Sondag 10 : God se voorsienigheid bied houvas in ’n gebroke wêreld

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2013-10-13
Text: 
Psalms 94
Preek Inhoud: 

Ons ken die verskynsel in Afrikaans dat een woord verskillende betekenisse kan hê.

Neem byvoorbeeld die volgende sin:

‘Ek sit nou op die bank.’

Probeer bietjie twee verskillende betekenisse uit hierdie sin te maak ...

Dit kan byvoorbeeld beteken:

Ek sit nou op die bank in die kerk en luister nou na die preek.

Ons dink dan aan die kerkbank waarop jy sit.

Maar dink bietjie aan die volgende:

Die dief bel met sy selfoon ’n ander dief:

‘Ek sit nou op die bank.’ – bedoelende dat hy op die bank se dak te sit en besig is om ’n gat in die dak te saag om by die geld uit te kom.

Dit kan inderdaad ook ’n betekenis van dieselfde sin wees,

in ’n ander konteks.

 

Nou gaan dit vanaand oor die woord ‘voorsien’.

Ook hierdie woord kan twee betekenisse hê:

Voorsien in die sin van vooruitsien.

‘Ek voorsien dat dit of dat gaan gebeur.’

Maar voorsien kan ook beteken: verskaf, of: sorg vir.

Dit is dan ook die betekenis wat in Sondag 10 sentraal staan.

God voorsien in die hele skepping se behoeftes.

Hy sorg vir mens en dier.

Hy verskaf alles wat hulle nodig het.

 

God se voorsienigheid is een van die mooiste onderwerpe uit die Bybel. God voorsien in alle behoeftes.

In die geval van ’n mens: lewe, gesondheid, kos en klere, son, reën, huis, motor, fiets, werk, vakansie, familie, vriende...

Inderdaad, dit is een van die mooiste onderwerpe.

Tog is dit ook ’n omstrede onderwerp.

Dit kom veral vanweë twee redes:

die beperktheid van die mens se verstand,

en ten tweede: die opstandigheid van mense.

 

Tema: God se voorsienigheid bied houvas in ’n gebroke wêreld

1)   dit gaan ons verstand te bowe

2)   dit kan slegs verstaan word deur verootmoediging

 

1)   God se voorsienigheid gaan ons verstand te bowe

Dink slegs hoe God in staat is om elke dag almal van voedsel te voorsien.

Dit is – uit logistieke oogpunt – ’n onmoontlike opgawe.

Dink net hoe ’n groot organisasie dit verg om alle diere in ’n dieretuin van genoeg kos te voorsien.

Elke dier het sy eie ‘spyskaart’.

’n Leeu kan nie strooi eet nie.

’n Kameelperd kan nie vleis eet nie.

’n Tydjie gelede het ons gesin die dieretuin hier in Pretoria besoek.

Dit was nog redelik vroeg in die oggend, en toe ons by die olifante se hok kom, het hulle ontbyt nog voor die hek gelê.

Een olifant se ontbyt, dis gelyk aan ’n maand se inkopies vir ons gesin.

En dis nie net ’n hoop hondebrokkies nie.

Daars groente, vrugte, brood.

Ek weet nie of ek mog nie, maar ek het een van die brode opgetel en oor die muur gegooi.

Die olifant het die hele brood behendig met sy slurp opgetel, en dit het in een keer in sy bek verdwyn.

En so moet elke dier, groot en klein, in die dieretuin sy kos kry.

Rotte vir die slange, kleurige vrugte vir die lemurs uit Madagaskar, visse vir die pikkewyne en robbe, en gaan maar so voort.

Nou het vergeleke by die hele wêreld ’n dieretuin eintlik nog niks om die lyf nie.

Gemeente, hierdie is maar een voorbeeld hoe God se voorsienigheid ons verstand te bowe gaan.

 

Maar daar is nog ’n rede.

Sondag 10 van die Heidelbergese Kategismus(soos nagespreek uit die Woord), vestig ons aandag op die feit dat nie net die mooi dinge in die wêreld, maar ook die slegte dinge geïnkorporeer is in God se voorsienigheid.

Ook dít gaan ons verstand te bowe.

Reën én droogte, gesondheid én siekte, rykdom én armoede.

Dit is onderdeel van God se voorsienigheid dat ons vir jare kerngesond kan bly, maar ook dat ons skielik siek kan word.

