ps 91:3,4,5
Skriflesing: Mattheüs 4:1-11
Ps 3:2
Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis art. 13
Preek
Ps 16:4
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte
Ps 27:1
Seën