Artikel 14 - DIE SKEPPING VAN DIE MENS, DIE SONDEVAL EN DIE GEVOLGE DAARVAN

Ons glo dat God die mens uit die stof van die aarde geskep het; Hy het hom volgens sy beeld en gelykenis gemaak en gevorm, dit wil sê goed, regverdig en heilig, sodat hy met sy wil in alles met die wil van God ooreenstem. Maar toe hy in aansien was, het hy dit nie verstaan nie en sy uitnemendheid nie besef nie. Hy het homself egter, deur na die woord van die duiwel te luister, willens en wetens aan die sonde en daarmee aan die dood en die vervloeking onderwerp. Hy het immers die gebod van die lewe wat hy ontvang het, oortree en homself deur die sonde losgeskeur van God, wat sy ware lewe was; so het hy sy hele natuur verderf en daarmee die liggaamlike en geestelike dood verdien. Hy het deurdat hy in al sy doen en late goddeloos, verkeerd en verdorwe geword het, al sy voortreflike gawes wat hy van God ontvang het, verloor en hy het niks anders daarvan oorgehou nie as slegs klein oorblyfsels, wat egter genoegsaam is om hom van alle verontskuldiging te ontneem. Al die lig wat ons het, het immers in duisternis verander, soos die Skrif ons leer: En die lig skyn in die duisternis en die duisternis het dit nie oorweldig nie (Joh 1:5), waar die heilige Johannes die mense duisternis noem. Daarom verwerp ons alles wat in stryd hiermee oor die vrye wil van die mens geleer word, aangesien die mens niks anders as 'n slaaf van die sonde is nie en: "'n Mens kan niks aanneem as dit hom nie uit die hemel gegee is nie" (Joh 3:27).
Want wie is daar wat daarop sal roem dat hy uit homself iets goeds kan doen, terwyl Christus sê: "Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie" (Joh 6:44)?
Wie sal op sy eie wil roem as hy verstaan dat "...wat die vlees bedink, vyandskap teen God is" (Rom 8:7)?
Wie sal op sy eie kennis roem as die natuurlike mens die dinge van die Gees van God nie aanneem nie (1 Kor 3:5)?
Kortom: Wie sal ook maar op 'n enkele gedagte roem as hy verstaan dat ons uit onsself nie bekwaam is om iets uit onsself te bedink nie maar dat ons bekwaamheid uit God is (2 Kor 3:5)? Daarom is dit reg dat wat die apostel sê, onwrikbaar bly, want dit is God wat in julle werk. Hy maak julle gewillig en bekwaam om sy heilige plan uit te voer (Fil 2:13).
Want daar is geen verstand en geen wil in ooreenstemming met die verstand en die wil van God as Christus dit nie in die mens tot stand bring nie. Dit leer Hy ons as Hy sê: "Sonder My kan julle niks doen nie" (Joh 15:5).

1 Pet. 2:9; Pred. 12:7; Ps. 8:5; 49:21; Jes. 59:2; Gen. 3:17,19; Pred. 7:30; Rom. 5:12; Joh. 8:7; Ef. 4:24; Rom. 12:2; 3:10; 8:6; Hand. 14:17; Rom. 1:20,21; Hand. 17:27; Ef. 4:18; 5:8; Joh. 1:5; Ps. 37:9; Jes. 26:12; Ps. 94:11; Rom. 8:3; 1 Kon. 20:9; Ps. 28:8; Jes. 45:25; Joh. 3:27; 6:44; (1 Kor. 2:14); 2 Kor. 3:5; Filip. 2:13.