Dit is onderdeel van God se voorsienigheid dat daar baie ryk mense is in die eerste wêreld, maar ook baie arm mense in die derde wêreld is.

Hoe is dit moontlik?

Sy voorsienigheid beteken tog dat almal voorsien behoort word in wat hulle nodig het?

 

Die digter van Psalm 94 het ook geworstel met hierdie vraag.

Hy was ’n gelowige man, wat daagliks met dankbaarheid alle gawes uit God se hand ontvang het.

Maar hy het ’n probleem gehad omdat God al hierdie gawes net so goed aan mense gee wat Hom glad nie daarvoor dank nie.

Erger nog, soms het dit gelyk of God sy eie volk wat Hom dien verwaarloos, terwyl goddelose mense amper verdrink in weelde.

En hulle gaan maar net aan, asof niemand hulle kan keer in hulle oneerlike winsbejag nie.

Sien God dan nie, Hy wat Homself die Beskermer van weduwee en wees noem, dat juis hierdie mense verdruk en vermoor word nie?

Dis om hierdie rede dat die digter God roep om in aksie te kom:

“God van wraak, o HERE, God van wraak, verskyn in ligglans!” (Ps 94:1) “Verhef U, o regter van die aarde, vergeld die trotsaards hulle dade. Hoe lank sal die goddelose, o HERE, hoe lank sal die goddelose jubel?”

 

Vandag kan ons beslis met hierdie digter saampraat.

HERE, voorsienige God!

Sien U nie wat hier in Suid-Afrika gaande is nie??

Mense wat U verag, hulle het alle vryheid!

U goeie wette word ingeruil deur selfbedagte bepalings.

HERE, staan tog op!

U regeer mos deur u voorsienigheid!

Waarom hou U u Vaderhand oop vir sulke tipe mense?

Dink tog in die eerste plek aan u kerk!

Ja die digter kon net so wel iemand gewees het wat vandag hier in Suid-Afrika lewe.

Ook ons word omgewe deur baie wat net vir hulleself lewe, wat onreg pleeg en misdaad bedryf en by hulleself dink: God bestaan tog nie.

Of: God sien dit nie, die God van Jakob merk dit nie (Ps 94:7).

 

Maar gemeente, desnieteenstaande: natuurlik slaap God nie...

Vanaf vers 8 sien ons ’n wending in Psalm 94.

Die digter begin weer te besef wie God werklik is.

Maar natuurlik het God sy kerk mos nie vergeet nie.

Hy is mos aanwesig!

Die almagtige en teenwóórdige krag van God hou hemel en aarde in stand. Niks oorkom ons toevallig nie.

Selfs onvrugbare jare, siekte, armoede val ons ten deel uit God se Vaderhand.

En, hoe teenstrydig dit miskien mag klink, juis hiérdie besef gee die digter weer nuwe moed.

God hét sy kerk nie vergeet nie.

Ook al verkeer sy kerk in ’n benarde situasie.

Dus roep hy almal op om nugter te wees – vers 9: “Sou Hy wat die oor plant, nie hoor nie, of Hy wat die oog formeer, nie sien nie?”

“Die HERE ken die gedagtes van die mense – dat hulle nietigheid is.”

 

En dan merk ons hoe die digter in vers 12 steeds meer sig kry op God se voorsienigheid.

God se voorsienigheid beteken nie dat jy oorlaai word met slegs lekker dinge in die lewe nie.

God se voorsienigheid beteken nie vir ’n christen dat jy die waarborg van ’n aangename lewetjie het nie.

Dat dit ’n outomatisme is dat jy sal opgroei in ’n gelukkige gesin, dat jy verlief sal word en trou met die man of vrou van jou keuse, dat jy kinders sal kry, dat jy ’n goeie werk sal hê, dat jy meer as genoeg geld sal hê, dat jy vriende sal hê, dat jy oud sal word saam met jou lewensmaat, ens. ens. nie. “Welgeluksalig is die man, o HERE, wat U onderrig” (vers 12).

Hierdie vers kan mens ook vertaal: Welgeluksalig is die man, o HERE, wat U kasty.

Is dit nie so dat mense eers werklik na God begin luister, as hulle teëspoed ondervind nie?

Daarom dat Paulus selfs durf te sê: “ons roem ook in die verdrukkinge...” (Rom 5:3)

Teëspoed is geen teken van God se afwesigheid nie.

