Artikel 26 - CHRISTUS ONS VOORSPRAAK

Ons glo dat ons geen ander toegang tot God het nie as net deur die enigste Middelaar en Voorspraak, Jesus Christus, die Regverdige. Hy het juis hiervoor mens geword en in Hom die Goddelike en menslike natuur verenig, sodat ons, mense, tot die Goddelike majesteit toegang kan hê, anders sou die toegang vir ons gesluit wees. Maar hierdie Middelaar wat die Vader tussen Homself en ons aangestel het, moet ons nie deur sy verhewenheid laat terugdeins sodat ons 'n ander middelaar na ons eie insigte sou soek nie. Want daar is niemand in die hemel of op die aarde onder die skepsels wat vir ons groter liefde het as Jesus Christus nie, Hy
' wat, alhoewel Hy in die gestalte van God was, Homself ontledig het deur vir ons die gestalte van 'n mens en van 'n slaaf aan te neem en aan sy broers in alle opsigte gelyk geword het (Filp 2:6, 7 en Heb 2:17). As ons dus moes soek na 'n ander middelaar wat ons goedgesind sou wees, wie sou ons dan kon vind wat groter liefde vir ons sou hê as Hy wat sy lewe vir ons afgelê het, selfs toe ons nog sy vyande was (Rom 5:8, 10)? En as ons een soek wat mag en aansien het, wie besit meer as Hy wat aan die regterhand van sy Vader sit en alle mag in die hemel en op die aarde het (Matt 28:18)? En wie sal eerder verhoor word as die eie, geliefde Seun van God? Dit is slegs deur gebrek aan vertroue dat hierdie gewoonte posgevat het om die heiliges te onteer in plaas van hulle te vereer. So doen hulle iets wat die heiliges nooit gedoen of gesoek het nie maar wat hulle onophoudelik en pligsgetrou verwerp het, soos dit ook uit hulle skrifte blyk.
Hier moet ook nie ingebring word dat ons dit onwaardig is nie. Daar is mos geen sprake van dat ons ons gebede op grond van ons waardigheid voor God bring nie. Ons doen dit alleen op grond van die uitnemendheid en waardigheid van Jesus Christus, want sy geregtigheid is ons geregtigheid deur die geloof. Daarom sê die apostel - wanneer hy hierdie dwase vrees of liewer gebrek aan vertroue van ons wil wegneem - dat Jesus in elke opsig aan sy broers gelyk geword het, sodat Hy 'n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word (Heb 2:17, 18). En om ons nog meer moed te gee, sê die apostel vervolgens: Terwyl ons dan 'n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie 'n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word (Heb 4:14 - 16). Dieselfde apostel sê: Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus... laat ons dan toetree met 'n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid... (Heb 10:19, 22). En voorts: maar Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit 'n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie. Daarom kan Hy ook volkome red dié wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree (Heb 7:24, 25). Wat kom daar nog kort, aangesien Christus self sê: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom tot die Vader behalwe deur my nie (Joh 14:6)? Waarom sal ons 'n ander voorspraak soek, aangesien dit God behaag het om ons sy Seun as Voorspraak te gee? Laat ons Hom geensins verlaat om 'n ander te neem of liewer om 'n ander een te soek sonder om hom ooit te vind nie. Want toe God Hom aan ons gegee het, het Hy goed geweet dat ons sondaars is. Volgens die bevel van Christus roep ons daarom die hemelse Vader aan deur Christus, ons enigste Middelaar, soos dit in die gebed van die Here geleer word; en ons is verseker dat alles wat ons die Vader in sy Naam sal bid, aan ons gegee sal word (Joh 16:23).

1 Tim. 2:5; 1 Joh. 2:1; Rom. 8:26; Deut. 4:24; Gen. 3:10; Eks. 20:19; Jer. 2:33; Jes. 43:22; Hos. 13:9; Luk. 18:19; Ef. 3:20; 1 Joh. 4:10; Ef. 3:19; Filip. 2:7; Joh. 15:13; Matt. 28; Heb. 1:3,7; Jes. 55:1-3; Matt. 11:28; Jak. 5:17; Ps. 115:1; Hand. 14:15; 10:26; Heb. 9:24; Joh. 11:9; Hand. 4:12; 1 Kor. 1:30; Ps. 34:7; Jer. 2:5; Heb. 4:14,16; Jer. 17:5,7; Heb. 2:17,18; 4:14-16; Ef. 2:18; Heb. 10:19; 7:25; Joh. 14:6; Ps. 44: (21) 6; 1 Tim. 2:5; 1 Joh. 2:1; Rom. 8:34; Luk. 11:2; Joh. 14:13; Jer. 16:20; Heb. 13:15; Rom. 5:8.