Artikel 24 - ONS HEILIGMAKING EN GOEIE WERKE

Ons glo dat hierdie ware geloof in die mens voortgebring word deur die hoor van die Woord van God en deur die werking van die Heilige Gees, dat die geloof hom wedergebore laat word en tot 'n nuwe mens maak, hom 'n nuwe lewe laat lei en hom van die verslawing van die sonde bevry. Daarom is daar geen sprake van dat hierdie regverdigmakende geloof die mens vir 'n vroom en heilige lewe onverskillig sou maak nie; inteendeel, hy sou daarsonder nooit iets uit liefde tot God doen nie, maar slegs uit liefde tot homself en uit vrees vir die verdoemenis. Dit is daarom onmoontlik dat hierdie heilige geloof niks in die mens tot stand sou bring nie; ons praat mos nie van 'n dooie geloof nie maar van wat die Skrif noem 'n geloof wat tot dade oorgaan (Gal 5:6), wat die mens beweeg om hom voortdurend te oefen in die werke wat deur God in sy Woord beveel het. Hierdie werke is, as hulle uit die goeie wortel van die geloof voortspruit, goed en vir God welgevallig omdat hulle almal deur sy genade geheilig is. Tog geld hierdie werke nie vir ons regverdiging nie, want ons is in die geloof geregverdig nog voordat ons goeie werke doen. Hulle sou anders mos nie goed kon wees nie, net so min as die vrug van 'n boom goed kan wees voordat die boom self goed is. Ons doen dus die goeie werke, maar nie om iets te verdien nie - wat sou ons tog kon verdien? Veeleer is ons goeie werke wat ons doen, aan God verskuldig, terwyl Hy aan ons niks verskuldig is nie, aangesien dit Hy is wat in ons werk. Hy maak ons gewillig en bekwaam om sy heilige plan uit te voer (Fil 2:13). Laat ons daarom let op wat geskrywe staan: '..wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen' (Luk 17:10). Tog wil ons nie ontken dat God die goeie werke beloon nie, maar dit is deur sy genade dat Hy sy gawes bekroon. Verder, al doen ons ook goeie werke, maak ons dit glad nie die grond van ons saligheid nie, want ons kan geen werk doen wat nie deur ons sondige natuur besmet en ook strafwaardig is nie. En al kon ons ook één goeie werk lewer, is die herinnering aan net een sonde vir God genoeg om dit te verwerp. Op hierdie manier sou ons altyd in twyfel verkeer, heen en weer geslinger sonder enige sekerheid, en ons arme gewete sou altyd gekwel word as dit nie op die verdienste van die lyding en sterwe van ons Verlosser steun nie.

Rom. 10:17; Joh. 5:26; Ef. 2:4; Joh. 8:36; Tit. 2:12; Joh. 15; Heb. 11:6; 1 Tim. 1:5; Gal. 5:6; Tit. 3:8; Rom. 9:32; Tit. 3:5; Matt. 7:17; Rom. 14:23; Heb. 11:4; Gen. 4:4; 1 Kor. 4:7; Fil. 3:13; Jes. 26:12; Gal. 3:5; 1 Tess. 2:13; Luk. 17:10; Rom. 2:6; Op. 2:13; 2 Joh. :8; Rom. 11:5 (6,7); (Ef. 2:5); Jes. 64:6; 1 Kor. 3:11; Jes. 28:26; Rom. 10:11; Hab.2:4.