Teëspoed kan – net so goed soos voorspoed – ’n aanwysing wees dat God se voorsienige hand jou lewe bestuur.

 

Psalm 94 vorm deel van ’n groep psalms wat almal handel oor die koningskap van God.

Dit is Psalms 93 t/m 99.

Hierdie tema is in Psalm 94 nadruklik aanwesig.

God se koningskap.

Die digter besef gaandeweg steeds sterker dat, ten spyte van mense wat goddeloos lewe en selfs die opregtes verdruk, ten spyte daarvan is en bly God Koning.

Hy is die Regter van die aarde.

Hy kan die God van wraak wees, as reg en geregtigheid herstel moet word. Hierdie benaming – God van wraak – hoef ons nie af te skrik nie.

Dit laat mens juis opgelug asem haal.

In die ou Oosterse regsisteem was dit naamlik so onder die nomadevolke dat wanneer iemand vermoor is, dit die reg en plig van die familie was om – volgens bepaalde reëls – wraak te neem.

Om die misdadiger dus te straf.

In Psalm 94 word die HERE bestempel as die Persoon wat die vergote bloed van weduwee, wees en vreemdeling sal wreek.

Veral vir mense wat geen familie het om vir hulle in te staan nie.

Die HEER regeer, en Hy sorg dat sy regsorde gehandhaaf word.

Hierdie besef kan ons in dae van teenspoed op die been hou.

As ons onreg met lede oë moet aansien, miskien self moet ondergaan.

My kom die wraak toe, sê die HERE.

Hy sal op sy tyd die reg herstel.

Alle skepsels is só in sy hand dat hulle hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie.

So bied God se voorsienigheid houvas in ’n gebroke wêreld.

Al is dit so dat dit ons verstand te bowe gaan,

ten eerste wat die skaal betref.

Want dis nie net sorg vir ’n dieretuin nie,

Hy sorg vir die hele wêreld, vir alle lewende organismes.

Hy sorg vir die heelal, Hy hou alles op sy plek.

Maar ten tweede – soos ons gesien het – gaan dit ons verstand ook te bowe in kompleksiteit.

God se voorsienigheid stap ’n pad wat loop deur voorspoed EN teëspoed, reën EN droogte, gesondheid EN siekte, ensovoort.

Dit gaan inderdaad ons verstand te bowe.

En dit bring ons by die tweede punt:

 

2)   God se voorsienigheid kan slegs verstaan word deur verootmoediging

Al te dikwels word God se voorsienigheid op ’n simplistiese manier geïnterpreteer.

Dit gebeur deur onkerklikes, maar ook deur kerkmense.

As God se voorsienigheid sou beteken dat Hy vir hemel en aarde sorg, hoekom ly daar dan soveel mense honger?

As God Koning is oor heel die aarde, hoekom woed daar sulke vreeslike oorloë op die aardbodem?

As God in beheer is, hoekom kan byna ’n hele volk uitgemoor word.

Dink aan die Jode in die Tweede Wêreldoorlog.

Dink aan die onlangs volkeremoord in Rwanda.

As God mag het oor die natuur, hoekom is daar natuurrampe, oorstromings, aardbewings, orkane, weerlig ens?

Hierdie is inderdaad verskriklike dinge, en daar is mense wat op grond hiervan hulle geloof in God se voorsienigheid maar oorboord gooi.

Hulle redenasie: As God voorsienig was, sou dit nie gebeur het niet.

Nou het dit gebeur, dus God is nie voorsienig nie.

Hy is nie in beheer nie.

Hy staan op ’n manier ook magteloos teenoor die rampe.

Hy sal ook wel huil vanweë alle onreg en rampe.

Hy ly saam met ons.

 

Tog is dit ’n simplistiese redenering.

Dit is die boodskap van Psalm 94, soos nagespreek in die Heidelbergse Kategismus.

God se voorsienigheid is een van die mooiste onderwerpe uit die Bybel. Maar helaas is dit vir sommiges ’n omstrede saak.

En, soos genoem, veral vanweë twee redes.

In die eerste plek die beperktheid van die menslike verstand.

Ons is nie in staat om God se voorsienigheid te verstaan, laat staan te verklaar nie.

Dit sien ons goed in Psalm 94.

Die digter kan nie begryp hoekom God die goddeloses hulle gang laat gaan nie.

En ’n nommerpas antwoord vind hy ook nie.

