Artikel 34 - DIE HEILIGE DOOP

Ons glo en bely dat Jesus Christus, wat die einde van die wet is (Rom 10:4), deur sy bloed te stort 'n einde gemaak het aan elke ander bloedvergieting wat 'n mens tot versoening of tot voldoening van sondes sou kan of wil aanwend. Hy het die besnydenis, wat met bloed gepaard gegaan het, afgeskaf en in die plek daarvan die sakrament van die doop ingestel. Deur die doop word ons in die kerk van God opgeneem en van alle ongelowiges en vreemde godsdienste afgesonder om heeltemal sy eiendom te wees en sy merkteken en vaandel te dra. Dit dien vir ons tot 'n getuienis dat Hy ewig ons God en genadige Vader sal wees. Daarom het Hy ons beveel om almal wat sy eiendom is, net met gewone water in die Naam van die Vader en die Seun en die heilige Gees te doop (Matt 28:19).
Hy toon ons daarmee dat, soos die water die vuilheid van die liggaam afwas as dit oor ons gegiet word en soos die water op die liggaam van die dopeling gesien word wanneer dit daarop gesprinkel word, so bewerkstellig die bloed van Christus deur die Heilige Gees dieselfde inwendig in die siel: dit besprinkel die siel en reinig dit van sy sondes en laat ons, wat kinders van die toorn is, as kinders van God weergebore word. Dit gebeur nie deur die uitwendige water nie maar wel met die besprinkeling met die kosbare bloed van die Seun van God, ons Rooisee waardeur ons moet trek om aan die slawerny van Farao, dit wil sê die duiwel, te ontkom en in die geestelike land Kanaän in te gaan. Die bedienaars gee ons van hulle kant dus met die sakrament wat sigbaar is, maar die Here gee wat met die sakramente aangedui word, naamlik die onsigbare genadegawes: Hy was ons siel, suiwer en reinig dit van alle vuilheid en ongeregtigheid; Hy maak ons hart nuut en vul dit met alle vertroosting; Hy gee ons egter sekerheid van sy Vaderlike goedheid; Hy beklee ons met die nuwe mens en ontklee ons van die ou mens en al sy werke.
Ons glo daarom dat iemand wat tot die ewige lewe wil kom, slegs een maal gedoop moet word sonder om dit ooit te herhaal, want ons kan tog ook nie twee maal gebore word nie. Hierdie doop is nie alleen nuttig solank die water op ons is en en ons dit ontvang nie, maar ook vir ons hele lewe. Daarom verwerp ons die dwaling van die Wederdopers, wat nie tevrede is met die een doop wat hulle een maal ontvang het nie en wat bowendien ook nog die doop van die gelowiges se kindertjies veroordeel. Ons glo daarenteen dat ons hulle behoort te doop en met die teken van die verbond te beseël, net soos die kindertjies in Israel kragtens dieselfde beloftes besny is as wat aan ons kinders gemaak is. En, waarlik, Christus het sy bloed nie minder vir die reiniging van die gelowiges se kindertjies as vir die volwassenes vergiet nie. Daarom behoort hulle die teken en die sakrament te ontvang van wat Christus vir hulle gedoen het, soos die Here in die wet beveel het om hulle kort na die geboorte deel te laat hê aan die sakrament van die lyding en sterwe van Christus deur vir hulle 'n lam te offer, wat 'n sakramentele heenwysing na Jesus was. Buitendien doen die doop aan ons kindertjies dieselfde as wat die besnydenis aan die Joodse volk gedoen het; dit is die rede waarom die heilige Paulus die doop die besnydenis deur Christus noem (Kol 2:11).

Matt. 28:19; 1 Kor. 6:11; Tit. 3:5; Heb. 9:14; 1 Joh. 1:7; (Op. 1:5); 1 Pet. 1:2; 2:24; 1 Joh. 5:16; Joh. 19:34; Matt. 3:11; 1 Kor. 3:7; Rom. 6:3; Ef. 5:26; Hand. 22:16; 1 Pet. 3:21; Gal. 3:27; 1 Kor. 12:13; Ef. 4:5; Heb. 6:1,2; Hand. 8:16; 2:38,41; Matt. 19:14; 1 Kor. 7:14; Gen. 17:11; Kol. 2:11; Lev. 12:6.