Wel vind hy berusting in God, in sy Woord, waaruit hy leer dat God ook in teeëpoed wel deeglik in beheer is.

 

En die tweede rede hoekom die voorsienigheid ’n omstrede saak is, is vanweë die opstandigheid van mense.

Opstandigheid is die omgekeerde van verootmoediging.

Hierdie punt kan die beste geïllustreer word met die voorbeeld van die volkemoord op die Jode in bv. die konsenstrasiekamp Auschwitz.

As mense beweer dat God nie meer kan bestaan ná so ’n ramp, omdat as Hy sou bestaan Hy dit beslis sou voorkom het, dan keer hulle die saak eintlik op sy kop.

Want, kom ons kyk bietjie noukeuriger na die geskiedenis:

Dit was juis die Derde Ryk van Hitler wat niks meer met God te make wou gehad het nie.

Hulle het God se wette ingeruil vir hulle eie.

Dit was ménse wat die weersinwekkende ramp in Auschwitz laat plaasvind het.

Mense wat geglo het hulle bewys ’n guns aan die mensdom deur soiets te doen.

Dit was mense wat vasgevang was in die evolusionisme as denkbeeld.

Die Jode sou ’n laegraadse volk wees, net soos hulle trouens oor die swart volke gedink het.

En dus is dit nie erg om van sulke tweederangse mense ontslae te raak nie.

Survival of the fittest – so wordt dit genoem.

Eintlik goed vir die toekoms van die mensheid.

Dus nogmaals: dit was mense wat skuldig was aan daardie misdade.

Niemand kan God daarvoor kwalik neem nie.

Die mense van toe wou niks meer met God te make gehad het nie.

En dis duidelik dat God hulle laat begaan het, en dan sien jy dus wat gebeur as mense die vrye teuels kry.

Kortom, opstandigheid verhinder ‘n mens om nederig skuld te bely voor God.

Opstandigheid verhinder ’n mens om sig te kry op God se voorsienigheid.

 

Nogmaals wil ek benadruk: ons kan God se voorsienigheid nie verstaan nie. Hoekom Hy in sommige gevalle nie ingryp nie, en in ander gevalle wel deeglik.

Ons kan dit nie verklaar nie, laat staan dat ons die Ewige ter verantwoording kan roep.

Hoekom God toelaat dat mense deur rampe getref word – siekte byvoorbeeld – ook dit kan ons nie verklaar nie.

Of miskien beter gesê: ons kan dit ten dele verklaar.

As ons ten minste ons verootmoedig, en bereid is om na die Bybel te luister.

God se Woord leer naamlik dat die gebrokenheid van hierdie wêreld sy oorsprong het in die sondeval van die mens.

Juis hierdie besef hou ons nederig.

Net soos Job kan ons nie met God redekawel nie.

Selfs al moet ons vir ons gevoel heeltemal onskuldig ly, soos by Job eintlik die geval was.

Voor God se aangesig pas daar slegs één houding: op die knieë.

Sy grootheid bely.

Sy koningskap oor alles bely.

Bely dat Hy aanwesig – teenwoordig – is, in voor- en teëspoed.

As ons so in die lewe staan, bied die kennis van God se voorsienigheid houvas in ’n gebroke wêreld.

Dis die rede hoekom God ons in sy Woord iets vertel oor sy voorsienigheid. Om aan klein mensies houvas te bied.

Inderdaad, God vertel ons in sy Woord ook dinge wat ons verstand te bowe gaan.

Laat ons in hoogmoed – omdat ons dit nie kan verstaan nie – dan tog net nie oorboord gooi nie.

Laat ons eerder onsself verootmoedig,

en dan sal ook hierdie stukkie openbaring – nl. die oor sy voorsienigheid – ons houvas en perspektief gee.

Ja soos die Kategismus dit verwoord: dat ons in alle teëspoed geduldig kan wees, en in voorspoed dankbaar.

En dat ons die toekoms met ’n vaste vertroue tegemoet kan sien,

dat alles sal regkom.

Want alle skepsele is so in sy hand, dat hulle teen sy wil hulle nie kan roer of beweeg nie.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum
Seën
s: Ps 104.1,12,17,18
Gebed
Skriflesing: Psalm 94
Ps 94.1-4
lees: NGB 13
Teks: HK sondag 10
Preek
Amenlied: Ps 94.5-9
Gebed
Geloofsbelydenis  (sing)
Kollekte
s: Ps 94.12
Seën